Toortsie se vraag… hoekom meer as een blog?

Ons vriendin met die skerp flitsliggie se ogies is net so skerp! Sy het my al lankal uitgevang, soos ook verskeie ander mense. Ek het meer as een blog. Nee, ek is nie een van litnet se trolle nie. Ek het nog nooit die sin daarin gesien om iemand anders af te kraak of sleg te sê nie. Op litnet, wanneer mense my aanval, sal ek nogal reageer. Maar nie eerste aanval nie, dit gaan teen my grein in. So hoekom dan meer as een blog? Dis ‘n lang storie… maar ek het die tyd. So here goes…

Die een ding wat ek agtergekom het, is hoe die geskiedenis op klein skaal sommer net verdwyn. Ek werk baie met bejaardes, en luister graag na hulle stories. Hulle ervarings, en die manier waarop hulle die lewe en die tye rondom hulle beleef het, kan so interessant wees. En so dikwels is daar niemand wat na hulle stories luister nie. Dikwels gaan kosbare stories sommer net verlore. Ek het al gewens die oumense wou die goed neerskryf. Maar hulle het nie.

‘n Ander stukkie hartseer was dat my eie pa ‘n aangenome kind was. En hy het NOOIT met ons verhale gedeel van die familiegeskiedenis nie. Ek is partykeer so hartseer, dalk selfs jaloers, as mense hulle familiegeskiedenis kan terugvoer tot op die Reijger, die Tijger en die Titanic waarmee van Riebeeck hier aangekom het (dankie Tolla!) My eie familiegeskiedenis strek so ver soos 1938 terug, toe my pa gebore is.  Ek kan nooit eers sê van watter wêreld se XXXe is ek nou eintlik nie. Want ek het nie ‘n idee nie, ek sou so graag wou weet.  Dalk is daar nog ‘n moerse erflating êrens in die Oos Kaap, ‘n skaapplaas met 22000 hektaar in Maclear wat baas soek. Maar dis net wat ek droom na die tweede KWV op ys…

Ek is hartseer oor die stories wat verlore gaan. En ek luister graag na ander mense se stories. Ek is baie nuuskierig oor mense. Ek wonder altyd wat hulle laat tiek. Is dit dalk deels hoekom ek ‘n dominee geword het?  Daarom het ek destyds (2 jaar gelede) my eerste blog begin. Ek het op die internet rondgekrap, en op Blogger van Google afgekom, wat ‘n reuse platform vir bloggers bied. Ek het my eerste blog daar begin, in my eie naam. Die rede was om my eie stories vir my familie te vertel. ‘n Plek te hê waar my kinders iets kan lees van wat in my lewe gebeur het, hoe ek oor dinge dink.  Hierdie blog bestaan nog steeds, en ek skryf dalk so een keer per week daar. Die gemeente weet ook van hierdie blog, dit is baie openlik bekend by ons, en enige iemand kan dit lees.   Daar is nooit niks wat aanstoot sal gee nie, al het ek in my laaste inskrywing die “f” woord in konteks gebruik… En nee, hierdie link deel ek nie sommer net uit nie… Ek het maar so 15 volgelinge op my naamblog, en selfs my ma lees daar sonder om te veel oor my te worry…

Na ‘n ruk op Blogger het ek die behoefte begin ervaar om soms te kan sê wat in my dieper hart aangaan. Ek het ‘n plek nodig gehad waar ek soms oor die goed kan skryf wat ek oor wonder. Goeters wat ‘n dominee nie oor mag wonder nie… Ek het ‘n plek nodig gehad waar ek soms net kan sê as ek gatvol is, of nie weet nie, of dinge wil bevraagteken. Dit kan ‘n mens duidelik nie in die gemeente se oog doen nie, dan lê dit vinnig op straat rond dat die Dominee soms twyfel/ lelik kan praat/ lus is vir seks/ vriende wil wees met mense wat nie deel van die “ons” is nie.  En so is Bileam se Donkie op Blogger gebore. Hoekom Bileam se Donkie? Die storie kom in Numeri 22 voor, waar die Donkie Bileam se lewe red van die doodsengel. En as Bileam kwaad word vir die Donkie omdat hy nie wil gaan waar Bileam wil gaan nie, en hom slaan, dan praat die Donkie met Bileam! Gaan lees gerus Numeri 22:22- “Hoekom slaan jy my so?” Dominees is baie dikwels ongewilde teikens van spot in baie geledere. Ons het dikwels ‘n moeilike werk. En dikwels ervaar ons dat ons geslaan word as ons ons werk probeer doen. Baie van ons verdien dit ook…!

