Om Gelukkig getroud te wees is al erg genoeg…

Op my vorige inskrywing het ek nommer 4 geplaas. Sug.

Ek wil net sê dis al klaar erg genoeg om gelukkig getroud te wees. Ek weet nie hoe dit voel om te skei, of om dit te vrees om huis toe te gaan nie. Ek kan dit nie begin indink nie!

Ek verstaan nie hoe die teenoorgestelde geslag se koppe werk nie. Punt.

As ek paartjies in huweliksgesprekke voor die tyd sien, doen ek graag ‘n geneagram met hulle. Dit is ‘n skets waarin ‘n mens hulle twee teken, en dan die verhoudinge waarbinne hulle staan. In die middel van die bladsy teken ek ‘n vierkant vir die man, en ‘n driehoek vir die dame. Dan, met lyne, teken ‘n mens die gesinne van oorsprong waaruit hulle kom. Waar pas elkeen in die gesin in. Lewe almal nog? Is daar enige egskeidings, of traumatiese gebeure rondom die gesin van oorsprong? En so gaan ‘n mens so een of twee geslagte terug. Nie om seer te maak nie, maar om elkeen se storie te hoor. Wat en wie het hulle gevorm?

Gewoonlik trek ek groot sirkels rondom elkeen se familie. Daardie familie is ‘n unieke stel mense. Hulle het hulle eie manier van dink en doen. Dikwels het hulle hul eie woordeskat- dit wat hulle met ‘n woord bedoel kan heeltemal anders wees as die volgende gesin s’n. En geen twee gesinne van oorsprong is dieselfde nie!

Elkeen in ‘n verhouding kom uit ‘n sekere agtergrond, met ‘n sekere manier van dink. En nou, wanneer ek hulle trou, word nie net twee mense een nie, maar twee families word in een huis ingebring in die manier van dink. En dis hoekom die vonke so maklik spat! Jy klink nou nes jou ma!  Jy suip nou weer nes jou pa.  Jy neul nou weer net so baie soos daai ouma van jou met die nat broek…

Verder het ons nog te doen met ‘n man en ‘n vrou wat in ‘n verhouding is. Hulle is totaal verskillende wesens, wat fisiologies verskillend dink.  Die dames het baie meer neuronverbindings tussen hulle twee breinlobbe as ons mans. En daarom kan hulle baie beter multitask… Ek kan darem die Weg op die toilet sit en lees terwyl ek na Kurt Kerm luister…

Ons het nog verskillende temperamente ook (normaalweg). By die kerk se lentekonferensie verlede jaar het ek by ‘n dame uit die geesteswetenskappe  se werkswinkel gesit. Sy  sê dat die nuutste navorsing sê selfs ons temperament (ekstrovert, introvert, emosioneel, onemosioneel) kan deesdae met ‘n bloedtoets bepaal word, nav die balans van chemiese oordragstowwe in die brein.

Ons is twee uiteenlopende mense, met verskillende stories (verskillende stelle bagasie…), verskillende fisiologie (dankie tog vir die ander anatomiese verskille!) verskillende maniere van dink… wat een word.

Al hierdie goeters weet ek so effens. Ek verstaan dit so bietjie, en ek gesels gereeld met ander paartjies daaroor.

Maar op hierdie oomblik sit ek op my laptop, en Pastoriemoeder op die desktop hier langs my, en ons kommunikeer met mekaar op facebook se chatfunksie…

Met alles wat ons albei van kommunikasiekunde weet, met ‘n geloofsperspektief wat so min of meer ooreenstem (pastoriemoeder wil net graag alle kerkgeboue afbrand, en ek is nog nie daar nie…) met twee baie besige dagboeke, en vier kinders in gemeen, met al hierdie dinge…

Hoekom sukkel ons nog steeds om mekaar partykeer te hoor?

Advertisements

9 thoughts on “Om Gelukkig getroud te wees is al erg genoeg…

  1. As Pastoriemoeder ‘n medepligitge soek vir daai kerkgeboue afbrand sessie, ek volunteer!!!

    Ek het met pyn en lyding geleer dat die ou mense ‘n punt beetgehad het toe hulle gese het mens moet met iemand trou wat naastenby dieselfde agtergrond as jy het. En beslis dieselfde waardes.

    Oor die chat op Facebook, dis dalk nie so sleg nie, want soms se mens beter wat op jou hart is as jy dit skryf as wat jy dit praat. En mens bedink jou dalk as jy sien wat jy tik, waar jy soms praat voor jy gedink het 🙂

  2. “Ons praat en ons praat,
    maar ons kry niks gesê nie….”
    Lucas Maree het al ‘n liedjie daaroor geskryf, so dit is skynbaar ‘n algemene verskynsel.

    ‘n Man moet jy baie verstaan en bietjie liefhê, ‘n vrou moet jy baie liefhê en liefs glad nie probeer verstaan nie. Maar ons as die swakker geslag sukkel maar soms…daarom lê daar ook op ons blog amper ‘n honderd privaat inskrywings, baie van hulle ons indirekte kommunikasie met mekaar. Want partykeer is dit makliker om te skryf wat jy voel as om dit te moet sê, juis omdat dit dalk makliker is om die self (ego) uit die vergelyking te haal.

    Dit is heeltemal aanvaarbaar vir Lyfie om so nou en dan glad nie van my te hou nie, solank sy altyd lief bly vir my, en vice versa.So vêr, so goed.

  3. Soms maak werksdruk aan beide kante, ‘n gebrek aan tyd, gesinsake wat baie aandag verg dat ons as getroude pare bymekaar verby leef. Daar is soveel ander dinge wat ons aandag verg, ons konsentreer so op daardie dinge, dat dit maklik is dat ons mekaar in die harwar verkeerd verstaan. Dis September, die geskarrel om als afgehandel te kry voor die einde van die jaar…. Toemaar, dit sal weer beter gaan.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s