Eseltjiesrust en moeë donkies…

Ek lees nou op ‘n vriendin op blogger se bladsy van ‘n wonderlike plek wat ek nog nooit van gehoor het nie.  By MacGregor in die Wes- Kaap is daar ‘n aftree-oord vir donkies! Dr Johan van Zijl en sy vrou Anne-Marie het in 2001  ‘n versoek gekry om twee verwaarlooste donkies vir die SPCA te versorg, Vaal en Japie…  Dit het later geblyk dat daar baie mishandelde donkies in die gebied is, en in 2007 het hulle Eseltjiesrus begin as plek vir hierdie diere…

Die wonderlike van hierdie plek is dat hulle ook baie moeite doen om kinders met seer omstandighede daar te help, in die interaksie met die diere vind daar baie genesing plaas. Hulle ontvang ook skoolgroepe, en help met ‘n basiese opvoedingspakket vir skole se Graad 1-6, wat donkies in die temas het. As ek weer met my motorfiets in daardie wêreld gaan toer, sal ek graag hier wil aangaan, en dit self gaan bekyk.  Dit is vir Bileam se Donkie ‘n riem onder die hart, dat daar nog mense is wat vir verwaarloosde donkies, en kinders omgee… Ek gee graag eervolle vermelding vir Eseltjiesrust, en Dr van Zijl en sy vrou.

Op ‘n ligter noot- Bileam se Donkie wens ek kan ook nou maar by Eseltjiesrust gaan intrek. Ek voel ook so effens verwaarloosd en mishandel…

Ek sit met so ligte gemoedsbek*******ng vanoggend. So liggies depressief. En kom ek deel dit maar met my goeie vriende. Die een ding van ons werk is dat dit absoluut nooit klaarmaak nie. Ek het gister toe ‘n dag van 07h00 tot 22h17 gehad, met ‘n kort breukie vir middagete, en ‘n vinnige koffietjie saam met my vrou by die kwekery so tussen 16h00 en 16h30. Ek is redelik moeg vandag, en hierdie dag gaan ook maar aanhou tot na 10 vanaand.

Wat dit verskriklik moeilik maak in ons werk, is die verwagtinge van mense. Ek is in ‘n groot gemeente. Daar is oor die 800 mense in my deel van die gemeente.  Ek is nie die wêreld se mees georganiseerde persoon nie, en my tydsbestuur laat veel te wense oor. Maar wat gebeur, is dat daar so baie mense verskillende vorme van nood ontwikkel. Party word siek, soms ernstige goed soos kanker, of groot skade na motorongelukke. Gewoonlik is ek redelik goed om by sulke mense uit te kom in tye van nood. Maar dit gebeur van tyd tot tyd, as iemand beter word, dat my aandag aanskuif. Op ‘n stadium was ek gereeld by hulle, en nou sien hulle my skielik vir maande lank nie. En dan ervaar mense dat ek nie omgee nie. Intussen het die volgende klomp krisisse al weer bygekom. En ek is regtig net nie so goed met die langtermyn pastoraat nie.

Ek kom redelik onlangs met ‘n skok agter dat ek verlede jaar September laas by iemand in my gemeente was, wat deur ‘n krisistyd gegaan het. Ek het op 1 Oktober verlede jaar my bakkie gerol, en self net lig beseer geword. Maar ek was sonder wiele in daardie eerste maand. Ek het in my persoonlike lewe nog ‘n aantal krisisse beleef einde laas jaar, en hierdie jaar het begin met vier sterfgevalle in my familie en vriendekring.  Met al die storms wat my getref het, was ek nie so sensitief soos gewoonlik nie. Ek sal by daardie persoon moet uitkom, en baie nederig om verskoning vra dat ek so lanklaas daar was.

Die hartseer is dat mense in nood nie vir ons, soos met enige ander beroep, sal bel as hulle ons nodig het nie. As hulle tandpyn het, sal hulle die tandarts bel en hom gaan sien. As daar seer is, sal hulle die dokter bel. Maar as hulle gemoed vol is, en die lewe druk, dan moet die dominee dit weet en self uitreik. ‘n Mens hoor so dikwels dat iemand nou kwaad vir die Here/kerk/ dominee is, omdat ons nie omgegee het nie.  En dit breek my hart. Ek gee baie meer om as wat mense dalk dink. Ek is net self redelik deur die wind, baie verstrooid. En die goed wat ons doodmaak in ons werk is nie die goed wat ons verkeerd doen nie, maar die dinge wat ons nie by uitkom nie.

