Om saam met Son te droom…

Son het ons drie selfsugtige drome gegee, elk met drie onderafdelings.  As ek nou alles kon kry wat ek graag wou hê, sou dit so lyk:

  1.  My eie huisie by die see…
  •  Selfstandige huisie, met ‘n boorgat en sonkrag en groentetuin
  •  In sy motorhuisie staan ‘n ou Beach buggy en ‘n nuwe Harley
  • Die huisie is groot genoeg vir baie boeke en Cd’s, en ‘n dubbelbed vir my en my vrou…

2. Ek droom van ‘n toekoms vir al 4 my kinders…

  • In besonder dat my matriekmerrie redelik binnekort ‘n opening kry êrens om grafiese ontwerp te studeer…
  •  dat ek al vier op ‘n manier kan help om wel verder te studeer in wat ook al hulle rigtings is…
  •  dat elkeen van hulle ‘n werk sal kry waarmee hulle hul daaglikse brood kan verdien…

3. Soos Miss Congeniality droom ek oor World Peace:

  •  Ek droom van ‘n land waarin niemand meer skuldig hoef te voel oor die verlede nie.
  •  Ek droom van ‘n land waarin elkeen van ons kinders ‘n gelyke kans sal hê om te werk en te leef.
  •  Ek droom van ‘n einde aan misdaad, veral teen vroue en kinders!

So die genie wil seker weet: waar moet die Huisie staan?  Tietiesbaai. Erens ongerep…  Gansbaai? Kleinmond?  Al wat ek vra is see-uitsig en nie te veel Transvalers nie…

huisbesoek stories… (sensitiewe lesers- los eerder…)

Ek het gisteraand en vanoggend deur 10 huisbesoeke gewerk. Ekskuus, hierdie is nou nie ‘n motorfietsstorie nie…

Een van die groot voorregte wat ek in my werk het, is om saam met mense stukkies van hulle lewenspad te stap. Dis vir my lekker as ek by ‘n kraamsaal kan inval, en ‘n nuwe klein mensie kan verwelkom saam met sy of haar trotse ouers.

Dis is verder lekker om met ‘n paartjie, met sterretjies in hulle oë te gesels oor hulle huweliksdag wat naderkom, en hoe ons saam gaan werk om dit ‘n onvergeetlike ervaring te maak. Die Donkie kan mooi troues hou!

Maar soms is ons werk ook baie seer. Ons is die mense wat gebel word nadat die dokters nie meer weet nie. Ons stap saam met mense die laaste reis van hulle lewenspad. Ons sit dikwels laat in die nag vir ure langs ‘n sterwende persoon se bed, saam met sy geliefdes. Ons is daar wanneer die laaste afskeid daar is. Ons troos dié wat agterbly.

Dis ‘n onbeskryflike voorreg, maar dit eis ook soms ‘n helse emosionele prys van ons as pastor.  Ek kan nie net mense se seer wegskuif as ek by hulle wegry nie. Ek kan nie net dit êrens in ‘n leêrtjie bêre, en ‘n rekening uitskryf nie.  Ek sou ook nie wou nie…

Wanneer ek wel die dag by huisbesoek (nie my bike nie…) uitkom, dan hoor ‘n mens ook die interessantste en soms baie seer stukke van menswees. Daar is sekere goeters wat ons mos net nooit sal verstaan nie.

Ek het vanoggend huisbesoek gedoen by ‘n nuwe dame in ons gemeente- ‘n ouma. Die storie wat sy my vertel het, gaan vanaand saam in die bed wakker lê- nie vir sensitiewe lesers verder nie.

Haar dogter is in die Polisie. En die Polisie het ‘n groot opleidingsplaas tussen Vaalwater en Thabazimbi- Verdracht. Hier word die Taakmag ook opgelei, en daar is ‘n reuse dam op die plek, wat vir duik en bootopleiding gebruik word. Die dame self het baie naby aan Verdracht geboer, en sy het oor ‘n skoolvakansie in 1995 ‘n klompie van haar kleinkinders op die plaas gehad. Een van haar kinders was in opleiding by Verdracht vir waterverwante werk, en sy en die kleinkinders het ook soontoe gegaan, om te kyk hoe die opleiding gedoen word.

Die boot waarmee gewerk word, is deur ‘n Nyala voertuig in en uit die dam gesleep op ‘n sleepwa.  Die kinders was nog klein, en op ‘n stadium het ‘n nefie en niggietjie, sonder dat iemand dit sien, in die Nyala geklim (ek verstaan dit as ‘n kleiner weergawe van die Cassper- landmynbestand, koeëlvas en redelik swaar… Die volgende wat die mense op die kant hoor is ‘n hidroliese sisgeluid, die seuntjie het seker agter die stuurwiel ingeklim soos ons almal mos maar gemaak het in die lewe, en per ongeluk die handrem gestamp, wat losgegaan het. Die Nyala is met sy gewig en die sleepwa agteruit getrek, reg die dam binne. En met die ingaan het die deure toegeslaan…  Dis eintlik te hartseer om verder te skryf…

Ek het ‘n ander jong man van die gemeente vanoggend weer raakgeloop. Hy en sy broer en hulle meisies sit nog so en gesels, toe sak sy pragtige blonde meisie skielik ineen, en hou op asem haal. Hy begin dadelik met mond tot mond asemhaling, en sy broer bel die ambulans. Vir ‘n slag is die ambulans baie vinnig op die toneel, en die mond tot mond asemhaling hou aan, maar sy kom nie by en begin self asemhaal nie… Hulle is later by die hospitaal se ongevalle, en die mediese personeeel hou aan, tot ‘n suster haar kop skud en met oë vol trane sê dit help nie meer om te probeer nie. Dis verby… Maar die jong Zuma doktertjie hou nog so bietjie aan. En skielik is daar ‘n blip op die hartmonitor… en nog een. En kort daarna haal sy asem, en is daar weer ‘n hartklop. Die jong doktertjie kom uit na waar die hele familie staan en bid. En hy wys ‘n duim, en dan net boontoe. ‘n Wonderwerk het gebeur!  Sy lewe, en sy het nie breinskade nie…  Ons hoor mooi stories ook.

Ek het ook al gesels met ‘n oorlewende van die Westdene busramp in ons gemeente.

Sommige stories wat ons hoor, wil net nooit weer uit die kop uit gaan nie…