Die enkele kere wat ek al skytbang was…

Ek lees nou Modderkoekie sou graag vir Stephen King vir aandete nooi as een van haar top mense wat sy graag wil ontmoet.  Stephen King is die enigste skrywer wat my al nagmerries gegee het met een van sy boeke… en dit het my nou laat dink vanoggend: wat was die geleenthede in my lewe wat ek regtig verskriklik baie bang geword het?

1. Truida Kestell se koshuis in die nag- Ek was in Standerd 2 in hierdie koshuis (Huis de Klerk?) daar agter Truida Kestell Skool in Bethlehem.  My ouers was vir ‘n ruk uitmekaar, en my ma het my in die koshuis gesit sodat ek vriende kan maak in Bethlehem. Daardie koshuis was koud in die winter! Dit het die hele tyd soos antrasiet geruik wat in die agterplaas gebrand het onder die donkies (warmwatertoestelle, nie my kinders nie…)  Ek het nog meer gesukkel om in te pas in die koshuisopset. Die ander wat daar in die kamer was, was ryk boere se kinders. En ek was die suster van die verkeerde kant van die spoor se kind… Ek was BAIE eensaam tussen mense, en daardie eensaamheid het eintlik nog nooit weer heeltemal weggegaan nie. In die aand, as ‘n mens in daardie koue bed met die staatsdienslakens inklim, en die gepraat van die maatjies opgehou het,  was dit soms baie, baie vreesaanjaend… het dit dalk gespook daar? Ek het nooit een gesien nie, maar ek het ‘n “evil presense” daar ervaar.  Baie Scary, veral as jy met niemand daaroor kan praat nie…

2. “The Fog”– fliek. Ons het in Standerd 6 gereeld flieke in die skoolsaal gekyk.  En die een keer het ons The Fog gekyk. ‘n Sekere kusdorpie se voorvaders het 100 jaar tevore ‘n klomp seerowers aangeval, hulle opgehang en hulle goud gesteel. Presies 100 jaar later begin vreemde goed gebeur. Eers is daar digte mis, dan kry die mis so groen skynsel, dan verskyn die ontbindende lyke van die seerowers, wat begin mense doodmaak op soek na hulle goud…  Wat dit so scary gemaak het- die aand wat ons dit gekyk het, het ons kuiermense by die huis gehad, wat in my kamer oorgeslaap het. Ek het sommer in my tentjie in die agterplaas geslaap. En toe ek vieruur wakker word met ‘n nood, en die tent se deur so oopzip, toe is dit… Digte mis…

3. In Matriek, toe my kleinsussie met Kanker gediagnoseer was… van diagnose tot by haar sterfbed 10 maande later.

4.  Ontgroening in die Universiteitskoshuis, en mense wat so op my skree in die middel van die nag…

5. Elke keer as ek ‘n meisie gevra het om met my uit te gaan… (dis hoekom ek met die 2e een getrou het!)

6.  Om voor in die kerk te gaan staan op my troudag… maar dit het baie goed uitgedraai so ver, 21 jaar later…

7. Een Opf*k sessie in my dienspligjaar, waar ek later in die hardloop uitgepass het…

8. Die keer in Kanyamazane toe ons as dienspligtiges amper vasgekeer was in ‘n onrussituasie, en met halwe bakstene en petrolbomme gegooi is. Dit was in die tyd van die necklace, en ons was gestuur in ‘n gebied in waar ons waaragtag niks verloor het nie…

9.  Elke kind se geboorte was besonder mooi, en besonder erg op my as pa. Maar die jongste is met ‘n noodkeiser gebore, nadat sy naelstring twee knope ontwikkel het, en sy hartklop baie ernstig stadig geword het. Gelukkig was ons in ‘n goeie hospitaal, genadiglik was die ginekoloog naby en baie, baie skerp in wat hy doen. Ons kind is potblou uitgehaal, binne ‘n minuut of twee langer sou hy breinskade opgetel het, in ‘n staatshospitaal sonder hartmonitor sou hy dood gewees het… dit was so amper!

