Om diep te drink uit die fontein van die Wysheid

Geliefdes, hier kom nou ‘n week van ‘n anderste kaliber op my afgestorm…

Die slim manne van die Sinode het besluit dat ons moet bybly met die tye. Ons moet ‘n sekere aantal punte verwerf gedurende ‘n jaar, om ons “status as leraar” te behou.  ‘n Sekere aantal punte moet deurgaans gehandhaaf word, anders gaan hulle een Sondagoggend vir my gemeente kom vertel dat ek nie meer die Dominee van Bosveld Suid gemeente mag wees nie.

Die een ou probleempie is dat niemand nog ooit baie duidelik vir my stadige denke verduidelik het presies hoeveel punte ek op welke wyse moet probeer versamel nie…

So hierdie week is dit tyd om iets aan daardie groot mooi Zero op my balansstaat te doen, daar waar akademiese bevoegdheid en edele sedes van goeie inborste gekweek word.

Die Kerk het ‘n Lentekonferensie van more af in Gomorra. Vir drie dae gaan die dominees ontvlug van die ingroei toonnaels en ander aambeiverwante siekebesoeke, huisbesoeke (met ‘n “h”) sal agterweë gelaat word, niemand kan die dominee in die pastorie se spreekkamer kom spreek oor die teologiese “drivel” wat Sondag van die kansel af gebesig is nie- dominee is met die kerk se toestemming uitstedig…

Ons gaan more oggend inboek by die Universiteitsoord Studentekerk. Daar gaan ons vir drie dae diep drink uit die fonteine van wysheid.  Ons gaan hoor wat die nuutste op die mark in die teologiese wêreld is. Ons gaan met bewondering staar na die boekuitstallings, meestal in tale wat ek nie meer verstaan nie…  Ons gaan luister na ure se debatte oor teologiese identiteit. En julle sal die “juicy bits” daarvan in die Beeld kan volg, soos weergegee deur die getroue kerklike korrespondent- Neels Jackson.

Daar sal weer radikale uitsprake wees deur sekere Proffies, wat die goeie lidmate van die plattelandse kerk dik die moer in gaan maak.  Vir weke gaan ons Die Kerk weer verdedig in ons studeerkamers teenoor die ou ooms wat ook êrens Johan Heyns se dik Dogmatiekboek by Sheila se Book Exchange vir ‘n bargain gekoop het.

Ons moes inskryf vir sekere werkswinkels. Presensie word gehou, en punte word toegeken vir bywoning. Aangesien my punte nog redelik naby aan Zero is, sal ek dalk maar ‘n werkswinkel of twee moet bywoon…  Daar is een wat ek na uitsien- kerkmusiek by Louis Britzzzzz.  Ek wil net niks hoor van die inbrekers en ander misdade in hulle familie nie. Ook nie hoe die misdadiger met soveel liefde verwelkom word nie. Ek is ‘n aaklige mens, ek sou ‘n verkragter eerder met Temic wou vergewe, of met my 9 mm Browning wou spreek…

In die verlede, in my donker jeugjare, het ek Sinodesittings baie geniet. Dit was ‘n geleentheid om verskoning aan te teken, en dringend siekebesoek te gaan doen. As ‘n mens op die platteland bly, moes daar darem geleentheid ingeruim word om te gaan kyk hoe gesond is Sterland (15 jaar terug!) en die jong Menlyn sentrum.  Nou, met hierdie puntestorie, is dit nie meer so maklik om sommer net gou te gaan kyk wat is Ster Kinekor se opinie oor moderne teologie nie… daar is nie ‘n geakkrediteerde werkswinkel nie…  Ek sal seker wel weer een aand in Aandklas beland, hulle bier en steaks is die goedkoopste… Daardie luukse lewensstyl wyl ander net sojamince en toppers het om te eet…

Ek kon nog nie my hande lê op die akademiese gids wat presies vir my sal sê hoeveel punte ek moet verdien om Dominee Donkie te bly nie. Ek het al gerugte gehoor van dat ons iets soos 60 punte in ‘n twee jaar siklus moet verwerf.  Uit wat ek gehoor het, en wat ek maar self afgelei het, sal ek my 60 punte op die volgende skaal moet uitwerk:

Die Bileam se Donkie skaal vir Teologiese Akkreditasie vir Voortgesette Plattelandse Bediening in Die Kerk (2011 Weergawe)

Verdere Studie

  •  Doktorale studie (volle 60 punte erkenning)
  •  Meestersgraad studie (59.59 punte erkenning)
  •  ‘n Drie dag werkswinkel oor ‘n goedgekeurde onderwerp (15 punte)
  •  Inhandiging van ‘n werkstuk van nie minder as 15 A4 bladsye na ‘n werkswinkel (15 punte)
  • Bewys gelewer van bywoning by die Sexpo- (40 punte)
  • Bewys gelewer van ‘n oggend op Clifton se nommer 4 strand vir studiedoeleindes (10 punte)
  • Publikasie van ‘n teologiese artikel (10 punte)
  • As die publikase van die teologiese artikel oor Hooglied gaan (10 bonuspunte by die 10 punte)
  •  Publisering van ‘n weblog soos hierdie (ten minste 30 punte, dis harde werk!)

