Passiespele op die Platteland

Vanaand voer ons vir die laaste keer die Passiespele op in ons kerkgebou, waaraan ons al oefen van Januarie af. Ek het maar ‘n klein praatrolletjie hier in die begin rond, omdat ek ‘n groot deel van die oefentyd in Spanje was met die Camino.

So ‘n Passiespele is nogal ‘n baie, baie groot klomp werk. Eers was daar die maande se skryf aan die draaiboek. Hierdie keer was dit nie my baba nie. ‘n Gemeentedame het dit geskryf, en elke nou en dan bietjie lekker vasgesit met my kollega, wat weer ander idees as sy gehad het as gevolg van ‘n suksesvolle Passiespele in sy vorige gemeente. Dan raak die tweetjies warm vir mekaar, en ek kalmeer, en ons soek saam na die middeweg. Uiteindelik was daar ‘n draaiboek wat die moeite werd was. Toe kom  die rolverdeling.  Dit vat ook ‘n klomp pleit, en soebat, en mooipraat. Want dit gaan ‘n groot klomp aande se oefening kos om hierdie stuk gereed te kry.  En daar is baie rolle: Jesus, twaalf dissipels, Pilatus, twee soldate, ‘n Hoëpriester, die duiwel, ‘n klein dogtertjie, ‘n klein seuntjie, ‘n skare manne, ‘n skare vroue, ‘n engel, Maria, Maria Magdalena… Dis net op die verhoog. Ek wou verskriklik graag die duiwel wees. Maar die mense het net geweier- ‘n dominee mag nie die duiwel wees nie!  (Ek het gewonder- wat is die verskil? Party dominees is dan die duiwel…)

Agter die skerms gaan net so baie aan. Ons het ‘n goeie klankoperateur nodig. Ons het iemand nodig vir beligting en die rookmasjiene. Ons het ‘n rekenaaroperateur nodig- eintlik twee, vir die digitale borde. Ons het mense nodig wat die dekor bou, en verf. Ons het mense nodig wat die koordanse afrig, en ander wat dit doen. Ons het mense nodig om die kostuums te maak. In totaal het ons passiespele omtrent 65 mense betrek, wat elkeen ‘n reuse klomp tyd, en liefde, en energie ingesit het. En om dit in sulke besige tye soos vandag te vra, was ‘n baie groot vra!

Januarie het die oefeninge al begin. Elke Maandagaand, vyf tot sewe. Van Mei af was dit Maandag en Donderdagaand. Van verlede Maandag af was dit volle kostuum, volle program.

Die een ding wat ons verskriklik geniet het, is al die humor so in die oefenprogramme. ‘n Mens verstaan nou hoekom soveel DVD’s vir ‘n mens daardie “gagreel” van al die floppies insit. Die sêgoed wat mense uitdink op hulle voete. ‘n Toneel wat mense skielik verras. Een van my groot vriende is Jesus in ons Passiespele. Daar is ‘n toneel waar Jesus van die kruis afgehaal word, en met iemand se karavaan stretcher afgedra word, toegegooi soos ‘n lyk. Dan word hy van die verhoog afgedra, tussen ‘n groep koordansers in wat in engeleklere staan en wag om met die opstanding op die verhoog te gaan. Die eerste keer, toe my vriend afgedra word, sit hy skielik regop en skree “Wha!” met die lykdoeke so om hom. En ‘n paar van die dames het amper skoon broeke nodig gehad daarna!

Dit is so lekker, as ‘n mens die akteurs so goed ken, om te sien hoe elkeen hom of haar in hulle rolle inleef. Die stuk het so op ons gegroei. En na maande is vanaand ons laaste optrede saam. ‘n Mens voel amper ‘n stuk heimweë! Wat gaan ons volgende Maandag en Donderdagaand met onsself maak?

Maar was die stuk die moeite werd om op te voer? So baie mense bel en sê dankie, dit was aangrypend dat ‘n klomp amateurs dit so goed kon regkry, insluitend klank, beligting en spesiale effekte. Met hierdie klompie sou ons amper rolprente kon aanpak, soos daardie gemeente in Atlanta wat Fireproof en Flywheel en Facing the Giants vir die wêreld gemaak het (ja, kyk weer- dis ‘n gemeenteprojek, dit kom nie uit Hollywood uit nie!)

Maar vir my was die aangrypendste getuienis, wat dit alles die moeite werd gemaak het, net hierdie getuienis. In ons dorp is ‘n skool vir gestremde kinders en jong volwassenes. Soos in erg gestremd verstandelik. Hulle is een van ons gemeente se gunsteling plekke waar ons betrokke is. En so het ons die draaiboek geskryf dat waar Jesus die kindertjies seën, dat hulle op die verhoog kom staan, en die akteur dan sy hande op hulle skouers sit, terwyl hulle sing: “Weet jy, dat Jesus jou liefhet, weet jy dat Hy baie van jou hou, sommer net soos jy is, want jy is kosbaar, en baie spesiaal vir Hom!”

Gisteraand, voor die vertoning, kom een van die meisies se ma na my toe. Sy  vertel vir my dat haar dogter het Woensdagmiddag ervaar dat Jesus self sy hand op haar kom sit het, en vir haar gesê het dat sy kosbaar en baie spesiaal vir Hom is. Ons praat hier van ‘n jong dame in haar twintigs, wat baie, baie erg verstandelik gestremd is. Sy het gister die hele dag by die skool net daaroor gepraat, en dit met almal gedeel.  En as dit die boodskap is wat hierdie Passiespele vir haar gegee het, dan was dit al die ure se oefen werd!  Maar ons hoor dit uit ons hele gemeenskap- mense het beleef: Hulle is kosbaar, en baie spesiaal vir Jesus. En ons is dankbaar, ons bereik wat ons so graag wou vertel!

