Saterdag se reis na die Huis van Brood

Ons het gister in die pad geval na ons vriende in Bethlehem toe, waar ons heerlik wil kuier en hopelik sneeu gaan sien. Ons het sewe uur in die pad geval. Eers in Pretoria by Nedbank gestop, want ek het ALWEER ‘n chipkaart verloor. Die kassiere in die winkels vergeet soms om hom terug te gee, en ek vergeet om hom te vat. Lekker stupid, en elke keer kos dit ‘n hoop geld. Ek het ook vir my ‘n lekker CD stel van 6 disks gekoop, met 80’s rock op. En so kon ons die pad aandurf met die strelende klanke van Duran Duran, Spandau Ballet, Pat Benatar, Robert Palmer en ander meesters uit die beste dekade van musiek daarop- 110 heerlike snitte.

Die musiek was noodsaaklik, want die pad was soms ‘n nagmerrie. Tussen Delmas en Nigel was daar 4 verleggings, elkeen met ‘n potensiële 20 minute wagtyd. En toe ons deur Villiers na Frankfort toe is, is daar nog 3, elkeen met ‘n potensiële 30 minute wagtyd. Negentig minute op 27 km!!! Die humor in die bakkie het darem gehelp, alhoewel die matrikulant my enkele kere aangespreek het oor die besiging van donker Afrikaans as ek die don… hmm, helder geel padtekenbordjies op die horison sien verskyn. Ek sukkel maar regtig baie om op te hou vloek. Dis baie moeilik vir my… ek weet hier is ander wat geen kras woordjie oor hulle lippe laat glip nie, en dis seker ‘n goeie ding.

So met al die gesit langs die geel bliks… hmm, helder padtekens en robotte, het die blaas ook maar vol geraak. Hier naby Tweeling het ons maar afgetrek, vir ‘n behoorlike pitstop langs die pad. Ek en die seuns het op parade gestaan, en die Vrystaatse droogte effens verlig. Ons was eintlik baie verlig. Mammie het in die sloot langs die pad ingeduik, terwyl sy soos ‘n meerkat uitloer vir wanneer die volgende taxi verby kom. NA vier kinders is die blaas ook nie meer wat hy was nie…

En toe besluit ek mammie sal maar verder die laaste 100 km ry, ek en jongste gaan agter in die canopy lê en ‘n uiltjie knip. En dit het so gebeur. Maar daar by Reitz het iets verskrikliks gebeur. Ons het in iemand se vrieskamer ingery. Toe ek weer wakker word daar agter in my Canopy, is daar ys stalagtiete besig om aan die dak te vorm bo die plek waar ek lê. ‘n Ysbeer het op 120 km/u deur die venster vir my geloer, en sy lippe afgelek… Ek het net weer besef- hierdie is nie die Bosveld nie. Hier kan die koue ‘n mens ernstig seermaak.

Ons het by ons ou vriende se huis aangekom, met die bakkie wat soos ‘n ysberg lyk. Toegepak in die ys. Net twee gaatjies deur die voorruit waar my vrou se laseroë daardeur geskyn het… Ag askies, my vrou sê soms kan ek effens oordryf… Dit was BAIE koud! Gelukkig is die huise in Bethlehem gerat vir die koue. Daar het in die sit/eetkamer ‘n gesellige kaggelvuurtjie gebrand. En in die kombuis/tv kamer ‘n antrasietstoof. En so kon ons lekker kuier eers met ‘n koffietjie voor die antrasietstoof, en later voor die kaggel met ‘n glasie sherry. Dis darem net een van die lewe se groot dinge- om saam met vriende voor ‘n kaggel te sit met ‘n sherry in die hand. Kan ‘n mens dit nie elke dag van die lewe doen nie? (Hierdie vriende het oorkant die pad van ons af gebly, en toe kon ons. Maar nou bly hulle 650 km weg- dit maak daaglikse kuier voor die kaggel so effens moeiliker…)

Toe die son sak, het die twee matrikulante ons beursies beroof. Hulle het na die Casino toe gegaan tot elfuur. Ek hoop hulle het net in die Spur gesit en tjippies eet. Maar albei is klaar 18, so as hulle gedobbel het hoop ek die rooikop deel haar winste met die bron van haar skatte- dis nou ekke. (Dobbel, drank en vloek is nie mooi nie!)

Die res van ons het ‘n heerlike ete saam geëet by die eetkamertafel langs die kaggel. En dit was nou so spesiaal- ‘n spagetti en maalvleis, en heerlike slaai (nee, nie hoender of vark nie). Daar was Malvapoeding en vla, en baie lekker koffie.

Die ryery en die koue het my maar baie lomerig gemaak, en ek en mamma het vroeg bedwaarts gekeer.   Daar het onse vriendin vir ons ‘n elektriese kombers in die bed aangesit, wat op sy warmste gestel was. Kyk, ons ken nie dié goed in die winter in die Bosveld nie. Totdat die aardverwarming so ernstig geword het, moes ons nog in die winter kaal op die bed lê om af te koel. Somers was so bietjie erger nog. So ja, hierdie elektriese kombers storie ken ons nie. Dit was vir my BAIE warm toe ek in die bed klim. En toe ek later die reuk begin kry van gebakte eiers en Frankfurter, toe weet ek die idee is seker om hom effens af te stel as jy inklim. Gelukkig het ek klaar my kant vir die wêreldbevolking se vermeerdering gebring met vier bydraes. So die skade is seker nie van ewigheidsduur nie…

Vanoggend lê ek lekker in die bed. Ek is op verlof, en ek het nie ‘n suit saamgebring nie. Ek gaan soos baie van julle stouterds nie vandag kerk toe nie. Ek lê met my laptop in die bed, en wag vir koffie, soos Lord oom Piet. Daarna sal ek my karkas deur die stort sleep. En dan gaan ek die kinders na ontbyt wys waar is Truida Kestell Laerskool se koshuis, daardie Dracula kasteel van my standerd 2 nagmerries (Japie Peens jou bliksem, saam met jou sidekick Dawie- wat sou van dié 2 geword het? Hopelik het hulle by die Here uitgekom en is nou goeie mense… ek hoop so!) Ek sukkel nou nog om die koshuis se ervaring uit my onskuldige hart te kry- dis hoekom ek so vloek in die lewe…

Rooikop kom nou hier ingesluip. Sy bieg sy het toe R50.00 gewen gisteraand. So werk die ou duiwel, eers sit hy die aas aan die hoek, en dan katrol hy jou stadig in. Pasop, my kind!

Ons gaan laat oggend braai, en vanmiddag gaan ons Clarens en Golden Gate toe. Sorry Charlene, ek gaan jou en Thilo op die Adventure daar mis, maar dit is so koud dat sekere belangrike liggaamsdele gaan wegkrimp en afval op ‘n bike… Al die GS’e was in elk geval gister op pad Noorde toe op die N1.

So, geniet jou sondag, en doen iets heilig, en iets lekker.

Ns- ek het alweer gestruikel en geval langs die lewenspad. Ek het hierdie bloh halfpad in die bed gelê en skryf op die Blackberry, en toe raak dit skielik heeltemal weg! Ek het toe weer een of twee donker Afrikaanse woordjies gebesig… Sorry!

8 thoughts on “Saterdag se reis na die Huis van Brood

  1. Ek hoop julle het sneeu gesien en by Clarens se kat koffie shop gestop – hulle het die lekkerste Mozart-koek en cuppachino’s!!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s