My een afspraak met my Skelmpie wat my diep geraak het… (-18 NL)

Gister het ek oor my skelmpie geskryf, en dit het ‘n paar vriendinne hewiglik ontstel. Daarvoor vra ek nederig uit my hart uit om verskoning.  Gisteraand het ek in ‘n tent gaan slaap in die Bos om geleentheid te hê om weer oor my sondes te dink. En ek weet, dit is nie mooi om ‘n skelmpie te hê nie. Ek het laat vandag teruggekom, en het nou nie vreeslik baie wat ek met julle kan deel vanaand nie. Ek het gedink om maar my een gunsteling storie net te herpubliseer. Dit was in Desember 2010 geskryf na aanleiding van ‘n rowwe naweek saam met my skelmpie, sonder my vrou. Ek is jammer as die inhoud hiervan sensitiewe lesers en kykers gaan ontstel. Ek het net ‘n paar dinge geleer wat baie belangrik is in my werk om te weet.

Poison Rally 2010- telling- Wille bikers 1- Christene 0

Tequila Sheila van Klerksdorp… en haar man. Eerlike mense!

 

 

In elke sirkusleeu se oë is daar soms nog ‘n dowwe lig wat flikker. Net so nou en dan is daar die onthou, van ‘n ander lewe… Vryheid?

Ja, die dominee het incognito na die Poison Rally toe gegaan. Die motorfiets se naam “Huisbesoek” is met swart insulation tape toegeplak, sodat niemand sou vermoed nie. Ek het so diep begeerte gehad om vir ‘n slag weer tussen mense sonder maskers te wees. Nie net Dominee, en Broer en Suster te wees nie. Sommer net: “Hey jou bliksem op die swart bike… ”

Ons dominees is so gewoond aan soet mense. Mense wat saggies poep, en altyd glimlag as die dominee naby is. En so het ek die heimlike begeerte gehad om weer te sien hoe mense werklik is, daar waar die toga en die titel onbekend is, waar ek net weer vir ‘n slag ek kan wees.

Die eerste probleem het gekom toe ek op die kampterrein gearriveer het. Al die staanplekke is klaar opgeëis deur die klubs. ‘n Mens slaan nie sommer jou tent enige plek op nie, dit is dalk net Vuilis van Germiston se Growlers se plek, waar hy altyd sy nes skrop. ‘n Anonieme dominee op die verkeerde plek kan dalk net gedonner word- en wat sal die Son daarvan sê, om van Tant Koekie se bid en skinnerklub nie te praat nie!

So in die rondry, sonder my helmet, kyk ‘n man van Krugersdorp so aandagtig na my. Hy en sy baie mooi vrou lê langs ‘n Honda Transalp, en rook aandagtig hulle Hubbly. Omdat ek vir hom rustig lyk (kan die masker nie meer af nie??) nooi hy my om saam met hulle te kom kampeer. Sy kinders kom later met hulle tente. Maar ek is baie welkom, wie ek ook al mag wees, ek wat ook motorfietse like en daar is.  (Ek het verby ten minste twee Christelike klubs se koffietente gery, en verby gery. Ek was sonder heenkome, en julle het nie…

Ek het in twee dae optrede gesien, en woorde gehoor, wat dominees nie elke dag hoor en sien nie. En weet jy wat? Dit was lekker. Dit was eerlik. Dit was opreg.

Die hartseer is dat ons Saterdagaand met die prysuitdeling verneem het dat daar deur die dag enkele sterfgevalle was. Die rumours was van vroegoggend af van iemand wat aan ‘n hartaanval in sy tent dood is deur die nag. Verdere ouens het afgekom- en sommiges het dit nie oorleef nie.
René Changuion van die Bikers Church- CMA se nasionale president, het ‘n baie aangrypende oomblik van stilte gelei. Hy het daarna uit die hart uit vertel van die Here se liefde vir Bikers, en is toegejuig deur ‘n groot deel van die skare. Hy het Biker bybels uitgedeel onder die boom, en die res wat wou hê, genooi om na die CMA se koffietent toe te gaan.

Ek het ook na die koffietent toe gegaan. Daar was seker maklik 20 ouens in CMA colours. Onthou- CMA ouens mag glad nie drink nie, en is beskikbaar om ander bikers te help- dis waarvoor hulle staan. Ek het by die koffietent opgedaag, vir myself koffie gemaak, twee liedjies van Hillsong geluister, gevra waar om my polistyreen koppie weg te gooi, en toe maar weer gery. In hierdie tyd was ek die enigste nie-CMA lid in die tent. EN niemand het my gegroet en verwelkom nie!

