Om te bloei vir volkenvaderland…

Vanmiddag het ons ses dae se  vleiswerkery afgehandel. Een honderd drie en dertig netjies gepakte kratte vleis staan gereed en wag om teen ‘n baie goeie prys verkoop te word.

Terwyl ons so klaarmaak, biep die Blackberry, en herinner my dat die  SANBS weer in ons omgewing is vandag. Die Bloedbank wil hê ek moet ‘n deposito maak. Ek hoop om verskriklik baie deposito’s te maak in my lewe, en hopelik geen onttrekkkings ooit aan te vra nie.

Ek moes nou eers huis toe ry, en vir ure in die bad gaan lê dat die varkreuk van my kan afspoel Daarna moes ek myself behoorlik inchat. Want sien, bloedskenk is nie vir my maklik nie. Want dit behels ‘n prik op die vinger, wat ALTYD ‘n senuwee tref en my teen die dak laat vashop.  Dan sak daardie druppel bloed soos ‘n stuk gietyster tot hy so KEKLANK teen die bodem tref. Daardie toets pass ek gewoonlik.

As ‘n mens hier uitgekom het, beteken dit jy moes eers die ekwivalent van die matriek wiskunde eindeksamen vraestel deurgewerk het.  En die persoonlike vrae wat hulle vra! Jy moet belowe jy het nie onlangs saam met Jollie Angelina in die bed gespring nie, behalwe nou as jy Bradd Pitsweer is, wat ek nie is nie…  Jy moet met jou hand op die Boy Scout Veldgids sweer dat jy nie onlangs seks met jou naaste se os of sy esel, sy diensmaagd of sy slavin gehad het nie.  Nee, ek het nie…

Belowe jy dat jy na die beste van jou wete nie onlangs ‘n naakte persoon van die teenoorgestelde geslag gesien het, en onbehoorlike gedagtes in jou Medulla Oblongata ervaar het nie? Nee….

Jou mediese geskiedenis word deeglik nagevors. Was jy al ooit in Uganda? Het jy gorillabrein geëet? Het jy al ooit onbehoorlike omgang met ‘n malariamuskiet gehad, wat jou sonder jou instemming gepenetreer het?  Was jy by die tradisionele geneesheer, wat vir jou dolosse gegooi het en jou toekoms voorspel het, voordat hy jou voorvel met ‘n stomp en geroeste assegaai afgesaag het?  Liewe hemel mense, is dit hoekom julle op bladsy een gevra het of ek wit, pink, liggeel, ligbruin, donkerbruin, haselneutbruin, mattblack of shiny Nigerian black is?

Het jy al geelsug gehad, of blou balletjies, of groen oë?  Mense, wat is dit met die kleurkryt toets? Toets hulle of ‘n mens kleurblind is, of nie?

Die enigste vraag wat omtrent sin maak, is die tweedelaaste een, wat hulle so tricky wegsteek tussen die ander potensiële nee’s. Is jou bloed veilig om vir iemand anders van die menslike spesie te gee, om sy lewe te red? Hemel, ek hoop so. Na al die vrae is ek nie meer seker nie.  As jy hierdie een ook in die haas nee gemerk het, dan moer hulle jou bloed weg nog voor hulle by die Hammanskraal tolhek verby beweeg. Illegal Dumping of Hazardous Medical Waste, noem hulle dit…

Na die vorm, en die prik in die vinger, neem hulle altyd my bloeddruk. En dan neem hulle dit weer. En dan kyk hulle bekommerd na my, en vra of ek ok is. Wat sou dit tog nou beteken?  Natuurlik voel ek ok, anders sou ek mos nie hier gewees het nie…  As jy so sê- op eie risiko gaan jy aan.  Hulle verwag darem dat die boonste een (sistolies?) darem daar naby die syfer op my paytjek sal wees, en die onderste een (diabolies? demonies?)  nie veel hoër as Julius  se IK nie…  Op eie risiko loop ek oor na die dame wat die hoop plastiese jiffysakkies en die hele lab se glasbotteltjies het. Daar is omtrent tien plastiese sakkies, wat elkeen ‘n Castle Draught se ekwivalent in bloed kan vat. Hierdie hele pakket vertrou hulle toe aan jou bewende hande, terwyl jy bewerig na die opvoustoeltjie toe stap, en amper in dieselfde nederige posisie as die tandekwak se stoel jou lê vind.

