Vandag was toe ‘n goeie dag!

Moreoggend kan ek nie blog nie. Ek hardloop al weer die hele oggend agter my dagboek aan. Daarom wil ek dit vanaand van my hartjie afkry, daardie hart wat stadig van pikswart weer begin teruggaan na donkergrys toe. Een van die dae is hy dalk weer wit. Maar ek sien oom Jacob sê in die Beeld daar is heeltemal te veel wit harte in die topjobs van die land…

 

Nou voor ons daarheen gaan en die dag opneuk- wil ek net graag terugrapporteer aan my goeie vriende,  en sommer ook aan my liewe vyande wat my dagboek en beursie so fyn dophou…

 

Vandag was een van die lekkerste dae van hierdie jaar.

Ek het vanoggend opgestaan, en besluit: Ek het genoeg opgehoopte verlof, en vandag werk ek nie.

Ek het eers bietjie raad op my blog gevra, want sekere mense se wysheid is vir my nogal baie belangrik, en ek leer mettertyd wie se stem dra gewig, en wie kan ek maar ignoreer. Sit, Didi!

Gelukkig was Huisbesoek se magie mooi vol. Ek spring toe in die pad. Vanweë finansiële redes het ek maar die alternatiewe roetes gevolg.  Ek wil net sê dat die pad tussen Vaalwater en Nylstroom ‘n bitch is op die oomblik, met drie verleggings waar jy vir 15 minute by elkeen kan sit, nie lekker nie!

Tussen Nylstroom en Warmbad kry ek toe een of ander bejaarde groep van Mpupalankal wat op toer is met hulle motors. In elkeen sit ‘n ou oom en tannie, met die koffiefles so oopgedraai. Wonder ek by myselwers of dit die huweliksverrykings kamp van die Geriatriese saal van Nelspruit se AGS is?  Maar toe ek so een karretjie verbysteek op die soliede lyn daar voor Verloren, wou ek my breek. Dit was so ‘n ou, ou Datsun 120 Why the hell dit we build it? Binne-in sit twee baie stewige tannies met geblomde rokke, en groot strooihoede op die kop. En hulle sing ‘n hond uit ‘n bos uit. Die karretjie wip sommer soos die dames die noot vat. Op daardie stadium het ou Huisbesoek se enkele silinder maar redelik naby aan die rooi gerev, ek kon nie hoor wat hulle sing nie. Sou dit dalk : “Please give me a man after midnight, voules vouz” van Abba wees?

In daardie omgewing ry ek toe ook verby ‘n trop blouwildebeeste, en ‘n entjie verder ‘n trop rooibokke. Man, ons spitsverkeer is baie beter as die stad s’n!  Ek tref Bela Warmbad, en moet ry en stop, ry en stop, terwyl ek die hele tyd uitswaai vir die pothole… Daar is ook weer geriatriese kampeerders wat teen 20 km/u moet ry, en hulle bejaarde nekke afruk as ek dan verbysteek.  Vermy die versoeking om eers by die Dros of die ander O’ te stop vir brekvis. Ry die hobbelpad Pienaarsrivier toe. Verby verskeie taxis.

Bietjie later in Hammanskraal. Man, maar die African Rock Lodge brei nou mooi uit. Dit lyk sommer na ‘n gawe plek om weg te breek!  Daar is ook heelwat pragtige dubbelverdiepinghuise wat nou opskiet tussen die shacks, en die Merc’s en BMW’s is baie meer as in my gemeentelede se besit!

VAng die ou pad oor Petronella  tot in Lavenderweg. Daar is verskeie ou busse, wat net nie kan wegkom nie. Dit bly ‘n adrenalien rush op hierdie pad om verbysteekplek te maak, en aankomende lorries met breukdele van sekondes te mis. Hoekom moet die Metropolisie altyd daar voor die Polisiekollege ‘n padblokkade hou? Ek wens ek kon wheelie!

Draai af langs Wonderboom lughawe se aanloopbaan verby. Dit voel soos TopGun as daar ‘n vliegtuig kom land hier langs my. Highway to the Danger Zone… nes daardie lawwe outjie van Kulula Dot Kom.  Vang hom slap regs in Dr Swanepoelweg, verby verskeie hêppie kerk links en dan weer regs in Dr van der Merwe weg. Ek wil so graag by Reader’s Warehouse uitkom, en toe is hy toe. Hy trek na winkel 44 toe vir my gerief, maar maak eers middel September oop vir my ongerief. Waar de hel is winkel 44?

