Om sewentig maal sewe keer te vergewe…

Ek kom vanoggend nege uur voor een van die moeilikste toetse in my hele lewe te staan.  Deur omstandighede buite my beheer word ek gedwing om ontbyt te gaan eet saam met een van die mense wat my die heel seerste in my hele lewe gemaak het.  Dié saak is so sensitief dat ek selfs huiwer om dit op my anonieme blog te noem. Maar ek het nêrens anders om net te kan sê wat nou in my hart is nie.

Ek weet Jesus het vir ons geleer dat ons ons naaste 70 X 7 keer moet vergewe. Hy het ons leer bid dat ons vergewe wil word deur God, soos wat ons ander vergewe. En ‘n mens lees dan daardie gelykenis van die slaaf in Matteus 18, wat so baie deur die koning vrygeskeld voor is, en dan vir ‘n nietige bedraggie sy medeslaaf in die tronk wil gooi.

Ek weet ek is die dominee. Ek weet ek moet die antwoorde ken op wat ek hier sê. Maar ek sukkel regtig al jare lank met hierdie een.

Hoe weet ‘n mens wanneer het jy regtig iemand vergewe? Wanneer is vergifnis goed genoeg?  Die persoon wat ek netnou moet sien, het ek al hoeveel keer in my binnekamer vergewe. Ek het hom al hoeveel keer vrygespreek in my gedagtes. Ek bid dat die Here hom sal seën. Maar elke keer as ek sy naam hoor, of so elke tweede jaar in hom vasloop, dan is dit seer. Die ou wonde en die ou woorde kom net eenvoudig terug… Hoe vergewe ‘n mens iemand wat jou lewe opgedonder het?

Dis so ‘n sensitiewe saak dat ek eintlik huiwer om die publiseer knoppie te druk.

Nee, ek was nie in ‘n gay verhouding nie!

Kom ek waag om dit te vertel: dis ‘n vorige, ouer kollega van my. ‘n Medeleraar. Hy is ‘n baie gewilde leraar. En nog steeds baie geliefd in die gemeente waarin ek nog steeds sit. Ek wil hom nie seermaak nie. Ek wil nie sy reputasie enigsens benadeel nie. Ek weet dat hy so baie vir so baie mense beteken, nog steeds.

Ek weet nie wat ek aan hom gedoen het nie. Maar so vier jaar gelede het daardie medeleraarsverhouding aanskoulik ontplof!  Dit het die gemeente geskeur, en byna gesink. En die ding het eintlik toe al ‘n paar jaar aangehou, sonder dat ek my vinger daarop kon lê. Ek weet net dat 2006 en 7 was die seerste tyd in my hele lewe. Die kerkraad het op ‘n dag gevra hoe lyk die verhouding tussen ons twee, en ek moes erken dat dit glad nie goed is nie.  Ons was tot voor die Sinode se Fasiliteringskommissie, wat heeltemal bubbels gehap het oor wat aan die gebeur is.  Hierdie tipe dinge maak gewoonlik dat twee dominees later in die pad gesteek word. My werk sou in gedrang kom, my hele gesin se voortbestaan bedreig. En ek weet nie wat ek aan hom gedoen het nie! Ek weet net dat ek die hel uit hom uit geirriteer het met my menswees. En dat hy dit nie later kon uithou saam met my nie. Die probleem was seker nie wat ek gedoen het nie, maar wie ek is.Hy het in daardie laaste maande gesê dat die verhouding tussen ons twee nog nooit goed was nie. En ek, salig deur die stront, het gedink dat daar baie goeie tye saam was!

