Yster slyp yster…

… en vriende vorm mekaar- so sê Spreuke 27:17.

Dit het my net aan die dink vanaand.

Spreuke het mos 31 hoofstukke, My oom, wat so ‘n groot rol in my lewe gespeel het, het vir my gesê dis ‘n hoofstuk vir elke dag van die maand. Hy het gereeld deur Spreuke gelees, en so dit oor jare in sy kop bewaar as wysheid wat die lewe help vorm.

Ek skryf op ons gemeente se facebookgroepie so enkele gedagte elke oggend, sommer net om ons kerk se mense weer te inspireer om ‘n stukkie Bybel saam te dra elke dag op hulle lewenspad.

Vanoggend, net voordat ek die lang pad moes vat vir ‘n baie moeilike dag in ons gesin se lewe, het ek my oom se raad van Spreuke op die groepie gesit. Ek het die lesers uitgedaag om dalk net een spreuk te kies, en vandag daaroor te dink.

Spreuke 27 (ooreenstemmend met die datum) het vandag so baie wat met my gepraat het.

Maar hierdie vers 17 het die hardste gepraat. Daar is vriende wat jou lewe help vorm. Soos wat ‘n hamer ‘n stuk staal kan vorm, soos wat ‘n slypsteen ‘n mens se lem skerp kan maak, so is vriende ‘n faktor in ‘n mens se lewe.

My vrou het so ‘n skinkbord in die kombuis waarop daar staan: “Vriende is die familie wat jy self gekies het…”

Ek het vandag, deur hierdie lang, lang dag, nogal baie aan vriende gedink.

EK het so baie kontakte- meer as 500 “Vriende” op facebook, waarvan ‘n hele klomp ook nogal regtig omgee.

Ek het heelwat pelle. Daar is baie mense saam met wie ek lekker sal gaan koffie drink, en soms gesels oor gedeelde belangstellings.

Maar ek het vandag gedink aan daardie vriende wat my al op my heel slegste gesien het.  Daar was al tye wat ek dit heeltemal verloor het, en woedeuitbarstings van epiese proporsies gehad het, met woorde wat ek op nagskof by Yskor geleer het, wat nie in die Goeie Boek staan nie.

Daar was vriende wat my op my slegste gesien het. En nog steeds gekies het om my nie weg te gooi nie, maar ‘n pad met my te bly stap. Daar was al vriende wat enduit geluister het as ek baie negatief raak. Wat my storms getrotseer het, tot dit uitgewoed was. Dan met ‘n sagte woord van wysheid my weer terug te lei na ‘n plek waar daar hoop is.

Daar is sulke vriende in my lewe. Mense wat my liefhet vir wie ek is. Mense wat my aanvaar soos ek is.  Dis die ware vriende wat ek in die middel van die nag kan bel, en kan sê my lewe het nou gat oor kop neergedonder, en hulle sal verstaan.

Sulke vriende is nie baie in ‘n mens se lewe nie. Miskien het ‘n mens maar net die kapasiteit vir drie tot vyf sulke vriende in die lewe. Maar daardie vriende is die yster wat jou slyp, jou vorm, en jou beter anderkant uitbring.

Miskien is die ou grappie tog waar- ‘n pel is iemand wat vir jou in die tronk kom kuier, ‘n ware vriend sê die volgende oggend: “Wanneer kom bail hulle ons hier uit?”

Vandag se versie van Spreuke in my lewe was 27:17, en vandag is ek baie diep dankbaar vir sulke vriende in my lewe.

Ongelukkig bly twee van die heel bestes van die beste in die Kaap, ek wens so hulle was soms nader, want daar moet deesdae weer rooiwyn gedrink word, en antwoorde gesoek word. Maar dankie vir dié wat naby is. Dankie vir dié wat geweet het ek is siek, en kom kuier het.

Paragraaf self gesensor…

Dankie vir die vriende wat weet, en omgee, en bid…

En soos Forrest Gump gesê het: “That’s all I want to say about that…”

 

Donkiestories…

Ek verlang na die Donkie. So ek haal hom bietjie uit sy stal uit vir ‘n Spin…

20140802_120647

 

Wat sou die Donkie op die oomblik wou sê as hy kon praat?