Die Lentekonferensie

  • Bywoning van die Lentekonferensie (15 punte)
  •  Wakker bly in die Lentekonferensie (15 punte)
  •  Geen flieke in werkswinkel tye bygewoon nie (-10 punte- swak benutting van tyd)
  • Een fliek bygewoon in werkswinkeltyd (5 punte)
  • Twee flieke bygewoon in werkswinkeltyd (10 punte)
  • Drie flieke bygewoon in werkswinkeltyd (15 punte)
  •  ‘n Fliek met Anthony Hopkins in ‘n hoofrol (2 bonuspunte)
  • ‘n Fliek met Jolly Angelina in ‘n bikini in die hoofrol (10 bonuspunte)
  • ‘n Fliek met Jolly Angelina sonder ‘n bikini in die hoofrol (15 bonuspunte)
  •  ‘n Teologiese boek gekoop (5 punte)
  •  Verslag gedoen oor die teologiese boek (5 punte)
  • Verslag langer as halwe A4 folio (-10 punte- jou nerd!)
  • ‘n Slim vraag aan die Teologiese Prof gevra (1 punt)
  • Meer as drie vrae gevra tydens ‘n werkswinkel (-60 punte- ek haaat mense wat so baie van hulle eie stemme hou in werkswinkels! Bied volgende keer die ding aan, dan kan ek kies of ek na jou wil luister of nie, jou ****! )

Gemeentewerk

Daar is na bewering punte te kry vir lidmaatskap by goedgekeurde gimnasium soos die Aktiewe Maagd (is dit nie ‘n teenstrydigheid nie?) en ek is sommer die hel in- die kerk se skale bevoordeel die stadsdominees darem geweldig baie! Daar is nie iets soos ‘n aktiewe maagd op die platteland nie, hier is hulle nie eers passief nie!

  • Om een aand se huisbesoek by vier huise te doen (2 punte)
  •  Om een siekebesoek in Gomorra te gaan doen (5 punte, want ons kry nie ekstra reistoelaag daarvoor nie!)
  • Om een moeilike ouderling te woord te staan (2 punte)
  •  Om vir ‘n hele week vir niemand in die gemeente hardop “*** jou!” te sê nie (2 punte)
  • Om ‘n motorfiets in werkende toestand te besit (15 punte per jaar)
  •  Om jou kinders se skoolfonds klaar te betaal voor Kersfees (10 punte)
  • Elke besoek met ‘n gemeentelid in ‘n koffieshop (1 punt)
  •  Elke preek waarna nie 10 lidmate uit die kerk bedank nie (5 punte)
  • Vir elke vriend wat nie ‘n Christen is nie (5 punte)
  •  Vir elke 10 koeksisters op huisbesoek geëet (1 punt)

Ek glo ek sal wel by my 60 punte kan uitkom. Of elke liewe een van hulle wel deur die kerklike kanale erken gaan word, is nog onduidelik in my jong, onskuldige gemoed.

Indien julle kan dink aan verdere maniere om my te help om by daardie 60 punte uit te kom, laat weet gerus hier in die kommentaar. Ek sal seker nie op litnet kan blog hierdie week nie. Maar die Blackberry doen dit goed op WordPress, sal seker daar kan voortgaan om pêrels van wysheid te werp…

‘n Heerlike week word u allemal toegewens.

Hoogheilig die uwe,

Die Donkie.

About these ads

7 thoughts on “Om diep te drink uit die fontein van die Wysheid

  1. Verdien 2 punte vir elke kommentaar by ‘n ander blogger
    Verdien 22 punte vir elke gebed vir ‘n ander blogger (Al ons bid het gewerk. Dankie daarvoor…)
    PS
    Hoekom alles so in netjiese getalle?!?!?

  2. Baie sterkte Donkie. Vir elke blogger wat hier lees 200 punte :smile: vir elke comment hier van ons 400 punte :grin: vir elke comment op FB 600 punte :roll:

    Lekker dag verder vir dominee.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s