Dankbaar vir alles hier…

So loop ek my ou vriend Ysbeertjie weer vanoggend raak op litnet.  Hy is sommer weer bly om my te sien, en verseker my weer dat hy my blog baie geniet. Hy is net so effens ontsteld, want al wat hy by my raaklees, is net seks.  Toe het ek nou baie diep nagedink oor sy woorde.  Ek het besluit: my vriend die Ysbeer is reg… Ek is BAIE dankbaar oor seks.  Maar ek dink darem dat ek soms, net soms, dalk oor iets anders as seks ook skryf in my blog.

Ysbeer het my weer herinner aan die ou wat vir aanlegtoetse gegaan het. Die een wat die psigometriese toetse geneem het, wys vir hom sekere sketse (Roschach toets?)  Eers wys hy vir hom ‘n sirkel. Die ou sê dadelik dit herinner hom aan seks.  Die volgende is ‘n vierkant. Weer sê die kliënt dit herinner hom aan seks.  Die volgende skets is ‘n driehoek. ‘n Derde keer is die indrukke daarvan seks. Die psigometris is moedeloos, en vra die kliënt waarom dink hy die hele tyd net aan seks. “Nee”, sê die kliënt, “dis nie ek nie. Dis jy wat vir my sulke suggestiewe prentjies wys!”

As julle net seks in my blogs raaklees, is ek regtig jammer. Daar is een of twee ander dinge waaroor ek ook graag skryf. My motorfiets, om te spog met my luukse lewensstyl. Ek skryf nogal oor mense se situasies wat ek in my werk raakloop ook, en wat my diep aanraak. So nou en dan is my blog ‘n lekker plek om net te verwoord wat my diep geraak het, dat dit net uit my eie gestel ook kan uitkom…

Waaroor is ek diep dankbaar, en sou ek graag in my blog oor wou skryf?

1. Seks.  As dit nie vir seks was nie, was nie een van ons hier nie…  Dit is ook ‘n wonderlike gawe van die Here (sê die boek Hooglied, wat wel in my Bybel opgeteken is…) Dit is iets wat gegee is om geniet te word, volgens my oortuiging in ‘n vaste verhouding, waarin ‘n mens liggaam, siel en gees aan iemand anderste verbind word.  My oortuiging daarvan is dat dit in die huwelik hoort, en soms groot moeilikheid daarbuite maak…  Ek gun elke mens ‘n wonderlike sekslewe, want ek dink dit is deel van ‘n gesonde liggaamsbeeld…

2. Die Vrou: – is vir my die kroon van die Skepping. Ek is baie dankbaar oor vroue in my lewe. Ek dink die Here het die vrou pragtig gemaak, haar liggaam is een van die mooiste kunswerke in hierdie wêreld…  Ek kan ‘n mooi vrou waardeer, ek begeer net my eie vrou.

3. Verhoudinge: My gesin is vir my uiters kosbare mense, al verstaan ek nie elkeen elke oomblik nie. Eintlik verstaan ek byna nooit enige een nie… Maar dis lekker om deel van my gesin te wees, en te sien hoe elkeen ontwikkel in die lewe.  As gevolg van trolle se simpel kommentaar skryf ek nie altyd so gereeld oor hulle nie, maar ek is baie dankbaar vir my mense…

Verhoudinge met vriende is vir my baie belangrik, en ek het baie uiteenlopende vriende, wat baie verskillende dinge glo of nie glo nie…

4. Geloof- is vir my baie kosbaar. Ek verstaan nie alles nie. Ek weet net dat die Bybel sê dat die Here in die begin hemel en aarde geskape het, en dat dit prosesmatig gebeur het… As die son, maan en sterre eers op die vierde dag gemaak is, dan is dit mos tydperke wat beskryf word, nie 24 uur dae nie? My verstaan van Skepping sluit nie die wetenskap uit nie. Ek glo nie in ‘n 6000 jaar oue aarde nie, ek het ongelooflike waardering vir die grootheid van die Here se skepping wat in ligjare gemeet word.

Ek glo in ‘n God van liefde, wat kies om met mense in ‘n verhouding te lewe.  Ek glo dat Jesus my Here is. En ek glo in die lewe na die dood…  Daar is baie wat ek nie verstaan nie, maar dit wat ek wel weet, is vir my genoeg om te glo!

5.  Reis- ek wonder altyd wat agter die volgende horison lê. Daar is bitter min plekke in Suid-Afrika waar ek nog nie was nie, van Beitbrug tot Kaappunt, van Kaap Augulhus tot Bray, van Springbok tot Hazyview.  Ek ken die Oos-Kaap nie so goed nie, en wil graag baie meer van Transkei nog sien.   Verder sal ek eerder ou karre ry en soms op ‘n vliegtuig klim om na ander lande te gaan kyk- om met ‘n rugsak daar te reis en te eet waar die gewone mense eet, en in backpackers lodges en sulke plekke te bly om die land eerstehands te ervaar.

6. Koffieshops- dis vir my baie lekker om mense in koffieshops te ontmoet, dis nogal deel van my werk ook.  Dis lekker om met mense te gesels oor ‘n goeie koppie koffie, en Mugg & Beane is my gunsteling franchise. Tuis pleeg ek meestal Ricoffy, behalwe as Jacobs op ‘n groot spesiale aanbod is.