 

My eerste tolhek vir die oggend. Die ou ritueel. Stop. Trek handskoene uit. Zip baadjie oop. Vind beursie. Vind geld in beursie. Oorhandig aan die tollenaar. Plaas beursie terug in sak. Zip baadjie toe. Probeer handskoene aantrek. Een val! Motorfiets op sidestand, buk en kry handskoen. Wys ‘n vinger vir die motoris wat rooi in die gesig op sy hooter lê- ek betaal dieselfde as hy. Ander handskoen aan, op die fiets. Sidestand op. Eerste rat, draai petrol vol oop, drop die clutch- hoekom kan ek nie wheelie nie?

Ek vang hom so op die N1 verby Menlyn en Waterkloof Hoërskool, waar die laaities kan vlieg leer as ‘n skoolvak. Hoekom het my ouers ooit uit Monumentpark uit weggetrek toe ek ‘n babertjie was? So slap links op die R21, en kort daarna op Nellmapius Draaif (waar kom daardie ongelukkige naam vandaan) weer af na Irene Village Mall.

By die mall was ek stout. Ek spring oor die sypaadjie om die volgende tollenaars te vermy. Parkeer my fiets. Gaan kry ‘n lekker Haakse vis en tjippies in Bugatti’s.

Toe het ek vir die eerste keer in jare weer in die movies self uitgekom! Conan in 3D gaan kyk. Vega was toe reg, dit was baie geweldadig.  Eerste keer dat ek ‘n battlefield geboorte sien in 3D!  Die kleredrag van slavinne was ook heel sag op die oog.  Ek sal nog vir Pastoriemoeder moet vra of ons nie ook maar ‘n slavin kan koop nie…

Na die fliek het ek in Exclusive Books en look & listen rondgeloop. Net gelook en gelisten, niks gekoop nie.

Toe, om 15h00, ontmoet ek iemand wat ek al lankal graag wou ontmoet. Iemand vir wie ek die wêreld se respek het, en sommer nog meer nadat ek sien sy is net so genuine in die werklikheid as in haar blog.

Ek dink dit is die voorreg van blog. Daar is darem net mense wat baie waarde toevoeg tot my lewe, deur hulle menswees, en hulle opinies. Sit, Grapjas Didi, ek praat nie nou met jou nie!

 

In elk geval, ons het baie lekker gekuier, soos ou vriende doen. Daarna moes ek weer die pad huis toe aanpak. Spitsverkeer. Maar dis nie sleg op die motorfiets nie. Net baie adrenalienryk, om so tussen al die Prado’s en Pajeros daar in die ooste van Pretoria deur te vleg- shame, die paaie moet BAIE sleg wees in Moreletapark en Waterkloof!

Soos ‘n mens Zambesiweg nader, word dit Shitty Golfs, en Tazzes. Maar daar is baie mooi dames daar in Montana en Wonderboom! En so bly ek maar op die tolpaaie vanmiddag. Elke keer dieselfde blerrie routine met die beursie… het ek dit al vir julle vertel?

In elk geval- julle moes die pragtige Bosveld Sononder vandag gesien het! Ek was so bevoorreg! Net voor dit die Dykema’s se reuse koringlande so in die skemer, so heldergroen, met die sprinkelbesproeiing wat aan is, en so heerlike koel briesie oor die snelweg stoot- dis hoekom ons motorfiets ry!

Op die snelweg was daar weer previously disadvantaged jong manne, vir wie Tutu en Malema graag wil hê ek moet help. Maar hulle ry die nuwe BMW’s en Mercedesse teen 200 km/u. So ek kan nie aanbied om hulle te help op my ou motorfiets nie. Selfs my ou bakkie sou nie daar gehelp het nie. Wou net sê dat al kar wat ek nog ooit nuut kon koop, was ‘n Tazz. Verseker nie ‘n BMW of Merc of Golf GTi nie!  Ek mis ietsie êrens langs die pad.

