Perverse Afwykings…

Ek het netnou ‘n sensasie beleef so intens soos wellus op Clifton se nommer 4 strand…

Ek het vinnig daar in Nylstroom gestop vir Brandstof op pad huis toe. En by Waterberg Toyota staan hierdie V8 5 liter Lexus, in perfekte toestand tweedehands vir net R599 999.00  Ek het ‘n vet kans gevat, en gevra of ek hom vir ‘n toetsrit kan vat. Maar die verkoopsman het net een kyk na my gerolde Mazda bakkie gegee, en histeries begin lag. Nadat hy tot bedaring gekom het, het hy iets gesê van ek sal eers ‘n aansoek om finansiering moet voltooi. En as ek goedgekeur word daarvoor, dan kan ek maar saam met hom vir ‘n ry gaan.

En anders as wat sommiges beweer, is ek nie naastenby in hierdie klas nie! My hele salaris, met vervoertoelaag by, gaan nie die paaiement van hierdie tweedehandse voertuig kan betaal nie!  Hulle het die trane in my oë gesien, en toe darem die voertuig oopgesluit en die enjin gestart, dat ek net agter die stuur kan sit en die petrol kon trap.  En toe huil ek soos iemand wie se groot liefde so pas gesterf het.  Want ek gaan NOOIT in my ganse lewe so ‘n wa kan ry nie.  EN hierdie motor is so SEXY dat ek selfs dink ‘n Ducati gaan tweede kom in Sexygeit!

Julle moet hierdie kar se agterent sien. Daardie motoringenieurs in Japan het iets reg gedoen- dis myle beter as Merc of BMW se agterkant- dis amper in Ferrari klas! Julle moet daardie vier uitlaatpype sien, wat so uitsteek uit die agterste buffer!

In die voertuig het ek nog nooit so ‘n ervaring gehad nie. Perfeksie. Die instrumentepaneel wat met wit en koningsblou ligte aankom. Die afwerking van die binneruim, die uiters gemaklike leersitplekke, die koolstofvesel panele…

Dis vir sulke voertuie wat ‘n mens sal bankroof oorweeg. Dit sal dominees laat lotto speel.  Ek is fisies siek van begeerte soos ek hier sit. As ek maar net gou daardie voertuig hier op die N1 kon afneem vir ‘n toetsrit, daar om Kaappunt en dan weer terug, sou ek al effens beter gevoel het.

Maar ek voel soos wat Jeremy Clarkson gevoel het toe hy die eerste prototipe van die Bugatti Veyron vir ‘n toetsrit deur kontinentale Europa gevat het. Hy het omtrent gehuil oor hy nooit, ooit weer sulke perfeksie gaan bestuur nie. Ek vra nie so baie van die lewe soos Jeremy Clarkson nie. Hierdie R600 000 voertuigie sal dit doen vir my, ek wil nie eers kyk na die R8 miljoen Bugatti nie!

En ja, hansworsie, as ek hierdie voertuig besit het, sou ek dit dalk oorweeg het om te spog met wat ek het…

Die laaste vraag is- Is een van julle nie dalk Bill Gates wat graag vir ‘n vreemdeling ‘n guns wil doen nie?

 

Baie dankie dat ek my hart so kon uitpraat met julle. Dit is omdat ons protestante nie ‘n bieghokkie het soos wat die Rooms Katolieke het nie, en ek moes hierdie perverse gedagtes uit my hart uit kry, om weer dankbaar te wees oor wat ek wel het…

Onderwerpe:  begeerte!

12 thoughts on “Perverse Afwykings…

  1. Ag donderweer en bliksem Bileam, dis nou kompleet sout in my wonde!!! Toemaar, jy is vergewe.

    Ek het al baie gesweer ek sal NOOIT vir geld trou nie, ek is net nie so aanmekaar gesit nie. Maar as ‘n man wat so ‘n kar ry, nou kom aanklop, o bliksem, dan dink ek ek sal dalk weer dink.

  2. Pingback: Goudstorm « Herriemerrie

  3. Ek ry nie eers meer verby ‘n Toyota garage nie want dit is marteling en dit gee my onrein gedagtes wat bestaan uit balaclava’s en 9mils en onpatriotiese dade. Boonop het mamma my die Lexus en Landcruiser posters van ons slaapkamer mure laat afhaal, sy reken ek is al bietjie oud om nog posters teen die mure te hê. (gelukkig het sy nie die GS en Indian plakkate aan die binnekant van my kasdeure gesien nie!
    Maar eendag baie binnekort gaan ek darem die tweede beste ding doen. Ek gaan vir Bees ‘n tweedehandse V8 Lexus enjin laat insit, en dan kan ek hom aansit in die oprit en my oë toemaak en my verbeel dit is die regte-egte ding

    • Ek verstaan, PJ, glo my, ek hoor jou lied… Dis interessant dat daardie Lexus so duur is, maar die enjin tel ‘n mens met min kilometers op vir rondom R5000, met nog R10 000 vir sy rekenaarstelsel. So sê my een mechanic vriend vir my… Dis net daai ombouing wat nogal tyd vat en duur kan uitwerk. So geniet vir Bees met daardie enjin in, blog bietjie oor die proses ook?

      • Ja, hy is heeltemal reg. Die algemene prys is so rondom R15 – 18k vir kompleet enjin, ratkas en elektronika.
        Die totale prys saam met die ombouing wissel tussen R30 en 80k, afhangend van die tipe voertuig en natuurlik waar jy dit laat doen. Maar soos ‘n vriend van my uitgevind het tot sy spyt is goedkoop duurkoop in hierdie geval.
        Wanneer die tyd kom sal ek die vordering boekstaaf. Maar eers moet daar ‘n nier verkoop en ernstig gespaar word.

  4. Pingback: Op die baadjie trakteer « Toortsie se Blog

  5. **sug** ek weet presies waarvan jy praat…
    En sidder vir die dag wat ek die eerste FJ-Cruiser in lewende lywe later vanjaar op ons paaie gewaar… ek gaan tjank, onbeskaamd……

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s