Wat is ‘n goeie dominee?

Mense wat 70 km uit die dorp uit woon, was vanoggend op my besoeklysie. Toe sê hulle hulle kom vanmiddag dorp toe, en sal sommer by my kom kuier. Mag sulke mense baie geseënd wees, hulle spaar my nou so R200 se diesel en twee ure se tyd, en nou kan ek vinnig met julle gesels.

Ek het gister op ou Huisbesoek gesit en dink terwyl ek terugry: Wat is ‘n goeie dominee?  Hier by WordPress het Son en Demoerin gister sulke opmerkings gemaak dat ek tog net nie die gewone soort dominee moet word nie. Dit laat my mos ernstig nadink…

En ek weet daar is vanselfsprekend baie maniere om daaroor te dink.

  • My een liewe vyand sal dadelik sê: ‘n Dooie dominee. Want ons dien glo iets wat nie bestaan nie, en steel net mense se geld.  Dis seker een antwoord… maar dit help my nou nie baie nie, ek wil nie nou al doodgaan en gaan harp speel nie. Ek sou so daarvan hou om die eerste oupa in vier geslagte te wees wat een van sy kleinkinders sien. Maar nie nou al nie, Ousus is in matriek…  En die seuns lyk (vir my naiewe oë) of hulle hul gedra met die dames. So skytbang soos hulle pa vir die teenoorgestelde geslag… behalwe nou die jongste.
  •  ‘n Vroom Dominee– ek ken baie van hulle. Ek dink dit was wat my bang gemaak het om ‘n dominee te word. Daar was altyd daardie atmosfeer as ‘n mens in ‘n pastorie ingestap het as kind. Daar was mos altyd hierdie netjiese sitkamer van die keurigste meubels, egte eikehout met geborduurde kussingtjies. En fyn porselein teekoppietjies. En Mevrou Dominee wat altyd deur ‘n ring getrek kan word. En Oudominee wat altyd ‘n das aantrek.  En in sy studeerkamer vlieg selfs die vlieë in formasievlugte… Met die hele reeks van Andrew Murray se Versamelde Werke keurig en prominent uitgestal.
  • Die ander Huisbesoek– goeie dominees hou daarvan… OuDominee het ook baie gereeld huisbesoek by almal gedoen. En dan moes ‘n mens geskrop en in jou sondagbestes wees vir die aand. En dan het hy lank gesels oor die stand van Vrystaatrugby. En ‘n onverklaarbare Psalm in die bybel net na die hooghollands gelees, en dan het ons almal plegtig gekniel vir die kwartierlange gebed, teen die duiwel se werke, die kinders wat die kerkklok met die windbuks skiet (bloos), en vir al die DOnkiefamilie se goeie sedes…
  • ‘n Goeie dominee vertel nie vuil grappe nie, hy lag nie eers daarvoor nie.
  • ‘n Goeie dominee is nie ryk nie. Hy moet altyd tweedehandse karre ouer as vyf jaar koop en ry- dit sal hom op sy knieë hou. Nuwe karre en motorfietse dui op wêreldsgesindheid, soos Demas wat die teenswoordige wêreld liefgekry het, en toe vir Paulus verlaat het…  (dit was daai Harley in die Tarsis Mall!)
  • ‘n Goeie dominee moet darem altyd baie netjies aantrek, en Mevrou ook. En daar moet porseleinkoppies en koeksisters wees as die gemeente die pastorie besoek.
  • In ‘n goeie dominee se pastorie speel die barokmusiek altyd saggies erens in die huis- veral Bach.  Wee jou as dit Wagner is (spoeg).
  • ‘n Goeie dominee glimlag altyd. Selfs by die sterfbed van iemand wat hy wel van hou, want dit moet lyk asof ‘n mens net die goeie in oorvloed ken.
  • ‘n Goeie dominee het al die antwoorde. Hy weet dat die Skepping op 31 Oktober 4000 v.C net na ontbyt begin plaasvind het. Of was dit nou 1 Januarie?  Of die eerste van Nis’an? ‘n Goeie dominee sal weet.
  • ‘n Goeie dominee het altyd ‘n goeie antwoord hoekom dit soms sleg gaan met goeie mense.
  • ‘n Goeie dominee se kinders donder nie alles op die kerkterrein op en word daar verbied nie…
  • ‘n Goeie dominee vloek nooit. Die ergste woord wat toelaatbaar is, is Mapstieks.  Vir ekstra krag kan Alla dalk bygevoeg word, soos in Allamapstieks. Solank dit net nie Allah is nie, dan het jy jare se moeilikheid.
  • ‘n Goeie dominee sit regop op die stoel, met die een been behendig gekruis oor die knie, en die handjies netjies gevou op die skoot.
  • ‘n Goeie dominee koop betyds sy aftreehuis by Kleinmond, sodat hy kan verdwyn as hy aftree en nie vir die kerk ‘n las sal wees nie.
  • ‘n Goeie dominee ken al 1700 sy lidmate se name, en selfs die uitgebreide familie van elkeen se name. Hy onthou presies wie Antie Mabel van Parow is, vir wie hy twee jaar gelede op huisbesoek gebid het oor haar spataaroperasie by Grootte Schuur hospitaal.
  • ‘n Goeie dominee ly nooit aan depressie of ander vorme van gemoedsbek*kking nie… (en vloek nie…)
  • ‘n Goeie dominee sien altyd die mooi in die lewe raak, en raak nie opgewonde in ‘n negatiewe sin oor vandag se Beeld nie.
  • ‘n Goeie dominee koop nie die Sondag of die FHM nie, en sal veral nie bladsy 3 van die Sondag waardeer nie. Om die waarheid te sê- ‘n goeie dominee weet nie wat is op bladsy drie van die Sondag nie.
  • ‘n Goeie dominee noem sy vrou “Mamma” in die openbaar…
  • ‘n Goeie dominee is nooit lus vir seks nie.  Netnou raak Mevrou Dominee se kapsel dalk deurmekaar. En seks in die Pastorie? Net vir voortplanting, broer. Prokreasie, nie rekreasie nie… !

Al hierdie goeters het gistermiddag so deur my jong onskuldige gemoed gegaan terwyl ek die pad huis toe van Gomorrah af aangedurf het. Ek ken ‘n hele paar sulke dominees…

Ek het diep nagedink oor al hierdie dinge. En terwyl ek nou deur die Prediker worstel saam met my bybelstudiegroep, het ek gewonder of dit nie maar ook ‘n gejaag na wind sou wees om ‘n goeie dominee te probeer wees nie…  Want waaragtag, ek dink nie ek kry een regmerkie op die lysie hierbo nie… Ek sal nog verder oor hierdie onderwerp moet dink…