Sondagmiddag op die Platteland

Sondagmiddae was al van die heel beste tye in my lewe. En Sondaemiddae was al van die heel goorste tye in my hele lewe.

Toe ek ‘n kind was, het my ouers graag ‘n middagslapie geniet op ‘n Sondagmiddag. En wee die een wat hulle wakker maak… Ek kon dit glad nie verstaan nie! Hoe kan ‘n mens in die middag wil slaap, as daar so ‘n groot wêreld daarbuite is om te ontdek, dinge is om te doen, bome om uit te val…

Ek het baie Sondagmiddae in my lewe pak slae gekry weens oortreding van die minimum decibelvlakke… Geraasbesoedeling.

Later was daar die universiteitsdae. My ouers  het 500 km van die Universiteit af gebly. En as ‘n mens wel die naweek huis toe kon gaan, dan was dit gewoonlik daardie reuse Sondagmiddagete. Boetie gaan vir  lank weer weg wees… En as ‘n mens so lomerig is, dan skuif jy agter die Beetle se stuurwieletjie in (myne het ‘n Sportstuurwiel- hy staan en roes hier agter my huis- eendag as ek groot is gaan hy gerestoureer word… Sy naam was op Universiteit al Jeremia, want dit was ‘n Klaaglied om in hom langpad te ry…)   Sondagmiddag, daardie lang, lomerige pad terug universiteit toe. EN veral daardie laaste 100 km waar die pad net nooit klaar herstel is nie… Dan, in die universiteitskoshuis, die groot stilte van ‘n Sondagaand, as almal by hulle meisies gaan kuier het en ek het nie een nie, en is te skytbang om by enige een te gaan kuier wat nie ‘n kêrel het nie… Daar was darem Johnnies se Hamburger om na uit te sien…

As ‘n mens nie die naweek huis toe was nie, is daardie Sondagmiddae dodelik gewees.  Met vandag se wysheid, sou ek baie meer moeite gedoen het om die dameskoshuise te gaan besoek, en ander eensame siele te gaan opsoek, en na die dieretuin toe te vat…

Erens saam met die grootmenswêreld het die liefde vir Sondagmiddagslapies ook ontwikkel. Dalk is dit juis ‘n mens se kinders wat dit aan jou gedoen het. Daardie min slaap in die week met ‘n koliekbaba. Dalk was dit die elke weeksaand eers na nege tuis kom, en sukkel om voor middernag af te skakel van almal se ellende. Skielik het dit lekker geraak om ‘n uiltjie te knip na Sondagmiddag se ete.  En wee die een wat raas. ( dit klink bekend- die sondes van die vaders besoek die kinders…)

In ons predikantswerk is Sondagmiddag se rus nogal noodsaaklik. Want vanaand, as 98 % van ons gemeente en 100% van die nie-kerkmense besig is om te kuier, in die Spur te sit, fliek toe te gaan, dan hou ons aanddiens vir die getroue twintig…

Sondagmiddag het ook ‘n ander lekkerte. Wanneer die Formule 1 ouens in Europa ry, pas die Grand Prix net mooi tussen middagete en kort slapie, en die aanddiens in. Mooi gedoen in Hongarye, Basjan!  Daar is een Sondagmiddag in Maart, die tweede ene, wat ek elke jaar op die Kaapse Waterfront sit en bier drink en groot steaks eet. Dit behels so ligte fietsritjie om daar uit te kom, soms met so ligte windjie om ‘n mens af te koel…

Vanmiddag se middagslapie het nou nie gebeur nie. Ons het ‘n groot funksie gehad oor die naweek. Daar was ‘n dinee vanmiddag, en dit was een van die min kere wat daar regtig dankie gesê is vir ons werk. Ons kry nou nie eintlik aanprysingsertifikate nie, ook nie erkenning vir 10 en 15 jaar diens in die firma nie. Ons kry ook nie prestasiebonusse nie, want alles is mos nou eintlik genade, behalwe wanneer ‘n mens aanjaag, dan is dit jou skuld…Maar vir een keer is daar dankie gesê. En ek voel soos ‘n jong hondjie wat op en af spring en sy stertjie so opgewonde waai met blink ogies!

Die slaap het nie vanmiddag gekom nie. En daarom sit ek nou hier en blog skryf met seer ogies. Ek is nie aan diens vanaand nie, kollega moet sesuur preek. Ek sit en wonder of ek vanaand een van die 2% gaan wees, en of ek een van die 98% gaan wees. Die vlees is nie lus nie…

So van die vlees gepraat- daar is natuurlik ander wonderlike dinge ook om te doen op ‘n Sondagmiddag. Ons noem dit SMS- en dit is nie Sondag Middag Slapie nie…  Maar goeie ouens soos ek praat nie uit nie, en bloos te vinnig as ons net die woord Hooglied hoor.  Dit het ook nou nie vanmiddag gebeur nie, die kinders is heeltemal te aktief en raserig vandag, en die smarties op die gras triek help ook nie meer nie…

Eintlik sou ‘n laatmiddag trippie op die motorfiets nou net die ding gewees het. Aanddiens, of motorfiets? Aanddiens? Motorfiets… aanddiens…

Waar is my helmet???

Passiespele op die Platteland

Vanaand voer ons vir die laaste keer die Passiespele op in ons kerkgebou, waaraan ons al oefen van Januarie af. Ek het maar ‘n klein praatrolletjie hier in die begin rond, omdat ek ‘n groot deel van die oefentyd in Spanje was met die Camino.

So ‘n Passiespele is nogal ‘n baie, baie groot klomp werk. Eers was daar die maande se skryf aan die draaiboek. Hierdie keer was dit nie my baba nie. ‘n Gemeentedame het dit geskryf, en elke nou en dan bietjie lekker vasgesit met my kollega, wat weer ander idees as sy gehad het as gevolg van ‘n suksesvolle Passiespele in sy vorige gemeente. Dan raak die tweetjies warm vir mekaar, en ek kalmeer, en ons soek saam na die middeweg. Uiteindelik was daar ‘n draaiboek wat die moeite werd was. Toe kom  die rolverdeling.  Dit vat ook ‘n klomp pleit, en soebat, en mooipraat. Want dit gaan ‘n groot klomp aande se oefening kos om hierdie stuk gereed te kry.  En daar is baie rolle: Jesus, twaalf dissipels, Pilatus, twee soldate, ‘n Hoëpriester, die duiwel, ‘n klein dogtertjie, ‘n klein seuntjie, ‘n skare manne, ‘n skare vroue, ‘n engel, Maria, Maria Magdalena… Dis net op die verhoog. Ek wou verskriklik graag die duiwel wees. Maar die mense het net geweier- ‘n dominee mag nie die duiwel wees nie!  (Ek het gewonder- wat is die verskil? Party dominees is dan die duiwel…)

Agter die skerms gaan net so baie aan. Ons het ‘n goeie klankoperateur nodig. Ons het iemand nodig vir beligting en die rookmasjiene. Ons het ‘n rekenaaroperateur nodig- eintlik twee, vir die digitale borde. Ons het mense nodig wat die dekor bou, en verf. Ons het mense nodig wat die koordanse afrig, en ander wat dit doen. Ons het mense nodig om die kostuums te maak. In totaal het ons passiespele omtrent 65 mense betrek, wat elkeen ‘n reuse klomp tyd, en liefde, en energie ingesit het. En om dit in sulke besige tye soos vandag te vra, was ‘n baie groot vra!

Januarie het die oefeninge al begin. Elke Maandagaand, vyf tot sewe. Van Mei af was dit Maandag en Donderdagaand. Van verlede Maandag af was dit volle kostuum, volle program.

Die een ding wat ons verskriklik geniet het, is al die humor so in die oefenprogramme. ‘n Mens verstaan nou hoekom soveel DVD’s vir ‘n mens daardie “gagreel” van al die floppies insit. Die sêgoed wat mense uitdink op hulle voete. ‘n Toneel wat mense skielik verras. Een van my groot vriende is Jesus in ons Passiespele. Daar is ‘n toneel waar Jesus van die kruis afgehaal word, en met iemand se karavaan stretcher afgedra word, toegegooi soos ‘n lyk. Dan word hy van die verhoog afgedra, tussen ‘n groep koordansers in wat in engeleklere staan en wag om met die opstanding op die verhoog te gaan. Die eerste keer, toe my vriend afgedra word, sit hy skielik regop en skree “Wha!” met die lykdoeke so om hom. En ‘n paar van die dames het amper skoon broeke nodig gehad daarna!

