DVVPP- Dank Vader vir die Pienk Pilletjie…

Julle almal ken nou al die bekende DVDV- net vir stadige mense soos ek wat ook vir lank gewonder het, dit staan vir Dank Vader Dis Vrydag. Maar dis eers more.  Vandag het my vrou ‘n nuwe een gepatenteer, soos die opskrif dit beskryf-DVVPP.

Daar is sekere definitiewe voordele daaraan om op die Platteland te bly. “Soos wat?”, wonder die stadsjapies. Soos- ek het 2-3 ure per dag meer tyd as julle. Want ons spitsverkeer is so 2 minute rondom 08h00, en dan weer rondom 16h00. Vier minute se spitsverkeer. Ander voordele is dat alles minder as vyf minute se ry van die huis af is na enige plek in die dorp toe. As die kinders sport in skooltyd het, dan kan die meeste van ons vinnig wegglip om te sien hoe boetie kolf, en hopelik is hy nie vir ‘n duck uit nie.  Byna almal ken mekaar (dit hoort ernstig onder nadeel nommer 1) maar dit maak dat jy vinnig kan netwerk, en weet wie wat waar vir jou kan doen as iets gedoen moet word. Ek weet selfs van een kollega wat al in ‘n plattelandse dorp (Dendron) van die pastorie se stoep af ‘n vlakvark geskiet het. Dieselfde vriend het ‘n SKIETBAAN op die kerkterrein in Vaalwater opgerig om sy jaggeweer in te stel voordat hy gaan bokke vermoor. Sekere mense kan met alles wegkom. As ek net met ‘n windbuks ‘n Cokeblikkie in die erf gaan skiet, gaan die Taakmag met helikopters daar opdaag!

Daar is ook ernstige nadele daaraan om op die platteland te woon. Soos- die feit dat almal mekaar ken!  Almal weet alles van mekaar af, en dikwels weet die hele dorp dit voor die verbaasde Donkie as een van die seuns weer êrens aangejaag het. (Of op die rooi tapyt beland het soos Maandagmiddag!)   Die inkopiegeleenthede is beperk, en daar is byna geen plek van vermaak waar ‘n Dominee of sy gesinslede gesien kan word sonder ernstige aanspreek deur die ouderlinge nie. Ek is hoeka een keer ernstig aangespreek oor ek ‘n keer of wat alleen by die ITALIAANSE restaurant gesit het met ‘n Draught en ‘n bordjie chips na huisbesoek, sonder my vrou. (sy het vroeg geëet en in die bed geklim, die skool put haar nogal baie uit!)  Ek sweer dis die waarheid!

Die ander probleem is dat daar in die hele Limpopo provinsie nie ‘n enkele privaat hospitaal van goeie reputasie is nie.  Om goeie (lees nie Kubaanse by die staatshospitaal) spesialiste te sien, moet ons ten minste Pretoria toe ry. En so moes ek en Mevrou en van die kinders vandag na Sodom en Gomorra toe gaan om gevorderde mediese hulp te kry.

En dis waar die probleempies vandag soos klein  jakkalsies in die wingerd begin kop uitsteek het. (waar kom daardie uitdrukking tog vandaan?)  Ons moes vanoggend om negeuur by die spesialis wees wat die moeilike outjie se ADD behandel. En daarna moes daar nogal baie ander dinge gebeur. Ons moes BAIE vroeg ry om betyds by die hospitaal te wees. Raai wat gebeur? Die liewe dokter hoor op die radio dat die verkeer stadig is, en vat die mense wat na ons moes ingaan, voor ons in.  Ons sit vyf voor nege en duime draai in die spreekkamer, en moes toe ‘n halfuur langer daar wag.  Ek was betyds! En ek het hel baie om in die stad te doen!  Ek wou amper net hiperaktief word in daardie wagkamer, die dokter behoort dit mos te kan hanteer aangesien ADD haar spesialisveld is…