Ek sien ook onlangs weer ‘n dame wat ek weekliks ten minste vir twee jaar bygestaan het met haar man se kanker, en haar stryd met die man (2e huwelik) se kinders wat haar aanvat dat sy niks mag erf by hulle pa nie. Twee lang, hartseer, moeilike jare saam met haar ‘n pad gestap, tot na haar man se dood, begrafnis, en tot sy weer beter voel na die tyd. En nou- nou kan ek nie meer daardie aandag aan haar gee nie. En elke keer as sy my sien, sê sy: “Dominee, jy het my vergeet!”

Na aanleiding van gister se blog vra so baie mense baie goeie vrae oor waar God is wanneer mense swaarkry. En ek as dominee het ook nie die antwoorde nie. Ek is nie gespaar van seerkry nie. Ek het in die Hoërskool ‘n jonger sussie aan kanker verloor, ek het in matriek langs haar sterfbed gestaan. Ek weet nie hoekom gaan kinders aan kanker dood nie, en hoekom mal “Christene” kinders op jeugkampe doodskiet nie!  My oom, wat my mentor was in die lewe, is vermoor deur iemand wat hy wou help. Die moordenaar het 5 jaar tronkstraf daarvoor gekry, hy was seker weer op straat na 2 jaar!  Ek weet nie hoekom word ons geliefdes so wreed vermoor nie.  Ek het al baie windgat rondgejaag, en die een keer wat ek rustig rondry in die distrik, rol ek my bakkie!  Ek weet nie hoekom moes ons al twee kinders verloor het in miskrame nie… Ek weet nie hoekom die res van my ma se manlike familielede in haar huisgesin van oorsprong ALMAL aan kanker doodgegaan het nie- en of ek volgende gaan wees met daardie gene nie. Ek weet nie hoekom my pa dood is aan ‘n hartaanval enkele dae nadat ek en hy vir die eerste keer om ‘n biertjie kon sit soos manne, en by mekaar se harte kon uitkom, vir die heel eerste keer (by my oom se begrafnisdiens!) nie.  Ek ken ook die seer van die lewe. Ek het ook nie die antwoorde op al hierdie goed nie. Ek weet ook nie hoekom God dit alles toelaat nie.

Ek weet net die ateïstiese siening gee vir my nog minder antwoorde, en troos, en hoop, as my Christelike geloof. Ja, ek het ook al Richard Dawkins se God Delusion gelees, hy staan op my boekrak. Ek het ook al Christopher Hitchens gelees. Ek ken die redenasies wat ek daar hoor. Gelukkig het ek ook al Lee Strobel se boeke gelees, wat ‘n ateïs was, wat vir sy vrou met sy regsagtergrond wou bewys dat Jesus nie bestaan het nie, of nie uit die dood kon opstaan nie- en toe deur die oorvloed getuienis so verras was dat hy ook begin glo het. Vir ‘n goeie lees as jy oor hierdie goed wonder, lees gerus Lee Strobel se “The Case for the Real Jesus…”

Maar al hierdie twisgesprekke oor die onderwerp van godsdiens maak ‘n mens heel moeg. Twisgesprekke het nog nooit iemand anders oortuig nie.

Ek moet so baie lees om mense in my gemeente te probeer antwoord op al hierdie miljoene onverklaarbare vrae. Ek moet so uitkom by elkeen in nood, so gou as moontlik. Ek moet sulke goeie bybelstudies aanbied, en Sondag goed voorbereid op die kansel klim. Ek moet so preek dat die oumense voel daar is aandag aan hulle gegee. Ek moet so in gedagte hou dat vandag se jeug twitter en facebook kommunikasie gedrewe is, en enige iets langer as ‘n minuut hulle dood verveel. Ek moet sielkundige wees, handyman vir die kerk (gelukkig is my kollega baie beter daarmee as ek) ek moet alles van elke wetenskap weet om te weet wie Schopenhauer en Chopin is, ek moet saam met dokters kan gesels, en saam met mechanics.

Daarom voel hierdie donkie vandag gereed vir Eseltjiesrust. Dalk moet ek my vorige beroep as student maar weer gaan beoefen. Kort iemand nie dalk ‘n baie goed belese (in sommige mense se oë) busbestuurder met ‘n PDP nie?

27 thoughts on “Eseltjiesrust en moeë donkies…

  1. Ek het nie ‘n bus nie, maar kom ons gee voor dat ek wel een het en ek sit Bileam die donkie-dominee agter die stokke. Waar vat jy ons eerste heen?
    En terwyl ons so ry kan ons ons prate praat. Nie twisgesprekke nie, nie moddergooi nie. Sommer net twee ouens (plus wie ookal saam in die bus is) wat gesels.
    Platteland vs. Stad. Donimee vs. bouer/konsultant. Christen vs. Agnosties. Soos ek gesê het, net twee ouens wat gesels.

