Vrydag, o Vrydag, o wondersoete dag…

Nou ja, vandat Rebekka Black daardie liedjie oor Vrydag gepleeg het wat aangewys is as die slegste lied van die millenium, sal Vrydag seker nie heeltemal ooit weer dieselfde kan wees nie.

Anders as wat sekere filosowe mag dink, werk onse beroep werklik so bietjie meer as net daardie beroemde uurtjie op Sondag.  Soos die ou grappie wat almal ons mos maar vertel dit wil hê- onsigbaar in die week, onverstaanbaar op Sondag, en onbetaalbaar aan die einde van die maand. Eintlik het ek nou gemik na die ander ene toe- die een van net ‘n uur per week werk, en dan nog die helfte van die tyd met my oë toe ook. Daar is mos seker maar grappies oor elke moontlike beroep, en hierdie, saam met die pampoen in die kattebak storie hoor ons by elke huisbesoek, en dan lag ons beleefd…

Omdat ons ook dikwels dinge oor naweke aanhet, en so nou en dan ‘n man se vryheid opneuk deur hom in die eg te verbind, gebeur dit dikwels dat ‘n mens sewe dae ‘n week kan werk. Maar dan is ons nog getroud, gelukkig nie selibaat soos ons Roomse kollegas nie. En as ‘n man getroud is, dan word jy mos ” ‘n mens”.  ‘n Mens moet darem vir ‘n slag die stukkende gloeilampe vervang, die los deure vasmaak wat die tieners toegeklap het, die gras sny, die geute op die dak skoonmaak,  al derglike dinge wat gewone ouens maar Saterdag tussen die Super 15 en die Tri Nations moet inpas. Pastoriemoeders word net so omgekrap soos hulle susters in die gewone huise…

Daarom het my Kerkraad, in al hulle wysheid besluit die Goeie Boek sê iets van ‘n rusdag. En daarom is Vrydag my rusdag, die minste moontlike skade op die gemeente se voortbestaan, want Vrydagaande wil niemand die dominee sien nie, behalwe as die drank te veel gevloei het en mammie vir pappie geblissem het…  Geen regdenkende mens wil op ‘n Vrydag huisbesoek hê nie. Behalwe… ag kom ons los dit…

Daar was ook die hipervromes onder ons wat vreeslik graag op ‘n Vrydagaand ‘n Biduur wou hou. Iets van die week wat te besig is, en die beste tyd wat jy vir die Here gee. ‘n Paar van hulle was ook redelik omgekrap toe ek verduidelik dat ek nou soos my naamgenoot viervoet vassteek, ek wil ook een aand by my braaiplek sit, met my biertjie in die hand.  (Son het al gesê sy het nog nie voorheen van ‘n dominee en sy bier gehoor nie. Martin Luther het omtrent in elkeen van sy briewe aan sy vrou geskryf hoe hy elke dorp en stad se plaaslike bier bevind het, nadat hy dit beproef het. Die drink van bier is dus heel Gereformeerd…)

Nou ja, Vrydag is my afdag. Behalwe as dit kerkbasaar is. Behalwe as daar iemand te ruste gelê moet word. Behalwe as iemand sterwend is. Behalwe as iemand ernstig siek is. Behalwe as sekere mense se aambeie jeuk, of toonnaels ingroei. Behalwe as my kollega die Daniëlkonferensie vir die streek help reël het, soos hierdie naweek.

Ek kan ten minste op Vrydag van natuurlike oorsake wakker word. Ek kan rustig in die bed bly lê, terwyl ek dink oor die sin van die lewe, die antwoord op wêreldarmoede, die dreigende aardverwarming, en die eksistensiële krisis van Nietsche, en al derglike nietighede, voordat ek myself deur die stort sleep, ommelet maak met kaas en sampioene, en my Ricoffy sit en drink.  Dan kan ek gaan kyk wat ek weer alles verkeerd gedoen het teenoor die mensdom op my litnet blog, en dan, omdat ons sulke reuse salarisse verdien, op my motorfiets klim en by Wiesenhof die “Three mug blend” van die dag gaan drink, terwyl ek hulle Beeld en FHM deurblaai.  Met die kafeiene vlakke wat nou op standaard is (laat my gloei in die donker) en met my gemoed in ‘n goeie stemming, sal ek dan vir mamma en die kinders kos maak vir middagete… (behalwe nou as dit basaar is, of iemand te ruste gelê moet word, of iemand sterwend is… ) Nou ja, skies my lief, dit gebeur eintlik baie selde, en ek voel nou skuldig daaroor…

Vrydagmiddag doen ek wat Dominees gewoonlik op hulle afdag doen. Ek maak preek vir Sondag. Omdat ek van Maandag tot Donderdag rondhardloop in die gemeente om mense van hulle swaar verdiende geld te verlos, soos wat my goeie vriend en skaduwee op litnet graag sê. Of, as ek nie lus is vir preekmaak nie, vat ek my vrou vir koffie by die kwekery…  Of ek gaan ry op my motorfiets. Of ek lees nog ‘n blog of ses, of ‘n goeie boek- Wanneer gaan Nelson de Mille weer eendag iets skryf?! Ek is mal oor sy sarkastiese helde, en wens so niemand op litnet het geweet wat my beroep is nie, dat ek ook kon antwoord uit die hart uit op al die aanklagte daar…