Bileam se Donkie het maar 3 volgelinge op Blogger. En dis nie lekker as ‘n mens iets skryf, en dan lees byna niemand dit nie. Ek het litnet raakgeloop, en gesien hoe lewendig die kommentaar daar is. En toe besluit om eers net ‘n link daar te sit. En MAANKIND van alle mense het gesê as ek gelees wil word, sal ek Litnet toe moet skuif, nie net link nie.  Ter wille van ‘n groter gehoor het ek Bileam Litnet toe geskuif.  In daardie tyd het ek ook WordPress raakgeloop, en gedink ek sou nie daarvan hou as daar ‘n ander Afrikaanse Bileam se Donkie rondloop nie. Ek het toe ook Bileam op WordPress oopgemaak.

Op litnet het ek baie goeie vriende gemaak met ‘n paar baie uiteenlopende mense. (Blogger het nie die funksie van ‘n Afrikaanse gemeenskap nie, en daarom lees byna niemand daar nie.) Ek het skielik dit ervaar dat daar meer as drie mense belang stel in wat ek sê, die meeste was nog altyd baie vriendelik met die Donkie, maar daar was ook die trol element, van mense wat God en dominees haat, en my probeer uithaal het vir wat ek is, sonder dat hulle my ken vir wie ek is…

In die tyd wat ek in Spanje was met die Camino de Santiago in Mei en Junie hierdie jaar, het daar êrens ‘n groot botsing plaasgevind op litnet. ‘n Hele klomp goeie vriende het seergekry daar met die trolle saam, en baie het weggegaan by Litnet. Sommiges het heeltemal ophou blog, en gelukkig het ‘n klompie by WordPress aangegaan waar hulle opgehou het by litnet.

Op die oomblik bestaan Bileam se Donkie op drie platforms. Op Blogger het ek nie eintlik weer geskryf na die Camino nie, daar lees net byna niemand my daar nie.  Julle het dalk ook al gesien dat die twee op Litnet en WordPress van mekaar verskil. Hoekom? Goeie vraag.

Ek skryf dalk die eerlikste op Litnet, en so nou en dan copy en paste ek na WordPress toe. Daar is nog steeds ‘n goeie klompie vriende op litnet oor, wat ek graag mee kontak hou. En so paar vyande wat ek graag irriteer met my menswees.  So dikwels is Litnet steeds Bileam se Donkie se primere stal.  Waar ek ‘n ding sê soos ek hom sien.

Die WordPress weergawe is soeter. Hy is soms gesensor van die donkerste Afrikaanse woorde.  Hoekom? Hoofsaaklik uit respek vir Toortsie!  Hier by WordPress lyk dinge so bietjie meer beskaafd as by litnet.

Die Persoonlikhede: By my Naamblog is ek die Soet ek. Dominee Ek. Die een wat die gemeentelede maar gerus mag lees, en my nie voor die Gestapo oor sal sleep nie. By Litnet is ek die stoute ek. Ek wat soms rebels is, en regtig nog sukkel om al die vloekwoorde van my Yskorjeugjare en Weermagdae mooi agter te los. Ek kan soms bietjie aspris wees, en baie oordryf om ‘n punt te maak. By WordPress is ek rustiger ek- nie so omgekrap soos op Litnet nie.  Nou watter een is die ware ek? Al drie. Ek staan Pa vir elkeen. Ek sal niks onder my skuilnaam skryf wat ek oor skaam sal wees as iemand dit uitvind nie.  Ek dink daar is net verskillende tye en omstandighede waarin ons is. Verskillende verhoudings en verskillende vriendegroepe.  En die reëls van die een tel nie noodwendig net so vir die ander nie. My vrou staan bv tog in ‘n ander verhouding met my as enige ander dame, al is hulle ook hoe sexy…

