Australian Masterchef, that other naked guy and I…

Ek het ‘n werk wat maak dat ek ander tye as die meeste normale mense werk.  Ek is byna elke weeksaand van so vieruur tot na negeuur uit die huis uit, besig met vergaderings of om mense tuis te besoek. Dikwels bid ek vir kinders se mangeloperasies, tannies se spatare, of vir wysheid of die man daardie derdehandse Tatabakkie moet koop of nie. Dit kan nogal frustrerend raak!

Maar in die vakansietyd kry ek kans om bietjie saam met my gesin voor die televisie te parkeer. En in ons huis is dit nie 7e laan (bestaan die laan nog?) of Binneboudknypers nie. Nee, elke aand stiptelik om half sewe skakel ons oor na ‘n program uit die mees onverwagte oord- Australië! Nou weet ons almal daar het, buiten Nicole Kidman, nog nooit iets goeds uit Australië gekom nie. Maar hierdie program, gemaak deur die nageslag van uitgesoekte voorouers, is vir ons uitstekend! Australian Masterchef.  Dis vir ons een van die beste realiteitsprogramme ooit. Dit is nie naastenby so vennynig soos Idols nie, nie so voyeurfees soos Big Brother nie, en nie so uitgerek soos Survivor nie. In elke episode kry ons nuwe idees,  wat ons ook maar nooit gaan uitprobeer nie. Maar dit is fantasties om te sien wat alles moontlik is om met kos, en mensehande, en geduld, en ‘n moerduur kombuis reg te kry!

Veral toe die klompie nou Engeland toe was, en nog boonop vir Jamie Oliver daar raakloop en by hom leer kook, toe raak dit eers lekker. Ons hou van die Naakte Kok. Omdat hy so ooglopend geniet wat hy doen. Omdat hy nie ‘n saak het met die reëls van die spel nie, en altyd bereid is om iets nuuts te probeer.

En dan kan ek my boonop verkyk aan die Twee Hairy Bikers as hulle kosmaak…  Party ouens kyk Fashion TV vir hulle kieks, nog ander soek snaakse programme van arm meisies wat nie geld het vir klere nie, om besig te bly.

Maar ek? Sekere kosprogramme is vir my so lekker ontspannend!  Ek word verlei deur ‘n netjiese snit vleis, gestop met eksotiese kruie en speserye, aan die brand gesteek met ‘n duur dop. Ek wens so ‘n mens kon die eindproduk ruik. Ek wens so ek en my geliefde kon om ‘n tafel in ‘n wonderlike intieme klein restaurantjie sit, en om ‘n kers se lig daardie ontploffing van smake persoonlik ervaar! Terwyl Joshua Bell vir ons saggies op sy viool speel.

Ek wil nou graag van hierdie geleentheid gebruik maak om teenoor julle te bieg: ek is baie, baie lief vir lekker eet! Ongelukkig doen ek dit te veel, en daarom sukkel ek om soos Ryk Neethling te lyk in Jenna Clifford se posters. Ek is gewoonlik ook redelik tevrede met ‘n basiese braai, soos pap en wors, of een van verskillende snitte steak, met of sonder sous, met of sonder gebakte aartappel, altyd medium rare.

Maar ek is nie soos van die Vrystaatse boere wat ek net na Weermag bedien het in ‘n plattelandse gemeente nie. Ek ken van daardie manne wat elke liewe dag van sy lewe sy stukkie kookvleis, rys, en aartappels wil eet, miskien met boontjies en pampoen. Elke dag. Behalwe Vrydagaand wanneer hy by die dorpsklub kan staan met sy twotone hemp, rugbybroekie, rugbykouse en vellies. Daar braai hy dan sewe skaaptjops, laai die kas Castle van sy bakkie af, en geniet dit alles met ‘n enkele wit bun.  (Dis ook lekker op sy tyd!) Daar is ook van hulle wat regtig dink groente se doel is net garnering op ‘n bord.  Soos toe ek op Piet Plessies destyds vir ‘n onderhoud was, en die manne sê: “Hier eet ons net vleis, en as ons lus is vir groente, dan eet ons hoender…”

Ek is nie so nie.  Daar is wel sekere goed wat ek nie graag eet nie. Brussel sprouts, vanweë my ongelukkige ervaring in die skoolkoshuis in die koue Vrystaat sal nooit weer as kos kan klassifiseer nie. Sousboontjies was ook totaal uit, maar ek het in Spanje geleer om enige iets te eet wat energie kan gee vir die volgende dag…  Behalwe- daardie rioolreuk van ‘n vuil afval sal my nog steeds oortuig om ‘n dag te vas, eerder as om saam te eet! Daardie fotos van Maankind gister van sekere Oosterse geregte sal ek ook nie kan inkry nie, nie eers op Fear Factor as daar ‘n mijoen Rand op die spel is nie. Ek eet nie fetusse van enige aard nie, ook nie huisdiere soos hond of kat nie.  Goudvis en budjie kan dalk oorweeg word…

Ja, die een ding wat ek geniet, is om verskillende kosse uit te probeer. Dit was vir my ‘n regte treat toe my een baie goeie vriend my die dag aan sushi voorstel, saam met ‘n vars droë witwyn- nooit voorheen gedink ek kan van een van die twee hou nie. Ek het baie van Melide in Spanje se Pulpo gehou, (opgekookte, gekapte heel seekat.)  België se warme wafels, Istanbul se Beiti Kebabs by Doi Doi’s agter die Blou Moskee. En Durban se Brittania Hotel se Bunny Chows! Vars seekos by die Muisbosskerm by Lambertsbaai. Vlakvarkboud by Mabalingwe naby Warmbad.  Sulke geleenthede is hoogtepunte in my lewe! Ek droom nog daarvan om  ‘n Michelin ster restaurant te besoek, en ek droom van ‘n besoek aan  Reuben Riffel se restaurant in Franschhoek.