Dit was by die Moot Hospitaal. Nou kyk, met die onderwys se eise het Mevrou geleer van die Pienk Pilletjie se bestaan. Daardie Pienk Pilletjie, wat in my Wyse Vrou se woorde die “edge” afvat van ‘n paniekaanval.  En soos ons ry by die Moothospitaal, stop Mamma die twee pienk pilletjies in my hand, met so stainless steel koffiebeker vol water om dit mee af te sluk.  Sy sien ekke is nie so geduldig soos wat die goeie boek vertel Dominees gewoonlik behoort te wees nie. Chemiese intervensie is die enigste raad om vandag padwoede te keer.  Daardie pienk pilletjies los vinnig op in die maag, en word deur die are versprei tot in die verste buitewyke van my liggaam. Die Chemiese boodskap versprei: ” Time to relax!” Verseker is dit ‘n Chillpil, en die goed skop vinnig in.

Ek moet nou redelik vinnig by Menlyn uitkom, want ek het ALWEER ‘n kredietkaart weggegooi. Ek bank by Nedbank, hulle was verbasend genoeg die enigste bank wat destyds vir my ‘n huislening vir ‘n piepklein meenthuisie wou gee.  Moet op GAPSA nie vertrou nie, my Volk!  Die naaste tak van my huis af is meer as 130 km!  Om verlore kaarte maandeliks te vervang, verg deeglike beplanning en tydsbestuur…  Maar ek het die Pienk Pilletjies nou in…  Terwyl ek bestuur, word die wêreld skielik ‘n baie mooier plek. Al die winterskleure begin vervaag, na pastelskakerings toe. Die beste om dit vir julle kunssinniges te beskryf, is: Dink Impresionisme. Dalk selfs Van Goch se Crows in a Corn Field… Ek hoor die stemme van engele en harpmusiek.  Alles word so heerlik “mellow” in my gemoed. En skielik besef ek- wat is die haas? Almal sê mos op hulle sterfbed dat hulle gewens het hulle het meer tyd spandeer om die rose te ruik. Dit klink skielik na ‘n baie goeie idee. Maar soos ek in Fratesweg opry, sien ek niks rose op die sypaadjie om by te stop en te ruik nie… Ek is sommer omgekrap oor al die hoë heinings en lemmetjiesdraad- “Give peace a chance…” Ek ry sommer nog stadiger, op soek na die perfekte roos…

Ek sien die mense in die verkeer lyk almal so gestress. So besluit ek om vir hulle ‘n bietjie liefde te gee. Ek ry maar stadiger, dat hulle voor my kan inry. Ek waai vriendelik vir almal, en glimlag baie mooi vir hulle.  ‘n Mens kan sommer sien hierdie stedelinge is baie gestress, dalk is hulle dag nog baie moeilik, en kan een vriendelike ou wat 30km/u ry en vir hulle waai, net die dag ophelder.  Ag, vir elke taxi gee ek sommer groot ruimte, en wag geduldig dat hulle hul passasiers aflaai, en dan weer vertrek sodra al die insittendes mooi tot sit gekom het. Ons draai links daar bo in Soutpansbergweg. En iemand was nie so geduldig soos ek nie, hulle het oorgejaag, in een of ander verbaasde ou se erf in. Dis net polisie. Die ou voor my sit so en kyk by die groen lig, dat hy die hele beurt mis om links te draai. Maar ek gee nie om nie. Hoekom nou sy mooi dag met my toeter opfoeter?  Ek sit eerder en saamkyk.

Nou ry ons in Soutpansbergweg ooswaarts. Reg daar onder onse liewe oom Jacob se een huis.  Ek wou eers by hom gaan kuier, of net vir hom waai, toe my seun my so effens ongeduldig aanspreek. Dit lyk of ons die lykswa is, en die res van Soutpansbergweg is die stoet agter ons aan.  Ons ry verby daardie OR Tambo gebou daar onder oom Jaap Z se huis, en ek is sommer opgewonde dat die ANC sulke mooi geboue gebou het met my belastinggeldjies.