  •  Gesondheid is ‘n baie groot gawe.  Jy besef dit veral wanneer hulle jou in ‘n teater instoot…
  • Familie is ‘n baie groot gawe…  kan nie vandag meer sê nie, gemoed is bietjie vol…
  •  Ware vriende is ‘n baie groot gawe, facebook kennisse is BAIE, pelle is ‘n klomp, ware vriende tel jy op een hand…  Het dit net weer gisteraand besef toe ek ‘n bier wou gaan drink saam met iemand, want dit was my pa se verjaardag, al is hy al 21 jaar oorlede.  EK het altyd gedink Pa verstaan nie mooi nie. Nou is ek 7 jaar jonger as toe hy dood is, en nou kom ek al hoe meer agter: Ek verstaan nie mooi nie…
  •  Die regte lewensmaat is seker een van die top 2 grootste gawes in die lewe- ek het saam met haar gisteraand ‘n bier gaan drink- sy verkies Grapetizer…
  • Die kerk is veronderstel om ‘n baie groot gawe aan die wêreld te wees. Maar nie soos sy nou lyk nie…
  • Die jeug is ‘n wonderlike gawe, en ek weet nie of ons ‘n goeie invloed op hulle is nie…  Almal sien vandag se hoërskool kinders se foute raak, maar niemand vra waar dit vandaan kom nie.  Die meeste het baie negatiewe rolmodelle wat oor alles kla…
  • Ek sit nou met trompetmusiek in my studeerkamer en probeer dink wat die Here graag vir die gemeente wil sê Sondag… die trompet is hemels… Sondag se boodskap wil nie kom nie…
  • Motorfietse is ‘n gawe uit die hemel.  Maar motoriste kan demone uit die hel uit wees…
  • Ek moet dringend weer ‘n droom kry- dalk ‘n volgende Camino de Santiago beplan, iets soos die Portugese of Noordelike roete.
  • Hoekom pak so baie mense se galblase deesdae op?
  • “What if this is as good as it gets…?”
  • Alan Hirsch se boeke oor wat die kerk kan wees is besig om my kop te blaas…
  • Ek verlang na my vriende in die Kaap. EN na Ons Huisie se snoek. En na Blue Peter se Bosun’s Bitter as die son sak agter Robben Eiland.  En na Tafelberg.
  •  Ek begin werk aan my 20e Argus- moet die beste een ooit wees. Na ‘n operasie mag ek nog nie fietsry nie. Ek swem vir die eerste keer van Hoërskool Dae af. EN borsslag is steeds die maklikste vir my, en flinderslag steeds net vir Chad en Cameron bedoel…  Borsslag klink soveel lekkerder in Engels…
  • Mense is hel- Jean Paul Sartre
  • Verhoudings is die lekkerste lekker en die diepste seer- die Donkie…
  •  Is die dolfyne nog hier? Of het hulle al lankal gesê :“So long and thanks for the fish…”
  •  Ware Liefde is al wat regtig die wêreld kan red. Maar dis so ongelooflik skaars deesdae…

 

Jammer, Victor!

Ek het vandag twee meter van jou af gestaan in The Grove. Ek het jou in jou oë gekyk, en jy in myne. En ek het gemaak of ek jou glad nie herken nie. Jammer daaroor!

Jy sien, jy was saam met jou vrou en dogters in die mall. Julle is ‘n pragtige gesin, en jy wou so graag tyd saam met hulle spandeer. Ek kan dink na Saterdag se fiasko daar op Nuweland het ‘n man nodig om bietjie te ontspan saam met jou geliefdes. Daardie 0 moes maar seer gewees het, né! Dit was vir my. Ek sou nogal graag by jou wou hoor wat daar fout gegaan het. En wat jy so driftig vir Kryk Joebêr by geleentheid gesê het, dit het gelyk of jy hom gaan doodkyk op ‘n stadium.

Daar by die Grove het ‘n jong man daar by Wakaberry jou gestop vir ‘n foto saam met hom. Jou vrou en dogters het aangestap, en jy het vir hom gesê: “Net vinnig, hoor!”  Beleefd, maar haastig om by jou gesin te kom. Ek het dit gesien, en het gewens die ander kon ook net die trek in jou oë sien.

So dis hoekom ek jou geignoreer het. Ek wou jou so graag tyd saam met daardie pragtige dogters gun, om soos ‘n gewone pa net al jou aandag aan hulle te gee.