Dan kom daar so GROOT swart suster, met ‘n wrede uitdrukking in haar oë nader. Haar voorouers was heel behendig met Zulu assegaaie by Bloukrantz, en hierdie is nou haar beurt met daardie naald! Whitey, vandag gaan ek jou kry! Nee, dis toe net die vrees wat my so laat hallusineer- eintlik was sy die dierbaarheid self.  Niks van daardie Bulala Amatigata stront nie, ek belowe. Baie vriendelik groet sy my, en verneem wat my naam en geboortedatum is. So asof ek vir die grap gou my sakkie sou omruil met die mislikepaliteit spietkop agter my in die ry.  En dan, wanneer sy relatief seker is ek is nie Maarmoer Gaddafi nie, dan glip daardie naald in my aar in, en begin die lewe stadig uit my uitsyfer.

Ek word stadig bleker van my kroontjie af, soos die kleur uit my uit in die bottel in val. ‘n Mens het ‘n kwartier tyd om daardie gallon vol te bloei. In daardie tyd tik elke sekonde stadig af. ‘n Mens het so baie tyd om te dink oor al jou sondes, wat in my geval baie is, soos sekere Blou Windpomp motorwagte graag vir my wil uitwys. ‘n Mens het nog meer tyd om te dink oor die sin van die lewe, of daar ‘n God is of nie. Daar is. Het God ‘n humorsin? Verseker het Hy, Hy het dan vir jou ook gemaak!

Maar nadat ek die sin van die lewe weer mooi onder die knie gekry het, was daar nog veertien en ‘n half minute oor.  Dit het my teruggeneem na my lewe, en verskeie tonele het voor my geestesoog verby geflits. Terug na daardie eerste keer… Ons was eerstejaars in die koshuis op universiteit. En ons moes eenvoudig gaan bloed skenk, die koshuis wat die meeste eenhede geskenk het, het sekere bonuspunte gekry wat ons status as topkoshuis nog verder kon vestig. Bloei, bliksems, bloei, is ons vriendelik genooi deur die Oumanne. Hoe kan ‘n mens dan nou nee sê as jy so vriendelik gevra word.

Die eerste probleempie was gewees dat ek nie kon onthou of jy moet eet of nie, voor jy bloedskenk nie. Ek het kort voor dit ‘n mediese ondersoek deurgemaak, waarin ‘n vastende monster getrek is (vir my Blou vriende- dis nou daardie gedrog in die grot wat nie eet nie…) Ek het besluit- dis seker wat hier ook moet gebeur. Ek het die vorige aand laas geëet, en die volgende middag na klas gaan bloei.

Dit was ‘n effense foutjie. Eintlik ‘n baie groot een. Niemand het gevra of ek geëet het nie, die slim mense weet mos hierdie goed!  Ek het my bloed geskenk, en dit was heel goed. So effentjies duiselig gevoel. Tot ek vinnig opgespring het…

Twee maande voor dit het ek ‘n motorfiets afgeskryf, en die bynaam Kammikazi gekry- nee nie die vriendelike dokter in Bloemfontein op hierdie blogs nie. Die selfmoord vlieëniertipes. Daardie keer het ek so in die teerpad gelê, en baie stadig by my bewussyn gekom.

Ek word wakker. Maar ek is heeltemal gedisorienteerd. Oor my buk die mooiste blonde engel, met ‘n baie bekommerde gesig. Sy vra of ek orraait is. So dis hoe dit voel om dood te gaan. Glad nie erg nie… (dis nou as jou saak met die Here reg is en jy gereed is om hemel toe te gaan…)  Maar wat maak ek dan hier? Ek het nie op die oomblik ‘n motorfiets nie, myne is ‘n wrak. Ek het nie in my Beetle gery nie. Het ‘n kar my raakgery? Stadig begin my oë verby die blonde engel se pragtige ogies fokus. Ek is in ‘n baie groot vertrek. Die Hemel se troonsaal? Toe nou nie. Die Pluimbalsaal. En toe begin geluide terugkom, en ek hoor hoe Reitz se manne vir my lag. Die bliksems.  Die Reitz  4 se pappies was ook nie nice nie! Ek het reg agteroor geval toe ek uitpass, en my kop hard teen die vloer geslaan.  En al die studente het vir my gelag. Behalwe die blonde engel…

Sy het gehoor dat ek nie geëet het nie, en toe gesorg dat ek baie koekies en koeldrank kry.

