Wat is ‘n goeie dominee?

Mense wat 70 km uit die dorp uit woon, was vanoggend op my besoeklysie. Toe sê hulle hulle kom vanmiddag dorp toe, en sal sommer by my kom kuier. Mag sulke mense baie geseënd wees, hulle spaar my nou so R200 se diesel en twee ure se tyd, en nou kan ek vinnig met julle gesels.

Ek het gister op ou Huisbesoek gesit en dink terwyl ek terugry: Wat is ‘n goeie dominee?  Hier by WordPress het Son en Demoerin gister sulke opmerkings gemaak dat ek tog net nie die gewone soort dominee moet word nie. Dit laat my mos ernstig nadink…

En ek weet daar is vanselfsprekend baie maniere om daaroor te dink.

  • My een liewe vyand sal dadelik sê: ‘n Dooie dominee. Want ons dien glo iets wat nie bestaan nie, en steel net mense se geld.  Dis seker een antwoord… maar dit help my nou nie baie nie, ek wil nie nou al doodgaan en gaan harp speel nie. Ek sou so daarvan hou om die eerste oupa in vier geslagte te wees wat een van sy kleinkinders sien. Maar nie nou al nie, Ousus is in matriek…  En die seuns lyk (vir my naiewe oë) of hulle hul gedra met die dames. So skytbang soos hulle pa vir die teenoorgestelde geslag… behalwe nou die jongste.
  •  ‘n Vroom Dominee– ek ken baie van hulle. Ek dink dit was wat my bang gemaak het om ‘n dominee te word. Daar was altyd daardie atmosfeer as ‘n mens in ‘n pastorie ingestap het as kind. Daar was mos altyd hierdie netjiese sitkamer van die keurigste meubels, egte eikehout met geborduurde kussingtjies. En fyn porselein teekoppietjies. En Mevrou Dominee wat altyd deur ‘n ring getrek kan word. En Oudominee wat altyd ‘n das aantrek.  En in sy studeerkamer vlieg selfs die vlieë in formasievlugte… Met die hele reeks van Andrew Murray se Versamelde Werke keurig en prominent uitgestal.
  • Die ander Huisbesoek– goeie dominees hou daarvan… OuDominee het ook baie gereeld huisbesoek by almal gedoen. En dan moes ‘n mens geskrop en in jou sondagbestes wees vir die aand. En dan het hy lank gesels oor die stand van Vrystaatrugby. En ‘n onverklaarbare Psalm in die bybel net na die hooghollands gelees, en dan het ons almal plegtig gekniel vir die kwartierlange gebed, teen die duiwel se werke, die kinders wat die kerkklok met die windbuks skiet (bloos), en vir al die DOnkiefamilie se goeie sedes…
  • ‘n Goeie dominee vertel nie vuil grappe nie, hy lag nie eers daarvoor nie.
  • ‘n Goeie dominee is nie ryk nie. Hy moet altyd tweedehandse karre ouer as vyf jaar koop en ry- dit sal hom op sy knieë hou. Nuwe karre en motorfietse dui op wêreldsgesindheid, soos Demas wat die teenswoordige wêreld liefgekry het, en toe vir Paulus verlaat het…  (dit was daai Harley in die Tarsis Mall!)
  • ‘n Goeie dominee moet darem altyd baie netjies aantrek, en Mevrou ook. En daar moet porseleinkoppies en koeksisters wees as die gemeente die pastorie besoek.
  • In ‘n goeie dominee se pastorie speel die barokmusiek altyd saggies erens in die huis- veral Bach.  Wee jou as dit Wagner is (spoeg).
  • ‘n Goeie dominee glimlag altyd. Selfs by die sterfbed van iemand wat hy wel van hou, want dit moet lyk asof ‘n mens net die goeie in oorvloed ken.
  • ‘n Goeie dominee het al die antwoorde. Hy weet dat die Skepping op 31 Oktober 4000 v.C net na ontbyt begin plaasvind het. Of was dit nou 1 Januarie?  Of die eerste van Nis’an? ‘n Goeie dominee sal weet.
  • ‘n Goeie dominee het altyd ‘n goeie antwoord hoekom dit soms sleg gaan met goeie mense.
  • ‘n Goeie dominee se kinders donder nie alles op die kerkterrein op en word daar verbied nie…
  • ‘n Goeie dominee vloek nooit. Die ergste woord wat toelaatbaar is, is Mapstieks.  Vir ekstra krag kan Alla dalk bygevoeg word, soos in Allamapstieks. Solank dit net nie Allah is nie, dan het jy jare se moeilikheid.
  • ‘n Goeie dominee sit regop op die stoel, met die een been behendig gekruis oor die knie, en die handjies netjies gevou op die skoot.
  • ‘n Goeie dominee koop betyds sy aftreehuis by Kleinmond, sodat hy kan verdwyn as hy aftree en nie vir die kerk ‘n las sal wees nie.
  • ‘n Goeie dominee ken al 1700 sy lidmate se name, en selfs die uitgebreide familie van elkeen se name. Hy onthou presies wie Antie Mabel van Parow is, vir wie hy twee jaar gelede op huisbesoek gebid het oor haar spataaroperasie by Grootte Schuur hospitaal.
  • ‘n Goeie dominee ly nooit aan depressie of ander vorme van gemoedsbek*kking nie… (en vloek nie…)
  • ‘n Goeie dominee sien altyd die mooi in die lewe raak, en raak nie opgewonde in ‘n negatiewe sin oor vandag se Beeld nie.
  • ‘n Goeie dominee koop nie die Sondag of die FHM nie, en sal veral nie bladsy 3 van die Sondag waardeer nie. Om die waarheid te sê- ‘n goeie dominee weet nie wat is op bladsy drie van die Sondag nie.
  • ‘n Goeie dominee noem sy vrou “Mamma” in die openbaar…
  • ‘n Goeie dominee is nooit lus vir seks nie.  Netnou raak Mevrou Dominee se kapsel dalk deurmekaar. En seks in die Pastorie? Net vir voortplanting, broer. Prokreasie, nie rekreasie nie… !