Om sewentig maal sewe keer te vergewe…

Ek kom vanoggend nege uur voor een van die moeilikste toetse in my hele lewe te staan.  Deur omstandighede buite my beheer word ek gedwing om ontbyt te gaan eet saam met een van die mense wat my die heel seerste in my hele lewe gemaak het.  Dié saak is so sensitief dat ek selfs huiwer om dit op my anonieme blog te noem. Maar ek het nêrens anders om net te kan sê wat nou in my hart is nie.

Ek weet Jesus het vir ons geleer dat ons ons naaste 70 X 7 keer moet vergewe. Hy het ons leer bid dat ons vergewe wil word deur God, soos wat ons ander vergewe. En ‘n mens lees dan daardie gelykenis van die slaaf in Matteus 18, wat so baie deur die koning vrygeskeld voor is, en dan vir ‘n nietige bedraggie sy medeslaaf in die tronk wil gooi.

Ek weet ek is die dominee. Ek weet ek moet die antwoorde ken op wat ek hier sê. Maar ek sukkel regtig al jare lank met hierdie een.

Hoe weet ‘n mens wanneer het jy regtig iemand vergewe? Wanneer is vergifnis goed genoeg?  Die persoon wat ek netnou moet sien, het ek al hoeveel keer in my binnekamer vergewe. Ek het hom al hoeveel keer vrygespreek in my gedagtes. Ek bid dat die Here hom sal seën. Maar elke keer as ek sy naam hoor, of so elke tweede jaar in hom vasloop, dan is dit seer. Die ou wonde en die ou woorde kom net eenvoudig terug… Hoe vergewe ‘n mens iemand wat jou lewe opgedonder het?

Dis so ‘n sensitiewe saak dat ek eintlik huiwer om die publiseer knoppie te druk.

Nee, ek was nie in ‘n gay verhouding nie!

Kom ek waag om dit te vertel: dis ‘n vorige, ouer kollega van my. ‘n Medeleraar. Hy is ‘n baie gewilde leraar. En nog steeds baie geliefd in die gemeente waarin ek nog steeds sit. Ek wil hom nie seermaak nie. Ek wil nie sy reputasie enigsens benadeel nie. Ek weet dat hy so baie vir so baie mense beteken, nog steeds.

Ek weet nie wat ek aan hom gedoen het nie. Maar so vier jaar gelede het daardie medeleraarsverhouding aanskoulik ontplof!  Dit het die gemeente geskeur, en byna gesink. En die ding het eintlik toe al ‘n paar jaar aangehou, sonder dat ek my vinger daarop kon lê. Ek weet net dat 2006 en 7 was die seerste tyd in my hele lewe. Die kerkraad het op ‘n dag gevra hoe lyk die verhouding tussen ons twee, en ek moes erken dat dit glad nie goed is nie.  Ons was tot voor die Sinode se Fasiliteringskommissie, wat heeltemal bubbels gehap het oor wat aan die gebeur is.  Hierdie tipe dinge maak gewoonlik dat twee dominees later in die pad gesteek word. My werk sou in gedrang kom, my hele gesin se voortbestaan bedreig. En ek weet nie wat ek aan hom gedoen het nie! Ek weet net dat ek die hel uit hom uit geirriteer het met my menswees. En dat hy dit nie later kon uithou saam met my nie. Die probleem was seker nie wat ek gedoen het nie, maar wie ek is.Hy het in daardie laaste maande gesê dat die verhouding tussen ons twee nog nooit goed was nie. En ek, salig deur die stront, het gedink dat daar baie goeie tye saam was!

Gelukkig vir ons altwee het hy ‘n beroep gekry. Hy het my eers gesê daarvan die dag voor hy dit aan die gemeente sou moes bekend maak. Van sy vertrouelinge het dit weke lank geweet, voor my. Hy het nog ‘n week gewerk, toe sy opgehoopte verlof geneem, en toe sy afskeidspreek gelewer.  Hy sou ook getrek het sonder om my te groet, as ‘n gemeentelid wat hy baie respekteer, ons nie vir ‘n laaste ontbyt genooi het nie. Ek verstaan een ding nie- ek het in daardie tyd vir baie beroepe aansoek gedoen. Ek was vir drie onderhoude. Maar die Here los my nog steeds in die gemeente waarin ek die bediening begin het!

Ek moet hom vanoggend vir die eerste keer in amper vier jaar weer in die oë kyk. Die vorige keer wat hy in die dorp was om te preek, het hy my net ‘n handdruk gegee in die konsistorie, en dadelik weer weggekyk. ‘n Totale koue skouer.

Ek wil so met my hele wese vanoggend weghardloop. Ek wil so graag met alles wat in my is, op my motorfiets klim en net ‘n helse ver ent gaan ry.  Aan die ander kant wil ek so graag vrede in my hart hê as ek aan hom dink.  Soos ek gesê het, ek gun hom sy goeie reputasie in die gemeente. Ek wil graag ‘n skoon hart hê.

Ek het in my wildste drome nie gedink dat dit so in ‘n medeleraarsverhouding kan gaan nie. Ek het nie daarvoor gesoek nie.  En ek wens ek het geweet waaraan ek skuldig is, dat ek dit kon bely en aangaan met my lewe. Maar daardie dowwe, seer gevoel gaan nooit weg nie…