Na so tien minute het ek gedog ek is nou reg. Ek het op ‘n stoel gaan sit, en weer uitgepass- reg agteroor!  Toe laat hulle my lê, en stuur my vriende om vir my kos by die kafeteria langsaan te gaan koop. Dit was baie erg. Maar dis regtig heelwat beter as wat dit die eerste keer was, solank ‘n mens ietsie eet.

Nou ja, met die vernederende episode meer as twee dekades in die verlede, het my aandag na vandag toe geskuif. My sakkie was vol gebloei.  Die suster het die sakkie geweeg, en toe daardie naald uit laat glip. Ek het opgestaan, en met net ‘n ligte systappie my pad gevind tot by die koekies en koeldrankie. En sonder om teen enige bome te bots, my pad gevind terug huis toe.

Ek hoop regtig my bloed kan iemand se lewe help red vandag. Ek gee nie om of die ontvanger wit, geel, pienk, pers of swart is nie, mag daardie persoon genesing ervaar en gou weer voluit lewe.

Soms wens ek net dat my bloed ‘n babatjie kan help om te kan lewe. Of ‘n pragtige blonde engel êrens se lewe help red.

My ongelowige vriende, en veral vyande moet hierdie een maar vergewe: Ek skenk bloed, omdat Iemand eendag bloed geskenk het, sodat ek kan lewe. Dis net ‘n klein dankie vir die wonderlike gawe van LEWE.  En ek bid dat die ontvanger van my pint bloed sal LEWE, en gelukkig sal wees as mens.

10 thoughts on “Om te bloei vir volkenvaderland…

  1. Ek skenk ook bloed, het mos die commonste bloedgroep O+. En eendag as ek deur die Jordaan is, skenk ek al my organe ook. Wat is ‘n ou bietjie bloed en ‘n paar organe nou tussen vriende😉

    Anyway, ek eet nooit daai koekies nie, lyk te veel soos dog biscuits. Maar ek drink darem die vrugtesap🙂

  2. Ja, ons kry vrugtesap. Ewe daai klein boksies vrugtesap met die strooitjie wat so vassit aan die boksie. Allerhande geure – jy kan kies wat jy wil he. Sien, jy moet bietjie hier kom bloedskenk.😆

    • Ek het eenkeer in Klerksdorp gaan bloed skenk. Daar het hulle so nice winkel in ‘n kompleks met leerstoele waarin jy soos Lord oom Piet sit… maar vrugtesappies in ‘n boksie, aikona! Ek onthou nou eers, ons het op universiteit ‘n bier gekry… dit het nogal gehelp!

      Ek is bang vir bloed skenk in die Kaap! netnou gebeur dit daar op Chapmans Peak so in daardie laaste draai voor Houtbaai!

  3. Hahaha, jy beskryf die bloedskenkery te kostelik. Ek skenk glad nie bloed nie, het ‘n fobie oor naalde, maar is ‘n orgaanskenker. So eendag behoort my niere en korneas ens ens darem optemaak vir die nie-bloedskenk al die jare.

  4. Ek het net 1 keer geskenk in 1981, eerstejaar op varsity. My ervaring was redelik soortgelyk aan joune. Ek was 2 dae daarna nog siek. Maar die maties het wel die ikeys gewen!

  5. Ek het nog nooit bloed geskenk nie. Al hop ek op die skaal wil die naaldjie nie hoog genoeg klim nie. 50kg is ver vanaf my strepie.

    My dogters skenk albei. My oudste het ‘n fobie oor naalde, maar sy skenk bloed. Die suster waar sy skenk het mooi geluister hoe bang sy is vir naalde (dis rerig BAIE erg!!) en gooi ‘n doekie oor alles. Tot alles klaar is.En dan kry sy ekstra koekies en koeldrank as dit klaar is.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s