Dit is so lekker, as ‘n mens die akteurs so goed ken, om te sien hoe elkeen hom of haar in hulle rolle inleef. Die stuk het so op ons gegroei. En na maande is vanaand ons laaste optrede saam. ‘n Mens voel amper ‘n stuk heimweë! Wat gaan ons volgende Maandag en Donderdagaand met onsself maak?

Maar was die stuk die moeite werd om op te voer? So baie mense bel en sê dankie, dit was aangrypend dat ‘n klomp amateurs dit so goed kon regkry, insluitend klank, beligting en spesiale effekte. Met hierdie klompie sou ons amper rolprente kon aanpak, soos daardie gemeente in Atlanta wat Fireproof en Flywheel en Facing the Giants vir die wêreld gemaak het (ja, kyk weer- dis ‘n gemeenteprojek, dit kom nie uit Hollywood uit nie!)

Maar vir my was die aangrypendste getuienis, wat dit alles die moeite werd gemaak het, net hierdie getuienis. In ons dorp is ‘n skool vir gestremde kinders en jong volwassenes. Soos in erg gestremd verstandelik. Hulle is een van ons gemeente se gunsteling plekke waar ons betrokke is. En so het ons die draaiboek geskryf dat waar Jesus die kindertjies seën, dat hulle op die verhoog kom staan, en die akteur dan sy hande op hulle skouers sit, terwyl hulle sing: “Weet jy, dat Jesus jou liefhet, weet jy dat Hy baie van jou hou, sommer net soos jy is, want jy is kosbaar, en baie spesiaal vir Hom!”

Gisteraand, voor die vertoning, kom een van die meisies se ma na my toe. Sy  vertel vir my dat haar dogter het Woensdagmiddag ervaar dat Jesus self sy hand op haar kom sit het, en vir haar gesê het dat sy kosbaar en baie spesiaal vir Hom is. Ons praat hier van ‘n jong dame in haar twintigs, wat baie, baie erg verstandelik gestremd is. Sy het gister die hele dag by die skool net daaroor gepraat, en dit met almal gedeel.  En as dit die boodskap is wat hierdie Passiespele vir haar gegee het, dan was dit al die ure se oefen werd!  Maar ons hoor dit uit ons hele gemeenskap- mense het beleef: Hulle is kosbaar, en baie spesiaal vir Jesus. En ons is dankbaar, ons bereik wat ons so graag wou vertel!

Om sewentig maal sewe keer te vergewe…

Ek kom vanoggend nege uur voor een van die moeilikste toetse in my hele lewe te staan.  Deur omstandighede buite my beheer word ek gedwing om ontbyt te gaan eet saam met een van die mense wat my die heel seerste in my hele lewe gemaak het.  Dié saak is so sensitief dat ek selfs huiwer om dit op my anonieme blog te noem. Maar ek het nêrens anders om net te kan sê wat nou in my hart is nie.

Ek weet Jesus het vir ons geleer dat ons ons naaste 70 X 7 keer moet vergewe. Hy het ons leer bid dat ons vergewe wil word deur God, soos wat ons ander vergewe. En ‘n mens lees dan daardie gelykenis van die slaaf in Matteus 18, wat so baie deur die koning vrygeskeld voor is, en dan vir ‘n nietige bedraggie sy medeslaaf in die tronk wil gooi.

Ek weet ek is die dominee. Ek weet ek moet die antwoorde ken op wat ek hier sê. Maar ek sukkel regtig al jare lank met hierdie een.

Hoe weet ‘n mens wanneer het jy regtig iemand vergewe? Wanneer is vergifnis goed genoeg?  Die persoon wat ek netnou moet sien, het ek al hoeveel keer in my binnekamer vergewe. Ek het hom al hoeveel keer vrygespreek in my gedagtes. Ek bid dat die Here hom sal seën. Maar elke keer as ek sy naam hoor, of so elke tweede jaar in hom vasloop, dan is dit seer. Die ou wonde en die ou woorde kom net eenvoudig terug… Hoe vergewe ‘n mens iemand wat jou lewe opgedonder het?

Dis so ‘n sensitiewe saak dat ek eintlik huiwer om die publiseer knoppie te druk.

Nee, ek was nie in ‘n gay verhouding nie!

Kom ek waag om dit te vertel: dis ‘n vorige, ouer kollega van my. ‘n Medeleraar. Hy is ‘n baie gewilde leraar. En nog steeds baie geliefd in die gemeente waarin ek nog steeds sit. Ek wil hom nie seermaak nie. Ek wil nie sy reputasie enigsens benadeel nie. Ek weet dat hy so baie vir so baie mense beteken, nog steeds.

Ek weet nie wat ek aan hom gedoen het nie. Maar so vier jaar gelede het daardie medeleraarsverhouding aanskoulik ontplof!  Dit het die gemeente geskeur, en byna gesink. En die ding het eintlik toe al ‘n paar jaar aangehou, sonder dat ek my vinger daarop kon lê. Ek weet net dat 2006 en 7 was die seerste tyd in my hele lewe. Die kerkraad het op ‘n dag gevra hoe lyk die verhouding tussen ons twee, en ek moes erken dat dit glad nie goed is nie.  Ons was tot voor die Sinode se Fasiliteringskommissie, wat heeltemal bubbels gehap het oor wat aan die gebeur is.  Hierdie tipe dinge maak gewoonlik dat twee dominees later in die pad gesteek word. My werk sou in gedrang kom, my hele gesin se voortbestaan bedreig. En ek weet nie wat ek aan hom gedoen het nie! Ek weet net dat ek die hel uit hom uit geirriteer het met my menswees. En dat hy dit nie later kon uithou saam met my nie. Die probleem was seker nie wat ek gedoen het nie, maar wie ek is.Hy het in daardie laaste maande gesê dat die verhouding tussen ons twee nog nooit goed was nie. En ek, salig deur die stront, het gedink dat daar baie goeie tye saam was!

Gelukkig vir ons altwee het hy ‘n beroep gekry. Hy het my eers gesê daarvan die dag voor hy dit aan die gemeente sou moes bekend maak. Van sy vertrouelinge het dit weke lank geweet, voor my. Hy het nog ‘n week gewerk, toe sy opgehoopte verlof geneem, en toe sy afskeidspreek gelewer.  Hy sou ook getrek het sonder om my te groet, as ‘n gemeentelid wat hy baie respekteer, ons nie vir ‘n laaste ontbyt genooi het nie. Ek verstaan een ding nie- ek het in daardie tyd vir baie beroepe aansoek gedoen. Ek was vir drie onderhoude. Maar die Here los my nog steeds in die gemeente waarin ek die bediening begin het!

Ek moet hom vanoggend vir die eerste keer in amper vier jaar weer in die oë kyk. Die vorige keer wat hy in die dorp was om te preek, het hy my net ‘n handdruk gegee in die konsistorie, en dadelik weer weggekyk. ‘n Totale koue skouer.

Ek wil so met my hele wese vanoggend weghardloop. Ek wil so graag met alles wat in my is, op my motorfiets klim en net ‘n helse ver ent gaan ry.  Aan die ander kant wil ek so graag vrede in my hart hê as ek aan hom dink.  Soos ek gesê het, ek gun hom sy goeie reputasie in die gemeente. Ek wil graag ‘n skoon hart hê.

Ek het in my wildste drome nie gedink dat dit so in ‘n medeleraarsverhouding kan gaan nie. Ek het nie daarvoor gesoek nie.  En ek wens ek het geweet waaraan ek skuldig is, dat ek dit kon bely en aangaan met my lewe. Maar daardie dowwe, seer gevoel gaan nooit weg nie…

Die Bemoediging van die vyand… (verskoon taal…)

Terwyl my stem nou heeltemal ingegee het, kan ek gelukkig nie my werk doen nie. Nie die mensdeel daarvan nie. So voordat ek gaan voorkom op so sewe preke, net eers hierdie enetjie met julle deel.

Ek was by ‘n Uitstekende Onverbeterlike Vreedsame Sosiale plek op universiteit.  Ek het my eerste vier jaar in ‘n beroemde generaal se koshuis gebly. Reg voor my gang het ‘n straat geloop, waar ‘n nog meer bekende Boere-oorlog generaal se koshuis was, met die deesdae gehate apartheidsleier s’n reg oorkant die straat.

