Vaders en Seuns…

Die afgelope paar jaar het daar ‘n baie interessante verskynsel begin in die lig kom in ons gemeenskap. Miskien moet Chris Louw deel van die eer kry, met sy beroemde “Boetman is die Bliksem in…” brief aan Willem de Klerk. Miskien het die regstellende aksie beleid in Suid-Afrika die finale pitsweer oopgesteek. Dalk het Angus Buchan se Mighty Men beweging ook iets daarmee te maak. Die afgelope paar jaar het manne skielik begin sê dat hulle nie altyd self regkom nie. Manne het begin sê dat hulle seer het. Manne het begin erken dat hulle nie altyd in beheer is nie, en nie altyd die antwoorde ken nie.

In ons gemeente het iets op ‘n Vadersdag gebeur so ‘n jaar of twee gelede. Ek het dié dag die Gelykenis van die Verlore Seun gepreek daar in Lukas 15. Hierdie dag het ek nie op die seun se wegloop, sy lewenswyse of sy verlorenheid gekonsentreer nie. Ek het gekyk na die voorbeeld van ‘n Vader, wat dag vir dag na die pad gestaar het, wat hoop dat sy seun sal huis toe kom. En toe die seun die dag op die horison verskyn, vol varkmis, uitgehonger, brandarm, nederig geslaan deur die lewe-ek het gefokus op daardie pa se reaksie op sy seun. Daar staan dat die pa gehardloop het, sy stinkende seun omhels het, hom gesoen het, en toe vir hom nuwe klere en ‘n ring laat kom het. Daarna is daar fees gevier. Die nuwe klere- aanvaarding terug in die huis, en die ring wys op die herstel van status. Welkom my seun! Onvoorwaardelike aanvaarding, want jy is my kind…

Ek het ietsie uit my eie lewe met die manne gedeel. Ek weet my pa was lief vir my. Ek weet hy het sy bes probeer om ‘n goeie pa te wees. Maar hy het nooit in sy lewe vir my gesê dat hy lief is vir my nie. My pa het my nooit teen hom vasgedruk, en gesê hy is trots op my nie. Netnou word ek ‘n moffie! My pa is dood sonder daardie woorde, dat hy lief is vir my. En in my eie lewe het dit ‘n geweldige leemte gelaat. ‘n Seun het daardie erkenning van sy manwees nodig van ‘n pa se kant.

Met die deel van my stukkie seer het iets in die gemeente gebeur. Ek het nogal baie werk daarna gehad. Want so baie manne wou hulle verhaal met my deel, en dit het baie met myne ooreengestem. Party s’n was baie erger verhale nog as myne. Stories van aanranding, stories van onterf, woorde van ” jy is nie meer my seun nie…” “Ek wou jou nooit gehad het nie…”

Ek is deel van die geslag wat ook weermag toe moes gaan. Ek is deel van die “Die Bliksem in” geslag. Ons geslag is in bruin uniforms ingedwing, en grens toe gestuur. Ek moet bieg dat dit nie vir my ‘n slegte ervaring in my lewe was nie. Ek is nie gebreek deur die weermag nie. Ek het ook iets beleef van daardie “Brothers in Arms” ervaring, van omgee vir mense saam met jou, jou buddies. Ek was gelukkig in die sin dat ek nooit iemand moes doodskiet nie. Ek het nie Post Traumatiese Stress opgedoen nie, want ek was nooit in ‘n kontaksituasie, soos baie van my vriende, familie en gemeentelede nie. Ek praat nou hier as een van ‘n geslag van manne, nou in ons veertigs en vyftigs…

Waar ons geslag die Bliksem in geraak het, was oor die politiek agter al hierdie dinge. Ons is van kleins af, deur kadette elke Woensdag op skool, deur die kadetkampe voorberei dat ons eendag ons deel sal moet doen vir Volkenvaderland. Ons het gehoor van skoolmaats wat in bokse teruggekom het. Ons het in ons dorpe se begraafplase die heldeakkers gesien. Ons vriende, ons broers lê daar begrawe. Ons het gedog ons doen dit vir ons land en ons mense. Eers later het ‘n mens stories by die Waarheids en Versoeningskommissie gehoor wat ‘n mens se hart ruk. Een van my vriende was bv ‘n Parabat wat in Angola ingespring het, en in ‘n paar kontaksituasies was. En sy verbittering vandag as hy vertel toe hulle een dag “vyande” se lyke moes laai, en ‘n sakbybeltjie val uit een se sak uit. Ons het altyd gehoor van hierdie ateïstiese kommunistiese gevaar. En daar lê ‘n vyand, met ‘n goed geleesde Portugese Nuwe Testament in sy sak- ‘n medegelowige…

Die land se vaders het ons oorlog toe gestuur, en ons het eers later uitgevind hoe van klei hulle voete regtig was… Nee, hierdie een gaan regtig nie oor die reg of verkeerd van die grensoorlog en die weermag nie. Dit gaan oor ‘n geslag manne wat voel die ouer geslagte het ons uitverkoop… Dis die stories wat ek by my gemeente se manne hoor… en verstaan.

