Hoekom is daar altyd ‘n afdraende anderkant die kruin van sukses?

Nee, dis nou nie bedoel om negatief te klink en jou week heeltemal donker te begin nadat jy my blog gelees het nie…

So dikwels het ek dit net in my lewe al ervaar- soms is daar ‘n baie groot doelwit wat voor jou lê. Dit vat maande om dit te verwesenlik. En as dit die dag suksesvol afgehandel word, voel dit of jy op die top van die berg staan. Maar die volgende dag moet jy weer begin afklim, en die volgende doelwit aanpak. Met daardie skielike klaarmaak van iets het ek altyd so ‘n effense depressiewe gevoel.  Nog nie gereed vir die volgende ding nie.

Ek het net vanoggend opgestaan, en skielik, nadat ek gestort en geëet het, het dit my getref: Ek het nie ‘n idee wat om vandag met myself aan te vang nie!

Ons het mos nou vir nege maande aan die kerkbasaar beplan. Nege maande is mos genoeg tyd vir die babatjie om te ontwikkel en gebore te word… Die hele Augustus het in die verwerking van vleis ingegaan. Veral die laaste drie weke was daar omtrent dag en nag gewerk aan die basaar. My verantwoordelikheid was die werwing van gewillige diere, wat graag ook die fees wou bywoon. Die slagtery, die verskuiwing van die karkasse na ‘n groot slaghuis. Die opkommandeer van baie gemeentelede met skerp messe en snyborde. Dae lank se sny en maal, in pakkies verpak en pryse opsit. In kratte inpak en in die vrieskamer bêre. Pastoriemoeder het die oorhoofse reëlings van die stalletjies gedoen- wie gaan watter stalletjie beman- wat het wie nodig, waar gaan hulle wees, met al die gepaardgaande konflik van hierdie een wat nie saam met daardie een wil werk nie… Party keer kyk ek daardie industrieële “mincer” so, hoe vinnig dit deur ‘n klomp kilo’s vleis kan hardloop, en eers het ek aan die ideale oplossing vir die verskynsel van maltese poedels gedink, maar later het ek aan moeilike kerkmense en daardie mincer in dieselfde sin gedink. Amper soos die Mafia sekere mense en “woodchippers” aan mekaar voorstel…

Maar nou is die basaar verby. EN skielik: Niks! Ek het skielik nie ‘n idee wat om vandag te doen nie.

Dis nou nie asof daar nie oorgenoeg werk is nie. Daar is altyd siekes wat nog ‘n besoekie van hulle pastor sal waardeer. Daar is 1700 mense in die gemeente wat graag ‘n Huisbesoekie sou waardeer.  Vir party sou ‘n weeklikse huisbesoek nie genoeg wees nie, in hulle vorige gemeente was hulle dan huisvriende met die dominee, hy was soos ‘n seun in hulle huis… Dis seker my probleem- ek kan nie in 700 huise die seun in die huis wees nie…  En terwyl ek nog mense en mincers in dieselfde sin sien, is besoeke vandag nie ‘n goeie idee nie.

Ek het Vrydag my afdag verloor. Ek gaan nie skuldig voel as ek vandag laag lê nie. Ok, ek voel altyd skuldig oor sulke dinge, maar ek gaan my bes probeer om daaroor te kom.

Ek kan nie my dag begin soos my kollega op die buurdorp nie. Maandagoggende kom maak hy dikwels ‘n draai by my vir koffie as hy kinders by die skoolkoshuis kom aflaai. Dan praat ons Karl Barth se teologie, die pastorale tegnieke van Gerben Heitink, en soms, vir die pret, vertaal ons ‘n hoofstuk Hebreeus uit die Ou Testament.  Emmm, nee, nie eintlik nie. Dis die nagevolge van die pynpille wat my ma vir my gegee het. Het ek al gesê dat ek twee ton se vleis uit ‘n hoê vrieslorrie uitgelaai het Saterdagoggend sesuur, ek alleen was in die lorrie, en die res het onder gestaan en dit ingedra en uitgepak. My rug het gevoel of hy af is, en is nou nog seer. Toe gee my ma my so spierverslapper wat ek saam met ‘n Windhoek Lite gedrink het. Man, het ek ‘n lekker trip gehad Saterdagmiddag!  Die newe-effek is nonsens praat.  Terug na my vriend op die buurdorp- ek bel hom toe en vra waar is my koffie in die bed. Nee, sê hy, gemeentelede het sy kinders koshuis toe geneem. Op die oomblik is mamma bo-op hom!  As dominee se vrou nie werk nie, kan sulke dinge in die pastorie gebeur as die kinders skool toe is en die gemeentelede hard werk vir hulle geld…

My vrou hou skool op die oomblik. My dogter skryf Matriek Engels in die Proefeksamen. My vriend is besig met lekker dinge. My ander vriende werk.  Ek is nie lus vir werk nie. Ek is nie lus vir lees nie. Ek sou seker sewe blogs kon skryf vanoggend, maar dan gaan julle my vir spamming aangee. My rug is effens seer, en my maag draai nog steeds van al die eet.

So nou is ek weer in julle hande vanoggend: Enige goeie voorstelle waarmee ek myself besig kan hou tot Mamma vanmiddag 14h00 van die skool af kom? Enkelkaartjies warm plek toe sal nie te ernstig opgeneem word nie…

14 thoughts on “Hoekom is daar altyd ‘n afdraende anderkant die kruin van sukses?

  1. Dis soos Post Partum depressie. Skrywers kry dit mos ook as hulle kom by DIe EInde.
    Weet jy wat werk vir my? Pak iets reg, al is dit jou beursie of ‘n laai, dit simboliseer skoon en nuut, out with the old, in with the new.

  2. Ek het nou gehoor van ‘n ou omie wat kanker het en in die buurdorp in die hospitaal lê. Ek sal maar soontoe ry op die motorfiets, en vir hom gaan kuier, Daarna ‘n koffieshop gaan besoek, en dalk vinnig inval by die jong kollega met die nuwe baba…

  3. My raad???? Vat die dag af. Ontspan. Dink aan iets lekkers wat die pastoriemoeder verskriklik sal geniet en waardeer. Beplan daaraan. Verras haar!!! mmmmm 🙂 En dan, skryf daai 7 blogs, “save” dit as “drafts” en een dag wanneer jy nie baie tyd het nie, druk jy net “publish”.
    Maar VAT AF!!!

    • Ek verstaan hoekom jy dit doen en ek voel ook dis nie reg nie. Mense is soooo unfair . . . but good on you, ek sou dieselfde gedoen het.

    • Baie dankie liewe vriende! Dié goeters het ‘n manier om weer reg uit te werk. Ek is so trots op my seun wat dadelik my vertrou het en gesê het ons kan sy fiets maar vir die ander seun gee. Dit was eintlik baie lekker om vir hom ‘n beter een te gaan koop, waarmee hy fietsry saam met my as sport kan beoefen, en hierdie nuwe fiets gaan hom baie langer hou. Dit was ‘n oefening in karakterbou, en hy is beter af as wat hy gisteroggend was. ‘n Mens moet net leer vertrou dat alles uiteindelik ten goede sal meewerk vir die Here se kinders…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s