Die Plattelandse Kerkbasaar- die vreugde, die pyn en die verligting…

En so het die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Bosveld-Suid toe Saterdag kerkbasaar gehou.

Vir die onskuldige toeskouer is dit ‘n heerlike aangeleentheid. En wie sal dan nou nie daarvan hou nie?  Dadelik dink ‘n mens aan goedkoop kos, en winskope op alle terreine.

Dis hoekom ek ook gewoonlik, as ek met my karavaan op vakansie gaan, baie mooi uitkyk vir ander dorpe se kerkbasaar. Daar, weet ek sommer, gaan ek vleis goedkoper as by die slaghuise optel. Die eerste ding waaraan ek dink, is die poedings wat die gemeentedames met soveel trots opdis. Koekstruif klink nie naastenby so goed soos TRAAIFEL nie. Jelly, en kits karamelpoedings, soms met vingerbeskuitjies, en dan goed deurdrenk met Ultramel, of ‘n tannie se geheime resep waar die groot geheim vars vanielje in die peul is…

Dis hoe my kop gewoonlik werk as ek iemand anders se kerkbasaar benader: Gaan soek eerste die vleis, en vier jou aankope met poeding. Daarna vind ‘n mens uit of hulle dalk ‘n heerlike plaasontbyt het, waar ek my are kan verstop met die lekkerste diereprodukte soos boerewors, en spek, en eiers, en pap en sous… as hulle goed is, gee hulle ‘n blikbeker moerkoffie daarmee saam, en as hulle uitstekend is, is daar so ‘n lepeltjie kondensmelk ingeklits.

Dan, as die maag die ergste honger verloor het, kyk ‘n mens met die oog verder. Daar is gewoonlik ‘n plekkie waar die omies hulle handewerk uitstal.  By ons kerkbasaar kon jy Saterdag ‘n klein koffietafeltjie, waarop jou koffiebeker en koeksisters mooi pas, van kiaathout, vir R150 koop!

Koeksisters! En die tannies se beroemde Groot Koeke, om te onderskei van die Klein Koekies… Ou Staatmakerresepte waarmee pryse by die landbouvereniging se skou gewen is… Klein koffiekoekies wat so in die koffiebeker gedoop word… sulke dinge is belangrik vir die geloofslewe op die platteland!

Erens is daar gewoonlik ‘n Plaasstal, as dit ‘n plattelandse gemeente is. Hier kry jy groente baie goedkoper as by Fruit & Veg! Hier kry jy palette vol plaaseiers, en selfs kaiings en krummelpap om die are verder te verstop. Botteltjies Jêm en heuning. En as jy nie versigtig is nie, kom jou kinders baie opgewonde daarvandaan met ‘n baba hasie wat pienk gekleur is, of- soos Saterdag- Ek moet nog uitvind watter bliks… liewe jong boer in die gemeente het aan my kinders lewendige kuikens verkoop!

Na die skokkende aankoop van lewende hawe op klein skaal het ‘n mens troos nodig. Wat is nou beter daarvoor as ‘n pannekoek of ses? Ek kan ook nie ‘n goeie vetkoek uitlos nie. Net nooit nie.  En daar is net een plek in die land (anders as die Kerkbasaar) waar jy nog so ‘n vetkoek kan koop- die geel kafee oorkant Trompsburg se N.G. Kerk- onthou nou as jy weer moeg raak vir die padverleggings op pad Kaap toe…

Die ander plek waar jy groot winskope kan losslaan, is waar gemeentelede hulle werkende junk op die veiling verkoop. As ek net nie so bankrot gekoop was nie, kon ek nou ‘n NAD amplifyer, met ‘n Technics dubbelkassetspeler, en ‘n Tuner gekoop het vir R500, in werkende toestand- sans speakers…

Gewoonlik kom die onskuldige koper daar aan, en geniet die atmosfeer. By ons het ons ‘n professionele klankman, en uitstekende kunstenaars. Ek was al op kerkbasare waar hulle oom Piet op sy saaglem met die vioolstrykstok laat speel het- wat ‘n aaklige klank! Dit klink soos drie duisend demone wat uit die hel probeer ontsnap het…

Daar is winskope, lekker kos, mooi meisies, en pienk hasies op die plattelandse kerkbasaar.

Agter die skerms, meanwhile back at the ranch… Vat dit nege maande se vergaderings om daar te kom. Eke item is deeglik beplan en nagevors.  Die kunstenaar is met die hand gekeur. Die koeksister het vanjaar twee draaie, nie drie soos verlede jaar nie!  Die vleis se pryse is bepaal met die oog op die Brent Ru-olieprys, die Dow Jones en die JSE se bewegings in ‘n versigtige formule uitgewerk. Die plaaslike werkloosheidsyfer, die verhoging in die Spoorwegpensioen en die saadtelling van oom Jan se stoetbul is daarin verreken.

