Die Bosveld word op die oomblik geteister deur baie hoë temperature. ‘n Mens voel die hele dag pap en gedreineerd.

Saam met dit is die Argus nou net so oor die twee weke weg.  Dit is nou tyd om die oefenprogram te begin afrond. As ‘n mens nou een gehad het! In my geval probeer ek maar so veel as moontlik kere op die fiets klim, net om bietjie fiksheid bymekaar te skraap om Suikerbossie te oorleef…

Eergister het ek tussen half elf en twaalf op die fiets moes klim, so na die Bybelstudie. Kon nie later nie, want ek was van 16h00 tot 21h00 uit op die gewone huisbesoek, nie die Huisbesoek nie…

Toe ek op die fiets klim, was dit so 37 grade gewees.  As ‘n mens dan ry, is dit regtig erg op die lyf. Die lug voel sommer verskriklik dun en warm in die longe in. Sweet verdamp dadelik en los so ‘n soutneerslag op die vel.  Soms hoor ‘n mens harpmusiek, ander kere voel jy die hel se vlamme hier kort agter die fiets se saal uitbreek. Dit raak ernstig as die engeltjies jou naam begin neerskryf in goue letters op die perkamentrol by die Poorte…

Gister middag was net so warm. Ek het weer 35 km gaan ry. Maar daar was darem baie mooi oomblikke ook.

Die wolke ontwikkel deesdae baie indrukwekkend hier oor die Bosveld.  So nou en dan word ons verras deur ‘n stewige wolkbreuk ook, en dan ‘n halfuur later lyk dit weer of niks gebeur het nie…

Terwyl ek gistermiddag so ry, kom ek op hierdie toneel af. En wens ek ek het eerder my Canon met die telefotolens by my gehad! Die selfoon zoom ook net so ver!

Twee lekker spekvet vlakvarke het so ewe rustig in die pad afgedraf, salig onbewus van my teenwoordigheid. Hulle het geloop en skinder oor al die ander dames in hulle troppie, oor die kiddies wat so windgat raak, en waar ‘n mens die sappigste wortels kan gaan uitgrawe.  Die een was nog besig om wortelkoek resepte met die ander een uit te ruil, toe kom een van die boere van die gemeenskap met ‘n Land Cruiser bakkie met ‘n gejuig aangejaag. Hulle kon my nie hoor nie, maar daardie Land Cruiser kan ‘n mens op ‘n afstand hoor brul.  Bravo 1 spring net daar regs om, en hol in die veld in. Maar Bravo 2 is so bietjie van die blonde soort vlakvarke. Sy dog sy hardloop sommer so reguit in die pad af weg vir die Land Cruiser. Reg in die middel van die pad. Sy spin daardie pootjies dat die hoefies sulke vonke uit die teerpad uit laat spat. Sy kom mooi op spoed, en word vir ‘n paar oomblik die Florence Griffiths Joyner van die varkerige soort. Soos die mense hier rond sê, sy maak gat skoon…

Maar die Land Cruiser kom onverbiddelik aangejaag. En die jong man klim op die toeter. Die varkie versnel nog so ‘n bietjie, maar die Cruiser is op haar… Ernstige vermydingsaksies word uitgevoer, want ‘n  vlakvark is ‘n baie harde ding. Hy maak selfs Land Cruisers baie seer. Uiteindelik dring dit deur Bravo 2 se kop, draai links af. EN met ‘n snork van verontwaardiging gooi sy haar boudjies uit, en maak ‘n 90 grade na links, in die bosse in.

Die Land Cruiser het haar gemis, en ek het gelukkig ook nie oor een van hulle geval nie. Nie weer gesien nie, maar ek is seker hulle het nogal baie gehad om oor te gesels rondom hulle wortelkoek gistermiddag!

Op pad terug huis toe, 5 km van die huis af, het een van my nagmerries weer gebeur. Die wolke het toegetrek, en die weerlig het begin. Ek is skytbang vir weerlig op ‘n fiets! Toe maak ek maar soos die varkies en maak gat skoon huis toe!

Maar dit is die voordeel van plattelandse fietsry- ek sien vlakvarke, nie padvarke nie…  Ek sien doringbome en voëls, slange en olienhoutbome en ‘n ribbok wat daar teen die randjie draai… (apologie aan ?)