Gelukkig vir ons altwee het hy ‘n beroep gekry. Hy het my eers gesê daarvan die dag voor hy dit aan die gemeente sou moes bekend maak. Van sy vertrouelinge het dit weke lank geweet, voor my. Hy het nog ‘n week gewerk, toe sy opgehoopte verlof geneem, en toe sy afskeidspreek gelewer.  Hy sou ook getrek het sonder om my te groet, as ‘n gemeentelid wat hy baie respekteer, ons nie vir ‘n laaste ontbyt genooi het nie. Ek verstaan een ding nie- ek het in daardie tyd vir baie beroepe aansoek gedoen. Ek was vir drie onderhoude. Maar die Here los my nog steeds in die gemeente waarin ek die bediening begin het!

Ek moet hom vanoggend vir die eerste keer in amper vier jaar weer in die oë kyk. Die vorige keer wat hy in die dorp was om te preek, het hy my net ‘n handdruk gegee in die konsistorie, en dadelik weer weggekyk. ‘n Totale koue skouer.

Ek wil so met my hele wese vanoggend weghardloop. Ek wil so graag met alles wat in my is, op my motorfiets klim en net ‘n helse ver ent gaan ry.  Aan die ander kant wil ek so graag vrede in my hart hê as ek aan hom dink.  Soos ek gesê het, ek gun hom sy goeie reputasie in die gemeente. Ek wil graag ‘n skoon hart hê.

Ek het in my wildste drome nie gedink dat dit so in ‘n medeleraarsverhouding kan gaan nie. Ek het nie daarvoor gesoek nie.  En ek wens ek het geweet waaraan ek skuldig is, dat ek dit kon bely en aangaan met my lewe. Maar daardie dowwe, seer gevoel gaan nooit weg nie…

Advertisements

13 thoughts on “Om sewentig maal sewe keer te vergewe…

  1. Doom, jy is ‘n mens eerste. Ongeag jou beroep is jy geregtig op al die emosies wat ‘n mens mag hê.
    Mag die antwoorde wat jy soek hulleself openbaar op die bestemde tyd en mag jy die innerlike krag ontvang om hierdie struikelblok die hoof te bied.
    Vrede.

  2. Terug pieng: Om ‘n kind ‘n onreg aan te doen « MaanKind

  3. Ek het ook al met sulkes te doen gehad, maar nie naastenby op die skaal waarvan jy praat nie. In my geval was dit ook iemand ouer, en later het ek vir myself uitgefigure dat daardie persoon minderwaardig teenoor MY gevoel het, en dit was die reaksie daarop.

    Jy sal jou krag kry, en jou vrede, hou op soek oor wat jy verkeerd gedoen het, die grootste waarskynlikheid is dat jy sonder om te besef of ooit sal weet ‘n swakpunt in daardie persoon herken het. En hy weet dit, maar die oogklappe waarmee hy deur die lewe verhoed hom om te sien dat jy dit nie eers gesien het nie.

    Vrede vir jou my maat. Voel my hand op jou skouer.

  4. Ek en hy, en my nuwe kollega het nou saam by die koffieshop gekuier. Die verlede het nie weer ter sprake gekom nie, en ek gaan daardie deel van my lewe se boek ook nou toemaak en net aanbeweeg. Ek dink ek het toegelaat dat die gebeure van daardie tyd my heeltemal te veel beïnvloed het oor wat ek van myself dink. Dit het my vier jaar terug byna heeltemal vernietig. Maar in hierdie afgelope tyd het ek gegroei, en kan dit nou beter hanteer. Ek beleef dat ek hom heeltemal vergewe het, en regtig net wens dat die Here hom, sy gesin en sy nuwe gemeente seën. That was then, this is now, kom ons lewe.

  5. Ek stem saam met vorige skrywer dat dit dikwels iemand is wat bedreig voel, wat so optree.Dalk het hy ontoereikend teenoor jou gevoel?Dalk was hy bang die gemeente hou meer van jou as hom? Mense tree partykeer snaaks op oor die snaakste situasies. Ek dink dis die beste as ‘n mens so ‘n persoon trompop loop en vra wat die probleem is , en dit probeer uitstryk. Ongelukkig kan mens nie altyd nie, omdat jy bv ‘n kind is, soos Maankind, of ‘n junior kollega, en omdat mens graag die vrede wil bewaar. Ongelukkig ly so ‘n stilswye tot verdere afbrekende gedrag deur die”boellie.” Moenie dat sy onbilleke optrede jou verder ontstel nie. Dis nie die moeite werd nie, al maak dit seer. As hy enigsinds ‘n punt beet gehad het, kon hy mos met jou daaroor gepraat het. Ek dink hy het net sy eie swak ego vir homself probeer streel.

