Was Sondag nie bedoel om ‘n rusdag vir almal, ook die naaste se esel, te wees nie?

Vandag was ‘n besondere dag in my lewe.

Ek het vir myself ‘n uitdaging gestel, om vir ‘n slag ‘n hele oggenddiens in ‘n halfuur in te pas.  Maar my liewe kollega het so effentjies ingegryp. Eers het hy gaan staan en wysig aan my lys van voorsangliedere. En toe het hy nog ‘n lied na die gebed ook ingesit. Wat gemaak het dat ek eers kwart oor nege vanoggend kon begin preek.  En tog het ek half tien klaargemaak, en die gemeente het die preek ook nogal geniet. Met ‘n Powerpoint aanbieding daarby het ek my hart uitgepreek oor die lewe tot eer van God, soos in 1 Korintiërs 10 verwoord. Maar toe vat die kollekte en afkondigings nog twintig minute…(kollega!!!)   Net voor ons verdaag om ons rugbyklere te gaan aantrek, verras kollega my weer ‘n keer. Ek het mos gesê ek het ‘n reeks wat ek in die aanddienste wil volg. Onthou ek dat ek vanaand ook preek, dat hy by die tienerdiens kan gaan help orde skep, vra kollega so terloops. Oeps. Groot Oeps. Bliks… nee. Ek het vergeet!

Half elf het ons by goeie vriende plek ingeneem, met onse groen en goud truitjies aan. Ons het deur die wedstryd geworstel, en ek het so ‘n stille beklemming in my hart ervaar, en my maag het so gedraai soos wanneer ‘n mens skoolhoof toe moet gaan met ongedane huiswerk. Ek kon nog nie besluit of dit die preek is wat ek nog nie het nie, en of dit die Springbokke se gebrek aan prestasie op die veld is nie.  Enkele van my helde, soos John Smit, en Pierre Spies, en Fourie du Preez  het my vandag teleur gestel.

Halftyd het ons die vure brand gemaak, en toe maar die res van die speeltyd deurgeworstel. Ek het twee basaarsteaks, en ‘n stuk wors op die kole gegooi, en lekker saam met vriende gekuier tot twee-uur. Maar weet julle hoe voel dit as jy moet PREEK en jy het nie ‘n preek nie, en die horlosie katrol sesuur ongenadiglik nader?

Ek was seker nie ‘n goeie vriend vir my vriende vandag nie. Ek was maar stil, terwyl die hamstertjie ywerig daar bo rondgehol het op die gedagtemeul.  Twee-uur kon ek nie meer hou nie, geliefde moes my maar huis toe vat, om agter my laptop te gaan sit en dink.

Gelukkig het ek presies geweet wat ek wou doen vanaand. Ongelukkig maak ‘n reeks dit soms moeiliker, want as jy afgeskop het, moet jy klaarmaak. Ek is tans besig met (gasp) ‘n Franciskaanse Rooms Katolieke Priester, Richard Rohr, se uitstekende boek: Adam’s Return.

Hierdie boek is eintlik geskryf  as ‘n nadenke oor manlike inisiasie in geloofsgemeenskappe oor die wêreld heen. Die mikpunt is om manne te laat dink oor die basiese uitdagings in elke lewe, wat ons elkeen moet oorwin om ‘n sinvolle lewe te kan lewe.  Ek pas sy vyf beginsels so effens aan om ook die dames te betrek. Die eerste gesprek het gegaan oor die stelling: Die Lewe is moeilik! Vanaand s’n  moes gaan oor: “Jy is nie belangrik nie…”  Al vyf stellings klink uiters negatief in die eerste hoor, maar dit is juis dit- die uitdagings wat ons moet oorwin in ons lewens. Daar is anderkant hierdie stellings sulke wonderlike beloftes van oorwinning opgeteken.

Maar ek was baie moeg na die middagete  (net een Castle Light gedrink…)  Ek het Prediker 1 se les van die Bybelstudie gemeng met RIchard Rohr se beginsel 2, en ‘n splinternuwe preek gebou tussen half drie en vyfuur, toe vinnig in die stort gespring, en met bewende broek my preek gaan preek. My vrou sê darem dat dit goed gegaan het.

Die ander hartseer is net dat al die werk vir die aanddiens vanaand vir minder as 20 mense gebeur het. En tog gebeur daar maar elke keer iets in my eie geestelike lewe as ek preek. Dis eers wanneer ‘n mens gee, wat ‘n mens ontvang.

Om twee keer te preek op een dag, is vir my emosioneel dreinerend. Ek het my middagslapie gemis.  En more oggend sesuur beplan ek om my fietsryloopbaan weer te hervat na die winterreses.   Ek gaan hierdie week moeg binnegaan.

En ek dog die Tien gebooie sê op die sabbat mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou vrou, of die vreemdeling by jou, jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou os of jou esel nie…

Vanaand is ek moeg, maar tevrede…

Ek hoop daar is nog ‘n goeie fliek op MNet vanaand!

 

Richard Rohr se 5 Lewensuitdagings op soek na ‘n Sinvolle lewe:

1. Die lewe is Moeilik!

2.  Jy is nie belangrik nie.

3. Die lewe draai nie om jou nie…

4. Jy is nie in beheer nie…

5. Jy gaan eendag doodgaan…

9 thoughts on “Was Sondag nie bedoel om ‘n rusdag vir almal, ook die naaste se esel, te wees nie?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s