Daar is ‘n geslag manne in Suid-Afrika wat regtig dikwels verwerping ervaar het. Maar hierdie is nie ‘n nuwe verskynsel nie. Dit gaan verder terug as my geslag. Ek het met my skoonpa se dood weer met ‘n swaer gesels, wat baie navorsing oor die familiegeskiedenis gedoen het. Hy het vertel van episodes in skoonpa se kinderjare wat vandag glad nie aanvaarbaar is nie. Kindermishandeling. Ek het iets daarvan in my eie pa se lewe gesien. Daar is hoeveel van hulle geslag wat grootgeword het in huise waar ‘n pa hiperstreng was, en sy kinders uitmekaar gebliksem het in die huis. Ek het stories gehoor van sesjariges wat beeste in die winter in die veld moes gaan haal, en as hulle nie vinnig genoeg dit doen nie, dan kom pappie op sy perd met sy sambok, en so ‘n kind kan vir ‘n week nie sit nie…

My oupa se geslag was die kinders van die oorlewendes van die Boereoorlog, die konsentrasiekampe. Daar was baie verbittering, daar was baie moeilike tye, om die land op te bou na die “scorched earth” beleid van die Britte. Daar was later die Groot Depressie, en ‘n geslag het baie, baie swaar grootgeword. En die kinders het gely… Ek weet dit is dalk veralgemening, en ek weet dat daar wonderlike uitsonderings is. Daarvoor is ek baie dankbaar! Maar in ons land het ons nie ‘n baie goeie geskiedenis van die verhouding tussen Pa’s en Seuns nie. Pa’s oor geslagte heen moes altyd sterk lyk, in beheer wees, en het vinnig, met geweld, hulle gesag in hulle huise probeer afdwing. Geslagte se seuns het nooit gehoor dat hulle pa’s vir hulle lief is nie. Geslagte se seuns het dit gemis dat hulle pa’s spesiale tyd vir hulle maak, daar is langs die rugbyveld, (of die balletklas, soos Billy Elliot, watter Afrikaanse pa sou dit verstaan?!)

Floyd Mc Clung is die stigter van YWAM- Youth with a Mission. Hy het baie goeie werk gedoen om seer mense in Afghanistan, en Amsterdam, en ander wêreldstede te help. Hy het ‘n fantastiese boek geskryf met die naam : “The Father heart of God.” In hierdie boek skryf hy na jare se ervaring dat mense se beeld van God baie sterk gevorm word deur die beeld wat hulle van hulle aardse pa het. En as Pa hierdie afwesige figuur was, is God afwesig en dood. As Pa hierdie wrede mishandelaar was, dan is God die God wat net reg sit om te straf. Maar as Pa daar was, liefdevol was, betroubaar was, dan was dit soveel makliker om te glo in ‘n God wat omgee, wat liefde is, wat ons wil help om met arendsvlerke te vlieg. ‘n Hemelse Vader soos daardie pa wat Jesus van praat in Lukas 15- ‘n Pa met oop arms.

Die seer van ons geslag se manne het in die oopte gekom. Ons is die geslag wat nie maklik werk kry nie, want ons is Wit, Afrikaans, nie baie gewild in ons eie geboorteland nie. Juju like ons niks… en dit is wederkerig…

Ons is ook die geslag wat keuses moet maak. Gaan ons aanhou dat die sondes van die vaders vir die kinders sondes bly? Ons het dalk ‘n gebroke rolmodel gehad. Beteken dit dat ons dit ook op ons kinders gaan oordra? Ons pa’s kon meestal nie sê hulle is lief vir ons nie- maar elke seun smag om dit te weet. Ons pa’s het ons nie gedruk nie, maar ‘n seun het aanraking van sy pa nodig- om sy menswees ook te erken. Elke seun het nodig om te weet sy pa is trots op hom. Ek het al omies in die tagtig gehad, wat pa’s se wrede woorde sewentig jaar gelede gehoor het, en dit voel soos gister. So ‘n omie huil soos ‘n kind in my studeerkamer… Dis die skade wat liefdeloosheid doen. En ons het ‘n keuse- hierdie geslag kan anders wees. Ons kan daar wees vir ons kinders, ons kan omgee. Ons kan liefde wys, en vir ‘n kind aanvaarding gee in sy menswees. En dit is vir hom ‘n baie meer kosbaar as die grootste geldelike erflating. Ek glo dit vas- ‘n seun se identiteit in die lewe word baie sterk bepaal deur sy pa se aanvaarding. Dis hoekom so baie van ons sukkel met gevoelens van verwerping. Ons kan anders wees…

Advertisements

6 thoughts on “Vaders en Seuns…

  1. My man was een van daardie mense wie se pa net een taal geken het: die sambok. Maar hy het wonderlik bo dit uitgestyg en nooit ‘n geleentheid laat verbygaan om vir sy kinders te vertel hoe lief hy vir hulle was en hulle drukkies gegee het wanneer hy kon nie. En hy was altyd daar om hulle met enige probleem by te staan. G’n wonder ons mis hom nog steeds so baie nie.

  2. Dis so hartseer en jammer dat dit so is! Dankie vir die mooi skrywe. En die wonder is dat, as ‘n pa hier lees, hy nog steeds VANDAG daardie eerste druk kan gee of kan sê ek is lief vir jou.
    Ek was MAL oor daardie Grown-ups fliek! (Mary Poppins is die antieke weergawe daarvan!!)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s