Basies het hierdie stoet so aangehou tot by Menlyn. Duncanstraat, Lynnwoodweg, Attenburyweg, tot by Menlyn. Ek was selfs baie geduldig met die personeel by Nedbank, en het vriendelik al 700 vorms onderteken om my nuwe kaart te kry, en my linkernier te skenk vir iemand in nood (Plaasjapie kort deesdae een na hy sy Lexus enjin gekoop het vir Bees…)  Ek vermoed daar was selfs ‘n vorm wat toestemming gegee het dat daar 30% Tutu welvaartsbelasting ekstra gehef kan word op my bleek gesiggie op my ID Dokument…. Met ‘n lied in my hart het ek alles geteken wat voor my neergesit is.

Ek het dit geniet om daar by Beker en Boontjie te gaan sit met ‘n Skon en ‘n Bodemlose Beker Boeretroos. So na die sewende koppie koffie dink ek het die Pienk Pilletjie se effek uitgewerk- Kafeiene kan enige Chillpill gas gee. Maar nou is ek Hipertens!  Ek het nou al Mamma se pienk Pilletjies opgedrink. Op pad terug na my bakkie toe stap ons verby die Harley winkel (ek is so bly hulle is terug…!)  Ek sien ‘n Sportster, so pragtige skakering geel met ‘n Matt Black afwerking op sy enjin. As ek dit gesien het op pad in, het ek verseker by Nedbank finansiering daarvoor ook uitgeneem, saam met die studielening vir Malema se liefdestweeling in Polokwane… Na die kafeiene is ek nou geïrriteerd, en sommer depressief ook. Ek kry myself so jammer dat ek nie eers R82 000 het om vir my die baba Harley te koop nie!

Nou moet ons oogkundiges toe gaan by die Hillfox sentrum in Weltevredenpark.  Dié praktyk is die enigstes wat my seun se oë verstaan van kleins af. Dis nogal ‘n entjie van Menlyn af Hillfox toe.  En stadsmense bestuur mos goed! Maar skielik is almal VERTRAAGD agter die stuurwiele! Niemand wil flippen vinniger as 140 km/u ry nie!  Ek het skoon gewens die bakkie het ‘n groter bullbar opgehad, dat ek op daardie (**&^^ Tazz se gat kan gaan sit, en my spotlights aanskakel.  Ek wil net toet, maar dan gaan ek tot Sondagmiddag dit nie weer regkry om mamma te verlei nie… Sy is nogal sensitief vir padwoede en ander vorme van aggressie.

Ons was toe MYLE te vroeg vir ons Hillfox afspraak. Daar is toe weer ‘n BEKER en BOONTJIE. Met ‘n lekker boekwinkel langsaan. En toe kon ek een van die boeke koop wat ek al lankal soek- tweedehands teen ‘n goeie prys: JH Thomspon se “Dit was Oorlog- van afkak tot bosbefok…”  Daardie boek van stories van mense soos ek wat Diensplig gedoen het.  O, ja, ek het ook uiteindelik weer ‘n CD gekoop. Ek is mos mal oor Adele, en het daardie Adele 21 CD raakgeloop op ‘n spesiale aanbod.

Terwyl Ma en Ouboet hulle oë laat toets het, was ek eers gou Full Throtle se winkel toe in Byers Naudéweg.  Motorfiets toebehore en klere. Op die hoek is daar darem ‘n ander weergawe van Full Throttle! Die Adult winkel… Ek  moes Middelboet se ADD pilletjies gaan koop, en besluit toe om vir die eerste keer in my lewe Chresta sentrum binne te vaar.  Daar is darem deesdae verskriklik baie malls wat groter as ons hele dorpie is!

