Om Gelukkig getroud te wees is al erg genoeg…

Op my vorige inskrywing het ek nommer 4 geplaas. Sug.

Ek wil net sê dis al klaar erg genoeg om gelukkig getroud te wees. Ek weet nie hoe dit voel om te skei, of om dit te vrees om huis toe te gaan nie. Ek kan dit nie begin indink nie!

Ek verstaan nie hoe die teenoorgestelde geslag se koppe werk nie. Punt.

As ek paartjies in huweliksgesprekke voor die tyd sien, doen ek graag ‘n geneagram met hulle. Dit is ‘n skets waarin ‘n mens hulle twee teken, en dan die verhoudinge waarbinne hulle staan. In die middel van die bladsy teken ek ‘n vierkant vir die man, en ‘n driehoek vir die dame. Dan, met lyne, teken ‘n mens die gesinne van oorsprong waaruit hulle kom. Waar pas elkeen in die gesin in. Lewe almal nog? Is daar enige egskeidings, of traumatiese gebeure rondom die gesin van oorsprong? En so gaan ‘n mens so een of twee geslagte terug. Nie om seer te maak nie, maar om elkeen se storie te hoor. Wat en wie het hulle gevorm?

Gewoonlik trek ek groot sirkels rondom elkeen se familie. Daardie familie is ‘n unieke stel mense. Hulle het hulle eie manier van dink en doen. Dikwels het hulle hul eie woordeskat- dit wat hulle met ‘n woord bedoel kan heeltemal anders wees as die volgende gesin s’n. En geen twee gesinne van oorsprong is dieselfde nie!

Elkeen in ‘n verhouding kom uit ‘n sekere agtergrond, met ‘n sekere manier van dink. En nou, wanneer ek hulle trou, word nie net twee mense een nie, maar twee families word in een huis ingebring in die manier van dink. En dis hoekom die vonke so maklik spat! Jy klink nou nes jou ma!  Jy suip nou weer nes jou pa.  Jy neul nou weer net so baie soos daai ouma van jou met die nat broek…

Verder het ons nog te doen met ‘n man en ‘n vrou wat in ‘n verhouding is. Hulle is totaal verskillende wesens, wat fisiologies verskillend dink.  Die dames het baie meer neuronverbindings tussen hulle twee breinlobbe as ons mans. En daarom kan hulle baie beter multitask… Ek kan darem die Weg op die toilet sit en lees terwyl ek na Kurt Kerm luister…

Ons het nog verskillende temperamente ook (normaalweg). By die kerk se lentekonferensie verlede jaar het ek by ‘n dame uit die geesteswetenskappe  se werkswinkel gesit. Sy  sê dat die nuutste navorsing sê selfs ons temperament (ekstrovert, introvert, emosioneel, onemosioneel) kan deesdae met ‘n bloedtoets bepaal word, nav die balans van chemiese oordragstowwe in die brein.

Ons is twee uiteenlopende mense, met verskillende stories (verskillende stelle bagasie…), verskillende fisiologie (dankie tog vir die ander anatomiese verskille!) verskillende maniere van dink… wat een word.

Al hierdie goeters weet ek so effens. Ek verstaan dit so bietjie, en ek gesels gereeld met ander paartjies daaroor.

Maar op hierdie oomblik sit ek op my laptop, en Pastoriemoeder op die desktop hier langs my, en ons kommunikeer met mekaar op facebook se chatfunksie…

Met alles wat ons albei van kommunikasiekunde weet, met ‘n geloofsperspektief wat so min of meer ooreenstem (pastoriemoeder wil net graag alle kerkgeboue afbrand, en ek is nog nie daar nie…) met twee baie besige dagboeke, en vier kinders in gemeen, met al hierdie dinge…

Hoekom sukkel ons nog steeds om mekaar partykeer te hoor?

Nuwe gedagtes vir ‘n Nuwe Seisoen

Lentedag was nog altyd ‘n baie spesiale geleentheid vir my. Behalwe nou in die Hoërskool daar in Noord Natal, waar jy op 1 September somersdrag sal dra, al lê die sneeu dakhoogte en die ysbere molesteer die alleenlopers.

Maar vandat ek beheer het oor wat om aan te trek, gaan dit baie beter! Dit is so opwindende seisoen. Oral begin nuwe blare uit die ooglopend dooie takke uitspruit. Pragtige bloeisels kondig aan dat nuwe vrug op pad is. Die skoolseuns kyk met ‘n nuwe glinster in die oog na die jongedogters. Dis tyd vir nuwe lewe in die romantiese deel van ons wese. Dis tyd om weer te begin oefen, die Argus se inskrywings maak netnou oop. Dis ‘n tyd vir nuwe planne, nuwe inisiatief, nuwe drome!

Wat beplan ek in hierdie nuwe seisoen? 1. Skryf 13h00 in vir die Argus- nommer 18 in die pyplyn.
2. Begin hierdie maand al oefen vir die kans om ‘n sub 4 Argus te ry.
3. Begin werk aan my geestelike dissipline, om meer tyd vir stilte te maak.
4. Maak meer tyd om my vrou te dien met my menswees
5. Maak meer tyd vir elke kind.
6. Kry my dogter in ‘n tersiëre inrigting wat haar drome kan laat waar word.
7. Begin ondersoek instel of ek wel my doktorsgraad by Maties moet probeer doen, soos uitgenooi.
8. Kry my groentetuin produktief.
9. Wees baie meer selektief waarmee ek my brein voed.
10. Gaan baie meer op Huisbesoek! (My Diensverhoudinge bestuurder sal bly wees om dit te hoor!)

Dis ‘n tyd om die winter se donker gedagtes uit te vee, en nuut te dink. Wat wil jy graag aan dink of werk in hierdie lenteseisoen?

Hierdie inskrywing geheel en al op die BB geskryf waar ek wag vir helpers om vleis te kom help laai vir ons basaar. Dis ‘n oorwinning! Ek is nie omgekrap nie, ek herbenut gemorste tyd!