Kan ek self kos maak? In my ouerhuis het my pa die vleis gebraai, maar hy is nooit naby ‘n stoof in sy lewe opgemerk nie. Toe ek in Standerd 9 was, het ek die eerste keer met Potjiekos kennis gemaak. Ek het gesien hoe ‘n familievriend dit maak. En ek het die bestanddele onthou, maar nie die hoeveelhede nie.  Ek het by ‘n volgende geleentheid my eerste potjie gemaak: Stukkies beeskookvleis, aartappels, boontjies, wortels in goue pennies gesny, met ‘n sousie van blatjang, tamatiesous en worcestersous gemeng.  Die groot probleem het gekom met die speserye- ek kon nie onthou hoeveel kerrie om in te gooi nie. Toe gooi ek maar die hele pakkie extra strong Masala in! Ek het dit op brood bedien, maar my gaste het een na die ander met trane in die oë  verskoning gevra, met dringende dinge wat hulle elders moes gaan doen het. Toe moes ek maar self my eie potjie opeet- die trots van die tienerseun is legendaries. Maar daar was 2 liter melk nodig om weer gevoel in my mond terug te kry!

Vandag kan ek ‘n baie lekker vleisie braai. Ek het met my eerste salaristjek ooit my eerste Weber gekoop, en hom verlede jaar finaal opgebraai.  Ek kan basiese boerekos in die kombuis maak op die stoof, maar het nog nooit iets probeer bak nie.Ek kan ‘n redelike goeie potjie aanmekaar sit, en het al vir 600 mense in die gemeente op een slag ‘n Potjie voorberei.

Maar ek wens ek kan nog baie verbeter. As die Masterchef se mes so blits deur die wortels op die kapbord, dan wens ek dit was ek. Wanneer mense op televisie enige chefopleiding kry, dan begeer ek om ook daar te wees. Een van die grootste vreugdes in my lewe is om kos vir gaste op te skep, wat ek self vir hulle gemaak het. As ek Masterchef kyk, is my aanbieding nie naastenby op enige standaard nie. Maar as mense lekker eet aan my kos, dan blom ek!  Dalk moet ek en vroulief net so nou en dan een van die groot resepte neem en dit self probeer doen. Goeie vriende nooi, ‘n botteltjie diep rooi op die tafel kry, en kuier tot die son opkom.

5 thoughts on “Australian Masterchef, that other naked guy and I…

  1. O ek is net so lief vir kos programme. Net so ‘n ywerige kok ook. (moet jy regtig vir spatare bid soms?, ek is ernstig ek wil weet.)

  2. Eintlik nog net een keer gebeur… Mense het gebel en gesê ek moet dringend by Suster X uitkom, sy gaan deur ‘n baie moeilike tyd. Ek moes toe ‘n paar ander goed los wat regtig belangrik was om by Suster X uit te kom. En toe sê sy nadat ek nou mooi vaderlik besorgd gevra het waarmee ek kan help, dat sy die volgende dag moet hospitaal toe gaan om spatare uit te sny. Sy was eintlik so verleë- haar vriende was nie baie nice nie. Spatare net een keer, maar baie soortgelyke episodes in my roemryke loopbaan. Mense het eintlik nie ‘n saak met ons gesinslewe nie. Maar ek gee regtig nie om om selfs in die middel van die nag te gaan as iemand my regtig nodig het nie. Iemand het eendag gesê- “On ME- ANy surgery is major surgery…”

  3. Ek kyk nie kos programme nie. Dit laat my sondig. Beste manier om nie te begeer nie, is om nie te weet nie. 😆 Dit is goed om ‘n herder te (klink dit my???) hê wie beskikbaar is.

  4. Dankie Olga, ek probeer… Maar op die platteland is dit nie maklik nie… Mense wil altyd daardie bietjie meer hê as wat ek kan gee. Hoop nie ek maak jou soms moedeloos hier in die toekoms nie, dis hoekom hierdie blog anoniem is. Ek het ook een in my eie naam waar ek mooi soet is, en al die regte dinge sê wat my gemeente maar mag hoor. Dankie dat jy kom inloer het!

  5. Ek sien nou vir die eerste keer Chopped op die Food Channel. Ek hou nie hiervan nie! Die aanbieder met sy pakkie suit en pers das (en DAAI bril!!!) lyk asof die aliens hom ge-abduct het in die 1950’s naby Roswell, en weer in Hollywood afgegooi het sestig jaar later. Hy dink natuurlik daar het net drie dae verloop sedert hy weg is, maar met die bestraling gaan al sy kleinkinders kieuwe hê en webbe tussen die vingers en tone. Twee koppe sal ook nie vreemd wees nie. Die res van die judges lyk na aambei-inspekteurs en hulle kommentaar is baie bitsig. Nee wat, ek dink die Aussies is hier baie beter as die Yankees!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s