NA die oogtoetse voltooi is, moes ons eers in Pretoria elke man se nagmerrie waarmaak. Skoonma het by skoonsus gekuier vir die week. En vroulief het vir skoonma weer lanklaas gesien, terwyl ons mos nou byna nooit naweke kan weggaan nie. So ja, ek het maar vir Skoonma gaan kuier, en my bes probeer om nie die swart kat en die besem raak te ry nie…  (Nou soek ek eintlik moeilikheid en jok verskriklik, ek is die een ou wat GEEN moeilikheid met my skoonma het nie. Sy is ‘n dierbare mens wat my nog nooit ‘n dag se nonsens gegee het nie… Ekskuus, ek kan soms meegevoer raak en oordryf- net so bietjie…)

In elk geval- dit was ‘n dag van uiterstes. Vroeg uit die huis uit, hele dag op straat, laat weer tuis. Net soos ‘n gewone stadsjapie se alledaagse lewe! En ek is nie stadsfiks nie, ek is moeg vanaand!  Van diep ongelukkig met die verkeer tot baie mellow met die pienk pilletjie.  En ek het ‘n hele dag se varkverwerking vir die basaar gemis…  Ek dink ek moet vir my ook ‘n Boks vol Pienk Pilletjies koop, om te drink voor Huisbesoek (nie hierdie keer my motorfiets nie…) voor die Feesvergadering, en veral voor die Kerkraadsvergadering. Kom Pienk Pilletjies in bokse van 10000 voor?

11 thoughts on “DVVPP- Dank Vader vir die Pienk Pilletjie…

  1. Jou poste is swaar op my oog om een of ander rede. Maar sover ek kan aflei stem ons saam oor die stadslewe. Ek het hierdie week weer die Rescues so in MaanMan se mond gedruk.

  2. Lyfiemens het ook sulke pienk pilletjies wat sy my voer, maar sy gee my sommer 3 elke vier ure. Dit is die rede hoekom ons nooit meer as 4 dae kan wegloop Kaap toe nie..want daai pille is die helfte van die begroting.
    Cresta? Nou daar is een van die min goed wat my bang maak, selfs met ‘n lyf vol pienk pille. Jy het guts!

    Hierdie nuwe uitleg is nogal heelwat sagter op die oog moet ek sê

    • Dankie PJ, ek skaaf en skuur nog totdat ek in hom pas.
      Ja, Gomorrah is vir my BAIE erger nog as Sodom! Ek kan myself darem help in Sodom se strate, maar verdwaal in my glorie in in Gomorrah!
      Ek weet self nie wat daardie pienk pilletjies kos nie, maar dit is ‘n bargain!

  3. 😆😆😆 lekker lag ek nou op so ‘n Vrydagoggend, net wat ek nodig gehad het, want vandag is groot teater skoonmaak dag, alles wat so effe lyk of dit nie gou weer gebruik gaan word nie moet uit om plek te maak, dus is ons almal in jeans, sal so tussen die werk deur aan die pienk pillejties dink, flip ek moes dalk ook so ‘n boks of twee saam gebring het, geduld was maar nog altyd ‘n probleem en sleurwerk en ek is nou nie eintlik maats nie.
    Mooi naweek en dankie vir die lekker kuier hierdie week😉

      • Dankie, dit was toe eintlik pret gewees. Ja ek wou nog sê Cresta is die plek waarheen ek gaan as ek sommer vinnig iets wil kry, ek het nou al die mense by Look & Listen en by Exclusive books mooi geleer as ek bel en vra of hulle iets het waarna ek soek hou hulle hom sommer by die toonbank en ek kan net instap dan word dit klaar uitgehaal, so baie kom ek daar😆 Northgate is naby die huis en ook lekker oop en ruim, ek is nie te mal oor Clearwatermall nie veral nie na die veranderinge nie en Fourwaysmall is te besig na my sin. Dit het nogal ‘n rukkie gevat om gewoond te raak aan die besige stad.
        Sad ding vanoggend weer hier so met die road rage saam het ‘n persoon uit ‘n voertuig gespring en insittendes van ‘n ander voertuig begin skiet😥
        Lekker naweek vir almal.

  4. 😆 Die stad is nie SO erg nie.
    Cresta is een van die min sentrums wat ek nog sal trotseer, juis omrede ten minste 90% van die gange wyd is en dit voel nie of jy vertrap word nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s