7. Motorfietse- baie lief vir rondry op die goed, trek op my 5e motorfiets in my lewe, die eerste vier was almal rondom 1982 model Hondas… Motorfietsrallies, breakfast runs… daar voel ek tuis. Motorfietsryers het baie meer ruimte vir mense wat anders dink as die gemiddelde populasie…

8. Lees- ek hou verskriklik baie van lees. Die blogs het nogal baie tyd gesteel by my lees van boeke. Met blogs, soos met boeke, moet ek meer begin kieskeurig raak wie ek lees… Ek het bv al Louis L’Amour se boeke op my rak, al is ek nou bietjie oor hom… begin nou wens vir ‘n kindle, want ek het nie meer plek vir al my boeke nie…

9. Kamp- ek besit ‘n ou (1982) Jurgens karavaan wat ek een keer per jaar gebruik op die gemeentekamp. Sou bitter graag meer wou gaan kamp, maar ‘n mens hardloop so vinnig uit geld uit. My karavaan is glad nie luuks nie, en lei aan houtvrot… Ek besit ook ‘n ou Choppertent, met ‘n ekstensie, wat ek in my sleepwa soms ver sleep (soos Morgan Baai) wanneer die karavaan die rit te duur sou maak…

10. Staptoere-  dit gebeur ook heeltemal te min, maar ek geniet dit baie om saam met vriende en familie so paar dae in die bosse in te verdwyn. Oos-Transvaal en Drakensberge is my gunsteling plekke… en SPANJE!

11. Fotografie- ek is baie lief vir fotos neem,  en was van kleins af.  Ek het vir Spanje ‘n Canon Powershot D10 gekoop, wat my regtig sover verbaas het. Verder het ek ‘n ou Canon 350D, eintlik die VSA model- die Rebel XT, wat ek op ebay goedkoop gekry het. Met ‘n 38-55 mm lens, ‘n 75-300 mm Tamronlens, en ‘n Canon 430 EX flitslig…  Ek hou baie van fotos kyk in mense se blogs, en is al van 1989 ingeteken op National Geographic, vir die fotos…

12. Musiek- enige iets van Bach tot Bon Jovi, hang af watter bui ek in is. Erens speel altyd musiek in my omgewing. My kinders kry dit nie reg om my met hulle musiek te irriteer nie, want ek hou ook daarvan- ek like ook Eminem en Rihanna, was ook hartseer oor Amy Winehouse… Tagtigs Rock is vir my steeds baie lekker, al het Rodney Seale gesê ons gaan hel toe daaroor…

13. Die lewe- ek is so dankbaar ek lewe nog na al die ongelukke wat ek al oorleef het- paar keer in motorfietsongelukke, een kop aan kop botsing oorleef, my bakkie verlede jaar gerol, van perde af- my perd het in ‘n gymkhana wedstryd al oor my gerol! Ek sal so graag die eerste man in ten minste drie geslagte wil wees wat my kleinkinders eendag sien…

14. Fietsry- sal nou weer begin fiks word vir Argus nommer 18. Ek is mal oor Chapmans Piek…

15. Vuurwapens. Nie om mense te skiet nie. Maar ek het in die weermag altyd my silwer skietbalkie met een of twee punte gemis, daardie dekselse oop visier as die teiken so draai op 50 meter! Ek kon op 300 m al my rondtes in die terroris se hand sit wat die AK vashou, dat jy dit met ‘n speelkaart kon toemaak. Ek het ook ‘n groot liefde vir praktiese pistoolskiet, maar doen dit nou al vir 15 jaar nie, vanweë die kostes… ons dorp het ook nie ‘n geskikte baan nie. Maar ek het steeds so 400 rondtes in 20 rondte magasyne vir my Browning, as ‘n trol graag wou kom kuier…

16. Sport kyk- moes heelwat hoër op hierdie lys gewees het, my gunsteling is natuurlik vroue strandvolleyball (‘n Olimpiese sport!) gevolg deur vroue gimnastiek, vroue ysskaats, vroue atletiek en swem. Ek hou van vroue!  Maar die Esybiesie is nie so lief daarvoor nie, en Supersport is ook heeltemal te laks daarmee. Dan: krieket, rugby, Formule 1, Moto GP, tennis in daardie volgorde…

17. Kosmaak! Ek hou verskriklik baie van kosmaak vir my vriende. Dis so lekker as mense aan my tafel sit, en geniet wat ek vir hulle gemaak het om te eet. Ek hou van kosprogramme op televisie, en wens ek kon verdere opleiding as chef kry…

18. Verder is ek baie geïnteresseerd in seks. Want ek is ‘n man…  (oeps, het ek dit al gesê?)

Oor hierdie goeters skryf ek graag. Maar sommiges sien net punt 1 en 18 raak.  Wonner waar lê die fout?

6 thoughts on “Dankbaar vir alles hier…

  1. Ek dink Ysbeertjie kort ‘n klap, maar nou ja, my ma het my geleer geweld los niks op nie. Maar somtyds laat dit mens tog beter voel. Enige mens wat se hy/sy hou nie van seks nie is OF skynheilig OF iets is fout iewers. Natuurlik in ‘n geborge verhouding, geen debat daaroor nie. Maar dit daar gelaat.

    Ek dink jou blog is van die meer gebalanseerdes, mens lees iets van alles daar. En ek dink regtig jy het vir baie van ons weer geloof in die kerk en dominees gegee, net deur jou MENSwees. Dankie. En vee jou af aan die Ysbere.

    Ek is nog steeds lus om hom te klap😈

    • Nee wat, los maar vir Ysbeertjie, ek dink nie hy kry enige nie, en dit moet ‘n moewiese frustrasie wees…🙂

      Ek is regtig verbaas oor daardie een van kerk en dominees- ek dog ek gaan die mense finaal afskrik! Maar dit beteken vir my baie, fanx!

  2. Sleep daai Jurgens karavaantjie onder ‘n morsige moerbeiboom in die agterplaas, sit ‘n baksteen agter sy wiel en geniet vroeg elke Maandagoggend (dominee se Saterdag?) wilde woeste skokbreker-seks.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s