Maar dit was ‘n voorreg om weer by my huisie aan te kom, in die liefdevolle arms van my vrou verwelkom te word, en die gerusstellende klanke van my vier kinders wat mekaar vermoor aan te hoor.

Dit was ‘n uitstekende dag in my lewe, Huisbesoek en goeie vriende het dit so gemaak!

Ek hoop die nag gaan ook uitstekend wees! Mooi een daar by jou.

 

En my vrinne daar by die Blou Windpomp, gooi maar nog ‘n paar kole in die konka as die nag perdalkies koud raak!

Vandag is die dag…

My facebook  status op die oomblik is:

mense, vandag kom net een keer in die hele ganse ewigheid. moet hom nou nie gaan staan en opfoeter nie!

En vandag is die eerste dag van die res van my lewe. En die stinkende hanswors sê ek moet prektis wat ek priets.  So this is it.

Ek gaan nie vandag my lessenaar skoonmaak nie. Ek het netnou my kerkkantoor gesms en gesê dat ek een van my baie opgehoopte dae verlof gaan neem. Ek het my selfoon gestel dat hy geen boodskappe neem nie.

Huisbesoek se tank is vol. Nou sit ek net en wonder: wat maak ek nou om ‘n heerlike dag te beleef, waar my gees weer by my liggaam kan uitkom. Nou net vir die drie mense wat daardie storie nog nie ken nie (die karwagte by die Blou Windpomp?) Toe David Livingstone so deur Afrika getrek het, het hy soos ‘n tipiese Engelse ontdekkingsreisiger die hele huis saamgeneem. En daarvoor het hy mos baie drakrag nodig gehad, en so het hy baie van die swart stamme se mense gehuur om sy porseleinborde en kristalglase en bottels luukse wyn, en sy drie trommels onderbroeke en vier trommels kouse… ens ens… te dra oral waar hy gaan. So nou en dan het oom Dawie bietjie haastig geraak, en die mense gedryf om dae aaneen baie ver te loop. En eendag toe gaan sit al sy portiere. En toe hy die tolk vra wat hulle so brom, toe sê hy hulle sit en wag vir hulle gees om weer hulle liggaam in te haal. Die tempo was so bietjie haastig na hulle Afrika sin.

Nou ja, ek sit ook en brom so bietjie, die tempo was so bietjie haastig vir my die afgelope ruk. Behalwe nou, grapjas Didi, dat ek mos eintlik net Sondae werk, en dan net vir ‘n uur, die helfte van die tyd nog met toe oë ook, het ek mos eintlik baie, baie tyd om op die blogs rond te lê. Behalwe nou dat die bloggery partykeer net ‘n manier is om vinnig weer perspektief te kry in die rondhardloop, en dat die afgelope drie weke elke dag meer as 10 ure se werk ingehou het, verlede naweek ingesluit.  So as grapjas Didi nie omgee nie, of as hy/sy/dit wel omgee, ek gee nie ‘n hel om nie, vat ek vandag by die OFF.

Ek is lus vir ‘n ent op Huisbesoek, dalk sal dit beter gaan as die laaste keer. Ek is lus vir Bose stad nommer 2- Gomorra. Ek vorder dalk net tot by die Kolonade, en is lus vir ‘n fliek. Dan is ek lus vir iets wat nie in ‘n franchise gemaak is om te eet nie. Spur burgers of Wacky Wednesday sal dit nou nie helemal doen vandag nie. Die enigste uitsondering is die Fruit & Veg in Zambesiweg- dis nou as ek nie na Woodlands Boulevard s’n toe verdwaal nie- The Food Connection- of wat noem hulle die goed?

Ek is lus om na nuwe motorfietse te gaan kyk. BMW.  Dalk selfs die Harley vir die oudag. Ek is lus om tweedehandse karre te kyk, dalk sien ek ‘n mooi Yaris tjieptjiep.

En ek is lus vir ‘n heerlike koffieshop.

So, geliefdes, ek sluit die preek af deur kortliks op te som:

1. Watter goeie movies wys op die oomblik?

2. Waar kan ek lekker eet in Gomorratswane?

3. Watter koffieshop beveel jy aan?

4. Kom jy saam koffie drink?

5. Enige ander voorstelle vir ‘n dag op my motorfiets wat ek mis op die oomblik?

 

Sterkte vir jou dag op kantoor!

AMEN