Soms is die lewe op die platteland net soveel beter as die stad!

Nee, hierdie is nou nie bedoel om jou dag te spam nie, ontspan!

Vir die meer ernstige lesers se oorweging net die volgende:

1997 Toyota Corolla 130 te koop, net 135000 km op, volledige diensrekord, R55 000. Die voertuig is soos nuut, is net bestuur deur drie geslagte van dieselfde familie se dames. Daar is wel enkele krappies op, maar wat verwag jy van ‘n 15 jaar oue voertuig? Ek glo ‘n lagie politoer ywerig opgevryf behoort die krapmerkies te kan hanteer…

Ons wys graag daarop dat hierdie die A100 vorm is. Sekere aerodinamiese vermoëns onderskei dit van vorige modelle, bv die gesofistikeerde lugversorgingseenheid, soos opgemerk in die vorm van die linker voordeur se ontwerp.  Dit voorsien vars lug vir die bestuurder as deel van die Arrive Alive veldtog soos deur die Minister van Padveiligheid geïnisieer.

Op minder ernstige noot, ek het darem die wrak na groot gesukkel uitgekoop gekry vir 30% van versekerde waarde. En na groot gesukkel het ons die nodige deure en deurpilaar gekry in goeie toestand by Wannenburgs in Pretoria… ek weet nou hoe lyk die hele Pretoria Wes ook.  Die koste van twee deure, deurpilaar, en die voorste “fender” sover is R4500, BAIE minder as die eerste paneelklopper se kwotasie vir tweedehandse parte! Nog so R1000 vir verf, skuurpapier en derglike, en dan het ek al die materiaal nodig om die voertuig te herstel.

 

So- die voertuig is nou veilig by ons huis, vir verdere beplanning…

Ek het maar die aanddiens hier langsaan gebank, en vir my vrou die kombuis skoongemaak terwyl sy kerk toe is…

So lyk my dag…

Posted: February 5, 2012 in Dominee se werk

Toorts het so mooi gevra- maar my antwoord is baie soos hare- geen twee dae lyk dieselfde in my lewe nie!

Daar is die ou storietjie van die jong proponentjie wat een Sondag in sy eerste gemeente bevestig is. Die Maandag oggend vroeg het hy so agter sy lessenaar gaan sit, en gewonder wat hy vandag alles moet doen. Net toe het sy telefoon gelui, en hy het nooit weer gewonder nie… In my lewe, persoonlik en professioneel, vrees ek maar die telefoon (soos Woensdag oggend!) Een oproep kan ‘n dag, week, maand se beplanning heeltemal omver gooi.

Maar die vraag sou wees: hoe lyk die gemiddelde dag.  Kom ek vat maar die gemiddelde Dinsdag- hulle is amper die meeste voorspelbaar in my lewe:

05h30- Opstaan vir 40 km fietsry (as ek dit regkry om op te staan!)

07h00 Kom tuis, eet en stort

07h30- 08h30 Laaste oorgaan van my Bybelstudie, epos kyk, dalk vinnig ‘n paar blogs scan

08h30 Kerkkantoor toe, korrespondensie en navrae help hanteer

09h00- 10h00 Gemeente Bybelstudie

10h15- 13h00 Siekebesoeke, Ouetehuisbesoeke, Pastorale sessies

13h00- 14h15 Middagete

14h15-16h00 Opleeswerk, voorbereiding vir preek Sondag, of pastorale sessies

16h00- 21h00 Huisbesoek

21h00 Aandete, gesels met my vrou, televisie, gewone boeke lees (nie teologies nie…)

23h00 Gaan slaap

 

Maar een oproep kan so ‘n dag totaal verander. Ek kan vir ure by ‘n sterfbed gaan sit. Of iemand gaan bystaan wat so pas ‘n groot verhoudingskrisis opgetel het… daar is so baie veranderlikes.

Dit is niks vreemds dat ‘n Dinsdag oor die 14 ure aan diens het nie…  Dis hoekom daardie grappies van dominees wat net twee ure per week werk, die helfte van die tyd met hulle oë toe, nie altyd vir ons so snaaks is nie.

Maar ek het hierdie lewe gekies omdat ek die Here liefhet, en omdat ek graag vir mense iets wil beteken, en hulle lewens beter wil help maak.