Eksamentye was gewoonlik baie gespanne tye daar waar vyf van die manskoshuise so bymekaar was. Gereeld, met die minste provokasie, staan die studente hier rondom middernag met baseballbats, gholfstokke en derglike sportapparaat in die straat, besig om mekaar se karakter, moeders, koshuise en bedenklike omstandighede van oorsprong te debatteer. Gewoonlik net voor daar bloed begin vloei het daar darem iets of iemand, gewoonlik die HK lede,  die situasie ontlont, en dan is almal maar weer terug na die teksboek van die chemie, grieks, privaatreg, boekhou 2 of watter nagmerrie daar ook al sou volg in die eksamen. Spanningsvlakke was baie hoog in eksamentye.

En toe gebeur hierdie pragtige verhaal een aand. Ek en my kamermaat sit op die betonbankie wat uitkyk op die ander twee koshuise, elk met ‘n bierbeker vol koffie in die hand- daardie Grieks gaan ons in elk geval tot vyfuur besig hou…

In albei die koshuise voor ons brand omtrent al die ligte nog. Die gordyne is oopgetrek, en jy sien soveel koppe buig oor die onverstaanbare teks. Dis na middernag.  En skielik, uit die een kamer aan die linkerkantste koshuis, kom ‘n wanhoopskreet, soos die roep van ‘n gefolterde siel in die hel, wat oor die koshuise weergalm: “EK FOKKEN KAN NIE MEER NIE…”  ‘n Emosie wat menige oud-student dadelik sal herken…ons was seker almal daar. Behalwe nou julle dux-pliggies!

GEwoonlik sou die vyandige koshuis skree iemand moet sjarrap, of f-of, of die baseballbats kry om hulle te gaan stil dreig. Maar nie daardie aand nie. Daar was so drie sekondes stilte na die wanhoopskreet. Toe kom dit uit een van die vensters uit die regterkantste koshuis: JY FOKKEN MOET MAAR NET…

Met soveel deernis het iemand raakgehoor wat die nood is, en sy bes probeer om met empatie die lydende persoon aan te moedig tot volharding…  Dis wat ek nou noem: Naasteliefde in aksie!

Op my bedkassie

Leon von Moltke het seker weer iets hier begin…

Ek het mos maar ‘n deurmekaar dag vandag, en ek voel ook nou ook nie heeltemal so 10-4 nie. Toe het ek eers gewonder of daar in my chaos ‘n bedkassie is. Ek het een opgespoor langs my bed. As ‘n argeoloog en sielkundige nou oor 2000 jaar hierdie kassie moes opgrawe, soos daardie ruïnes van Pompeye, dan wonder ek wat sou hulle van hierdie fonds maak?

Die bedkassie is van Oregon Pine, en bo-op is ‘n lampie van ysterwerk en gevlegde gras. Bo-op lê:  Twee van my Swiss Army knives, 2 Casio G Shock Horlosies. Twee penne.

In die laai is ‘n K-Bar militêre mes, my Petzl koplamp en ‘n ander flits. Daar is batterylaaiers en muntstukke, adaptors van goed wat ek nie meer het nie, my hartmonitorband vir fietsry… En ‘n klompie los 9 mm patrone…

Boonste rakkie:  Blackstock se “Eiland van Toevlug” (geleende boek, vervelig…) Isak Burger se “Seisoene, Storms en Woestyne” (baie goed.) Dolf de Roos se “Real Estate Riches” (Yeah right!)  Max Lucado se “Op God se Aambeeld”- lank gelede gelees…  Die Kerkorde (ek het gewonder waar hy is vir maande…) Bill Hybels se “Courageous Leadership”.  John Freeman se “ Taking Great Photographs” So dikke van Flanagan & Finger oor “About everything a Manager needs to Know”… Joyce Meyer se “Wen die Stryd om jou gedagtes”, George Barna se “How to Increase giving in your Church”, Floris Knouwd se “Hoe kies ek ‘n lewensmaat”,  Neil Anderson se “A Way of escape” En Phil McGraw  se “Self Matters

Onderste rakkie: Patrick Holford se “Optimum Nutrition Bible” (onoopgemaak), Dr Peter Tyrer “Spanning” (baie oud) National Geographic se kaart van “The Gulf of Mexico, layers of Life” en ook “Great Migrations” Die Eenjaarbybel (Nuwe Testament) Dietrich Bonhoeffer se “The Cost of Discipleship” (uitstekende boek!) Nancy Gardiner se “Maak tuin in houers”, David Gatward se “Some Churches do ‘ave them…” (humoristies) Neil Anderson se “Bevryding van Vrees”  Car Magazine- Februarie 2011 uitgawe,  Rick Warren se “Purpose Driven Church” en Robert Schuller se “Life is not fair, but God is good…”

Dis nie noodwendig die beste boeke ooit nie, dis net deel van honderde boeke op die rak, en hulle is op die oomblik toevallig in my bedkassie.  Enkeles van hulle sou daar bly as ek my heel beste boeke ooit moes kies, baie ander sou bykom, en die meeste van hierdie keuse sou ook weer terug studeerkamer toe gaan. Ek is net te lui…

Wat maak julle uit van hierdie versameling, en wat sê dit onbewustelik? En wat is in jou bedkassie?

Eseltjiesrust en moeë donkies…

Ek lees nou op ‘n vriendin op blogger se bladsy van ‘n wonderlike plek wat ek nog nooit van gehoor het nie.  By MacGregor in die Wes- Kaap is daar ‘n aftree-oord vir donkies! Dr Johan van Zijl en sy vrou Anne-Marie het in 2001  ‘n versoek gekry om twee verwaarlooste donkies vir die SPCA te versorg, Vaal en Japie…  Dit het later geblyk dat daar baie mishandelde donkies in die gebied is, en in 2007 het hulle Eseltjiesrus begin as plek vir hierdie diere…

Die wonderlike van hierdie plek is dat hulle ook baie moeite doen om kinders met seer omstandighede daar te help, in die interaksie met die diere vind daar baie genesing plaas. Hulle ontvang ook skoolgroepe, en help met ‘n basiese opvoedingspakket vir skole se Graad 1-6, wat donkies in die temas het. As ek weer met my motorfiets in daardie wêreld gaan toer, sal ek graag hier wil aangaan, en dit self gaan bekyk.  Dit is vir Bileam se Donkie ‘n riem onder die hart, dat daar nog mense is wat vir verwaarloosde donkies, en kinders omgee… Ek gee graag eervolle vermelding vir Eseltjiesrust, en Dr van Zijl en sy vrou.

Op ‘n ligter noot- Bileam se Donkie wens ek kan ook nou maar by Eseltjiesrust gaan intrek. Ek voel ook so effens verwaarloosd en mishandel…

Ek sit met so ligte gemoedsbek*******ng vanoggend. So liggies depressief. En kom ek deel dit maar met my goeie vriende. Die een ding van ons werk is dat dit absoluut nooit klaarmaak nie. Ek het gister toe ‘n dag van 07h00 tot 22h17 gehad, met ‘n kort breukie vir middagete, en ‘n vinnige koffietjie saam met my vrou by die kwekery so tussen 16h00 en 16h30. Ek is redelik moeg vandag, en hierdie dag gaan ook maar aanhou tot na 10 vanaand.

Wat dit verskriklik moeilik maak in ons werk, is die verwagtinge van mense. Ek is in ‘n groot gemeente. Daar is oor die 800 mense in my deel van die gemeente.  Ek is nie die wêreld se mees georganiseerde persoon nie, en my tydsbestuur laat veel te wense oor. Maar wat gebeur, is dat daar so baie mense verskillende vorme van nood ontwikkel. Party word siek, soms ernstige goed soos kanker, of groot skade na motorongelukke. Gewoonlik is ek redelik goed om by sulke mense uit te kom in tye van nood. Maar dit gebeur van tyd tot tyd, as iemand beter word, dat my aandag aanskuif. Op ‘n stadium was ek gereeld by hulle, en nou sien hulle my skielik vir maande lank nie. En dan ervaar mense dat ek nie omgee nie. Intussen het die volgende klomp krisisse al weer bygekom. En ek is regtig net nie so goed met die langtermyn pastoraat nie.