Vrydagaand is heel Ou Testamenties. Dit is die aand van die Versoeningsoffer. Dit werk so- die hele week lank het die ses pastorielede rondgehardloop in elkeen se eie rigting.  Harde woorde het soms geval, veral tussen die jongste twee wat tot baie onlangs ‘n kamer moes deel.  Pappie en Mammie het tussen skool en kerk ook heel dikwels net vir mekaar gewaai in die gang.  Daarom, op Vrydagaand, as dit nou nie kerkbasaar is nie, en niemand is sterwend nie… dan pak ons die altaar met brandhout. Die vuur kom nie uit die hemel uit neer nie, daarvoor moet ons soms nog Lion Matches gebruik, wat hoeka nie meer soos vanmelewe se Lion Matches presteer in hulle skeppingsdoel nie… Ons dra by tot die aardverwarming, maar doen dit darem deur die gewraakte indringerspesie Sekelbos te help verminder.  Dan, jammer Boeddistiese vriende, neem ons ‘n snit van die been van ‘n bees of ‘n vark, as dit baie goed gaan, een keer per jaar rondom bonustyd, dalk van ‘n skaap, of as dit baie sleg gaan, van ‘n hoender. (JA, soms is dit net ‘n snit uit die been van ‘n hoender tot ons beskikking).  Dit word op die altaar geplaas, en geoffer tot medium rare, behalwe nou in die varkenhoender se geval. Pap en sous word gemaak, en dan sal die volk feesvier. Met ‘n botteltjie rooi- Slanghoek Camerca, Nederburg Cabernet Sauvignon, KWV Roodeberg… nee, nou droom ek- P ‘n P se klein boksie dooswyn vir R12,55.

So nou en dan is dit die enigste aand wat ek vriend ook kan oornooi. En daardie braai saam met vriende is ‘n hoogtepunt in my lewe! Wat ongelukkig nie so gereeld gebeur nie. Want, as die kerk nie ‘n mens besig hou met die kerkbasaar, die sterwendes, die siekes… ens nie, dan steel die skool my kinders! Hier op die platteland is die kinders net nooit tuis nie. En die vriende se kinders is ook weg. So, soms braai ek saam met vriende. En dit is baie, baie lekker om vriende te hê, en nie net kerkstories te praat nie…

Vanaand gaan nou ‘n heel interessante aand wees in onse huis. Ek is by die Daniëlkonferensie. En ek is saam met my seun by die afsluitingsbraai van die Laerskool se Eerstespan (Rugby). Wat dit so interessant maak, is dat ek by albei gelyktydig is. Vyftig kilometer uit mekaar uit. Mevrou Dominee (o, sy gaan my hard slaan…) vat Ousus Pretoria toe, want dié wil in matriek al saam met ouer vriendinne (op Tukkies)  na die Kovsie-Puk Intervarsity toe gaan in Potchefstroom. My gebedstyd gaan weer dramaties styg, want ek onthou Intervarsity nog so goed…  Daardie Reitz manne wat die Labrador soos ‘n skaap gebraai het… Jan Twak was nie in Reitz nie, onthou ek skielik…

Ek het nog nie die vaagste idee wat gaan Ouboet en Kleinboet vanaand aanvang nie. So, dis nog ‘n Vrydagaand in my lewe wat ons nie saam as gesin by die Versoeningsoffer gaan uitkom nie…

Ek moet net bieg, dis so lekker om op ‘n Vrydag die foon te ignoreer, want ek mag…

Ek wens nou net ek kan daardie Rebekka Black se “Friday, Friday…” se melodie uit my kop uit kry, sonder die aanwending van alkoholiese verversings….

Geniet jou naweek!

Advertisements

12 thoughts on “Vrydag, o Vrydag, o wondersoete dag…

  1. Jy gaan nog veroorsaak dat ek al daai lelike goed wat ek oor dominees gedink het oor die jare begin heroorweeg. As daai filosofiese groepie sedebewakers met die onuitspreekbare name daar by die blink liggies se werf ook nog net ‘n sin vir humor wil ontwikkel, dan het ons reeds die helfte van die wêreld se probleme opgelos.

    Daar is egter een ou sakie dominee wat my vreeslik onrustig stem, en ek weet nie mooi hoe om dit aan te spreek nie. Kyk my ouma het altoos beduie dat arm nie sonde is nie, so ek verstaan dat hoender soms al is wat in die yskas oor is. Maar dominee, mens braai mos nie hoender nie want hoender is ‘n vegetable. tsk!

    Lekker naweek.

    • Nee wat PJ- ek en jy sal regkom… Hoender is mos nou maar noodvoorraad, as daar nou rerig amper niks anders as sousboonblikkies op die spens se rak oor is nie…
      En ja, die manne by die blinkliggies met die gebrek aan humor- hulle bly die groot probleem wat wêreldvrede keer…

  2. D (vir Donkie of Doom, kies maar self). ek het so die gevoel dat mens saam met jou om ‘n vuur kan kuier. Oor boeke en musiek en mense en so . . . (ons deel ons vuurtyd met ‘n handjievol mense, ons is uiters suinig daarmee!) en dan nou rugby en karre as dit moet . . .

  3. Ag ja, so het ons nou maar vanaand ‘n hoendertjie op die lys, ons gunsteling skaaptjoppies net te onbekostigbaar duur. Gelukkig hou ons baie van groente…
    Van groente gepraat – ons hou mos van kookgroentetjies so saam met die braaivleisie, nie net pap en sous nie.
    O ja, ons maatjies se pa was ons dominee, so ek het grootgeword met die wete van dominees ook pappas is… en dan was hy nog ‘n regte onnut ook! Die eerste keer wat ons sommer so van die skool af daar gaan kuier het, het mens nou maar nie geweet wat om te wagte te wees nie. Maar die ou Dopper onnut gaps toe so ewe my stukkie vleis uit my bord terwyl hy bid. En giggel tog te lekker toe ek benoud rondkyk waar’s my vleis.
    So ek weet van kindsbeen af julle is ook maar net mense. Julle het net ‘n ander (werk)!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s