Watter blog jy ook al van my lees, jy sal altyd sien: 1. Ek is baie lief vir die Here. (Maar ek verstaan Hom glad nie…) 2. Ek is baie lief vir my vrou en kinders. 3. Ek is baie lief vir mense. 4. Ek is nog nie klaar heilig nie. Ek sukkel met vloek (dalk sal jy dit nou nie op my Naamblog sien nie…) en ek geniet ook ‘n dop op my tyd… 5. dis nie my rol om mense te oordeel vir hulle woorde, lewenswyse, besluite op my blog nie. Ek is nie hier as hulle dominee nie, ek is hier as mens wat lief is vir ander mense, en graag wil luister wat hulle sê sonder om vir hulle te preek…  Ek sal Sondag in my gemeente preek, daar is ek in ‘n ander rol. My blog is nie ‘n e-kerk nie… 6. Ek is lief vir my kerk, maar my kerk is ook waaragtag nog nie in die hemel nie, en maak soms baie dom foute. En op my anonieme blog sê ek dit…

7. Ek probeer elkeen met respek behandel op al my blogs, maar daar is sekere individue wat my respek langs die pad verloor het. En hulle ignoreer ek net as ek nie die energie het om in ‘n bekgeveg betrokke te raak nie.  8.   Ek sal nooit een van die trolle wees nie.  Dis nie in my aard om mense aan te val en seer te maak nie, nie eers anoniem nie. 9. Eintlik gee die Dominee titel en masker my ‘n helse pyn in die gat! Ek is net ‘n mens, wat die Here saam met ander mense dien as deel van sy liggaam…

So, liewe vriendin wat gewonder het, ek is ook maar sondaar op soek na genade. Ek is ook maar soms verward, en sonder antwoorde. Ek is ook nog op pad, en gelukkig is die Here nog nie klaar met my nie. So daar is hoop…

Sorry vir die ou vloekwoordjies wat soms deurglip, en die kere wat ek nie lyk soos ‘n Dominee moet nie.  Uiteindelik wil ek net ek wees, en dat julle my so leer ken. Nou is ek self ook deurmekaar oor wie ek nou eintlik is!  Maar ek hoop dit antwoord die vraag so bietjie…

27 thoughts on “Toortsie se vraag… hoekom meer as een blog?

  1. En skielik kan ek lees!😉 Dankie!
    Ek het voorheen probeer om hier en op litnet te blog, maar dit het nie gewerk nie. My lojaliteit werk net as ek op een plek fokus. DIe nice mense wat ek daar leer ken het, is in elke geval nou in my lewe.

  2. Dit is nogal iets wat my pienk kielie party keer – die ding dat mense soms aanstoot neem as jy meer as een blog met meer as een identiteit het. Blog is tog net vermaak.

    Ek was op ‘n tyd skuldig gewees aan omtrent 7 blogs. Dit het net te veel geraak, die dat ek op die oomblik net 2 aktiewe blogs het (ek het alles in een probeer sit en later nog een oopgemaak – almal darem as Xena). 3 de een in wording, maar ek moet eers op verlof gaan om dit af te skop. (Ek was al, maar jis, dit is baie werk wat ek daar ingedagte het).

    Jy besef natuurlik jy is nie heeltemal so anoniem soos jy hoop jy is nie? 😉 Ek helaas seker ook nie.

  3. So rukkie terug het dit gelyk asof dinge gaan doodloop hier by woordstoot na ons ‘n blogbliksem van ons eie beleef het, en ek was eek van die wat litnet toe getrek het. Dit was letterlik soos trek van die platteland af stad toe en dit was lekker. Al die gawe mense, hope nuwe inskrywings en ja laat ek dit nou maar erken, hope kommentaar ook.
    Toe raak dinge baie suur en ek trek af, plak toe en kruip maar stert tussen die bene terug huis toe. Ek het intussen nog ‘n blog (my huidige een) daar begin maar dit ook laat staan want dit is net nie meer dieselfde as voorheen nie.