Ek kom redelik onlangs met ‘n skok agter dat ek verlede jaar September laas by iemand in my gemeente was, wat deur ‘n krisistyd gegaan het. Ek het op 1 Oktober verlede jaar my bakkie gerol, en self net lig beseer geword. Maar ek was sonder wiele in daardie eerste maand. Ek het in my persoonlike lewe nog ‘n aantal krisisse beleef einde laas jaar, en hierdie jaar het begin met vier sterfgevalle in my familie en vriendekring.  Met al die storms wat my getref het, was ek nie so sensitief soos gewoonlik nie. Ek sal by daardie persoon moet uitkom, en baie nederig om verskoning vra dat ek so lanklaas daar was.

Die hartseer is dat mense in nood nie vir ons, soos met enige ander beroep, sal bel as hulle ons nodig het nie. As hulle tandpyn het, sal hulle die tandarts bel en hom gaan sien. As daar seer is, sal hulle die dokter bel. Maar as hulle gemoed vol is, en die lewe druk, dan moet die dominee dit weet en self uitreik. ‘n Mens hoor so dikwels dat iemand nou kwaad vir die Here/kerk/ dominee is, omdat ons nie omgegee het nie.  En dit breek my hart. Ek gee baie meer om as wat mense dalk dink. Ek is net self redelik deur die wind, baie verstrooid. En die goed wat ons doodmaak in ons werk is nie die goed wat ons verkeerd doen nie, maar die dinge wat ons nie by uitkom nie.

Ek sien ook onlangs weer ‘n dame wat ek weekliks ten minste vir twee jaar bygestaan het met haar man se kanker, en haar stryd met die man (2e huwelik) se kinders wat haar aanvat dat sy niks mag erf by hulle pa nie. Twee lang, hartseer, moeilike jare saam met haar ‘n pad gestap, tot na haar man se dood, begrafnis, en tot sy weer beter voel na die tyd. En nou- nou kan ek nie meer daardie aandag aan haar gee nie. En elke keer as sy my sien, sê sy: “Dominee, jy het my vergeet!”

Na aanleiding van gister se blog vra so baie mense baie goeie vrae oor waar God is wanneer mense swaarkry. En ek as dominee het ook nie die antwoorde nie. Ek is nie gespaar van seerkry nie. Ek het in die Hoërskool ‘n jonger sussie aan kanker verloor, ek het in matriek langs haar sterfbed gestaan. Ek weet nie hoekom gaan kinders aan kanker dood nie, en hoekom mal “Christene” kinders op jeugkampe doodskiet nie!  My oom, wat my mentor was in die lewe, is vermoor deur iemand wat hy wou help. Die moordenaar het 5 jaar tronkstraf daarvoor gekry, hy was seker weer op straat na 2 jaar!  Ek weet nie hoekom word ons geliefdes so wreed vermoor nie.  Ek het al baie windgat rondgejaag, en die een keer wat ek rustig rondry in die distrik, rol ek my bakkie!  Ek weet nie hoekom moes ons al twee kinders verloor het in miskrame nie… Ek weet nie hoekom die res van my ma se manlike familielede in haar huisgesin van oorsprong ALMAL aan kanker doodgegaan het nie- en of ek volgende gaan wees met daardie gene nie. Ek weet nie hoekom my pa dood is aan ‘n hartaanval enkele dae nadat ek en hy vir die eerste keer om ‘n biertjie kon sit soos manne, en by mekaar se harte kon uitkom, vir die heel eerste keer (by my oom se begrafnisdiens!) nie.  Ek ken ook die seer van die lewe. Ek het ook nie die antwoorde op al hierdie goed nie. Ek weet ook nie hoekom God dit alles toelaat nie.

Ek weet net die ateïstiese siening gee vir my nog minder antwoorde, en troos, en hoop, as my Christelike geloof. Ja, ek het ook al Richard Dawkins se God Delusion gelees, hy staan op my boekrak. Ek het ook al Christopher Hitchens gelees. Ek ken die redenasies wat ek daar hoor. Gelukkig het ek ook al Lee Strobel se boeke gelees, wat ‘n ateïs was, wat vir sy vrou met sy regsagtergrond wou bewys dat Jesus nie bestaan het nie, of nie uit die dood kon opstaan nie- en toe deur die oorvloed getuienis so verras was dat hy ook begin glo het. Vir ‘n goeie lees as jy oor hierdie goed wonder, lees gerus Lee Strobel se “The Case for the Real Jesus…”

Maar al hierdie twisgesprekke oor die onderwerp van godsdiens maak ‘n mens heel moeg. Twisgesprekke het nog nooit iemand anders oortuig nie.

Ek moet so baie lees om mense in my gemeente te probeer antwoord op al hierdie miljoene onverklaarbare vrae. Ek moet so uitkom by elkeen in nood, so gou as moontlik. Ek moet sulke goeie bybelstudies aanbied, en Sondag goed voorbereid op die kansel klim. Ek moet so preek dat die oumense voel daar is aandag aan hulle gegee. Ek moet so in gedagte hou dat vandag se jeug twitter en facebook kommunikasie gedrewe is, en enige iets langer as ‘n minuut hulle dood verveel. Ek moet sielkundige wees, handyman vir die kerk (gelukkig is my kollega baie beter daarmee as ek) ek moet alles van elke wetenskap weet om te weet wie Schopenhauer en Chopin is, ek moet saam met dokters kan gesels, en saam met mechanics.

Daarom voel hierdie donkie vandag gereed vir Eseltjiesrust. Dalk moet ek my vorige beroep as student maar weer gaan beoefen. Kort iemand nie dalk ‘n baie goed belese (in sommige mense se oë) busbestuurder met ‘n PDP nie?

Vrydag, o Vrydag, o wondersoete dag…

Nou ja, vandat Rebekka Black daardie liedjie oor Vrydag gepleeg het wat aangewys is as die slegste lied van die millenium, sal Vrydag seker nie heeltemal ooit weer dieselfde kan wees nie.

Anders as wat sekere filosowe mag dink, werk onse beroep werklik so bietjie meer as net daardie beroemde uurtjie op Sondag.  Soos die ou grappie wat almal ons mos maar vertel dit wil hê- onsigbaar in die week, onverstaanbaar op Sondag, en onbetaalbaar aan die einde van die maand. Eintlik het ek nou gemik na die ander ene toe- die een van net ‘n uur per week werk, en dan nog die helfte van die tyd met my oë toe ook. Daar is mos seker maar grappies oor elke moontlike beroep, en hierdie, saam met die pampoen in die kattebak storie hoor ons by elke huisbesoek, en dan lag ons beleefd…

Omdat ons ook dikwels dinge oor naweke aanhet, en so nou en dan ‘n man se vryheid opneuk deur hom in die eg te verbind, gebeur dit dikwels dat ‘n mens sewe dae ‘n week kan werk. Maar dan is ons nog getroud, gelukkig nie selibaat soos ons Roomse kollegas nie. En as ‘n man getroud is, dan word jy mos ” ‘n mens”.  ‘n Mens moet darem vir ‘n slag die stukkende gloeilampe vervang, die los deure vasmaak wat die tieners toegeklap het, die gras sny, die geute op die dak skoonmaak,  al derglike dinge wat gewone ouens maar Saterdag tussen die Super 15 en die Tri Nations moet inpas. Pastoriemoeders word net so omgekrap soos hulle susters in die gewone huise…

Daarom het my Kerkraad, in al hulle wysheid besluit die Goeie Boek sê iets van ‘n rusdag. En daarom is Vrydag my rusdag, die minste moontlike skade op die gemeente se voortbestaan, want Vrydagaande wil niemand die dominee sien nie, behalwe as die drank te veel gevloei het en mammie vir pappie geblissem het…  Geen regdenkende mens wil op ‘n Vrydag huisbesoek hê nie. Behalwe… ag kom ons los dit…

Daar was ook die hipervromes onder ons wat vreeslik graag op ‘n Vrydagaand ‘n Biduur wou hou. Iets van die week wat te besig is, en die beste tyd wat jy vir die Here gee. ‘n Paar van hulle was ook redelik omgekrap toe ek verduidelik dat ek nou soos my naamgenoot viervoet vassteek, ek wil ook een aand by my braaiplek sit, met my biertjie in die hand.  (Son het al gesê sy het nog nie voorheen van ‘n dominee en sy bier gehoor nie. Martin Luther het omtrent in elkeen van sy briewe aan sy vrou geskryf hoe hy elke dorp en stad se plaaslike bier bevind het, nadat hy dit beproef het. Die drink van bier is dus heel Gereformeerd…)

Nou ja, Vrydag is my afdag. Behalwe as dit kerkbasaar is. Behalwe as daar iemand te ruste gelê moet word. Behalwe as iemand sterwend is. Behalwe as iemand ernstig siek is. Behalwe as sekere mense se aambeie jeuk, of toonnaels ingroei. Behalwe as my kollega die Daniëlkonferensie vir die streek help reël het, soos hierdie naweek.

