Huisbesoek kan baie gevaarlik wees, pasop waarvoor jy wens!

So op my Vrydag afdag moes Ousus se portefeulje betyds ingehandig wees by die Potchefstroomse Universiteit vir Chips,  Hamburgers en Owerspel, vir keuring in haar gekose beroepsrigting. En aangesien een van my wense Maandag ‘n lekker ver ent ry op Huisbesoek was (my motorfiets vir nuwe lesers), het ek ingewillig om dit te vat. Ek het gedog hier kom nou een van die dae van die lewe wat ‘n mens vir altyd gaan onthou. En toe word dit een van die dae wat ek vir altyd gaan onthou. As een van die BAD dae…

Ousus moes Vrydagaandaand in die Kleinteater in Pretoria optree. Die jongste twee is uitgeplaas om by maatjies te slaap. Ousus het saam met die skoolbus gery, en Ouboet na skool saam met ma in die Corollatjie.

Die eerste hickup het gekom toe Pastoriemoeder gou om 8h15 van haar skool af wegglip, om die dag te koördineer. Ousus het iets in haar kamer gehad (van my) wat Pastoriemoeder so ontstel het, dat sy haar dadelik gestuur het om dit op die regte plek te sit, voor ek omgekrap sou raak. Strike 1. Ek moes nog my motorfiets se ketting stywer gestel het, want ek het vroeër in die week nie tyd gehad nie. Ek soek my Allen Key tool, waarvan ek DRIE besit, een in elke fiets se saalsak, en een onder die motorfiets se sitplek. Een van die fietse se tool was in die bakkie. Ek soek, en ek kry dit nêrens nie. Strike 2.  Ek verloor dit die eerste keer, en begin donker Afrikaans praat. Pastriemoeder ruk haar op vir my, en sê ek moet alleen Pretoria en Potch toe gaan. Sy gaan nie meer saam nie. Nou moet ek my klere vir die aand se oorslaap in die topboks probeer kry, sy  kom baklei weer, netnou vou die kind se portefeulje. Strike drie. Ek is uit op my voete. Ek spring op die motorfiets, en jaag weg, rigting Potchefstroom, met die gewig van drie duisend demone op my skouers… en net die Portefeulje in die topboks. En ‘n baie slap ketting.

Die rit loop aanvankllk heel mooi. Ek stop by daardie Petroport langs die Lanseria lughawe op pad Krugersdorp toe. Drink ‘n koffie, antwoord gou ‘n kommentaar of twee.  Beplan my dag- 1 ½ uur tot in Potchefstroom , halfuur in Potch, ek sal weer so vieruur in Pretoria kan wees en die toneelstuk saam gaan geniet. So was die plan.

Tot ek in die N14 by die Zenex garage ingedraai het, rigting Magaliesburg, om kort daarna rigting Tarlton links te draai. Daar klim daardie los ketting af, en steek viervoet vas rondom die agterwiel. Ek kon dit nie verstaan nie, die volgende oomblik is dit net karre rondom my wat uitswaai, en ek wat gly waar die fiets wil. Gelukkig nie geval nie. Maar dadelik geweet hier is moeilikheid met ‘n hoofletter K.  Ek dog Brits sit sommer net hier anderkant die bult van Krugersdorp, ek bel ‘n klasmaat wat baie goed in motorfietse is om my te kom help. Dis 12 h2o.  Hy moet net wag om sy kinders by die skool te kry, dan kom hy. Hy sal ‘n ander ketting koop, en dan so 3 uur by my wees. My moed val soos ‘n gewigstootbal in my skoene in…  Daardie kantoor maak vieruur toe, en ek is net ‘n uur weg sou ek  ‘n heel motorfiets gehad het. Ses dae te  voet…  Hier kom ‘n lang wag, want my vriend is selde betyds.

Uiteindelik skakel hy Drie-uur en sê die verkeer is baie erg. Hy gaan laat wees, Hy kom vieruur daar aan, gelukkig met die regte ketting, maar die ding moet korter gemaak word. Ystersae word uitgepak, vyle, hammers, die ingenieursfirma se draaibank… ok nee, nie die laasgenoemde nie. Alles word mooi netjies, dog tydsaam herstel. Maar as ‘n mens so uiters verleë oor iemand se hulp is soos ek, sê jy niks.

Ek kom 17h20 daar by Krugersdorp weg. Nou ry ek asof daar sewe honderd bloeddorstige Rotweilers agter my aan is Potch toe. Ek trek daar  by die Puk in ‘n uur later,  en probeer die portefeulje aflaai. Maar dis Vrydagaand, geen student in sig nie. Hulle het gaan jol.  Net  hier anderkant speel  Die Blou Bulle teen die Luiperds. Elders vry  studente om donker hoekies. In vanmelewe se dae het ons… Vrou, wat het ons vansmelewe se dae gedoen?  Ons het maar presies dieselfde gedoen!