Die kerkterrein is met ‘n mikrometer opgemeet om seker te maak tant Baps se pannekoekstalletjie is nie ‘n millimeter groter as tant Hanna se koekstalletjie nie.  In die pannekoekstalletjie is die deeg fyn uitgewerk- een eetlepel asyn is goedkoper as een eier…

Die vleis, wat binne twee ure verkoop het, het sewe werksdae geneem om vanaf die slagpale as heel karkas te vorder tot netjiese pakkies steak, wors, maalvleis, en al daardie ander vorme van vleis wat jou glad nie aan Bessie die Melkkoei herinner nie…

By die Kerkbasaar is daar ook geleentheid om lekker te kuier. Gemeentelede kan lekker sit en gesels oor daardie moerkoffie en koeksisters. En ‘n mens kry die kans om soms net baie interessante mense te ontmoet. Ek was so geëerd- die Wosonki’s het van die Bose Stad nommer 2 af gery om te kom kyk wat by ons aangaan. Ek het dit nou so geniet om hulle te ontmoet, en so rukkie saam met hulle te kuier! Dankie Plaasjuppie en Krista- julle het die dag sommer baie opgehelder vir my!

Ja, dit neem so ongeveer nege maande se vergaderings, en baie, baie, so ontelbaar baie manure om die kerkbasaar te laat lyk asof dit sommer net een Saterdag oggend gebeur het…

2011 se Kerkbasaar het gekom, en gegaan. As almal eers klaar gepartytjie het, en huis toe vertrek het, lê daar nog ure se werk voor. Tafels en stoele indra, vuilgoed optel, alles netjies en skoon maak, want more oggend hou ons weer kerk, en dan moet alles op hulle plek wees.  Dit is so verligting wanneer ‘n mens uiteindelik, met stukkende voete en ‘n af rug by die pastorie in leopard crawl… Dank Vader dis verby!

Vanmiddag rondom ons basaar stukkie bloubulsteak merk die Pastoriemoeder so saggies, so ongelooflik saggies dog uiters wreed op: Nou kan ons vir drie maande rus van kerkbasaar, en dan begin 2012 se beplanning.

So wat is die datum van die wegraping in 2012 presies? Hopelik voor die eerste naweek van September…

13 thoughts on “Die Plattelandse Kerkbasaar- die vreugde, die pyn en die verligting…

  1. Elke jaar as die man-van-die-kerk omkom met sy lys, gee ek graag, want al is dit nie my kerk nie, is dit steeds my gemeenskap. En as die klok slaan, is ons daar, met mandjie en al. Gelukkig is die kersaal, 2 huise af, twee huise regs, van ons af.Die mense parkeer tot voor ons huis.
    Dis een van die dae…

  2. Ons het ook Saterdag kerkbasar gehad…ek is nou nog vol😆
    My oggend daar verloop so…Vroeë ontbyt, ten minste 2 pannekoeke. Dan Boerierol vir ontbyt. Dan ‘n vetkoek met maalvleis. Dan koffie en sny koek by koffietuin. Dan Hamburger…..en dan later die middag die kerrie en rys wat jy as take-away gevat het.

  3. En daar lees ek toe ‘manure’ ( soos in Ingelse koeimis) in plaas van man-ure. En eers dink ek nie eers dis snaaks nie. Want ek is baie seker daar HET baie van eg. ingegaan. Maar toe tref dit my gelukkig….😆

      • Ek is seker jy’t dit reg gespel, maar my onderbewuste – wat al te veel kere die werkery rondom ‘n basaar moes meemaak – het die foutiewe betekenis ingelees. Ons s’n was laasweek. Of eerder, ons buurgemeente s’n saam met wie ons moes smelt. Want ons is nou minder mense in die kerk as wat daar 10 jaar gelede in die kerkraad was. En die oorgrote meerderheid mense in die kerk is bo 60 jaar oud. Maar as daar gewerk moet word vir die basaar dan werk hulle! Die basaar was weereens ‘n reusesukses.

  4. Klink na baie werk, hopelik was die wins op die einde van die dag die bloedsweet werd.

    Kerkbasaar is nie deel van my kultuur nie, maar die blote gedagte dat daar poedings en koeksisters is laat my sommer dadelik na een soek.

  5. Ek is bly die basaar was ‘n sukses en vrek jaloers dat die Wosonki’s julle kon ontmoet🙂

    Ek kon nou nie basaar hê die naweek nie, maar ek het darem hoenderpastei, brood-en-botter poeding, skaaptjops en aartappelslaai geëet en BAIE soetwyn gedrink die naweek😉 Eintlik sal ek die res van die week op suurlemoenwater moet leef!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s