Waarom gaan mense nie groot vir ‘n droom nie?

Ek het vanoggend begin met ‘n baie hartseer verhaal in my gemeente. Daar is ‘n baie (soos in BAIE) jong egpaartjie in ons gemeente.  Hulle het vroeg hierdie jaar getrou. En binne twee maande lê die jong bruidjie in Intensief, gediagnoseer met Lupus, en baklei  vir haar lewe. En so hou dit nou vir maande aan, dan is sy in die hospitaal, dan in intensief, en dan gaan dit beter. Maar sy is nie meer fisies die mens wat sy op haar troudag was nie.  Dit bring baie spanning by hulle in die huwelik,  dalk was hulle te jonk om te verstaan wat beteken “in sickness and in health… for better or for worse…” toe hulle ewige trou aan mekaar belowe het. Die jong bruidegom hardloop weg van sy bruid af. En dit is hartverskeurend. Soos enige sulke tragedie is daar altyd nog wyer kringende rimpelings in die dam van ellende.  Albei ouerpare woon ook in ons dorp. En die bruid se ouers versorg haar tans. Of die bruid se ma, in elk geval. Die pa is ‘n brombeer, wat in sy eie hoekie voor die televisie weg gaan kruip het, en nooit weer daar weggekom het nie. Die bruid se ma dra ‘n geweldige swaar las.  Ek moet bely dat ek eintlik ‘n baie sagte hartjie het. Sulke dinge ontstel my ook geweldig baie, en dit is vir al die partye in hierdie storie een groot stuk lyding op die oomblik. Mense se seer was nog altyd vir my baie erg, veral ekstreme voorbeelde soos hierdie.

Dit het gemaak, nadat ek die moeder van die bruid vanoggend vir lank probeer moed inpraat het, dat ek ook weer met nuwe waardering na my eie huis toe teruggery het.  Ek is so dankbaar vir ‘n vrou aan my sy wat ek op kan staatmaak in krisistye. ‘n Vrou wat my liefhet, en my ruimte gee om my unieke self te wees. Ek het net daar besluit om haar vir ‘n ontbyt te vat by die nuwe restaurant wat in ons dorp oopgemaak het, net om weer te wys ek is lief vir haar en waardeer haar baie.

Nou kom ons by die uiteindelike storie uit.

In ons dorp het hierdie betrokke eetplek oopgemaak saam met ‘n nuwe winkelsentrum. Die nadeel van dit is- daar is geen uitsig nie. Jy kyk agter in ‘n groot hardewarewinkel se agterplaas vas, en langs dit is ‘n oop stuk veld wat vol bourommel lê, nou al vir jare lank.  Die restaurant is een van ‘n bekende franchise, daardie een wat Jac de Priester ‘n regular is by in die Brooklyn Mall.   Die buurdorp se tak gaan baie goed aan, en ons ry gereeld met die motorfietse daarheen om ontbyt te gaan eet- hulle ommelette is gewoonlik uitstekend!  Om een of ander rede sukkel eetplekke en koffiewinkels om hulle deure oop te hou in ons dorp. Ons is ‘n bekende vakansiedorp, maar die plaaslike bevolking is hoofsaaklik afgetredenes.   Verlede jaar was ons baie hartseer toe hierdie franchise gesink het. En baie dankbaar toe die nuwe eienaars die plek weer verlede naweek oopgemaak het, met baie goeie spesiale aanbiedinge.

So is ek toe mos nou lus vir daardie spesiale aanbiedinge.  Ek en my geliefde het daar opgedaag, en daar is steeds nie baie mense in die eetplek nie. Wat ons opgeval het, is die groot hoeveelheid staf wat op die vloer rondstaan. Ek het getel, en ek oordryf nou regtig nie. Daar was ‘n bestuurder, en ‘n adjunkbestuurder, wat albei vroeg al by ons tafel gestop het, en die bestuurder wat gevra het sy soek asseblief ons terugvoer oor die kos as ons klaar is, want sy wil hierdie “situation” reg bestuur. Rooi liggie flikker op my paneelbord. Daar is NEGE mense agter die kombuis se toonbank, en daar is ongeveer ses kelners op die vloer. Ons was so elfuur daar, die tyd wat die boere klaar by die koöperasie was, en koffie soek (die lekker kuierplekke maak eers later oop.)

