Maandagoggend… die onwillige profeet…

Dit is Maandagoggend, en die begin van ‘n nuwe dag/week/maand het aangebreek, soos my goeie vriendin Maankind vanoggend vrolik op facebook sê.

Vanoggend voel ek soos Jona van ouds!  Ons het ‘n BAIE hectic week gehad verlede week, en hierdie week hou vir my baie ry in. Teen volgende week hierdie tyd gaan my bakkie 2000 km meer ophê om voor SARS se voete neer te lê.

Vanoggend is die gees gewillig, maar die vlees nie. Ek het myself half agt uit die bed uit gesleep, terwyl ek gedink het aan my goeie vriende en vriendinne in Sodom en Gomorra se verkeersknope…

Na ‘n heerlike ontbyt van rogbrood en heuning en koffie het ek eers rustig deur my blogvriende se blogs geblaai, so bietjie nonsens op facebook gepraat met my vriende. En toe moes ek ook maar begin om in die sweet van my aangesig my brood te verdien. In ons gemeentebybelstudie is ek besig om Jona met die mense deur te werk. Dit is die hoogtepunt van my week, saam met die dames en twee here wat dit bywoon elke Dinsdagoggend. Maar more moet my kollega se goeie vrou my help- ek en kollega moet engeltjiefabriek toe gaan in Pretoria, om ‘n teologiese student te werf om ons volgende jaar te kom uithelp. Daarna gaan ons die res van die dag in Moreletapark se groot kerk sit met ‘n kursus.

Ek hou van prentjies in my bybelstudies, en so kom ek toe op hierdie een af van Jona binne in die groot vis, vir more se stukkie.

En dis presies hoe ek vandag voel- net soos hierdie dude!  Ek weet ek moet gaan werk, en ‘n groot verskil gaan maak aan die mensdom se saligheid. Maar vandag sleep my voete en is ek nie baie lus vir werk nie. Die Bybelstudie wat ek nou net uitgewerk het, is natuurlik wêreldklas en sou die helfte van die wêreld se probleme opgelos het indien elke mens op aarde dit kon doen.  Ek sou ook net so ‘n groot verskil vanoggend kon maak deur die omgeegroepe se stukkie vir volgende week se antwoorde uit te werk- daarin lê die antwoorde vir die beeindiging van wêreldarmoede en hongersnood ook opgeteken- ek sal dit dalk vir Barack Obama aanstuur, want ek sien hy moet more sê hoe Amerika uit sy bankrotskap gered gaan word. Seker redelik maklik- moet net nie met drie ouens gelyktydig wil fight nie!  En moenie so baie geld leen nie. Spaar ‘n bietjie. Laat jou inkomste so bietjie meer as jou uitgawes wees, dan kom jou saldo weer eendag in swart letters na jou toe. In elk geval- ek kry dit self nie reg nie, miskien moet ek Barack maar uitlos vir vanoggend.

 

Die onwillige profeet is nie vandag lus vir Ninevé nie. Enige opbouende voorstelle oor hoe ek hierdie dag sinvol kan spandeer? Eintlik moet ek vanaand nog ‘n Sendingkommissie vergadering lei, wat dadelik die wêreld gaan bekeer sodat Jesus more kan terugkom en al die ellende kan stop. Maar gewoonlik daag niemand daar op nie…

wat jy ook al vandag doen- doen dit voluit en met vreugde in jou hart. Dalk steek dit my aan…

Advertisements

8 thoughts on “Maandagoggend… die onwillige profeet…

  1. Terwyl jy wonder, het al el ‘n hoop strykwerk deur my hande…
    Maar ons het ‘n spreekwoord in ons huis, danksy krulkopkleinkind: Ouma, ek WHUL nie! So party dae WHUL mens net nie… En dis fine. More MOET jy weer. Dan KAN jy.

    • Ek verstaan PJ… ek verstaan! Ek het nou maar vanoggend die Bybelstudie vir more heel suksesvol klaargemaak, die antwoorde ook uitgewerk en vir kollega se vrou gevat, wat dit more vir my sal aanbied as ek bose stad toe kom. Toe het ek nou die moeilikste ding op my eie to do lysie aangepak, en dit was toe glad nie so erg as wat ek gedink het nie- aangename verrassing gehad. Nou is dit nog net die Sendingkommissie ding wat pla- ek voel ek moet een hê, maar dit willie werkie…

  2. Ek dink nie jy wil vandag by my aansteek nie – ek het voluit gedoen ja, voluit gevloek op ‘n reisagent en ‘n koeriermaatskappy. Soos ek reeds elders gesê het, my kwota is op vandag :grrr:

  3. Ek moet nou more oggend voor ses bose stad toe ry, vir ‘n ding by Moreleta, en dan moet ek vyfuur terug wees vir ‘n Finansiële vergadering waarna ek omtrent soveel uitsien soos ‘n prostaatondersoek by die dokter (ek vermy dit nog altyd, dink dit moet baie sleg wees!)
    Ek dink ek gaan vanaand vroeg in die bed klim, en net vir ‘n slag die Maandag wegslaap. Lekker aand vir al my vriende!

  4. Ek weet presies hoe jy gisteroggend gevoel het. Ek het NET SO gevoel. Beslis nie lus om die wereld ‘n beter plek te maak nie. Maar VANDAG moet julle koes!!! O Ja, ons is ook in die gelukkige posisie wat ons geldsake aanbetref – elke keer as ons ‘n tjek uitskryf raak ons banksaldo hoër!!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s