    • Die bus ry na die naaste wildsplaas toe. Ons pak vir ons ‘n moerse vuur. Ons maak ‘n botteltjie Slanghoek Camerca oop, en as daar kole is, sit ons eenkant ‘n kerrie skaappotjie op… Die volmaan kom op. En ons gesels soos ou vrinne oor alles wat jy genoem het. Dit klink lekker!

  2. Eintlik is jy maar net mens🙂 En ek dink ‘n dominee wat bewus is van sy net menswees, is die beste dominee. Hoop jou dag en jou week word beter!

  3. Ek hou terloops van jou ware man riglyne. Hoewel – nommer 9 het my keel effens laat toetrek.

    Kan ek een bysit? ‘n Ware man probeer nooit bewys dat hy ‘n ware man is nie.

    • Kyk bietjie mooi, daai nommer 7-10 is almal tong in die kies. Natuurlik wil ‘n vrou haar ruimte hê om haar eie lewe ook te lewe.
      Nommer 1-2 is dodelik ernstig, 3-6 maak ons almal droog op, en moet leer jammer sê, en die ander…🙂
      Xena- hoe gaan ‘n man met testosteroon in sy lyf by jou ware man enetjie uitkom???

      Nie alle dominees en pastore is sleg nie! Maar sommiges wil ek ook nie naby my hê nie… Veral nie daardie veroordelende soort wat ‘n mens nog meer laat sukkel om ‘n pad van vrede en geloof te stap nie…

  4. Nou vra ek as gemeentelid vir die dominee – wat sou jy graag juis VANDAG wat jy ‘n bietjie af voel, van my as gemeentelid wou hê? Wat kan EK doen om jou te help, sou ek in jou gemeente wees of naby genoeg? Wat kan ek hier vanuit die suidpunt doen vir ‘n dominee daar doerrrrr in die noorde? As dit baie is, stuur ‘n email!🙂 want ek wil regtig weet.

  5. Weet jy Toortsie, ek weet self nie! Ek is regtig net moedeloos vanaand, ek het die persoon wat ek van geskryf het (wat ek September laas by was), probeer bel om ‘n afspraak te maak, maar hy kom nie terug na my toe nie. Ek maak vreemde foute deesdae, en dit kan tog nie moegheid wees nie, ek het dan ‘n maand langverlof ‘n maand terug gehad… Ek verstaan self nie mooi wat aan die gebeur is nie. Die tye raak net regtig rof in ons werk, en ek is nie altyd self seker hoe om aan te pas daarby nie. So ja, dis seker maar ‘n aanpassingsproses wat ek sal moet maak, en ek weet nog nie hoe nie. Met ons gemeente kalender gaan die volgende vyf weke baie, baie intens wees, en ‘n gemeentelid sou waarskynlik kon help deur net so een keer saam met my koffie te drink, en ook vir my te bid vir die wysheid wat ek nie op die oomblik het om ‘n goeie leier te wees nie…

  6. Dalk sal dit help as ons (wat almal hier lees en kommentaar los) vir jou bid vir die wysheid, al is ons nou nie in jou gemeente nie? Beskou ons dan maar as soort van virtuele gemeentelede🙂

  7. Ek wil net weereens bylas dat ek BAIE bly is dat ek nie ‘n dominee is nie. Ek haal my hoed vir jou af, want dit moet baie van ‘n mens vat om al hierdie dinge te doen, en seker gereeld jou tong te moet byt om nie te swets nie.

  8. Ag dominies, ek wil tog met jou simpatiseer en empatiseer en sommer net saam seer! Net gister het hierdie arme juffrou heeldag in ‘n kamer met toe gordyntjies en ‘n lappie op die kop gelê oor haar kop net nie tot ruste kan kom nie en sy net nie meer kan slaap nie van sommer net. Toe die migraine vir haar gedwing het om net stil te sit.

    Jammer dat ons gemeentelede so baie van julle verwag, maar ons sien op na julle en probeer God se perfektheid in julle sien.

    En ek weet dis verkeerd, want ek is ‘n juffrou en die kinnertjies maak ôk maar so met ons.

    En as ons klaar so bietjie opgecrack het, dan staan ons maar weer op en help die volgende persoon wat kom, want dis hoe ons gemaak is, ons het dit gekies, en God het ons dit laat kies, want Hy het geweet ons kan dit doen.

    Hoop jy voel al beter vandag, ek doen!

  9. “…probeer God se perfektheid in julle sien…” Dis wat ons so klaar maak! Die hartseer is dat ek weet hoe lank julle gaan wag voor julle dit in my gaan sien… Dalk is ek baie meer ‘n voorbeeld van wat genade kan bereik. Of dalk net iets oor God se humorsin, dat hy profete soos ekke kies. Of dalk daardie bordjie oor my lewe wat sê “major renovation process in progress…”

    Ek hoor jou hart in die kommentaar. Dankie daarvoor, want jy verstaan dit eintlik so goed…
    Ek is bly jy is beter vandag, migraine kan ‘n mens lelik klaar maak!