Ek kan ten minste op Vrydag van natuurlike oorsake wakker word. Ek kan rustig in die bed bly lê, terwyl ek dink oor die sin van die lewe, die antwoord op wêreldarmoede, die dreigende aardverwarming, en die eksistensiële krisis van Nietsche, en al derglike nietighede, voordat ek myself deur die stort sleep, ommelet maak met kaas en sampioene, en my Ricoffy sit en drink.  Dan kan ek gaan kyk wat ek weer alles verkeerd gedoen het teenoor die mensdom op my litnet blog, en dan, omdat ons sulke reuse salarisse verdien, op my motorfiets klim en by Wiesenhof die “Three mug blend” van die dag gaan drink, terwyl ek hulle Beeld en FHM deurblaai.  Met die kafeiene vlakke wat nou op standaard is (laat my gloei in die donker) en met my gemoed in ‘n goeie stemming, sal ek dan vir mamma en die kinders kos maak vir middagete… (behalwe nou as dit basaar is, of iemand te ruste gelê moet word, of iemand sterwend is… ) Nou ja, skies my lief, dit gebeur eintlik baie selde, en ek voel nou skuldig daaroor…

Vrydagmiddag doen ek wat Dominees gewoonlik op hulle afdag doen. Ek maak preek vir Sondag. Omdat ek van Maandag tot Donderdag rondhardloop in die gemeente om mense van hulle swaar verdiende geld te verlos, soos wat my goeie vriend en skaduwee op litnet graag sê. Of, as ek nie lus is vir preekmaak nie, vat ek my vrou vir koffie by die kwekery…  Of ek gaan ry op my motorfiets. Of ek lees nog ‘n blog of ses, of ‘n goeie boek- Wanneer gaan Nelson de Mille weer eendag iets skryf?! Ek is mal oor sy sarkastiese helde, en wens so niemand op litnet het geweet wat my beroep is nie, dat ek ook kon antwoord uit die hart uit op al die aanklagte daar…

Vrydagaand is heel Ou Testamenties. Dit is die aand van die Versoeningsoffer. Dit werk so- die hele week lank het die ses pastorielede rondgehardloop in elkeen se eie rigting.  Harde woorde het soms geval, veral tussen die jongste twee wat tot baie onlangs ‘n kamer moes deel.  Pappie en Mammie het tussen skool en kerk ook heel dikwels net vir mekaar gewaai in die gang.  Daarom, op Vrydagaand, as dit nou nie kerkbasaar is nie, en niemand is sterwend nie… dan pak ons die altaar met brandhout. Die vuur kom nie uit die hemel uit neer nie, daarvoor moet ons soms nog Lion Matches gebruik, wat hoeka nie meer soos vanmelewe se Lion Matches presteer in hulle skeppingsdoel nie… Ons dra by tot die aardverwarming, maar doen dit darem deur die gewraakte indringerspesie Sekelbos te help verminder.  Dan, jammer Boeddistiese vriende, neem ons ‘n snit van die been van ‘n bees of ‘n vark, as dit baie goed gaan, een keer per jaar rondom bonustyd, dalk van ‘n skaap, of as dit baie sleg gaan, van ‘n hoender. (JA, soms is dit net ‘n snit uit die been van ‘n hoender tot ons beskikking).  Dit word op die altaar geplaas, en geoffer tot medium rare, behalwe nou in die varkenhoender se geval. Pap en sous word gemaak, en dan sal die volk feesvier. Met ‘n botteltjie rooi- Slanghoek Camerca, Nederburg Cabernet Sauvignon, KWV Roodeberg… nee, nou droom ek- P ‘n P se klein boksie dooswyn vir R12,55.

So nou en dan is dit die enigste aand wat ek vriend ook kan oornooi. En daardie braai saam met vriende is ‘n hoogtepunt in my lewe! Wat ongelukkig nie so gereeld gebeur nie. Want, as die kerk nie ‘n mens besig hou met die kerkbasaar, die sterwendes, die siekes… ens nie, dan steel die skool my kinders! Hier op die platteland is die kinders net nooit tuis nie. En die vriende se kinders is ook weg. So, soms braai ek saam met vriende. En dit is baie, baie lekker om vriende te hê, en nie net kerkstories te praat nie…

Vanaand gaan nou ‘n heel interessante aand wees in onse huis. Ek is by die Daniëlkonferensie. En ek is saam met my seun by die afsluitingsbraai van die Laerskool se Eerstespan (Rugby). Wat dit so interessant maak, is dat ek by albei gelyktydig is. Vyftig kilometer uit mekaar uit. Mevrou Dominee (o, sy gaan my hard slaan…) vat Ousus Pretoria toe, want dié wil in matriek al saam met ouer vriendinne (op Tukkies)  na die Kovsie-Puk Intervarsity toe gaan in Potchefstroom. My gebedstyd gaan weer dramaties styg, want ek onthou Intervarsity nog so goed…  Daardie Reitz manne wat die Labrador soos ‘n skaap gebraai het… Jan Twak was nie in Reitz nie, onthou ek skielik…

Ek het nog nie die vaagste idee wat gaan Ouboet en Kleinboet vanaand aanvang nie. So, dis nog ‘n Vrydagaand in my lewe wat ons nie saam as gesin by die Versoeningsoffer gaan uitkom nie…

Ek moet net bieg, dis so lekker om op ‘n Vrydag die foon te ignoreer, want ek mag…

Ek wens nou net ek kan daardie Rebekka Black se “Friday, Friday…” se melodie uit my kop uit kry, sonder die aanwending van alkoholiese verversings….

Geniet jou naweek!

Vaders en Seuns…

Die afgelope paar jaar het daar ‘n baie interessante verskynsel begin in die lig kom in ons gemeenskap. Miskien moet Chris Louw deel van die eer kry, met sy beroemde “Boetman is die Bliksem in…” brief aan Willem de Klerk. Miskien het die regstellende aksie beleid in Suid-Afrika die finale pitsweer oopgesteek. Dalk het Angus Buchan se Mighty Men beweging ook iets daarmee te maak. Die afgelope paar jaar het manne skielik begin sê dat hulle nie altyd self regkom nie. Manne het begin sê dat hulle seer het. Manne het begin erken dat hulle nie altyd in beheer is nie, en nie altyd die antwoorde ken nie.

In ons gemeente het iets op ‘n Vadersdag gebeur so ‘n jaar of twee gelede. Ek het dié dag die Gelykenis van die Verlore Seun gepreek daar in Lukas 15. Hierdie dag het ek nie op die seun se wegloop, sy lewenswyse of sy verlorenheid gekonsentreer nie. Ek het gekyk na die voorbeeld van ‘n Vader, wat dag vir dag na die pad gestaar het, wat hoop dat sy seun sal huis toe kom. En toe die seun die dag op die horison verskyn, vol varkmis, uitgehonger, brandarm, nederig geslaan deur die lewe-ek het gefokus op daardie pa se reaksie op sy seun. Daar staan dat die pa gehardloop het, sy stinkende seun omhels het, hom gesoen het, en toe vir hom nuwe klere en ‘n ring laat kom het. Daarna is daar fees gevier. Die nuwe klere- aanvaarding terug in die huis, en die ring wys op die herstel van status. Welkom my seun! Onvoorwaardelike aanvaarding, want jy is my kind…

Ek het ietsie uit my eie lewe met die manne gedeel. Ek weet my pa was lief vir my. Ek weet hy het sy bes probeer om ‘n goeie pa te wees. Maar hy het nooit in sy lewe vir my gesê dat hy lief is vir my nie. My pa het my nooit teen hom vasgedruk, en gesê hy is trots op my nie. Netnou word ek ‘n moffie! My pa is dood sonder daardie woorde, dat hy lief is vir my. En in my eie lewe het dit ‘n geweldige leemte gelaat. ‘n Seun het daardie erkenning van sy manwees nodig van ‘n pa se kant.