  4. Flippit (ek mag dit seker hier sê😉 ) hoe wens ek dat meer dominees soos jy wou wees. Hannie is verstom elke keer wanneer sy vra wat ek doen en ek sê ek lees hier, want ek like daai dominee, dis vir haar baie weird, want dis nie iets wat ek sommer doen nie. Dalk voel ek tuis omdat ek op die platteland groot geword het, maar ek kuier lekker hier, oop en eerlike plek. Dankie, ek is so bly jy’s by wordpress en het daar by my kom inloer anders het ek ‘n groot blessing gemis.

  5. Ek dink ons het elkeen meer as een fasset van ons persoonlikheid, wat ons in verskillende mates uitlewe. Ek wil eerder nie sê meer as een persoonlikheid nie, want netnou dink “hulle” ek is skisofrenies😉 (Ek praat al klaar met myself en antwoord ook soms!)

    Elk geval, al hierdie fassette maak van ons VOLRONDE mense. Ek wil tog regtig nie so ‘n plat persoonlikheid hê wat geen donker hoekies en gaatjies en geheime of interessante plekkies het nie. Ek is vir min dinge so bang as wat ek bang is om as ‘n vervelige mens ge”label” te word nie. En dis een ding, Bileam, jy is miskien ‘n dominee, maar jy is beslis nie ‘n VERVELIGE dominee nie😆

    Eintlik is hier nie juis vervelige bloggers nie, of dalk lees ek hulle net nie😈

    • Gaan jy ook nou soos Julius Caeser en Naas Botha van ONS begin praat as jy na jouself verwys?🙂 Ek dink die een wonderlike ding daarin is dat ‘n mens dan altyd iemand het om mee te praat. Ek moet bieg, ek hou van volronde vroue! Vervelig wees? Ek sal maar gou enetjie repost wat onder my eie naam verskyn het, net vir jou…

  6. Ek was ook een van die wat die hasepad by Litnet gevat het nadat ek langer as drie jaar daar geblog het as Sieltjie sonder Sorg. Maar my identiteit was nog nooit geheim nie.

    Dalk begin ek ook iewers eendag ‘n blog waar ek kan kwytraak wat ek wil. Die ding is net dat ons bloggemeenskap eintlik so klein is dat ‘n mens maklik aan jou styl en skryfmaniertjies herken sal word. Ek sal moet leer swets!

  7. Ek is al mooi groot – eintlik lekker mature! – maar ek het tot vandag toe ‘n heilige vrees vir ‘n onnie en ‘n dominee. So, dis vir my ‘n verligting om ‘n dominee te ‘ontmoet’ wat ook maar mens is. 😉

    Ek blog al van…2007?…kan dit wees?!…op WordPress. Dit was aan die begin ‘n lewendige plek. Koppe is gestamp, menings en opinies gelug, dinge is bespreek. Nou het ons oues mekaar al uitsorteer. Ons weet wat glo die een en waarvan hou daai een nie. En omdat ons mekaar so lank al ‘ken’, probeer ons nie waves maak nie. Ek vind dit nogal vervelig, om eerlik te wees. 😳

    Dis regtig nie dat ek ‘n bakleiery voorstaan nie, maar hoekom kan mens nie maar verskil van ‘n ander eerder as om stil te bly nie? Daar is ‘n paar blogs wat my regtig grief. Een is al soort van ‘n instelling op WordPress, maar ek skil my appeltjie met hom net stil in my kop, want ek moet tog nie so gevestigde blogger se hok skud nie! 😆

    Maar ek is baie, baie lief vir my blogtjomme en daarom hang ek ook maar hier rond.

  8. Wanneer het jy so n klomp goed geskryf? Dit voel of ek land-uit was! Ek het darem nie n probleem met jou verskeie blogs nie, het sommer net gewonder. Jy het goed geantwoord, dankie! Gmf. RESPEK vir die toorts!

  9. UITEINDELIK is ek by my rekenaar! Dankie, jy het so mooi die vraag geantwoord!! Ek wonder al lankal wat die verskil is tussen die webwerwe en ek het gewet dat jy die beste sal kan antwoord. O ja, ‘n tannie vir wie ek baie lief is wat nou hier by ons woon, kom daar uit jou wêreld. Sy gaan binnekort daar kuier, dalk soek sy jou op!!🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s