  10. Dit bly maar emosioneel dreinerend om met mense te werk, hoe ook al.

    Dit was vanoggend my beurt om te open in die personeelkamer, en die stukkie wat ek gekies het om ‘te preek’ kom uit “Meer as net brood” van Hennie Symingtyn (‘n Bybelse dagboek vir vroue), so ek gaan dit nou vir jou vertel, ek die juffrou en jy die kind. (Nie dominee vandag nie, net mens). Die opskrif van die stukkie is “Geen mens is ‘n eiland nie” en ek gaan net dele aanhaal , anders is my boodskap te lank.

    Jes. 41:10 “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red ek jou.”

    “Die wêreld smag na aanraking en kontak; tog is daar so ‘n skaarste daaraan. Dis so maklik en tog so moeilik om aan iemand te raak. Deur mense liggies met die vingers aan te raak, gebeur daar wonderlike dinge met mense. Om iemand aan te raak beteken jy gee om.”

    Die hele stuk gaan oor die belangrikheid van fisieke kontak, om uit te reik en iemand anders uit sy kokom van eensaamheid te help. Om om te gee.

    “Wanneer eensaamheid sy kloue om jou slaan, steek jou hand uit na die een wat jou nodig het. Jy is ‘n mens deur ander mense.” … “As Christene moet elkeen van ons leer wat die noodsaaklikheid en waarde van wedersydse aanraking is. Elkeen moet leer wat dit beteken om sy deel by te dra tot die geluk van ‘n samelewing wat smag na menslike kontak.
    Tree uit ou eie kokon en raak mense aan – fisiek en emosioneel. Raak net één eensame persoon per week aan. Só verlig jy dié mens se nood – en dalk ook jou eie”

    Ek weet jy is ook net ‘n mens soos al ons ander, want ek is ook soms in my eie kokon van eensaamheid, ek sluit my toe van ander mense.
    So voel my hand op jou skouer, ek druk dit net saggies en loop dan weg.

  11. Ai, baie sterkte. Dit klink my jy het ‘n lekker lang vakansie nodig. Soms moet mens bietjie wekom om weer by te kom.Maar dit klink ook vir my soos ‘n man se middeljare. Ai, ek hoop nie so nie. Hule se dit is werklik en ‘n fisiese verandering nes in die tienerjare en hou so 5 jaar aan. Wees dus goed vir jouself, neem ‘n blaaskans en troos jouself dat dit weer sal verbygaan. Hier by ons het een dominee ‘n ander beroep gekry en weggegaan( nie die een wat die houtwerk doen nie), maar die kerkraad het nou besluit om nie nou iemand anders te beroep nie, maar die werk tussen die oorblywende 2 ds te vedeel en dat die gemeente self groter bydraes mbt werk gaan lewer. Sekere vd ds se pligte val dus nou weg en word deur lede in die gemeente gedra. Ek noem dit omdat jy gewens het dat jy hierheen kan kom.Dalk kan jy hulle kontak vir die toekoms?

    • Nee Seegogga, op my litnet weergawe van die Donkie het die mense dit gesien- ek was verlede maand nog vir ‘n maand op langverlof, en ek het die Camino in Spanje gaan loop, so 317 km van hom. Ek kan nie kla dat ek lanklaas op verlof was nie! Eerder dat die realiteit van my werk ‘n mens maar weer so hard tref as ‘n mens die kans gehad het om so totaal uit die stelsel te klim vir so lank.

      Die eerste een van hierdie reis kan jy hier lees, en dan net op die “volgende pos” click, maar daar is baie inskrywings…
      http://blogs.litnet.co.za/Bileamsedonkie/cause-im-leaving-on-a-jetplane

      • Ek het vergeet!!! Dis ook op my emmer-lysie – om die Camino te stap (is dit die een van 902 km in totaal?). Sal seker eers op 80 daar uitkom *SUG*

        • Dis daardie een, ja, Son! Ek het net 3 weke tyd gehad, en kon nie die hele afstand stap nie, dit vat op die vinnigste 34 dae aanmekaar. As jy belangstel- daardie link daarbo word gevolg deur amper 50 blogs op die roete, en na die tyd die fotos wat ek wou deel. As jy enigsens daaroor gedink het, dan moet jy dringend ‘n plan maak! Dit was een van die heel beste ervarings van my hele lewe. En ek is onfiks, oorgewig, en glad nie ‘n goeie stapper nie. Dis die moeite werd. Spaar jou sente, en gaan. Die vliegkaartjie was die duurste, maar as jy eers op die roete is, kan jy wegkom vir R200 per dag. Goedkoper as Suid-Afrika!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s