My vriendin Son sou dalk wou gehad het ek moet jou vra wanneer jy aftree. Maar goeie mens soos wat sy is, sy bly maar ‘n Stormer.  Ek dink sy hou ook baie van jou, maar daar neffens Skelmbos mag ‘n mens dit nooit erken nie.  Ek dink sy is bang jy hou te lank aan, en kry beserings wat jou gaan pla as jy eendag oud is.

Maar ouderdom maak nie vir ons Bulle saak as iemand goed genoeg is nie. Miskien het Son ‘n punt beet, hoor. ek het ‘n oom in die gemeente gehad wat vir WP en Suid Wes as slot uitgedraf het. Hy het in sy oudag groot kniemoeilikheid opgetel, en later ‘n been verloor nadat ‘n knievervanging skeef geloop het. Moenie so lank aanhou dat jy ook eendag so sukkel nie.  Jy wil ook eendag met jou kleinkinders op die strand rondbaljaar, gesond en gelukkig.

So Victor, regtig jammer dat ek jou geïgnoreer het. Jy het dit nodig gehad vandag. Eendag, onder ander omstandighede, sou ek daarvan hou om jou vir ‘n moutsappie of koffie te nooi. 

Pas daardie pragtige vrou en kinders mooi op met jou tyd, aandag en liefde- hulle is meer werd as rugby, en al ons fêns. Maar dankie dat jy so mooi met mense werk. My Stormer pelle sal seker nie saamstem nie, maar wat weet hulle tog nou van rugby op ‘n goeie dag?

Groete van jou fên:
Die Donkie

Ps. Om verstaanbare redes is daar nou nie ‘n foto van my en my drie seuns saam met jou nie. Ons wou, maar ons het nie…

Wat sou ‘n mens alles kon doen…?

As jy nooit bang was vir mislukking nie?

As jy nooit die ervaring gehad het dat jy gesig eerste in die modder val nie?

As al jou foute langs die pad leerervarings was om dit volgende keer beter te kan doen?

Dis die tipe vrae wat hierdie middeljarige Donkie besig hou op die oomblik.

Die kerk se finansiële posisie laat mens soms in die nag wakker word, en wonder: wat anders kan ek doen om vir my gesin te sorg?  Wat moet ek maak as ek die dag my werk verloor, en vir niks anders opgelei is nie?

Ek het 8 jaar se universiteitsopleiding om vir 1 “firma” te werk. Daardie “Firma” het skynbaar steeds te veel personeel en te min vakatures.

Ek kyk op die oomblik na ‘n advertensie in Die Kerkbode. ‘n Groot gemeente in die stad is op soek na iemand om daardie stukkie bediening te kom doen waarin ek ‘n Meestersgraad het.  Hulle spesialiseer duidelik daar in elkeen se gawerigtings.  Die gemeente lyk regtig indrukwekkend op hulle webwerf! Daar is lewe, daar is groei, hulle maak ‘n verskil!

Ek kyk na die advertensie. Ek hoor ‘n roepstem. Maar ek is bang. Ek is nou 20 jaar op die platteland. Hier spesialiseer ons nie- hier doen ons sommer alles self.  Omdat ons so by alles betrokke is, is ‘n mens later regtig “Jack of all trades, Master of none…”

Ek probeer myself indink hoe dit moet wees om in my belangstellingsveld te kan spesialiseer. Daar is ‘n reuse honger in my om dit te doen. Maar iets hou my terug. Sê nou maar net… sê nou maar ek het nie genoeg om hulle te bied nie. Sê dit nou maar: sê nou ek is nie goed genoeg vir die grênd stadsmense nie? Sê nou maar ek pas nie in nie?

Ek wens ek het geweet hoe om daardie tipes gedagtes te kon nek omdraai. Ek wens ek kon met groter selfvertroue enige iets aanpak, en sonder twyfel klaarmaak daarmee.

Die afgelope paar maande was weer ‘n steil leerkurwe in my lewe. My gesondheid het my die eerste keer begin dwing om radikaal anders te begin dink aan eet, en nou oefen ook. Ek word geforseer om gesonder te leef. Ek gaan dit gebruik as springplank om so fiks as moontlik ook te word, as ek net hierdie lastige kopverkoue oorwin kry.