Met die deel van my stukkie seer het iets in die gemeente gebeur. Ek het nogal baie werk daarna gehad. Want so baie manne wou hulle verhaal met my deel, en dit het baie met myne ooreengestem. Party s’n was baie erger verhale nog as myne. Stories van aanranding, stories van onterf, woorde van ” jy is nie meer my seun nie…” “Ek wou jou nooit gehad het nie…”

Ek is deel van die geslag wat ook weermag toe moes gaan. Ek is deel van die “Die Bliksem in” geslag. Ons geslag is in bruin uniforms ingedwing, en grens toe gestuur. Ek moet bieg dat dit nie vir my ‘n slegte ervaring in my lewe was nie. Ek is nie gebreek deur die weermag nie. Ek het ook iets beleef van daardie “Brothers in Arms” ervaring, van omgee vir mense saam met jou, jou buddies. Ek was gelukkig in die sin dat ek nooit iemand moes doodskiet nie. Ek het nie Post Traumatiese Stress opgedoen nie, want ek was nooit in ‘n kontaksituasie, soos baie van my vriende, familie en gemeentelede nie. Ek praat nou hier as een van ‘n geslag van manne, nou in ons veertigs en vyftigs…

Waar ons geslag die Bliksem in geraak het, was oor die politiek agter al hierdie dinge. Ons is van kleins af, deur kadette elke Woensdag op skool, deur die kadetkampe voorberei dat ons eendag ons deel sal moet doen vir Volkenvaderland. Ons het gehoor van skoolmaats wat in bokse teruggekom het. Ons het in ons dorpe se begraafplase die heldeakkers gesien. Ons vriende, ons broers lê daar begrawe. Ons het gedog ons doen dit vir ons land en ons mense. Eers later het ‘n mens stories by die Waarheids en Versoeningskommissie gehoor wat ‘n mens se hart ruk. Een van my vriende was bv ‘n Parabat wat in Angola ingespring het, en in ‘n paar kontaksituasies was. En sy verbittering vandag as hy vertel toe hulle een dag “vyande” se lyke moes laai, en ‘n sakbybeltjie val uit een se sak uit. Ons het altyd gehoor van hierdie ateïstiese kommunistiese gevaar. En daar lê ‘n vyand, met ‘n goed geleesde Portugese Nuwe Testament in sy sak- ‘n medegelowige…

Die land se vaders het ons oorlog toe gestuur, en ons het eers later uitgevind hoe van klei hulle voete regtig was… Nee, hierdie een gaan regtig nie oor die reg of verkeerd van die grensoorlog en die weermag nie. Dit gaan oor ‘n geslag manne wat voel die ouer geslagte het ons uitverkoop… Dis die stories wat ek by my gemeente se manne hoor… en verstaan.

Daar is ‘n geslag manne in Suid-Afrika wat regtig dikwels verwerping ervaar het. Maar hierdie is nie ‘n nuwe verskynsel nie. Dit gaan verder terug as my geslag. Ek het met my skoonpa se dood weer met ‘n swaer gesels, wat baie navorsing oor die familiegeskiedenis gedoen het. Hy het vertel van episodes in skoonpa se kinderjare wat vandag glad nie aanvaarbaar is nie. Kindermishandeling. Ek het iets daarvan in my eie pa se lewe gesien. Daar is hoeveel van hulle geslag wat grootgeword het in huise waar ‘n pa hiperstreng was, en sy kinders uitmekaar gebliksem het in die huis. Ek het stories gehoor van sesjariges wat beeste in die winter in die veld moes gaan haal, en as hulle nie vinnig genoeg dit doen nie, dan kom pappie op sy perd met sy sambok, en so ‘n kind kan vir ‘n week nie sit nie…

My oupa se geslag was die kinders van die oorlewendes van die Boereoorlog, die konsentrasiekampe. Daar was baie verbittering, daar was baie moeilike tye, om die land op te bou na die “scorched earth” beleid van die Britte. Daar was later die Groot Depressie, en ‘n geslag het baie, baie swaar grootgeword. En die kinders het gely… Ek weet dit is dalk veralgemening, en ek weet dat daar wonderlike uitsonderings is. Daarvoor is ek baie dankbaar! Maar in ons land het ons nie ‘n baie goeie geskiedenis van die verhouding tussen Pa’s en Seuns nie. Pa’s oor geslagte heen moes altyd sterk lyk, in beheer wees, en het vinnig, met geweld, hulle gesag in hulle huise probeer afdwing. Geslagte se seuns het nooit gehoor dat hulle pa’s vir hulle lief is nie. Geslagte se seuns het dit gemis dat hulle pa’s spesiale tyd vir hulle maak, daar is langs die rugbyveld, (of die balletklas, soos Billy Elliot, watter Afrikaanse pa sou dit verstaan?!)

Floyd Mc Clung is die stigter van YWAM- Youth with a Mission. Hy het baie goeie werk gedoen om seer mense in Afghanistan, en Amsterdam, en ander wêreldstede te help. Hy het ‘n fantastiese boek geskryf met die naam : “The Father heart of God.” In hierdie boek skryf hy na jare se ervaring dat mense se beeld van God baie sterk gevorm word deur die beeld wat hulle van hulle aardse pa het. En as Pa hierdie afwesige figuur was, is God afwesig en dood. As Pa hierdie wrede mishandelaar was, dan is God die God wat net reg sit om te straf. Maar as Pa daar was, liefdevol was, betroubaar was, dan was dit soveel makliker om te glo in ‘n God wat omgee, wat liefde is, wat ons wil help om met arendsvlerke te vlieg. ‘n Hemelse Vader soos daardie pa wat Jesus van praat in Lukas 15- ‘n Pa met oop arms.

Die seer van ons geslag se manne het in die oopte gekom. Ons is die geslag wat nie maklik werk kry nie, want ons is Wit, Afrikaans, nie baie gewild in ons eie geboorteland nie. Juju like ons niks… en dit is wederkerig…

Ons is ook die geslag wat keuses moet maak. Gaan ons aanhou dat die sondes van die vaders vir die kinders sondes bly? Ons het dalk ‘n gebroke rolmodel gehad. Beteken dit dat ons dit ook op ons kinders gaan oordra? Ons pa’s kon meestal nie sê hulle is lief vir ons nie- maar elke seun smag om dit te weet. Ons pa’s het ons nie gedruk nie, maar ‘n seun het aanraking van sy pa nodig- om sy menswees ook te erken. Elke seun het nodig om te weet sy pa is trots op hom. Ek het al omies in die tagtig gehad, wat pa’s se wrede woorde sewentig jaar gelede gehoor het, en dit voel soos gister. So ‘n omie huil soos ‘n kind in my studeerkamer… Dis die skade wat liefdeloosheid doen. En ons het ‘n keuse- hierdie geslag kan anders wees. Ons kan daar wees vir ons kinders, ons kan omgee. Ons kan liefde wys, en vir ‘n kind aanvaarding gee in sy menswees. En dit is vir hom ‘n baie meer kosbaar as die grootste geldelike erflating. Ek glo dit vas- ‘n seun se identiteit in die lewe word baie sterk bepaal deur sy pa se aanvaarding. Dis hoekom so baie van ons sukkel met gevoelens van verwerping. Ons kan anders wees…

Pappa is baas in hierdie huis…

Julle gaan iets anders hier kry as wat julle dalk gedink het.  Maar daar is ‘n sakie wat ek van my hart af wil kry.  En ek gaan in die toekoms dalk nog baie daaroor skryf. En my eie vrou gaan dit onder my neus vryf, en sê dat ek dit ook nog nie regkry nie.

Ek wil net graag vir ‘n slag ‘n Donkiebol los oor die manier waarop manne vroue behandel…

Hierdie skrywe kom al ‘n hele ruk saam met my, en hierdie sal seker ook nie die finale weergawe wees van wat ek wil sê nie.