Ek hoop dit help om so effense insig te kry!

 

Ek lees netnou vinnig Jeanne se baie mooi inskrywing, en hierdie saak leef ook in my gedagtes hierdie week.

Ek verjaar binnekort. En die verjaarsdag wat ek tref, is een van daardie sielkundige bakens langs die lewenspad. Dit sit nie in die gene van my familie om my huidige verjaardag te verdubbel nie.  Ek is lankal verby halfpad met my lewensreis, as my pa, my ooms, my oupa se lewensverhale ‘n aanduiding sou wees van hoeveel trippies ek om die son gaan saamry op hierdie planeet.

Ek het verlede jaar nogal baie oor die onderwerp van Halftyd gedink aan die hand van Bob Buford se uitstekende boek met daardie titel.  Bob Buford sê in Halftime dat die lewe soos ‘n sportbyeenkoms met twee helftes is. Die eerste helfte van jou lewe draf jy met groot gejuig op die speelveld van jou lewe.  Jy maak en breek, spook en spartel, en in die eerste helfte ontdek jy jouself, jy kry jou opleiding, jy vind jou lewensmaat en bou jou gesin. Jy begin ‘n stewige finansiële platform skep om die res van jou lewe mee te kan hanteer. En in die proses vat jy ook baie stampe en stote.

Erens in jou lewe lui die klokkie in jou gedagtes- dis halftyd. Die eerste helfte is verby. En dan gaan jy na die kleedkamer, en evalueer wat in die eerste helfte gebeur het. Is jy besig om te wen?  Is jy besig om ‘n pak slae te kry? Wat het jy nodig om te verander om van die tweede helfte ‘n sukses te maak?  En dan, sê Buford, verskuif die fokus in ‘n gesonde lewe. Die eerste helfte het oor EK gegaan wat my plek moet vestig, en vir myself moet sorg. Die tweede helfte fokus eerder op SIN. Wat maak die lewe regtig die moeite werd?  En die antwoord lê buite jouself- nie meer wat ek wil ontvang nie, maar wat ek kan gee. Watter verskil kan ek in iemand anders se lewe maak? Charlene het so mooi daaroor geskryf wanneer hierdie fase nie gebeur nie. Dit is so hartseer as ‘n mens jou tweede helfte nog steeds vashaak op die eie ou EK, en almal rondom jou se lewens opneuk in die proses om jouself te dien.

Dit was wat my verlede jaar na die Camino in Spanje toe geneem het. Ek wou so graag bietjie aftrek van die lewenspad, en oor hierdie goeters dink. Tyd maak om voor te berei vir die tweede helfte.

Bygesê- niemand van ons weet hoe lank is die game regtig nie.  Ons dink dalk daar is nog baie tyd oor, en dalk is die einde baie nader as wat ons dink. Ek weet niks van Spekbek se dood nie, maar ek het nooit met hom swaarde gekruis nie. Om die waarheid te sê, hy het my baie mooi ondersteun verlede jaar, al was ons dalk nie meer op presies dieselfde bladsy wat alle geloofsake aanbetref nie.  Die feit is- niemand van ons is verseker om Kersfees te haal in 2012 nie.

Soos wat ek die volgende mylpaal in my lewe gaan oorsteek, wil ek ook graag in my lewe sinvolle dinge beleef.

Ek het seker ‘n keuse of ek beter of slegter gaan word soos ek ouer word.

Ek kies om nie verbitterd en jaloers te wees op ander se seëninge nie. Ek wil graag dankbaar bly vir die deel wat vir my afgemeet is, en dankbaar wees vir al die mooi mense en ervarings wat my lewe verryk.  Ek sal steeds meer en meer van myself wil weggee om ander se lewens aan te raak.

Ek wil graag ‘n positiewe verskil maak in almal rondom my se lewens. Ek sien ek kry dit nie met almal reg nie, maar nou ja, ek probeer.

Soos ek ouer word, wil ek my ook net steur aan mense en dinge wat waarde toevoeg tot my lewe.  Ek het nie meer genoeg tyd oor om tyd met nonsens te mors nie.

