Sondagmiddag op die Platteland

Sondagmiddae was al van die heel beste tye in my lewe. En Sondaemiddae was al van die heel goorste tye in my hele lewe.

Toe ek ‘n kind was, het my ouers graag ‘n middagslapie geniet op ‘n Sondagmiddag. En wee die een wat hulle wakker maak… Ek kon dit glad nie verstaan nie! Hoe kan ‘n mens in die middag wil slaap, as daar so ‘n groot wêreld daarbuite is om te ontdek, dinge is om te doen, bome om uit te val…

Ek het baie Sondagmiddae in my lewe pak slae gekry weens oortreding van die minimum decibelvlakke… Geraasbesoedeling.

Later was daar die universiteitsdae. My ouers  het 500 km van die Universiteit af gebly. En as ‘n mens wel die naweek huis toe kon gaan, dan was dit gewoonlik daardie reuse Sondagmiddagete. Boetie gaan vir  lank weer weg wees… En as ‘n mens so lomerig is, dan skuif jy agter die Beetle se stuurwieletjie in (myne het ‘n Sportstuurwiel- hy staan en roes hier agter my huis- eendag as ek groot is gaan hy gerestoureer word… Sy naam was op Universiteit al Jeremia, want dit was ‘n Klaaglied om in hom langpad te ry…)   Sondagmiddag, daardie lang, lomerige pad terug universiteit toe. EN veral daardie laaste 100 km waar die pad net nooit klaar herstel is nie… Dan, in die universiteitskoshuis, die groot stilte van ‘n Sondagaand, as almal by hulle meisies gaan kuier het en ek het nie een nie, en is te skytbang om by enige een te gaan kuier wat nie ‘n kêrel het nie… Daar was darem Johnnies se Hamburger om na uit te sien…

As ‘n mens nie die naweek huis toe was nie, is daardie Sondagmiddae dodelik gewees.  Met vandag se wysheid, sou ek baie meer moeite gedoen het om die dameskoshuise te gaan besoek, en ander eensame siele te gaan opsoek, en na die dieretuin toe te vat…

Erens saam met die grootmenswêreld het die liefde vir Sondagmiddagslapies ook ontwikkel. Dalk is dit juis ‘n mens se kinders wat dit aan jou gedoen het. Daardie min slaap in die week met ‘n koliekbaba. Dalk was dit die elke weeksaand eers na nege tuis kom, en sukkel om voor middernag af te skakel van almal se ellende. Skielik het dit lekker geraak om ‘n uiltjie te knip na Sondagmiddag se ete.  En wee die een wat raas. ( dit klink bekend- die sondes van die vaders besoek die kinders…)

In ons predikantswerk is Sondagmiddag se rus nogal noodsaaklik. Want vanaand, as 98 % van ons gemeente en 100% van die nie-kerkmense besig is om te kuier, in die Spur te sit, fliek toe te gaan, dan hou ons aanddiens vir die getroue twintig…

Sondagmiddag het ook ‘n ander lekkerte. Wanneer die Formule 1 ouens in Europa ry, pas die Grand Prix net mooi tussen middagete en kort slapie, en die aanddiens in. Mooi gedoen in Hongarye, Basjan!  Daar is een Sondagmiddag in Maart, die tweede ene, wat ek elke jaar op die Kaapse Waterfront sit en bier drink en groot steaks eet. Dit behels so ligte fietsritjie om daar uit te kom, soms met so ligte windjie om ‘n mens af te koel…

Vanmiddag se middagslapie het nou nie gebeur nie. Ons het ‘n groot funksie gehad oor die naweek. Daar was ‘n dinee vanmiddag, en dit was een van die min kere wat daar regtig dankie gesê is vir ons werk. Ons kry nou nie eintlik aanprysingsertifikate nie, ook nie erkenning vir 10 en 15 jaar diens in die firma nie. Ons kry ook nie prestasiebonusse nie, want alles is mos nou eintlik genade, behalwe wanneer ‘n mens aanjaag, dan is dit jou skuld…Maar vir een keer is daar dankie gesê. En ek voel soos ‘n jong hondjie wat op en af spring en sy stertjie so opgewonde waai met blink ogies!

Die slaap het nie vanmiddag gekom nie. En daarom sit ek nou hier en blog skryf met seer ogies. Ek is nie aan diens vanaand nie, kollega moet sesuur preek. Ek sit en wonder of ek vanaand een van die 2% gaan wees, en of ek een van die 98% gaan wees. Die vlees is nie lus nie…

So van die vlees gepraat- daar is natuurlik ander wonderlike dinge ook om te doen op ‘n Sondagmiddag. Ons noem dit SMS- en dit is nie Sondag Middag Slapie nie…  Maar goeie ouens soos ek praat nie uit nie, en bloos te vinnig as ons net die woord Hooglied hoor.  Dit het ook nou nie vanmiddag gebeur nie, die kinders is heeltemal te aktief en raserig vandag, en die smarties op die gras triek help ook nie meer nie…

Eintlik sou ‘n laatmiddag trippie op die motorfiets nou net die ding gewees het. Aanddiens, of motorfiets? Aanddiens? Motorfiets… aanddiens…

Waar is my helmet???