10. Stephen King se IT boek!  Ons het eendag by vriende oorgeslaap, en ek het daardie boek van Stephen King by hulle gelees. Die plot is een van ‘n hanswors, wat kinders weglok en vermoor.  En ek het so duidelike droom gehad van ‘n hanswors wat my kind probeer steel, dat ek skreeuend wakker geword het. My vrou wou haar vir my breek…

Dit is my top tien. Daar was ook ander. Soos verlede jaar, toe ek sien ek gaan my bakkie rol, en daar is net niks wat ek daaraan kon doen behalwe vasklou en hoop ek gaan dit oorleef nie. Of elke keer wanneer ‘n mens die “point of no return” bereik op ‘n motorfietsval. Ek het juis nou die aand weer so aaklige droom gehad oor DAARDIE gevoel waar die adrenalien so inskop net voor jy jou gat behoorlik op die teer sien…

Gelukkig kan ek getuig dat die meeste dinge wat ek gevrees het, nooit gebeur het nie.

Ongelukkig het een of twee wel waar geword…

 

 

24 thoughts on “Die enkele kere wat ek al skytbang was…

  1. Ek dra nou nog die letsels van onlustebeheer in Kanyamazane. Die nagmerries het veel langer gevat as die fisiese wonde om gesond te word.

    • Was ek nie dalk saam met jou in Kanyamazane nie? Daar het verskriklike goed aangegaan in die townships in die vroeë 90’s, genoeg om ‘n mens behoorlike nagmerries te gee. Ek was vir ‘n maand daar afgedeelde diens saam met 4 SAI.

      • Dit is glad nie onmoontlik nie. 4 SAI is my alma mater.
        Ons peleton was in ’92 gestasioneer by Dingwell basis net buite Witrivier en ons ops area was die Kangwane tuisland wat ingesluit het Kanyamazane, Kaboweni en Matsulu

        • Nou ja toe! Augustus 92 was ek in Dingwell basis vir ‘n maand afgedeelde diens. Tien BAIE rustige dae saam met Witrivier kommando, en 20 tense dae saam met 4 SAI. ‘N OU kaptein, ‘n baie windgat stafsersant wat my probeer rondv.. Het tot ek net eendag agter ‘n tent net muy vinger op my skouer gesit het en niks gese het nie, ‘n kort blonde loot en ln langer (destyds?) Maer loot- JY?

          • Nou toe nou, klein wêreld. Nee Plasie het gewerk vir sy geld. Ek was net ‘n troep.

            Ek was egter deel van die voorspan wat moes kom oorneem by Witrivier kommando en die basis regkry voordat die res van Charlie kompanie aangekom het van Middelburg af, so die kanse is goed dat ons dieselfde tyd daar was. Ek kan al die mense voor my geestesoog sien, maar ek onthou nie meer die name nie…en ja daai staf, kom ons sê maar net hy was nie juis ‘n gunsteling onder die troepe nie

            • So JY het ons bar afgebreek! Skurk! Kaptein was Marshall as ek reg onthou, staf was Jones, een loot was Orten, ander een se van kan ek nie onthou nie. Ja, toe die voorspan daar aankom moes die tente skielik weer mooi haaks staan. Kampers was soveel meer relaxed… Ja, dan was ons verseker vir amper 3 weke saam op Dingwell…
              Daar was een dag in daardie tyd, groot onluste, met ‘n Aluette wat traangasgranate uitgooi, en die wind wat dit terug in ons gesigte gewaai het. Daar was Kanyamazane inwoners wat halwe bakstene na ons toe gegooi het oor ongelooflike afstande. Die luitenante was nog jonk en baie bang, soos die res van ons. Hulle wou begin skiet. Ek het nog die verantwoordelikheid gevat om waarskuwingskote in ‘n miershoop in te skiet, en het jare se papierwerk daarna gehad, Maar mense in daardie tyd skiet, drie weke na Boipatong? Aikona, ons sou nou nog voor die lieg en bedrieg kommissie voor Tutu gesit het. Ek het hulle daardie dag ingechat om nie mense te skiet nie, maar eerder na veilige afstand terug te trek. Ons het in elk geval niks daar verloor nie. Daar was hectic en skytbang tye!