Ek wil ook my brein vul met positiewe inligting.  Ek wil musiek luister wat vir my die lewe mooi maak. Ek wil boeke lees wat my opbou. Ek wil ook blogs lees wat iets te sê het, ek wil met vriende kuier saam met  wie ek die rooiwyn en kampvure van die lewe kan herdenk as groot bakens langs die lewenspad.

Kortom gesê- die lewe is veels te kort om my verder te steur aan sommige mense en dinge. Die honde blaf, maar die karavaan trek verby!

Vrydag se fietsrystories

Posted: Januarie 27, 2012 in Fietsry en fiksheid

Ek sukkel die afgelope ruk om getrou fiets te ry, en die Argus kom vinnig nader. Sedert verlede Vrydag kon ek nog net gister ry, as gevolg van universiteitstories, reën in die Bosveld, en karmoeilikheid.

Vanoggend het ek weer my fiets aangetree vir 50 km.

As ‘n mens so stadig soos ek fietsry, het ‘n mens baie tyd om te dink.

Langs die pad was dit weer fantasties soos altyd. Op een kol het ek verby ‘n miskruier gery, wat ewe gewillig ‘n bol mis in die teerpad rondstoot wat dubbeld sy grootte is. En dit het my nou aan die dink. Hoeveel van ons het ook so ‘n lewe? Soms voel die hoop mis (of wat jy dit ook al wil noem!) dubbeld ons grootte. Maar as ‘n mens dit eers mooi rond gekry het, kan jy dit uit die pad uit stoot. Solank ‘n lorrie nie oor jou ry nie, dan maak dit ‘n lelike squeesshh geluid en dan gaan die … mis spat…

Ek het ook die mooiste toneel gesien van ‘n arend wat majestieus vlieg en kyk vir muise en slange langs die pad. Dit is darem pragtig om te sien, en ek is so bly daar is sulke diere wat die muise en rotte en slange in toom hou. Ek dink net die rotte hou f-ol van vlieg, soos die ou plaaswerker van die meerkat gesê het.

Ek het tyd gehad om oor dankbare dinge te dink. My vrou se lewe is hierdie week gespaar- waaroor ek verskriklik dankbaar is. Die laerskool is net 600 m van my huis af. Maar die ou hoofpad loop tussenin deur, met ‘n stewige afdraende en ‘n robot tussenin. Vragmotors is veronderstel om 40 km deur ons dorp te ry, en te stop by rooi robotte.  Woensdag het dit verskriklik gereën, en my vrou het die jongste by die skool gaan oplaai. Op pad terug het sy by die rooi robot gestop, voor in die ry. Toe die lig groen slaan, het sy weggetrek. Sy het die klassieke fout gemaak wat ek haar en my dogter gereeld oor inlig, sy het nie eers gekyk nie, selfs al was die lig groen. Die volgende oomblik lê iemand op ‘n toeter, en sy stop dood. Die vragmotor kom teen ‘n helse spoed oor die rooi robot gejaag, millimeters voor die bakkie se neus. Soos sy sê- as sy die radio aangehad het, het sy nie die toeter gehoor nie.  As ek so sleg na ‘n vriendin se dood gevoel het verlede Februarie- hoe op aarde sal ek dit oorleef het as my vrou onder ‘n lorrie beland het saam met my jongste?  Ek wens so ek was hier naby Woensdag, ek sou baie graag daardie bestuurder wou spreek…

En ek het ook gedink ek laaik nie op die oomblik vir Nedbank nie. Ek het op 5 Januarie aansoek gedoen vir ‘n studielening vir my dogter. Hulle het gesê dit gaan 5 werksdae neem om dit te verwerk. Ek wag nou nog. Ek skakel al van Maandag af daagliks, dan is die konsultant besig met iemand, ek los my nommer elke keer, en sy kom nie terug na my toe nie. Dis die neukery as jy by ‘n bank is waarvan die naaste tak 90 km ver weg is.  Om dit net meer ironies te maak, het Nedbank my verlede week geskakel om te hoor of ek nie in ‘n persoonlike lening belang stel van R120 000 nie, die rentekoers is net so 7% hoër as ‘n studielening. Ek voel soos Blikskottel vanoggend op my fiets- ek haat banke!!!

So op my fiets het ek baie dinge vandag beleef- verwondering, dankbaarheid, die blixemingeit.