Al hierdie goeters het gistermiddag so deur my jong onskuldige gemoed gegaan terwyl ek die pad huis toe van Gomorrah af aangedurf het. Ek ken ‘n hele paar sulke dominees…

Ek het diep nagedink oor al hierdie dinge. En terwyl ek nou deur die Prediker worstel saam met my bybelstudiegroep, het ek gewonder of dit nie maar ook ‘n gejaag na wind sou wees om ‘n goeie dominee te probeer wees nie…  Want waaragtag, ek dink nie ek kry een regmerkie op die lysie hierbo nie… Ek sal nog verder oor hierdie onderwerp moet dink…

21 thoughts on “Wat is ‘n goeie dominee?

  1. Weet jy, vervang Goeie Dominee in elke sin met Die Ideale Mens.
    Geen mens is so nie, waarom moet dominees so wees? Niemand is ideaal nie

    Glo my, mense is maar judgemental oor alles en almal, nie net oor dominees nie. As hulle sien dit werk nie om jou te kap op een aspek van jou menswees nie, dan vat hulle sommer jou huis se kleur…

        • Hierdie is eintlik in ‘n baie ligte luim geskryf… maar ek dink ‘n mens beleef deesdae ‘n identiteitskrisis oor die “dominee”- titel. Mense hou nie baie van dominees nie, en druk ons almal saam vinnig in ‘n kassie. Ek dink my punt is juis dat ek nie so gemaklik in daardie kassie inpas nie. Ek dink redelik baie oor identiteit op die oomblik. en my gevolgtrekking is eintlik maar net om myself te wees- dis tog al wat ek het om ander mense te bied.

            • Ek dink ek is maar net redelik moeg vir die stereotipering… omdat ek ‘n dominee is, is ek sus en so… ag, en ek hoop hierdie skrywe sal sommige mense ook laat dink wat hulle presies dink as hulle “dominee” hoor… En daarmee saam moet ek sê- party van die kollegas is presies soos hierdie stukkie beskryf…

  2. In die woorde van ‘n dominee wat ek nogal respek voor het, en ek haal verbatim aan: “Hou op sorry sê, en begin jou lewe geniet, met al sy ups en downs…”
    Dalk moet ek jou aan die ou loop voorstel, want ek dink hy is ‘n donners…sorrie dominee…verdeksels oordentlike voorbeeld van ‘n human being

  3. Ag genade, enige iemand wat al daai goed van ‘n dominee verwag, soek ‘n wonderwerk, nie ‘n dominee van vlees en bloed nie!!! Jy is eerstens MENS, en dan DOMINEE.

    Bileam, soos die Dr Hook liedjie sê: “I’ve got a couple more years on you, babe,that’s all. I’ve had more chances to fly and more places to fall. And it ain’t that I’m wiser – it’s only that I’ve spent more time with my back to the wall.”

    SO… hier is vir jou bietjie raad van die effense ouer, effense wyser Son – wees jy net wie jy is, want slegs dan is jy die beste mens wat jy kan wees. Iewers in die Bybel staan dat as jy een verlore skaap huis toe bring, jy beter gedoen het as om die 99 nie-verlore skape op te pas. Wel, ek dink deur NET hier – op die blogs – die dominee te wees wat jy is (en dis NIE ‘n waardige dominee nie, maar ‘n F&^*%N GOEIE dominee, het jy al meer as een verlore skaap laat omdraai.

    Tell Didi to put THAT in his pie and smoke it😈

  4. Ons like jou nes jy is, moet asseblief nie ‘n “goeie” dominEE word nie, dan sal ons jou moet begin ignoreer . . .

    DIe tannies van die gemeente stik seker in hulle tee en koeksisters as jy op Huisbesoek verby gaan, donker Afrikaans praat en weet wat is op bl 3 van die Sondag. En Hooglied pleeg. Shame.

    Hiehiehie . . .

    “Those that matter won’t mind, and those that mind don’t matter”

    • Daardie aanhaling van jou maak my dag! Want op litnet is daar alweer een van die Legio persoonlikhede wat gisteraand uitgepop het en sommer net my heel moerig gemaak het. Ek is nog so omgekrap ek het vir ‘n slag nie ‘n idee wat om te sê op my blog nie. Ek het gedink aan ‘n opvolg op hierdie een, maar om een of ander rede sien bitter min mense raak wat eintlik daar staan.

      Is dit nou nog 2 dae voor die groot vakansie? Of is dit vandag? Jy en Jaco moet dit baie geniet!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s