Al die vrae in my gemoed oor my huidige posisie laat my wonder: Hoe kan ek in elk geval beter doen waar ek nou is- wat kan ek anders, meer effektief doen om ‘n groter bydrae te lewer tot my huidige beroep.  Ek het ‘n al groter wordende behoefte om te ervaar wat ek doen, maak ‘n verskil.  Ek wil so graag beter doen…

En soos een van my blog vriendinne aanstuur: Miskien wil ek ook weer vir ‘n slag ‘n sexy ass hê!

Genade vir die Verstandelik Gestremdes ook…

 

 

So gebeur dit toe Saterdag dat ek en my geliefde in die Kaap rondwandel na ‘n vriend se heerlike troue Vrydagaand. Ons doen maar die toeriste ding, en gaan Waterfront toe.  Dis mos hier in die Waterfront wat jy gewoonlik Top Gear tipe droomkarre raaksien. Onder in die kelderparkering sien ek hierdie droom Ferrari staan, en ruk dadelik die kamera uit, want my donkievul met my naam geniet ‘n Ferrari enige dag net so baie soos ek… dis darem net so bietjie bo ons vuurmaakplek, verstaan?  Kyk daardie pragtige wiele!

IMG_2495Nog so bietjie nader- kyk daardie fenominale enjin- ek sou darem wat wou gee om een van hulle te kan vat vir ‘n spin! Maar die mense in die winkel lag net as gewone plebs vra…  So stap ek maar verby… en sien toe wat aan die gebeur is… 
IMG_2497

 

 

Hierdie Ferrari behoort aan die man met die Pick ‘n Pay sakkie. En raai- hy het op die Gestremde Parkering gaan stop, dis mos naby Pick ‘n Pay se ingang…  Hy is toe beloon met die dreigende klamp, en hy staan toe woes en stry oor die R250 wat hy nou moet betaal. Shame, wonder waar gaan hy dit kry. Die arme man kan nie lees nie, en nie ver loop nie… ons moenie lelik met die gestremdes wees in onse Suid Afrika nie! IMG_2496

Wat my by die vraag bring: WAT DOEN DIE OU OM SO KAR TE KAN BEKOSTIG???  Seker maar deel van die agtergeblewe Zuma familie?

Nog ‘n stuk ironie… die troue wat ons bygewoon het, was in die pragtige Protea Fire & Ice hotel, waar kamers teen so R1650 ‘n nag begin. Ontbyt gewoonlik uitgesluit, dit kos so R190 per kop vir ontbyt. Ek was op my wittebrood 24 jaar gelede laas in sulke luuksheid, ons het oë toegeknyp en vir een keer in 2 dekades bespreek- dit was ‘n fantastiese vriend se troue…

Die volgende oggend by die ontbyt tafel word ons begroet deur… die EFF Off party se mense. Hulle is baie luiddrugtig daar, en sommiges eet met hulle rooi konstruksiehelmets op… dit kan seker maar gevaarlik raak daar binne…

Wat my net laat wonder oor die ekonomiese vryheid wat hulle so voor suffer- R2000 per nag as jy ontbyt insluit… en daar is maklik 12 van hulle gewees…

Ag, ek is seker net gatvol op die oomblik na die afgelope verkiesing se resultate… ek het regtig gedink Suid Afrika verdien beter… maar dis waarvoor die massas gestem het…

So kom ons wees maar naais met die agtergeblewenes en alles wat hulle al die jare gemis het… dit wat hulle wil hê het ek ook gemis…

 

Liewe Ontevrede Restaurant Kliënt in Pretoria…

Jy het vanoggend besluit om te gaan uiteet vir middagete.  By die restaurant was die diens vanoggend baie stadig. Jy het dit verloor, op jou kelnerin gegil, en woedend daar uitgestorm. Ja nee, slegte diens in ‘n restaurant is verseker nie aanvaarbaar nie!

Weet jy, die restaurant wat jy gekies het, het ‘n krisis in die kombuis gehad. ‘n Hele paar personeellede het net eenvoudig nie opgedaag nie.  Dit het die diens vertraag.

Weet jy, daardie kelnerin wat jy so verskree het, is my dogter. Sy is ‘n student wat baie hard probeer om te help betaal aan ‘n baie duur opleiding.