Ek werk BAIE met mense se seer.  Ek kry gereeld dames wat in my studeerkamer kom vertel van hulle seer.  Mense van die stede kom trou ook graag hier in die Bosveld, en ek kry nogal heelwat van hulle wat my nader om hulle te trou. Waar dit moontlik is, geniet ek baie om ‘n paar gesprekke met voornemende troupaartjies te hê. Ek hou daarvan om ‘n geneagram saam met hulle te teken- ‘n metode waar ‘n mens hulle posisie in hulle gesin van oorsprong teken- en in die proses vertel hulle eintlik vir my hulle storie. So dikwels (deesdae meestal!) is dit mense se tweede huwelikke. En so dikwels is daar ‘n BAIE seer storie oor hoekom dit hulle tweede huwelik is.  Ek dink, as ek dit kon bekostig, sou ek graag verder wou studeer en voltyds in huweliksberading wou ingaan.

Maar in my blog, hier en by litnet, het ek ook ‘n paar baie goeie nuwe vriendinne ontmoet. ‘n Paar van hulle het my al soveel vertrou dat ek iets van hulle lewensverhaal gehoor het.  Party van hulle skryf baie openlik oor hulle seer – ‘n duidelike teken dat daar al klaar genesing begin plaasvind het in hulle lewens.  Ander se vertroue in my sal ek nooit skend deur hulle storie oor te vertel nie. Daarvoor is hulle vertroue te kosbaar vir my.  Maar so baie seer wat ek mee te doen kry, kom terug na hierdie punt toe: die manier waarop manne optree. In hulle verhoudings, in hulle huwelikke, en wat my die meeste die bliksem inmaak, teenoor kinders.

So hier gaan ons:

Baie mense haal heel gelowig hierdie Bybelse verwysings aan, dat die man oor sy vrou moet heers. Daar is ‘n groot kulturele probleem daarmee. In die Bybelse tye het die vrou geen regte, en geen status in die samelewing gehad nie. Dit was uit en uit ‘n man se wêreld.  Die algemene opinie, waaroor selfs my held Paulus soms baie primitief dink, is dat Eva die appel gebyt het, daarom het sy die sonde in die wêreld ingebring, daarom is die man die sterker geslag en die hoof van die huis.  Die kultuur van destyds (wat nog net so in die Midde-Ooste voortleef in streng Moslemlande!) is dat die vrou nie ‘n sê het nie. Die man heers oor haar. Pappie het al die mag. Ek is nie besig om teen Moslems te diskrimineer nie, ek het die ervaring van ‘n vrou wat net-net uit Saudi Arabië kon ontsnap van haar man, en haar kind omtrent moes uitsmokkel om hom steeds by haar te kan hê. ‘n Vrou kan nie die land sonder haar man se toestemming verlaat nie, en hy kan deur bloot drie keer te sê “Ek skei jou!” skei van haar.  En haar sonder enige heenkome op straat los, sonder beskerming van die reg. Dink maar net aan die simboliek van die Burka…

In Bybelse tye was ‘n vrou se status net-net beter as ‘n slaaf s’n, en dikwels effens laer as Pappie se geliefde hond s’n.  Sy het geen regte gehad nie, geen stem nie, en daar was geen werksgeleenthede vir goeie vrouens nie. ‘n Weduwee was altyd oorgelaat aan familie se genade, en ‘n oujongnooi het nie bestaan nie, hulle is teen hulle sin in ‘n gereëlde huwelik weggegee teen bargain pryse.

Baie manne het nog hierdie “Bybelse” siening van ‘n vrou se plek. Dit is veral waar van die ouer geslagte, maar ‘n mens kry nog jong buffels wat ook so dink. ‘n Vrou sal onderdanig aan haar man wees.  Sy sal maak wat hy sê.  Sy sal hom dien, vir hom kos maak, die skottelgoed was, vir pappa die koerant en koffie aandra. Want dit is haar werk. En Pappa? Hy werk mos hard, hy sit op die stoep met die koerant en koffie, tot sy ete gereed is. Na aandete is dit die nuus, en dan is dit POMPTYD! Sodra sy die kinders net stil en in die bed het. ‘n Goeie vrou is ‘n dame in die openbaar, ‘n bediende in die kombuis, en ‘n slet in die bed, sê die ou grappie mos op die huweliksonthaal. Many a true word is spoken in jest…  Ek sien baie dames wat so behandel is, ‘n paar jaar later. Die kinders begin uit die huis uit gaan, en sy sien net nie meer kans vir daardie lui bliksem wat net voor die televisie lê, en dan wil pomp op aanvraag nie.  Die sprokie het dit nie gemaak nie. Die lig is uit hulle oë uit.  En dit is alles omdat pappa die BAAS van sy eie huis is.

Dis waar die onderdanige vrou so uit konteks uit geruk word.  Gaan lees dit weer in Efesiërs 5. Vers 21 is die basis van drie verhoudings wat daarop volg. Die beginsel is:  Uit eerbied vir Christus moet julle aan mekaar onderdanig wees. My vertaling op troues- omdat jy Jesus liefhet, dien mekaar!   As daardie fondament nie daar is nie, val die res baie hard op jou kop inmekaar. Want die drie voorbeelde van die beginsel is: die huwelik- man en vrou wat mekaar dien. Ouerskap- ouers en kinders wat mekaar dien. En werkgewer en werknemer (baas en slaaf…) wat mekaar dien.   Tradisioneel het ons in ons kultuur al drie heeltemal gemis…

Ons gesels vandag oor die huwelik. Omdat ons Jesus liefhet, dien ons mekaar- dis die fondament van ‘n Christelike huwelik.  In die Ou Testament het die vrou wel ‘n Raw Deal gekry- die man sal oor haar heers, en sy sal na haar man hunker- Genesis 3.  Maar Jesus het tog al daardie vloek op Hom geneem, en alles kom nuut maak. Die beste voorbeeld is sy hantering van vroue in die Bybel. Jesus wat met ‘n Samaritaanse vrou van slegte reputasie praat by ‘n put in Samaria in Johannes 4- kulturele grense heeltemal opgedonder! ‘n man wat met ‘n vrou praat, ‘n Jood wat met ‘n Samaritaan praat, ‘n heilige Man wat met ‘n sondaar praat… En haar vergewe, en haar ‘n nuwe lewe gee… Jesus het die vrou in haar eer kom herstel.  Ons sien dit in die voorkoms van vrouedissipels soos Maria Magdalena, Profete soos Priscilla… Kerkleiers soos Nimfa in Efese…

Lees bietjie Paulus verder- hier (in die kerk/ koninkryk van God) maak dit nie saak of iemand man of vrou is, Jood of Griek, slaaf of vry nie- hier is almal een!  Hoekom preek ek so hier op my blog? Want dit is nie Christelik om te sê die man is die baas van sy vrou nie! As julle nie gelykes in julle verhouding is wat mekaar dien nie, dan is jy op pad na groot moeilikheid toe!

Die manne behandel so dikwels hulle vrouens soos bediendes. En dan skielik, as die kinders in die bed is, dan wil hy asemrowende seks hê van ‘n doodmoë vrou (hierdie een gaan my vrou onder my neus vryf!!!)  Menere, ‘n vrou se kop werk nie so nie!  ‘n Man het ‘n enkele gedagte nodig, en hy is reg vir aksie. ‘n Vrou is soos die bank sonder oortrekkingsfasiliteite. Jy moet eers genoeg krediete opbou voordat jy ‘n ontrekking kan maak!  As jy ‘n fenominale ervaring wil hê- dan gaan dit jou kos! Jy gaan haar soos ‘n dame behandel. Jy gaan mooi met haar praat.  Jy gaan haar help.  Jy gaan ingestel wees op haar (soms onverstaanbare!) emosies.  Jy gaan soms blomme koop, en tjoklits, maar nie te veel van laasgenoemde nie.  Sy gaan weet dat sy jou eerste prioriteit is, bo jou pelle.  En as sy veilig by jou voel, as sy geliefd voel, en nooit oor haar veiligheid hoef bekommerd te wees saam met jou nie, dan gaan jy soos ‘n koning behandel word.  Dink net bietjie mooi- hoe beskryf jy jou geliefde voor ander mense?  Hoor hulle respek? Of is sy maar vir jou net soos jou ou kis BMW- iets wat gebruik word op sy tyd, maar nie iets om oor opgewonde te wees nie?  Broers, in julle verhouding met ‘n vrou gaan jy maai wat jy saai!   Saai liefde, kry baie liefde terug. Saai respek, kry baie respek terug. Saai omgee, en kry meer as wat jy kan opgebruik terug. Maar boetie- saai ongeërgdheid, en kry ‘n yskoue skouer terug.  Behandel haar soos ‘n buffel, en jy kon net sowel jou aan nekrofilie (gaan google dit!) skuldig maak.