Ons bestel- vroulief het intussen klaar geëet tuis, en wil net ‘n Hot Chocolate hê om die ysbere weg te jaag. Ek bestel die openingsaanbod- ‘n Hamburger en tjips, en ‘n glas Coke vir R29.95.  Die drinkgoed kom redelik vinnig. Baie van die personeel op die vloer ken ons- ons gunsteling koffiewinkel in die dorp sukkel ook maar, en het van verskeie personeellede ontslae moes raak gedurende die afgelope paar weke.

En ons wag. En ons wag. En ons bespreek ons dogter se 18e verjaarsdag more, en wat ‘n gepaste dag sou wees (Zebula by Warmbad vir middagete lyk vir ons nou na die aangewese pad om te volg- baie luuks, baie lekker, en ongelukkig bietjie bo ‘n dominee se prysklas, maar ‘n mens se enigste dogter word ook net een keer 18) Later volg die debat of ons ‘n gasverwarmer moet koop, ons huis is ‘n yskas en ons word aangespreek oor kragverbruik met die gemeente se finansiële situasie.  Ons keer terug na Dogter se verjaarsdag, ons besluit om vir haar ‘n botteltjie sjampanje ook te koop, terwyl sy dan nou wettiglik saam kan drink, en al vir verskeie van haar vriendinne dit vir ‘n geskenkie gestuur het op hulle 18e verjaarsdag.  Baie diep gesprekke. Maar die Hamburger en tjips daag net nie op nie. Ek begin later ongeduldig rondskuif op my stoel. Die assistent bestuurder sien dit raak, en gaan vra in die kombuis wat aan die gang is.  Die nuus kom terug, die Tjipsmasjien het die gees gegee. Wil ek iets anders hê? Nee, my tyd het uitgeloop, eintlik my geduld. Ons vra maar die rekening, en loop daar uit.  Glad nie ‘n lekker ervaring nie.

Op die platteland is ons nogal afhanklik van die enkele eetplekke wat dit maak. Daar is mense soos ek op die platteland wat so ‘n klein liefde vir ‘n stad en sy malls het (maar hou julle spitsverkeer en tolhekke maar vir julleself, dankie!)  Dis so lekker as ‘n mens nie ALTYD by net een koffieshop hoef te wees nie,  want met net een begin die gemeenskap vinnig skinder oor hoe die dominee net in die koffieshop rondlê en nie sy werk doen nie…

Met my hele hart gun ek die nuwe eienaar van die oranje franchise Maximum sukses toe met sy nuwe onderneming. Ek weet daar gaan baie drome, en baie geld daarin om ‘n nuwe onderneming se deure oop te maak.  Ek is net bekommerd as ek daardie samedromming van niksdoenende personeel, daardie reuse tyd wat dit vat om te kom sê ‘n kritiese deel van hulle menu is buite werking,  en die alreeds leë stoele in die plek, gaan saamwerk om nog ‘n droom in ons dorp te sink. Ons almal baat by ‘n sakegemeenskap wat goed doen, en ek gun dit regtig vir almal. Maar diens moet op standaard wees. Anders koop ek eerder vir my ‘n botteltjie Jacobs koffie, en sit elfuur op my stoep in die son en geniet elke teug, en droom van Mugg & Beane as ek weer siekebesoek in die stad gaan doen. Of daai lekker koffieshop met die kunswerke daar bo teen Fairie Glen se rante…

 

6 thoughts on “Waarom gaan mense nie groot vir ‘n droom nie?

  1. Sulke tye wonder ek mos, wat is dan fout met ‘n vinnige potjie olie op die stoof om die chips gaar te kry?

    (En baie sterkte vir daardie gesin. En ook vir jou, want jy gaan nog baie moet support daar.)

  2. Vandag is ek skielik weer dankbaar vir my ou joppie. Ek kan aan min dinge moeiliker dink as om stukkende mense (geestelik en fisies) weer te probeer heelmaak. Sterkte maar Doom. Sjaaim, min mense op enige ouderdom is gereed om so ‘n ding te moet hanteer. My hoop is dat bruidegom en sy skoonpa sal besef dat hierdie uitdaging net soveel hulle s’n is, en dat hulle sal opstaan, afstof en die regte ding doen.

    Die eetplek besigheid is dikwels net so ‘n treurige storie. Mense koop met sterre in hulle oë so ‘n franchise, net om vas te val in die slaggate van die bestuur daarvan. Dit gesê, ons het nog elke keer wat ons daar was (Ok twee keer) onder die vorige bestuur, heeltemal skaflike diens gehad. Soveel so dat die uitsig nie saak gemaak het nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s