Weet jy dat jou kosbestelling klaar op die sisteem was? Toe jy jou humeur so verloor het en uitgestorm het, weet jy wat het van die rekening geword? Insluitend al die drankies wat jy geniet het?  My dogter moes vir dit alles betaal. Dit was heelwat meer as wat sy in ‘n lang dag verdien…

Jy kon die bestuurder nader geroep het en jou probleem met die diens verduidelik het.  Dalk het dit beter gevolge gehad.

Jou optrede het my kind vandag duur gekos. Ek hoop jy slaap lekker.

So aan die begin van die nuwe jaar…

is die Donkie nog maar stil…

En tog is daar so baie, baie dinge aan die gang op die oomblik.

Ek probeer fiks word vir my 20e Argus. EK het nou al die 500 km merk verby gesteek. Maar hierdie is al weer een van daardie weke. Maandag het dit gereën, en ek is soos ‘n kat oor water- hou nie van nat paaie nie, sien nie die pothole nie… Disndag het ek alweer maagmoeilikheid gehad, dit kan gerus nou maar ophou. En vandag reën dit alweer. Ek kla nie, die reën is wonderlik, en bring nuwe lewe (en rus…)…

Vanoggend het ek en my twee kollegas heerlik ontbyt gehad hier in my lapa. Ons het die jaar se Woensdagoggend byeenkomste afgeskop, dis ‘n goeie geleentheid waar ons weekliks saam dink, beplan, bid, grappies maak, preke uitruil, preekbeurte uitruil…

Dis maar net: die jaar begin met so ‘n gejuig, veral volgende week as die skole weer oopmaak. Dan lê daar weer lang, lang dae voor, en baie, baie vergaderings. ‘n Mens kan so vaskyk in die dinge wat ons doen, dat ‘n mens vergeet waarmee jy eintlik besig is.

So sien my vrou gisteraand iets op televisie raak wat sy nie kan wag om met my te deel nie. Een van die karakters vra: Wat sou jy hierdie jaar gedoen het as mislukking nie ‘n moontlikheid was nie? Sy het eers gewag op my antwoord, en toe die tweede deel gesê: “Now go and do it…” (Ek dink nie dit was Bart Simpson nie… dalk Homer?)

Dit het my nogal woes laat dink gisteraand… Wat sou ek regtig wou doen as mislukking nie ‘n moontlikheid was nie?

Ek het ‘n predikant geword, omdat ek gedroom het oor ‘n wêreld van heel verhoudings.  Dalk was ek baie naief as skoolseun, dalk voortvarend. Ek het regtig gehoop ek sou ‘n positiewe verskil kon maak.  Maar soos die ou Chinese omie  eendag gesê het: toe hy klein was, wou hy die wêreld verander. Toe hy groter geword het, wou hy sy land verander. Nog later wou hy sy provinsie verander. In sy middeljare het hy gedink hy sou bly wees as hy sy dorp kon verander. En toe hy aftree, het hy gehoop om homself te verander…

Ek dwaal af (soos jy kan agter kom…). Wat sou ek wou doen as mislukking nie ‘n moontlikheid was nie?

Ek het nie fenominale insig oor die saak gekry nie, veral nie in die bad soos Archimedes nie, ek het nie kaalgat in die straat afgehol en Eureka geskree nie…

Ek het nie groot drome of planne vir 2014 nie.  Ek het nie die moed van ‘n Malala Yousefzai om die hele land en Die Sisteem aan te pak nie. Wie? Daardie meisie van Pakistan wat deur die Taliban in die gesig geskiet is, omdat sy gewaag het om te sê: Meisies moet ook skool toe gaan en ‘n toekoms kan hê… ek was diep beïndruk deur haar storie- I am Malala- kon die boek nie neersit tot ek half een vanoggend hom klaargemaak het nie. Ek wens ek het daardie moed of kapasiteit gehad om verandering te bring. Maar ek het nie…

Al wat ek wil probeer, is om lief te hê.  Ek weet mislukking is sommer ingebou daarin. Maar ek wil probeer…

Dalk is dit genoeg as daar geloof, hoop en liefde êrens soms teenwoordig is. Maar die grootste hiervan, glo ek met my hele wese, is die liefde…

Wat is liefde?