Maandagoggend… die onwillige profeet…

Dit is Maandagoggend, en die begin van ‘n nuwe dag/week/maand het aangebreek, soos my goeie vriendin Maankind vanoggend vrolik op facebook sê.

Vanoggend voel ek soos Jona van ouds!  Ons het ‘n BAIE hectic week gehad verlede week, en hierdie week hou vir my baie ry in. Teen volgende week hierdie tyd gaan my bakkie 2000 km meer ophê om voor SARS se voete neer te lê.

Vanoggend is die gees gewillig, maar die vlees nie. Ek het myself half agt uit die bed uit gesleep, terwyl ek gedink het aan my goeie vriende en vriendinne in Sodom en Gomorra se verkeersknope…

Na ‘n heerlike ontbyt van rogbrood en heuning en koffie het ek eers rustig deur my blogvriende se blogs geblaai, so bietjie nonsens op facebook gepraat met my vriende. En toe moes ek ook maar begin om in die sweet van my aangesig my brood te verdien. In ons gemeentebybelstudie is ek besig om Jona met die mense deur te werk. Dit is die hoogtepunt van my week, saam met die dames en twee here wat dit bywoon elke Dinsdagoggend. Maar more moet my kollega se goeie vrou my help- ek en kollega moet engeltjiefabriek toe gaan in Pretoria, om ‘n teologiese student te werf om ons volgende jaar te kom uithelp. Daarna gaan ons die res van die dag in Moreletapark se groot kerk sit met ‘n kursus.

Ek hou van prentjies in my bybelstudies, en so kom ek toe op hierdie een af van Jona binne in die groot vis, vir more se stukkie.

En dis presies hoe ek vandag voel- net soos hierdie dude!  Ek weet ek moet gaan werk, en ‘n groot verskil gaan maak aan die mensdom se saligheid. Maar vandag sleep my voete en is ek nie baie lus vir werk nie. Die Bybelstudie wat ek nou net uitgewerk het, is natuurlik wêreldklas en sou die helfte van die wêreld se probleme opgelos het indien elke mens op aarde dit kon doen.  Ek sou ook net so ‘n groot verskil vanoggend kon maak deur die omgeegroepe se stukkie vir volgende week se antwoorde uit te werk- daarin lê die antwoorde vir die beeindiging van wêreldarmoede en hongersnood ook opgeteken- ek sal dit dalk vir Barack Obama aanstuur, want ek sien hy moet more sê hoe Amerika uit sy bankrotskap gered gaan word. Seker redelik maklik- moet net nie met drie ouens gelyktydig wil fight nie!  En moenie so baie geld leen nie. Spaar ‘n bietjie. Laat jou inkomste so bietjie meer as jou uitgawes wees, dan kom jou saldo weer eendag in swart letters na jou toe. In elk geval- ek kry dit self nie reg nie, miskien moet ek Barack maar uitlos vir vanoggend.

 

Die onwillige profeet is nie vandag lus vir Ninevé nie. Enige opbouende voorstelle oor hoe ek hierdie dag sinvol kan spandeer? Eintlik moet ek vanaand nog ‘n Sendingkommissie vergadering lei, wat dadelik die wêreld gaan bekeer sodat Jesus more kan terugkom en al die ellende kan stop. Maar gewoonlik daag niemand daar op nie…

wat jy ook al vandag doen- doen dit voluit en met vreugde in jou hart. Dalk steek dit my aan…