Ek het vandag vir die eerste keer Explode poeier in my waterbottel gehad, anders sou ek nie die 50 km op twee Weetbixe kon maak nie. En die goed is nogal potent- ek voel eintlik heel goed na 50 km!

Ek moet nou twee preke gaan maak vir Sondag. Soet wees en gedra julle, en as dit sleg is, sit dit op facebook!

Sonde met die wiele…

Posted: Januarie 25, 2012 in Voertuie

Die een ding wat ek al lankal sien aankom het, het nou gebeur. Met ons dogter se studies het ons maar ma se Corolla so op semi- permanente basis vir haar geleen.

Pastoriemoeder ry nou die bakkie, want sy ry min, en diesel is duur. Maar ek kan nie oral op die motorfiets uitkom nie, veral nie in hierdie reënmaand nie.

So- ek moes nou maar vir myself ‘n ander voertuig koop om mee te werk. Vir maande lank doen ek al huiswerk. Tweedehandse waarde, brandstofverbruik, betroubaarheid, sexygeit. Ek is maar in my hart ‘n Toyotaman. Nog nooit met een van hulle langs die pad gaan staan nie. Alles loop reg, altyd reg…

Maar watter model? Land Cruiser, (daardie) nuwe Hummerige wa, die FJ Cruiser, Fortuner- alles hartsbegeertes, maar te duur. Hilux dubbelkajuit- die ideaal, steeds te ver bo my vuurmaakplek. Aygo kan ek nuut bekostig. Maar dis nie ‘n kar nie, dis ‘n duikpak! Yaris, sexy, maar ook klein!

Ek besluit om ‘n kar te koop wat ek van hou. Terwyl ek nou in elk geval in my motoriese vaardighede in is, doen dit reg.

Ek kyk op Automark se webwerf vir my 3e Corolla. En ek kry een, wat ek dadelik baie van hou. ‘N 1.4 Advanced, met net 28000 km op. Maar hy staan in Tzaneen, 250 km weg! Ek bel, en hoor hoe werk so afstandkopery… (Sallie werie!) Die kar is Mooi! Ek teken die kontrak, en hy word verlede Woensdag by my afgelewer. Maar dadelik sien ek- HKGK! Die flikkerligte werk nie. Die sentrale sluit werk nie. Die elektriese spieëls werk nie. Die CD speler werk nie… Ek kontak die handelaar- hulle sê ek moet hom plaaslik laat regmaak en vir hulle die rekening stuur.

Die plaaslike auto elektrisiën maak oop, inderdaad GK! Die hele elektriese stelsel is deur rotte opgevreet! Die kar word gehaal, diie verkoopsman los vir my sy Yaris T1 as “courtesy vehicle”. My hart is seer, ek het daardie swaar gevoel op die maag as iets verkeerd loop…

Die middag skakel ek ‘n paar kundige vriende. Mense soos Son wat weet van. Hulle almal sê- raak ontslae. My vriend die vliegtuig mekaniek dominee sê elektriese skade hou aan en aan en aan.

So begin ek maar weer op Automark rondkyk. En sien dieselfde handelaar het ‘n 1.6 Professional vir dieselfde prys. Ek skakel hom. Aangesien ek nog in die 7 dae tydperk is, kan ek hom mos omruil? Die handelaar sê dis reg.

Vanoggend na die 7-8 biduur val ek in die pad, Tzaneen toe. Die Yaris het nie êrkon nie, maar ry verder baie lekker! Kom in pieterskwane, en nou moet ek verby Moria ry, Haenertsburg toe. Maar daar is WOESTE padverleggings! En as ons uiteindelik mag ry, beland ek elke keer agter giggelgeel 2e Wêreldoorlog model ou Fatap lorries wat nie meer as 20 km per uur kan ry nie.

Die 250 km het my amper 4 ure geneem. Maar die 1.6 is aanvaarbaar, en het toe net 74000 km op (in plaas van) die 94000 op die advertensie. Volle diensrekord, waarborg nog in plek. Dit lyk tog na goeie nuus.