Nou ja toe, uiteindelik het ek iemand opgespoor wat iemand ken wat vertroud is met die prosedure om ‘n kunsportefeulje vir keuring by die regte persoon te kry. Hoop ek. Anders gaan die Rooi Brigade my assasinate…

Mission Accomplished!  Vyf ure laat, maar darem. Nou kom ek agter hoe honger ek is- vanoggend se Weetbix is nou antieke geskiedenis. Ek gaan gooi Brandstof in. En toe trek ek by die Mooirivier Mall in. Wou eers gaan Spur, toe onhou ek Kovsies en Pukke Spur op Vrydagaande, Saterdagoggende na sport, Sondagaand na kerk, en maandag vir die twee vir die prys van een  hamburger special. Ek stap maar verby,  want daar is ‘n lang wagtou van studente wat wag vir ander studente om nou klaar te maak dat hulle ook kan feesvier.  Maar die Cape Town Fish Market is ver bo studente se begroting. Myne ook, maar ek is nou roekeloos. Ek gaan netnou in die donker hierdie gevaarlike paaie terug aanpak, en as dit my aand is om deur die Jordaan te gaan, gaan ek dit nie met ‘n morsige hamburger in my maag doen nie.  My kredietkaart is geduldig. En daar is baie oop plek by die CTFM.  Daar sit net  paar verdwaalde ekonomieproffies in die een hoek. Hulle bespreek die modderstoeibad van die Dow en die Olieprys in geel bikini’s… Aan die ander kant sit   bebaarde 21 jariges wat  lyk soos die wyse manne uit die Ooste- hulle studeer filosofie. En wysbegeerte.  En praar ‘n klomp ka…  rboloading tergnieke voor die wereldbeker!  Daar is min mense, en weird mense, in die CTFM?  Ek het nog nooit voorheen in die CTFM geëeet nie, soos ek gesê het, bo my vuurmaakplek. Maar vanaand voel ek v… ere.  Ek, met my nuwe denim vol olie. My motorfietsbaadjie vol stof en ghries. My hare wat in alle rigtings staan, en ‘n wilde uidrukking in my oë. Die Langhaar wysbegere kyk my op en af. En in hulle oë sien ek… respek!  Ander plekke sou my uitgekyk het of die kat my daar ingedra het. Maar hier pas ek in!

Daar regs van die voordeur sit  daar so Japanese dude met  sulke skrefiesogies  en twee choppers, en dan chop chop hulle jou kos vir jou op in bite-size, of dit nou hoender is, of kalkoen, of die maltese poedel van jou skoonma- chop chop chop suye.  Sushi vir Doppers!

Aan die linkerkant is nog ‘n toonbank, en daar is hulle besig met ‘n Chinese roerbraai, maar dit  het ‘n vreemde naam, iets soos ‘n  Tramazamalalmnxnsueuasdsasasa.   Ek is roekeloos vanaand. Want netnou lê ek dalk en bloei op die N12, ek wil vir ‘n slag die lewe geniet. Ek bestel ‘n sesgereg van die Tramazamalalmnxnsueuasdsasasa  af. Met een van Windhoek se heel bestes.  Die eerste twee geregtie is sushi. Daar kom eers sulke eina- bliksem- mar-dis- warm wasabi  op, saam met pink lelletjies gemmer, ‘n bakkie vir die meng, en twee verskillende soorte sojasous.    Die eerste gereg is so ‘n affering van nagemaakte krap sprietjies, gekap om soos grasstokkies te lyk wat jou sal kiele en steek soos dit sou as  jy in die hooimied vry.

Die tweede gereg is so  ‘n seewier koevertjie,met snitte salm in, en nog wasabi!  Sesamesaad en sushi- rys. En rysbolletjies. ‘n Ontploffing van sensasie in jou mond… Ek is mal oor sushi!

Gereg 3 is gekrummelde kalamari met ‘n mayonaise sous.  Vierde gereg- sulke pedofielklein seekatjies word losgelaat om op die warm plaat te dans. Op kokende olyfolie! En hulle word so met messe gekapkapkap. Uiiteindelik beland hulle saam met nog sushirys op jou bord.

Vyfde gereg- hofgereg,.  Ek kies vis, want ek is gatvol vir vleis na die week se slagtery. So ‘n mooi wit blokkie vleis word ook netjies gebraai, met sampioene en groen murgpampoentjies word gestirfry, en op my keuse van pasta bedien.  Die nagereg  was so heerlike kaaskoek met aarbeisous oor. Nie te soet nie, nie te bitter nie, net reg.

