Respek vir ‘n ongelooflike mens!

Ek het gistermiddag weer gaan kuier by ons plaaslike ouetehuis.  In die ouetehuis is ‘n dame wat nou al in die negentig is, en nie meer goed kan sien nie. Soos in byna niks. Maar vandat ek sewentien jaar gelede as ‘n jong, nat agter die ore domineetjie daar ingestap het, het hierdie dame my regterhand geword in die ouetehuis bediening. Sy weet op ‘n baie positiewe manier hoe dit met elkeen van die mense daar gaan, en as enige een so effens deur diep water gaan, dan skakel sy my en bring dit onder my aandag. Vir haar het ek die grootste dankbaarheid en respek. Maar hierdie vertelling gaan vandag nie oor haar nie.

Gister middag stel sy my aan ‘n nuwe intrekker voor. Die dame is nog jongerig, so net verby sestig. En ‘n mens kan duidelik sien dat sy ‘n moeilike lewe gehad het. Tannie W stel ons aan mekaar voor, en toe gaan sy aan met haar dag se beplanning.

Ons nuwe intrekker se liggaam is redelik misvormd. Sy is gebore met Spina Bifida (te lui om die regte spelling te google, hoop dis naastenby reg…)  Dit is ‘n toestand waarin iemand met ‘n oop rugmurg gebore word.  Hierdie toestand het ook haar bene erg aangetas, ek is nie seker of sy ooit kon loop nie. Sy het amper sestig jaar oud geword voordat daar ingegryp moes word met twee sakkies vir die normale liggaamsafskeidings. Wat verseker een van die meer traumatiese gebeure in ‘n mens se lewe is. Sy was baie gelukkig getroud, en haar man het ‘n beensiekte gehad wat ook sy gesondheid en lewenskwaliteit ingeperk het. Maar dié twee mense het mekaar gevind in die lewe, en ‘n wonderlike lewe saam gehad. Liefde oorwin mos regtig alles!  Ongelukkig kon hulle nooit kinders hê nie.

Wat in die afgelope twee jaar met hierdie dame gebeur het, meet verskriklik hoog op die traumaskaal wat ons in Sielkunde geleer het. Dit was eerste daardie twee sakkies om haar lewe te red.  En toe, einde verlede jaar, is haar geliefde man oorlede. En sy bly alleen agter in die groot huis, in ‘n gevaarlike Vrystaatse dorp.  En dit het haar genoodsaak om te trek, na waar haar broer in ons dorp woon. Na die Ouetehuis toe vir goeie mediese versorging. Maar net voor sy so ruk terug getrek het, het sy uit haar rolstoel geval in die Vrystaatse dorp. In die val het sy haar heup gebreek.  En omdat sy alreeds ‘n pen in daardie been se knie het, kon ‘n heupvervanging nie gedoen word nie.  Die groot hartseer is- dis die sy waarop sy moet slaap.  Aan die ander kant is die sakkies…

EK ken baie mense, wat met een van hierdie beproewings heeltemal sou klaarmaak met die lewe. Daar is enkele mense in ons gemeente wat ek wye draaie om stap. Want sommige van hulle sal in die supermark vir ure aanmekaar aanhou kla oor die kleinste probleempie, en jou nie die geleentheid gun om te ontsnap uit hulle tentakels nie.

Hoe is hierdie nuwe dame in die gemeente se ingesteldheid? Weet julle- ek was so aangenaam verras vir ‘n slag!  Daar was nie ‘n teken van die kleinste stukkie negatiwiteit by haar te bespeur nie. Sy het pyn, ja. Maar sy lewe nog. En sy is nou in ‘n nuwe bedieningsveld, waar sy nog so baie kan bied vir die mense rondom haar. Sy wil so graag uitreik na die mense wat so vasgekluister sit in hulle kamers. Nog lees vir  dié wat nie meer kan nie.

Ek kon nie verdere besoeke doen daarna nie, ek gaan na die rugby openingseremonie op my afdag vandag maar verder daar kuier. Ek was oorweldig! Hier is iemand, vir wie net absoluut niks reg loop in my oë nie. En sy is dankbaar vir haar lewe, en sy sien bedieningsgeleenthede raak, en sy beleef die Here se liefde steeds in oorvloed…  Ek was baie diep geraak deur haar menswees.

Sy lewe, en sy wil ‘n verskil maak. En ek ken baie mense wat hipergesond is, en baie meer geleenthede het, en wat niks daarmee doen nie, en kla oor alles.

Ek dink gister se besoek het baie meer vir my beteken as vir haar!  Respek!

5 thoughts on “Respek vir ‘n ongelooflike mens!

  1. Iemand (jammer ek het vergeet wie) het gister iets gesê van die gawe om ‘n lessie te sien vir wat dit is. Ek sal dié een neem dankie.

  2. BAie dankie vir julle mooi kommentaar hier by WordPress, Hierdie enetjie kon ek nie op litnet sit agv ‘n klomp baie snaakse trolle daar nie. Dis lekker om soms net bietjie dieper dinge hier met julle te deel…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s