Maar- die ding het lelike mags op. Maar sê die DP, ek kan maar die wiele omruil met die een wat ek amper gehad het. Baie mooier Toyota Mags…

Die kar het vanoggend sy 75000 diens gekry. Nou moet hy deur die toets. En ek sit en wag. En wag. En wag… En vanaand lê daardie pad weer voor- sou dit so groot draai wees om Maputo, Nelspruit, Pretoria, Thabazimbi om te ry (in plaas van) die stuk oor Haenertsburg?

Hierdie mense moet gou maak, ek het more oggend ‘n aksie saammet my gemeente se bejaardes om 10h00, en hier sit ek nog steeds…

Om weg te ry…

Posted: Januarie 23, 2012 in Gesinstories

Gister het ek my dogter in Gomorrah agtergelaat.

Ons het huis toe gery, en dit was maar stillerig in die bakkie.

Reg oorkant ons kamer staan die deur oop- ‘n baie morsige kunstenaarstipe tiener se kamer. Die mure is vol geverf, die helfte van die huis se skottelgoed staan daar onder die bed en op die lessenaar. Verskeie buisies olieverf lê op die vloer rond, tussen ander projekte se verfspatsels. Stephanie Meyer se boeke lê al vier op verskillende plekke… Ek sal dit maar nie waag om weer ‘n foto te neem en op die web te sit nie, ek het dit eenkeer op facebook gedoen en toe kry ek groot pakslae…

Daar is die stemtoon van ‘n tienermeisie wat met haar pre-tiener boeties praat oor wat hulle alweer verkeerd gedoen het. Daar is die gestry oor watter DVD uitgeneem moet word, wie verantwoordelik was vir die skottelgoed se was, wie nou weer voorgetrek word. Dis nie meer in ons huis vandag nie. Skielik is die decibels baie laer in die huis.

Dan is daar die breë stroom geld wat die afgelope ruk in een rigting gevloei het. Registrasiegeld. Akkommodasie deposito, klasgelde vir die jaar,  geskikte rekenaar, versiening van ma se ou kar, begroting vir kos en petrol per week.  Saam met die boeties se registrasiegelde en skoolklere en skryfbehoeftes… alles op een slag…

Met al die spanninge en konflikte, al die groeipyne en dinge wat ons al lankal sien kom het, het dit uiteindelik gisteraand gebeur- my oudste het nou ‘n ander adres. Haar kamer in my huis  is nou verlate, sy sprei haar vlerke en vlieg op ander plekke as wat ek haar kan beskerm.

Gisteraand, om by die huis te kom, en die inwonertal is amtelik een minder- dit was vir my baie, baie sleg.

En vanoggend voel ek skoon babelaas. En ek het nie eers ietsie geneem om dit te verdien nie!

Ek sukkel om al my varkies te vang en op hok te kry. Die hamster neuk al die hele oggend van die wieletjie af. Dit terwyl ek vanaand ‘n belangrike vergadering het wat ek baie slim dinge op moet sê, en groot planne moet voorlê.  Dit terwyl ek more op versoek van my Bybelstudie groepie bietjie moet gesels oor die verskille tussen die klein- en die groot doop (ligte ou tematjie waaroor almal nog altyd saamstem, geen probleme nie…)

Almal oorleef hierdie fase, baie van julle is al lankal daardeur. My bek was ook baie groot oor hierdie onderwerp.

Vandag is vir my baie moeilik!

Dag 1 in die Hoërskool…

Posted: Januarie 18, 2012 in Gesinstories

Vanoggend het my seun ‘n groot mylpaal in sy lewe bereik. Hy is vir die eerste dag Hoërskool toe. En dit is vir ons ook ‘n interessante gebeurtenis om te aanskou.

Gistermiddag was al die nuwe Graad 8 leerders saam met hulle ouers in die saal. Ons het gehoor van alles wat voorlê. Nee, daar is nie ontgroening nie, daar is wel ‘n induksieproses om hulle welkom te laat voel.

Hulle mag nog nie in hulle skooldrag kom nie, die eer moet eers verdien word. Hulle is vanoggend met grys skoolkortbroeke, en kaalvoet skool toe. Hulle dra blou T-Hempies, waarop sy ousus vir die skool ‘n spotprent geteken het van ‘n verwarde Graad 8 leerling. Hulle sal vir die volgende paar weke as “Ditsems” bekend staan, en ek gaan sukkel om hierdie woord elke keer reg uit te spreek. Moreaand is daar ‘n deurnag kamp, glo om die skoollied en die volkslied en die Ditsemlied te leer. Uit twee vorige ervarings weet ek dat hulle wel slaapsakke saamneem, maar dit nooit gaan gebruik nie.