Ek het baie lekker geëet- die sesgang  Tramazamalalmnxnsueuasdsasasa Is R110. Nie te duur nie- “the condemned man ate a hearty meal…” Dit was BAIE lekker. Maar nou moes ek nog terug Pretoria toe, waar Pastoriemoeder darem opgedaag het met ekstra klere. Ek kon nie in Potch ‘n gastehuis soek, met net oliebesmeerde klere nie. Maankind sou my nie toelaat om so op haar wit lakens te lê nie!

Ek spring nege uur gisteraand weg in Potch. Gedagtig aan die pothole wat ‘n mens nie in die donker met aankomende ligte so maklik sien nie, kies ek om maar die N12 te ry, daar deur die myne en langs Soweto verby.  So ‘n nagrit is werklik die tipe ervarings waarvan rillers gemaak is. Jy is driekwart van die tyd verblind. Dit voel vreemd onwerklik, veral die townships se rook wat so oor die pad spoel en sigbaarheid wegvat. Daar is stukke waar die lyne nie meer sigbaar is nie. Jy sien soms ‘n katogie, en bid net dat jy die pad reg lees.  Dit voel later so onwerklik soos ‘n Playstation game. Maar die einde is nie ‘n reset knoppie nie, hierdie keer is dit for keeps…  Uiteindelik kom ek op die N1 uit, en is daar darem beter beligting. Die pers ligte van die nuwe tolhekke is al aangeskakel, dit lyk soos aliens wat die hardwerkende mense wil leegsuig. Al verskil is, dit is nie aliens nie!  Die suigaksie bly.

Toe ek in Lynnwoodweg indraai, dog ek alles is nou reg. Hierdie dag se moeilikheid is verby. Netnou is ek by my ma se huis, en is alles weer reg. Moenie glo nie! In Lynnwoodweg trap my agterwiel ‘n spyker raak.  En hy word verskriklik vinnig pap- ek kan nie op hom ry nie. So die laaste 2 km na Ma se huis toe het ek langs die motorfiets gestap, met sy enjin in 1e rat dat hy homself darem vorentoe neem. Man, was ek GATVOL toe ek 11uur gisteraand uiteindelik by my ma se huis instap.

Gister het toe net glad nie uitgewerk soos ek dit beplan het nie. Vriend Nat… Nietshe Nietzxshggepigeee hoedef’n mensditookalspel beskuldig my gereeld dat daar nie ‘n God is nie. Vriend Natn..s.,shigeige, na gister kan ek jou verseker daar is ‘n Bose Een in die wêreld! Hy het opgeklim in my tuisdorp, en my nie gelos tot middernag gisteraand nie.

Dit was nou ‘n Kilo Alpha Kilo dag in my lewe. Weet julle wat het dit nog steeds die moeite werd gemaak? Vriende het my deurgedra- ‘n ou vriend wat sy middag opgeoffer het om my met sy skills te help. En Blogvriende, wat ek nog nie persoonlik ontmoet het nie, wat baie besorgd op die selfoon in verbinding gebly het, en selfs van Pretoria Noord af sou ry om my te kom oplaai?  Tot my skaamte moet ek sê dat my blogvriende gister baie meer omgegee het as gemeentelede!  Baie dankie vir julle, ek het gister oorleef, en gaan verseker vir ‘n paar van julle nog stiek vir ‘n bier! In Besonder Son, en die Wosonki’a- julle is absolute sterre in my heelal!

 

Advertisements

14 thoughts on “Huisbesoek kan baie gevaarlik wees, pasop waarvoor jy wens!

  1. Plasie het amper die tools begin inpak toe ek hom van jou penarie vertel . . . as ons geweet het waar jy staan, het ons jou wragties opgelaai EN deurgery Potch toe.

  2. Maak dit ‘n storie: – ‘Die dinge en duiwels van die dominee se dagreis na Potch (is nou jammer Potch begin nie ook met ‘n D nie, lekker alliterasie 😉 )

  3. Dit was nog altyd vir my baie opmerklik van die Wosonki’s – dat hulle altyd bereid is om in die kar te spring om ‘n vriend uit die jam te gaan haal.

    Hopelik is Huisbesoek se streke (na jou Saterdagaankope) finaal uitgesorteer en gedra hy hom in die toekoms.

  4. Ai, en hier lees ek nou eers wat ALS gebeur het! Ekself was so besig die naweek en het nie by blog of fb uitgekom nie. Het wel darem nog gelees van CTFM en gedink als is weer goed. Die laaste stuk van die nagmerrie lyk my was die ergste!!
    Ek is bly als het op die OU END goed uitgewerk.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s