Saterdag se wonder: wie preek more oggend?

Hierdie was ‘n uiters deurmekaar week in my jong onskuldige gemoed! Eers die “goeie nuus” dat my dogter nie meer na die aartsvyande toe kan gaan nie- Pukke :-(  Toe die baie goeie nuus dat sy gekeur is vir ‘n privaat skool met internasionale akkreditasie🙂 Toe die nuus dat dit R20 000 meer kos as die Puk per jaar :-(  En gister het Ouboet vir aanlegtoetse in Pretoria gegaan-  van sewe tot vyf! Nou moet ek alweer Donderdag in Gomorrah wees om die uitslae van die aanlegtoets aan te hoor… ons vertrou daar is meer as karwag by Absa op sy toekomshorison…  So ry ons toe mos nou gister na vyf uit Rietondale uit weg, op die pad na die Noorde. En  julle Kapenaars- die N1 noord van Pretoria is nie pret op ‘n Vrydagmiddag nie…

Ek kon vanoggend nie laat slaap nie. Sewe uur vanoggend het die bouers ingeklok om vir Ouboet ‘n nuwe deur van die buitekamer af in te breek in die huis in. Wat ‘n heerlike gemors! Ons het gisteraand eers die televisiekamer heeltemal ontruim na ons wedervaringe op die N1… En Ouboet se kamer aan die ander kant van die muur…  As een deur so traumaties is, weet ek nie hoe oorleef mense ‘n groter aanbouprojekkie nie…

Ek wou nog vertel… my kop is deurmekaar van al die stof… verskoon maar… gisteraand was in my drome ook maar baie deurmekaar. Ek het vir my Settlers gekoop, ‘n ou strategie  speletjie vir die rekenaar vir R59.00.  En tot middernag op die laptop gelê en speel, soos van ouds. En toe ek uiteindelik hier rondom eenuur gaan slaap het, het ek die weirdste drome gehad. Goeters soos ek wat op die Gautrein ry, maar die ding werk soos die Anaconda by Gold Reef City…  Dié wat al op die Gautrein was, is hy dalk soos ‘n rollercoaster? Vanoggend toe my wekker half sewe afgaan, toe draai my kop nog steeds…

So geniet ek mos ook die rugby soos ‘n goeie mens op ‘n Saterdagoggend betaam, die helse geraas net lanksaan ten spyt. Halftien ontmoet ek ‘n paartjie van Randburg wat ek die 1e Oktober trou op ‘n Lodge- dis darem ‘n baie lekker deel van my lewe daardie!  Gesels met hulle oor wat voorlê, die droom van die bruid vir hierdie dag, die toekomspad… dis darem so lekker as mense se ogies nog so blink vir mekaar!

Ek het ook die Iere se wedstryd teen Australië baie geniet. En die oorwinning baie spesiaal gevind. En toe koek geëet. Want nommer 3 verjaar vandag- 13 jaar oud…  Netnou gaan ons woes vleis braai…

By al die aktiwiteit onthou ek toe mos vaagweg: vandag is Saterdag, wat beteken more is Sondag…  En dinge in ons gemeente is heel deurmekaar hierdie naweek. Ons sou ‘n Sendingweek gehou het. Maar toe skuif die kerk se Lentekonferensie vroeër. Toe kry ons nie een van die sendelinge wat ons gesoek het, in die hande nie, en besluit ons gaan self preek. En in my dagboek staan nog: besoekende leraar…  Maar ons kry nie ‘n besoekende leraar nie…  Ek probeer my kollega bel, om uit te vind: wie preek more oggend? Maar kollega kyk ook rugby, en het wyslik sy selfoon op “silent” gesit!

Uiteindelik kon ek uitvind: hy preek more oggend. Die verligting is groot…  Ek is nie vandag in staat of in ‘n bui vir preek maak nie. Ek wil nou saam met my seun sy verjaardag gaan vier. En vir more aand het ek ‘n antwoord as dit my beurt is- die reeks van Richard Rohr sal voortgaan…

Soms is ‘n mens se lewe net so deksels deurmekaar met al hierdie eksterne faktore buite ons beheer. Soms ervaar ek soos een wyse kollega in ‘n digbundel geskryf het (soos ek dit onthou, nie verbatim nie, was dit Isak de Villiers…)  “More wil die gemeente hoor: So spreek die Heer… en ek sit vanaand en druk gaatjies op ‘n skoon papier…”

Geniet jou Saterdag en die verdere rugby!

7 thoughts on “Saterdag se wonder: wie preek more oggend?

  1. En dan kom ek nog agter die matriekmerrie se scooter se dubbelstaander se skroef het uitgeval, en sy het dit met ‘n dekselse cable tie en binddraad vasgemaak en net aangegaan sonder om my te sê…
    En in die scooter, was daar ‘n staander, dis die staander in die scooter, en die groen gras groei daarom…

  2. Eerstens baie geluk met jou seun se verjaarsdag, nou is hy amptelik ‘n tiener. Sterkte😆

    Ek het deesdae ‘n nuwe verslawing – SIMS speletjie op Facebook. Ek dink ek wil die rekenaar een gaan koop. Ai, en ek het myself met soveel moeite gespeen van Farmville.

    Lekker verjaarsdag hou en slaap maar bietjie laat more oggend, ek is seker dit sal nie sonde wees nie😉

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s