              • Jammer oor die kroeg, ‘n troep doen maar wat vir hom gesê word. Maar ek en skutter Visagie het ‘n darem ‘n beter groter kroeg van klip in sy plek gebou. (terloops was jy die dominee wat homself oor ons twee ontferm het en gesorg het dat die kombuis gereeld vir ons iets te drinke bring?) Ons het die klip in die randjies gaan haal met Sammajoor Jones (die staf was van Rooyen) se rooi Toyota Stout bakkie. Sam Jones het ons twee verbied om uit die basis te gaan tot “sy” kroeg klaar gebou was. Sal ons leer om ons hande op te steek toe die sammajoor een more op parade gevra het wie iets weet van bou!

                Snaaks hoe dinge nou begin terugkom. Onthou nou vir kapt. Marshall, ons gereelde Kaptein (Sandman) het nie saam ontplooi nie. Die LT’s was ook nuut. Ons het hulle vir die eerste keer ontmoet ‘n week voor ons ontplooi het, seker die dat ek sukkel met die name.
                Die PF korporaals onthou ek goed, want hulle was saam met ons sedert ons ingeklaar het. Trichard, “Apie” Pelzer, Taljaard en Groenewald.

                Augustus en September was baie lewendig (die weergawe wat ons vir die mense by die huis vertel het. Krista het al my briewe huis toe gebêre). Die koerante was vol berigte oor hoe die ANC die S.A.W en seuns uit Kangwane wou hê, en toe daar wel later ‘n skietdood was in Kaboweni van ‘n betoger nadat ‘n riot bakkie (myne) een nag in ‘n lokval gelei en met petrolbomme bestook is, was die hel los. Daai Aluette het hard gewerk daai twee weke.Die papierwerk praat ons nie oor nie.

                Maar niks wat ons deurleef het daar was so white-knuckle-maak-jouself-nat scary soos Kanyamazane in die nag tydens ‘n betoging nie, of so het ons gedink tot dit ons kompanie se beurt was om te roteer Thokoza toe…

                • Drinkgoed vir die troepe? Dit klink soos ek, ja. Ek het altyd probeer om die lewe vir troepe makliker te maak. Ek het ook in die 2 1/2 weke wat ek saam met julle was, probeer om vir die manne ‘n koffiekroeg met ‘n urn en hot chocolate op die been te bring, en leesstof te kry by die gemeente in Witrivier, net ‘n ontspanplek waar die range julle nie kon rondf.. nie (Ek het van Donderdag af daai boek van Thompson gelees van :”Dit was oorlog- van afkak tot bosbefok…” en onthou nou weer die verskil tussen opf.. en rondf..
                  Ons ou drinkplekkie met die rietdak was afgebreek in daardie tyd, maar Jones se klipkroeg het nog nie verskyn voordat ek moes terug Genieskool toe nie.
                  Ek was ook al weg toe daai skietery gebeur het. Sou graag eendag daai storie by jou wou hoor… Maar veral nagpatrollies in Kanyamazane te voet was soms baie, baie scary, ek was dit tipe kapelaan wat saam met die manne in die patrollies en in die moeilikheid ingegaan het.
                  En ja. daardie vrees om dood te brand in ‘n riotbakkie was presies hoekom daardie op die skytbang lysie verskyn het in my blog…

                  • Nou is ek doodseker ek het die regte man. Daai idee van ‘n ontspanplek vir die troepe het ek al eenmaal vantevore gehoor. Op die maand 19 jaar gelede uit die mond van die uitdinker daarvan. Ek onthou dit want dit was baie raar vir iemand met voeltjiemis op sy skouers om met ‘n gewone troep te meng, watwou ‘n koeldrank deel wat hy uit die kombuis laat kom het vir twee troepe wat sweet in die son. Dankie vir die drinkgoed, dit was baie welkom.