Tog vir die induksie of orientering onder baie gekontrolleerde omstandighede plaas. Ja, die bloedjies gaan soms bietjie ongemaklik wees, en nie meer so grootmeneer voel soos verlede jaar as die grootkoppe van die Laerskool nie. Hulle gaan maar hulle plekkie in die sisteem vind, en van onder af begin om nuwe netwerke te bou, nuwe ervarings te geniet, nuwe geleenthede te ontgin.

Dit was vir my gister net weer interessant hoe die ontwikkelingsvlak tussen seuns en meisies in Graad 8 verskil. Die meisies begin al volwasse lyk, en lyk of hulle so gereed is vir die nuwe ontwikkelingsvlak in hulle lewens- jonge dames. Die seuns daarteenoor lyk nog soos regte klein seuntjies, nog pure kind.

Daar gebeur darem so baie tussen Graad 8 en 10 in ‘n seun se lewe! Sy Graad 10 boetie is nou ‘n ent langer as ek, en ek gaan baie binnekort die armdruk en stoei begin verloor…

Dit herinner my nou aan ‘n daggie in 1981, 31 jaar gelede hierdie tyd, toe ons as Standerd sessies opgeruk het Hoërskool toe. Ek onthou dat ons gedink het ons is vreeslik grootmeneer.  Ons het gereken die matrieks gaan ons sweeties vat. Ons het die dag voor die skool begin het, ure geneem om gate in toffies te maak, en dit vol Tabasco te spuit, en dan toe te knyp. Ons wou so ooglopend met die lekkers op die speelterrein gaan rondloop, en die matrieks uitlok om ons lekkers te steel. En toe wou die matrieks nie meer toffies eet voor hulle pelle nie…

‘n Mens het darem so verdwaald en verward gevoel in daardie eerste dae in Standerd ses. Ek het die eerste dag in die houtwerk klas ‘n pak slae gekry ook om my te verwelkom in die Hoërskool. Ek het ‘n winkelhaak gevat en gemaak of dit ‘n pistool is, en die meneer wou seker ook maar sy merk maak. Alle aspirasies vir houtwerk is daardie dag uit my uitgedonder… Vandag is ek nogal baie spyt daaroor.

Ek kon ook in die Hoërskool met sportsoorte begin wat nie algemeen bekend is nie. Ek het in Standerd 6 en 7 geskerm vir ‘n sport, en was regtig redelik goed daarmee. In Standerd 8 het ek my gesteur aan groepsdruk, en eerder gaan derde span rugby speel, want net Engelse en moffies skerm… Nog ‘n groot foutjie in my lewe…

Ja, daardie eerste dae in Standerd 6 was verwarrend en skrikwekkend, en tog ook ‘n noodsaaklike deel van my vorming as mens. Nou is dit my seun se beurt, en hy lyk so jonk daarvoor…

Dis waar ‘n ouer ook maar soms moet terugstaan, en jou kind toelaat om sy eie battles te baklei. Met die wete dat hy huis toe kan kom na ‘n moeilike dag, en ‘n pa agter hom het wat omgee en verstaan…

Vandag is my laaste dag van 10 dae se verlof. Ek het dit by die huis deurgebring, en my maar verbeel ek is wel op Morgan Baai.

Die een probleem met ons werk is dat ‘n mens nooit afskakel by die huis as ons op verlof is nie. Die huisfoon lui, en ‘n mens weet nooit of dit vir die kinders is, of dalk ‘n krisis in die gemeente nie. Die kinders gaan nie die geleentheid mis om iets lekkers te doen saam met vriende nie, daarom antwoord hulle altyd die telefoon. En so nou en dan kom dit deur: Is jou pa tuis?

So was ek betrokke by ‘n troosdiens Donderdag, wel vir iemand vir wie ek die wêreld se respek gehad het. Maar daarna voel ‘n mens nie meer op vakansie nie. Ek het ook navraag gehad oor iemand wat graag iemand anders wil aanspreek  oor sy meisie by hom ingetrek het, en ek dringend daar moet optree. Dit neuk ‘n  vakansiegevoel nog baie meer op!