  6. Ekself het ook so ‘n iemand, maar die proses van vergifnis het nou al mooi gevorder (seker 3 jaar later…). Ek het hierdie wonderlike sin geleer: “As ek iemand vergewe, en netnou is ek weer kwaad vir hom/haar, en ek vergewe weer, en more is ek weer kwaad en ek vergewe weer en en en…… THEN YOU ARE A FORGIVER!!! Groot goed word nie sommer in een keer se vergewe vergewe en vergeet nie. Maar oor tyd, terwyl jy keer op keer weer en weer vergewe, hom/haar weer vir die Here gee, vir hom/haar bid, later selfs hoop dat dit met hom/haar moet goed gaan, raak dit beter. En dalk, net dalk, kom daar een dag soos hierdie en kan jy die mooi kommentaar skryf wat jy geskryf het, dat dit verby is. Dalk was hierdie koffie ook sy manier om te sê: “Ek is jammer”, al het die woorde nie gekom nie. Ek is regtig bly vir jou. En ek kan dit ook nou al sê dat ek die persoon vergewe het. Ek soek haar nie op nie, maar as ons in mekaar se geselskap kom, groet ek haar, gee haar selfs al ‘n drukkie en gesels ‘n paar woorde. Tyd en God is wonderlik!! Dankie dat jy dit met ons gedeel het.

  7. Soms loop mens mense raak in jou lewe met wie jy net nie jel nie. Nie omdat daar fout is met jou nie, ook nie met die ander persoon nie. Dis net twee persoonlikhede wat bots. En tog is altwee daardie mense goeie mense in eie reg, maar saam kan hulle mekaar stukkend maak. Dit gebeur selfs soms dat twee sulke mense saam in ‘n huwelik beland en uiteindelik net die slegste in mekaar uitbring. Dan gaan dit nie net oor vergewe nie, dit gaan oor afstand vind, jouself terugvind en jare later sal jy jou kom kry dat jy daardie persoon weer sonder kwade gevoelens kan face. Soos PJ se^, jy is net mens. En jou oud-kollega is ook net ‘n mens en al se^ die Here mens moet 490 keer vergewe, ken die Here ook ons harte en ons menswees en ons swakheid. En dat jou bedoelings opreg is. Ek dink jy is reg om die boek nou toe te maak en vorentoe te leef. Moenie die kettings van die verlede verder saamsleep nie. 🙂

  8. Weet jy my vriend as jy hom vergewe het soos Jesus die sondaar aan die kruis vergewe het is hy vergewe. En jy is vry ,laat los die bal van skuldgevoel waaraan jy so vas hou gooi dit in die hande van die Here. Want die woord sê as jy jou broer vergewe soveel te meer sal ek jou vergewe. Al wat hier gebeur op die oomblik is jy blokeer die Gees van die Here om in altwee van julle lewens n kosbare heeling en wondrwerk te doen. Julle is altwee geroep om n bres vir God te kap . En die Gees van God is in altwee van julle lewens. Vra die Here om jou te bederf met n positiewe gedagte. En om jou gedagte gevange te neem tot gehooraamheid aan Hom. Werp dan vandag al jou sorge op My sê die Here en Ek sal dit wegooi in doe diepte van die see. Daar is niks wat kom by n mooi gesindheid en liefde nie.

    My gebed is dat die Here jou sal toevou met Sy liefde. En in en deur jou Sy karakter sal laat opereer.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s