Kort hierna het ek maar ‘n brandewyntjie geneem, en toe per ongeluk neergebliksem. Dit was my eie fout. Maar as ek ongered was, en harder geval het, en niemand het met my gepraat nie?
Dit was die eerste keer in 24 jaar dat ek met ‘n motorfiets geval het- ek het gedog ek het dit al ontgroei, en is beskerm deur Psalm 91?  En die bikers met die biere in die hande was die eerste ouens wat gehardloop het, nie om vir my onnoselgeit te lag nie, maar om werklik besorgd te vra of ek OK is.

Ek het die rally baie geniet. Ek het dit geniet om te sien hoe baie mense kan suip en vloek, sonder om enige “sorry, dominee’s” te sê. Ek het Little Annie se komiese stripshow baie geniet. Ek het die botteltjie KWV 5 jaar oud baie geniet. Ek het die ander bikers se passie vir hulle motorfietse baie geniet. Ek het die omgee vir mekaar onder bikers baie geniet. EK het die hulp waardeer van bikers toe ek hulp nodig gehad het. Maar ek het eensaam gevoel tussen die Christene…

9 thoughts on “My een afspraak met my Skelmpie wat my diep geraak het… (-18 NL)

  1. Ek is besig om ‘n lysie te maak van wanneer is jy ‘n grootmens, en dankie, Dominee, dat jy my herinner het om hierdie een by te voeg:
    Ek besef ek is ‘n grootmens toe ek ophou kerk toe gaan het.
    Sorrie Dominee.

    • Ag nee, suster, daar is darem ‘n ander kant van die saak ook. Ek het darem in die kerk ook al baie liefde en aanvaarding gekry, en soms ondersteuning waar ek self nie meer kon nie. Maar ja, daar is ‘n klomp mense wat sê hulle is kerkmense wat net nie ‘n saak met hulle naaste het nie, en die naaste beskinder en afbreek. Maar dit gaan mos lynreg teenoor die tweede gebod van Jesus! Die kerk het BAIE foute. Maar daar is soveel potensiaal om wel ‘n verskil te maak in die wêreld. As ons die oordeel los en die liefde uitleef!

  2. Natuurlik is daar! Daar is wonderlike mense, en dan is daar klipharte ook. Net soos op enige ander plek. Jy moet sien hoe werk die kerke hier in ons dorp saam, bv die sopkombuis word gesamentlik bedryf deur al die kerke. Maar dan is daar mense soos ons, wat ywerig meewerk aan kerk-projekte, ons is net nie lidmate nie.
    Kan ek herfraseer?
    Ek besef ek is ‘n grootmens toe ek ophou kerk toe gaan het, ter wille van wat ander mense dink. Ten spyte van my geloof in God.

  3. Ek het lank terug al geleer wie my naaste is, die eerste keer toe ek maar 12 jaar oud was, en die hartseer ding is dat my naaste elke keer nie iemand was wat in dieselfde kerk as ek sit of net soos ek lyk nie. My naaste was nie die een wat homself ge-label het as Christen nie, my naaste was die een wat op die oog af glad nie eers soos ‘n Christen gelyk het nie.

    Daar was ‘n tyd in my lewe wat ek bitter swaar gekry het en dit was nie my “eie” mense wat ‘n hand van hulp uitgesteek het nie. Dit was iemand van wie ek dit die minste verwag het wat vir my motor gereel het vir 4 ander bande omdat ek ‘n vrou is en nie met sulke gladde bande kon ry nie. Maar die wat veronderstel was om my naaste te wees, het hulle gesigte weggedraai.

    Dit maak lankal nie meer saak nie, maar ek het nog nooit vergeet dat my naaste meeste van die tyd eintlik die Samaritaan is nie, DIT, Bileam, is wat jy by die wille bikers geleer het🙂 Sad, but true.

    • Dit is presies dit, ja! Daardie omgee vir mekaar ten spyte van die kassies waarin ons mekaar so maklik plaas! En ek het ook in my lewe al die meeste seer gekry deur “my eie” mense, en baie keer genesing gekry by mense wat in my oë die “ander” was. Om uiteindelik net ietsie te begin verstaan dat liefde nie grense het nie, en die taal van die hemel is… En as ‘n mens dit eers in jou eie lewe ontvang het, word dit soveel maklik om aan ander uit te deel. Uiteindelik is selfs geloof nie ‘n stel wette of reëltjies nie, maar ‘n verhouding- ‘n liefdesverhouding. Ek wens net ek kon waar ek ‘n invloed het in gelowiges se lewe, hulle leer om onvoorwaardelik lief te hê, en dit prakties te maak. Dis wat ek probeer doen…

  4. Dit is sad, want baie mense besef nie waaroor dit ultimately gaan nie – liefde, en in een vorm naasteliefde. En naasteliefde is nie net gereserveer vir die wat saam met my kerk toe gaan, bid of dieselfde gesange sing nie. Ons is almal mens, almal met foute – die ding is net sekeres is meer skeinheilig as ander.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s