So, al bly ek reg langs die kerk, het ek vanoggend besluit: Aangesien ek nog op verlof is, gaan ek kerk bank. Dit is ‘n pragtige oggend, en ek gaan my motorfiets vir ‘n Breakfast Run neem.  En dit het ek toe gedoen. Terwyl die goeie mense die kerk volgemaak het, het ek in my denim en T Hemp en leathers die pad gevat, na die Maxi’s op ons buurdorp toe, vir ‘n heerlike omelet. Op pad soontoe het ek vir myv ‘n Rapport gekoop, om die nuutste nuus oor die Modimolle Monster te lees. En vir balans, om te fokus op die verhewe dinge in die lewe, het ek vir my ‘n Bike Sa gekoop.

Die rit na die buurdorp toe was heerlik. Die lug was so effens koel na gister se bewolktheid.  Die veld was pragtig, en die kronkelpaaie en my Mitchelin Anakees verstaan mekaar mooi.

Maxi’s het my teleur gestel. Die koffie was vanoggend vrek sleg.  En die omelet se kaas was nie eers gesmelt nie. Ek het maar daar gesit en die Rapport klaar gelees. Dalk, sê Rapport, sal die wêreld nie heeltemal op 21 Desember 2012 tot ‘n einde kom nie. Miskien het die Maja’s net uit klip uit gehardloop!  As hierdie die laaste jaar is in onse lewens, dan wil ek dit graag voluit lewe. Die lewe is in elk geval te kort vir slegte koffie, is die een slagspreuk by Mugg & Beane. Daarom het ek so vinnig as moontlik oorgeskuif na Greenfields op die Waterfront vir beter koffie. Daar het ek die Bike Sa deurgelees.

Ek wil net eers hierdie met my motorfiets vriende deel- net buite Maxi’s het hierdie pragtige ou BMW R 100 GS gestaan, in perfekte toestand. Hierdie fiets was al tot in Tanzanië volgens die inskripsie op sy fairing.  Dit is ‘n pragtige, baie skaars ou fiets, en sy eienaar kyk baie duidelik mooi na hom…

Op pad terug het ek die wet lelik oortree, ek bely, ek is baie jammer. Tussen Warmbad en Nylstroom, of Bela Bela en Modimolle vir die meer polities korrekte name, is een van die lekkerste kronkelpaaie. Maar om een of ander rede het die slim verkeersmense gedink die meeste van die 27 km moet teen 60 km per uur afgelê word. Belaglik! Ek het plek plek 140 km/u in ‘n 60 s0ne gery, en voel glad nie skuldig nie, al is dit ‘n toesluitbare misdaad. Maar dit was soveel pret- die draaie, die pragtige veld, die bokke langs die pad. En om die karavaners verby te steek wat wel 60 km/u ry…

In ons dorp was daar die hele dag ‘n kragonderbreking. My vrou het vir ons die heerlikste hoendergereg op gas voorberei.  Daarna het ons sonder ‘n waaier in ons baie warm huis ‘n middagslapie geneem.

Die krag het netnou aangekom, en nou kan ek weer met julle gesels.

Ek is so effens meer getraumatiseerd as wat ek graag  in die openbaar sal erken. Dis my dogter se laaste naweek in die ouerhuis as ‘n permanente inwoner van ons huisgesin. Volgende Saterdag vat ons haar Gomorrah toe om te gaan studeer, en daarna is sy net ‘n gas in die huis wanneer sy kom kuier. Dis nogal baie skrikwekkend vir my!  Ek hou my braaf, maar hier binne pla die gedagte my baie! Sy word nou groot, en ek word nou oud!  Dié van julle wat lankal hier verby is, sal vir my lag… maar dis nou baie erg vir my. En ek weet nie hoe om dit te sê nie, nou maak ek soms onvanpaste grappies daaroor…

In elk geval, my verlof is nou verby. More begin ek weer amptelik te werk. En ek is nogal skielik bang daarvoor… ek weet nie of ek al geestelik gereed is vir nog ‘n siklus op die mallemeule nie…

Dink maar aan my, dis nogal regtig rowwe tye vir my!