‘n Man het nie die reg om ‘n vrou af te breek nie. Jy is daar om haar te dien. Om haar te help om die mens te word wat sy gemaak is om  te wees. Haar lewe moet beter wees omdat jy daar is, jy is nie veronderstel om probleem nommer 1 te wees nie.

Ek staan by wat ek op my hoofblad sê- ‘n man wat aan ‘n vrou slaan, is laer as haaimis op die seebodem.  As jy in my gemeente is, en jy slaan jou vrou, dan sal ek alles in my vermoë doen om haar te oortuig om van jou te skei. Want jy is besig om haar te vermoor. Fisies vat dit dalk lank.  Geestelik het die optel van jou hand alreeds ‘n kosbare deel van haar doodgemaak. Respek vir jou. Morsdood. En dit vat ‘n buitengewone Godswonder om dit ooit weer reg te maak. Dit sit nie in jou broek nie.

Ek het nog baie hieroor te sê, maar my blogs is te lank. So- gaan dink daaroor!

Word vervolg…

 

 

 

 

Mense is hel! Of hulle is nie…

Die Franse filosoof  JEan Paul Sartre het dit gesê: “Mense is hel.”  En hoe dikwels het ek nie al met hom saamgestem nie!

As ek terugkyk oor my lewe, dan is daar mense se gesigte wat opduik by elke insident wat baie seer was.

Ek het al verskeie kere van fietse afgeval. Ek het al dosyne kere van motorfietse en perde afgeval. Dikwels op my kop, en daarom sal ek julle glo as julle sê dit lyk nie of al die varkies daar is nie. Ek het toe ek drie jaar oud was, my linkerarm die eerste keer gebreek toe ek van ‘n tennis skeidsregterstoel afgeval het. Drie jaar later het ek dieselfde arm weer gebreek uit ‘n boom uit.  Ek het al lewendig uit ‘n kop aan kop motorongeluk uitgeklim, wat my geliefde Conquest 16 Valve Sport totaal opgeneuk het.  Ek was besig. Dalk selfs hiperaktief. Natuurlike rampe soos al hierdie het maar gereeld gebeur, dit het dalk permanente lidtekens op die lyf gelos, maar nie op die hart nie.

Daardie tekort aan dopamien het verseker gemaak dat ek nie baie seker van myself was nie, nie in die Laerskool nie, nie in die Hoërskool nie, en selfs nie op Universiteit nie.  Dis eers noudat ek ouer is wat ek begin besef ek kan maar net ontspan, en my lewe geniet vir wat dit is. Ek hoef nie meer die sexyste ou op die strand te wees nie. Ek hoef nie die Argus onder 4 1/2 ure af te jaag nie.  Ek hoef nie alles te weet nie.

Deur die jare heen was daar baie mense wat dinge gesê of gedoen het wat diep seergemaak het. Ek het baie dikwels verwerping in my lewe ervaar. Ek het baie dikwels die gevoel gekry dat ek nie goed genoeg is nie…

Die wonderlike ontdekking is dat ‘n mens nie daardie woorde hoef saam te dra in die lewe nie.  Ek het die reg om te vergewe, vry te spreek, en aan te gaan met my lewe. Ja, mense kan hel wees.

In my werk werk ek baie met mense. En daar is ‘n hele klompie selfs in die kerk! wat ‘n mens se vreugde in die lewe bedreig. Daar is sekere name, as dit op my selfoon se skerm verskyn, wat my eers baie diep laat asemhaal, voor ek antwoord. Elke gemeente het sy kwota smartvrate. Hier by ons is enkele dames wat absoluut genot daaruit put deur my in die supermark raak te loop, en dan vir ‘n uur lank vir my die ellende van haar vier mislukte huwelikke en drie kinders by verskillende vaders te vertel. Of  haar eksman wat vir haar sms’e stuur van wat se f***n teef sy is. Of ‘n oom wat gereeld in kerkvergaderings sal opstaan en vertel hoe die dominees van vandag niks meer voel vir mense en huisbesoek nie…  Rick Warren het gepraat van die EGR mense in ons lewe- “Extra Grace Required… ”  Ja, die ding wat my werk die moeilikste maak, is mense. Mense met hulle eie opinies. Mense met hulle eie verwagting. En daardie eie Ek in mense wat verwag dat die dominee dadelik alles sal los, en dadelik aan my alleen sal aandag gee.

Mense word net hel as jy hulle toelaat om dit in jou lewe te wees.Jy kan nie altyd kies wat mense rondom jou doen nie, maar jy kan kies hoe jy daarop gaan reageer.

Haat word kettings wat ‘n mens vasbind, en al jou vreugde uit jou lewe kom steel. Bitterheid kan selfs jou gesondheid kom steel.  Maar ons het die keuse om mense te vergewe, vry te spreek, en nie toe te laat dat hulle optrede die res van my lewe se vreugde kom steel nie. Wanneer ons vergewe, is dit ons self wat vry kom van ander mense se strikke.

Gelukkig is daar ook die ander kant van die muntstuk as ons oor mense praat.  Mense kan ook hemels wees in ons lewe. Ek wil nie nou gesels oor die vreugde van die huwelik (in my lewe) nie. Dit sou ‘n ensiklopedie vra, nie ‘n bloginskrywing nie.  Ek wil nie nou deel oor die vreugde van ouerskap, en die oorweldigende liefde wat ‘n mens gereeld oor jou voel spoel as jy na ‘n bloedjie kyk wat jou ore het nie…

Daar is sekere mense, wat sonder dat hulle dit dalk self weet, so ‘n positiewe verskil in ander mense se lewens maak. Daar is mense, selfs in ons ouetehuis, by wie ek baie meer kry as wat ek ooit vir hulle kan gee. ‘n Siek tannie, wat dalk binnekort gaan sterf, wat nog met soveel liefde eerder wil hoor hoe dit met my en my gesin gaan, sy is nie vandag lus om oor haarself te kla nie.

Ek het vanoggend by ‘n 82 jarige oom in ons gemeente gaan kuier. Daar is longkanker by hom gediagnoseer, en dit lyk asof dit reeds versprei het. Hy moet more die onkoloog in Pretoria gaan sien.  Dan sal daar besluit moet word watter behandeling, indien enige, die pad vorentoe gaan wees.  Hierdie oom leef nie in ontkenning nie. Hy weet dit is ernstig, en dit gaan dalk die laaste skof van sy lewenspad wees wat nou aanbreek. Maar hy is tevrede daarmee.  Hy is steeds gelukkig.  Die lewe is steeds vir hom mooi, en hy gaan voluit leef tot by die einde.  Dit is vir hom belangrik om ‘n positiewe verskil in ander mense se lewens te maak, en daarmee wil hy aanhou tot by die einde.

Ek het vanoggend gaan kuier om hom te bemoedig vir die besoek aan die onkoloog. Ek het daar uitgestap, baie bemoedig dat ‘n mens nie oudword, of selfs kanker en die dood, hoef te vrees nie. ‘n Mens kan jou lewenspad met blymoedigheid bly stap, totdat jy eendag by jou wenstreep aankom. Selfs in die donkerste dieptes sal ons nie verdwaal nie, in die donkerste oomblikke is ons nooit alleen nie. En daar sal steeds elke dag oorgenoeg dinge wees om dankie voor te sê.

Ek moet vir julle sê: Neulende oumense kan my klaar maak. Maar mense wat in wysheid oor jare toegeneem het, wat deur hulle lewenservaring geslyp is, en gepoleer is, sulke mense maak dit weer lekker om my werk te kan doen.  Ek sal die pad saam met hierdie oom kan stap, tot by die einde van sy aardse reis. Ek sal langs sy sterfbed kan staan, en dit sal seker vir my meer beteken as vir hom.

Dit lyk vir my ons het nogal ‘n keuse oor wat van ons gaan word in die lewe. Ons kan kies of ons bitter ou mense gaan word. Of ons kan die res van ons lewe bly groei, en meer en meer vir ander beteken soos ons in wysheid toeneem.  Ek wil graag self kies vir die tweede opsie. Sekere mense maak daardie besluit soms baie moeilik.  Ek glo ek het ‘n keuse wie of wat ek gaan toelaat om my vreugde in die lewe te steel.  En niemand of niks is waardig om dit te doen nie…