Die sterre in haar oë…

Die een ding wat ek baie geniet, is om mense te trou. En vir die volgende drie Saterdae is dit elke Saterdag se storie.

More se bruid ken ek vandat sy ‘n klein dogtertjie was.  Sy het ‘n pragtige vrou geword. Sy en haar geliefde loop nou al sewe jaar ‘n pad saam, en more is die dag…

Gisteraand toe ek van die Engeltjiefabriek af terugkom, het ons ‘n afspraak, om so vir oulaas oor die groot dag te gaan.

Daardie prentjie is pragtig- die troue is op ‘n Lodge buite ons dorp. En dit is ‘n buitelug troue. Maar die wolke pak saam…

Sy gaan aan die arm van haar pa in die gangetjie afgestap kom. Sy gaan bitterlik mooi lyk in haar bruidsrok, met haar swart hare, en haar oë gaan nog meer blink as gisteraand!  Voor by my gaan die bruidegom senuweeagtig staan en wag.  Hy gaan dalk sy oë nie glo dat sy wel opgedaag het vir hierdie ewige afspraak nie…  Hy gaan sy oë nie van haar kan afhou nie, soveel mooi wat na sy kant toe aangestap kom. Ek hoop hy gaan onthou om nuwe skoonpa se hand te skud, en dankie te sê vir die dogter, waarvoor Pa so bitterlik lief is.

Dan gaan hulle voor my kom staan. En ek gaan saam met hulle dink oor Geloof, en Hoop en Liefde. En die grootste van hierdie is die Liefde…

Hulle gaan in mekaar se oë kyk. Hy gaan vir haar belowe: “Voor God en ons familie, beloof ek liefde en trou, vir altyd, en in alle omstandighede, aan jou, my bruid…”  Sy stem gaan vashaak, die woorde wat hy gaan sê, is so ontsaglik groot… vir altyd… en in alle omstandighede…

Daarna gaan sy na hom kyk, en dieselfde aan hom belowe… “Voor God en ons familie, beloof ek liefde en trou, vir altyd, en in alle omstandighede, aan jou, my bruidegom…”   En daar gaan verseker ‘n traan oor haar wang rol…

Ek gaan vir hulle vra om mekaar die regterhand te gee. En daarmee sluit hulle die kontrak- hier is my hand, ek stap die res van my lewe saam met jou die pad…  Hulle gaan ringe aansteek wat dit vir die wêreld gaan sê: ek is verbind aan hom/ haar… Hulle twee gaan saam een kers aansteek, twee lewenspaaie word een. En dan gaan Josh Groban vir hulle sing: “You raise me up…” terwyl hulle diep in mekaar se oë kyk, mekaar nog ‘n soen gee, en hierdie oomblik vir altyd diep in die hart se kosbaarste plek wegbêre.  En ons gaan die diens afsluit met ek wat die seën van die Here oor hulle toebid, vir sy beskerming, sy Vaderliefde wat sorg, vir sy vreugde en vrede om in oorvloed in hulle lewens beskikbaar te wees…

Ek sien so uit na more!  Dis so lekker om ‘n bruid en ‘n bruidegom te sien wat werklik lief is vir mekaar, en die sterre in haar oë te sien as sy na hom kyk… Ek wens vir Z en M ‘n wonderlike lewenspad saam toe!

Ek sit net ook en wonder. Party mense beleef hierdie as een van die beste dinge wat ooit met hulle gebeur het. Van hierdie oomblik af groei hulle saam, al nader aan mekaar. Hulle dien mekaar met hulle menswees. Hulle eet die sakke sout saam op. Hulle lag saam, en soms huil hulle saam. Hulle baklei dat die vere waai, en dan maak hulle op met die heerlikste potjie liefdemaak daarna…  Hulle is mense saam op reis, en die verhouding maak hulle lewens beter as wat hulle ooit op hulle eie die lewe sou beleef…

Ek wens so dit kon waar wees van almal. EK hoop so dit is waar vir more se paartjie…

Dit breek my hart om soms met paartjies in my studeerkamer te sit, vir wie die sterre in haar oë weggeraak het…

Hulle is nie meer so mooi vir mekaar nie. Hulle begeer nie meer om in die ander een se arms te wees nie, soms gril hulle hulle dood vir die eens geliefde lyf…  Soms is iemand anderste se lyf baie meer pret as tuis… die steak by die huis is vervang met hamburgers en slap tjips by die sekretaresse… of die gym instrukteur wat so mooi kan luister na haar storie…

Soms het die passie verdwyn. Die lewe het ‘n alledaagse sleur geword… te lanklaas het hy vir haar ‘n bos blomme gebring en vir haar gesê hoe kosbaar haar liefde vir hom is. Te lanklaas het sy die kinders by maatjies laat slaap, en ‘n bottel vonkelwyn en geurige kerse in die bad met hom gedeel…

Ek is steeds ‘n sucker vir die liefde. Ek glo steeds dat dit die wonderlikste ervaring van die menslike bestaan is, dat daar iemand is om na uit te sien as ek tuis kom.  Ek is so bly oor daardie enkele voorbeelde van tagtig en negentigjarige egpare in my gemeente, wie se oë steeds sterretjies blink as hulle na mekaar kyk. Ek wonder net hoekom sien ‘n mens dit so min? Is dit net te veel harde werk?

More se bruid, mag jou oë nog net so blink as jy eendag negentig is, en mag more een van jou kosbaarste herinnerings ooit wees! More se bruidegom, sy is baie, baie spesiaal, moet haar nie gaan staan en opdonder nie!

7 thoughts on “Die sterre in haar oë…

  1. Ek het eendag iewers ‘n hele relaas geskryf dat ‘n mens ‘n troue eintlik agteruit moet vier. Ek kan nie meer onthou waar nie. 😳 Dit het basies daarop neergekom dat ‘n mens nie ‘n nuwe troue durf vier nie. Dit is ‘n seremonie en partytjie, maar beteken nie veel nie. Doen dit eerder so stil as moontlik en verdien dan ‘n groot partytjie later.

    • Dit klink nogals na ‘n plan. ‘n Kleinhuisie vol geld word in die onthaal, ens geprop, en miskien na net 1 jaar is jou liefie weg en jy betaal nogsteeds aan daai lening wat almal op geparty het. Hou na 1 jaar ‘n braai, 2 jaar nooi jy vriende saam die braai, 3 jaar dalk ‘n naweek weg, op jaar 10 ‘n moerse party.🙂

  2. There is no forever after. Daar is uitsonderings, soos jy en Pastoriemoeder en die Wosonki’s. Maar ek weet nie van veel meer nie. Is ek sinies? Moontlik. Ek glo in die liefde, definitief. Ek glo net nie meer in mense se woord nie. Verwag niks, dan word jy nie teleurgestel nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s