                    Daar was twee lokvalle in die tyd wat ons op Dingwell was, die eerste was die een waarin my bakkie was en waar ‘n betoger dood is. Die eerste petrolbom was laag teen my deur (ek was die drywer) As dit ‘n halfmeter hoër getref het teen die tralies van my oop venster…
                    Die tweede een was die ongevalle aan die ander kant. Ek het ‘n (gedramatiseerde) storietjie geskryf gegrond op die tweede insident. http://wosonki.wordpress.com/2011/03/29/gisterspoke/
                    Eers toe het ons mamba’s gekry in ruil vir die riot bakkies.

                    Ek het ook ‘n paar inskrywings gedoen oor wat ek kon onthou van my ondervindinge by S.A.W. en seuns http://wosonki.wordpress.com/2010/07/16/s-a-w-en-seuns-korporasie-deel-1-%E2%80%93-inleiding/ maar ek glo nie ek het daar gepraat oor die kontakte nie

                    • Ek is stil verbaas! Dat iemand ‘n koeldrank 19 jaar later kan onthou! Ek is baie dankbaar daardie petrolbom was nie hoër nie! En net so dankbaar ek was toe al terug na my eenheid toe. Anders het ek langs jou gesit in daardie riotbakkie, en saam met jou moeilikheid opgetel. En dit was so bedoel dat ek van daardie afgedeelde diens moes terugkeer na my vrou toe, en van die maand se wegwees was ons so opgewonde om mekaar weer te sien dat my dogter nege maande later gebore is…🙂

                    • In ‘n omgewing waar menslikheid amper as ‘n swakheid beskou word is dit die geringste aksies van menslikheid wat de meeste uitstaan.

                      Is daar nie juis so ‘n grappie nie? Die troep vra of hy kan huis toe gaan op pas vir die geboorte van sy kind, en toe die gesag vra wanneer die groot datum is kondig hy aan “presies nege maande nadat ek by die huis gekom het!

                    • Ek dink ons moet julle 2 op ‘n stadium laat “patrollie” . . . klink my julle het groot gesels tussen die 2 van julle . . .😉

  2. Die bangste (of grootste skrik) wat ek in my lewe was, was een Sondag oggend. Ek was 11 jaar oud en het so 500 meter van die huis af na die kuikenhok geloop na kerk, om kuikentjies te gaan kos gee. Toe ek uit die hok kom, loop ek na die kant van die hok om surings te gaan pluk en daar sit ‘n swart man op sy hurke, tussen die hok en die heining. Eintlik het ek later besef hy het dalk op daai oomblik groter geskrik as ek, want hy was ‘n ontsnapte bandiet. Ek het ‘n gil gegee wat die kranse laat antwoord gee en weggehol. Daai tyd was ek die 200 m atletiek kampioen, so ek het my hardloop geken. Mean time het hy ook weggehol, in die ander rigting. My ma het my suikerwater ingejaag en die polisie het later daai dag die man gevang.

    • Dit is nou ‘n ordentlike rede om skytbang te wees! Bly dit was nie ek nie, ek het ook die rekord gehou in die 200 meter, maar anders as jy was dit vir die stadigste 200 meter in die geskiedenis. Ek dink hulle het ‘n kalender gebruik om my spoed te meet.

  3. “Everybody floattttttts down here” Pennywise the Clown – It by Stephen King

    Stephen King is een van my gunsteling skrywers, The shining en Rose Madder is my twee gunsteling boeke van hom.

    Ja daardie ou clown, Pennywise, is skrikwekkend, maar terselfde tyd is dit ook ‘n great coming of age storie.

  4. Pingback: Tannie Tossel se Trolstorie « Toortsie se Blog

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s