Soms is dit lekker om ‘n dominee te wees… (nie vir sensitiewe lesers nie…)

maar nie vandag nie.

Hierdie was veronderstel om ‘n baie spesiale dag in die gesin te wees, my jongste word vandag 11 jaar oud.

Gisteraand nooi ons vriende om ‘n pastei saam met ons te geniet. Net voor ons gaan eet, steek ‘n perdebyrige ding my waar my nek in my kopbeen ingaan. Dit brand soos vuur, en daar swel dadelik ‘n knop op. Ek het ‘n allergex gedrink. Maar van half twee vanoggend af het ek wakker gelê- die kop is seer, En my knie is ook vrek seer van gisteroggend af, die een wat ek met die fiets beseer het twee weke gelede.

Vanoggend na Bybelstudie stop ek by iemand, om hulle bakkie te leen. Ek en my tuiningenieur moes letterlik twee ton se mis gaan oplaai by ‘n boer vir my tuin. Met die min slaap, en die spanning van die groot strontstorie wat voorlê, voel ek nie te bright nie. By die huis is die vriend se meisie, wat gesels met ‘n ou dame. Ek groet en sê “Goeiemore! Elize, het Jan met jou gereël vir die sleutel?” Sy gaan haal hom. Kak die ou tannie my uit oor ek die dominee is, en haar nie groet nie. Ek sê: “Maar ek het mos…” Sê sy met soveel gif in haar stem: “Nee, jy het net gesê Goeiemore Elize…” Daar voel ek toe al klaar nie te lekker met die lewe nie.

Twee ton stront is swaar, sowaar!  In die oplaaiery het die sleepwa se deksel ook nog op my kop neergedonder, reg op die plek waar die perdeby my gesteek het! En hy is swaar met die fietsrak op…

Ek was doodmoeg toe ons alles uiteindelik op die bakkie en sleepwa opgelaai het, en weer by my huis afgelaai het. Ek het gaan stort, want ek het nie te wel vertoon nie.  En toe het ek jongste geneem, met die doel om vir hom koek en koffie te gaan koop. Stop gou by die koöperasie- daardie mis moet darem kos ook voorsien vir die maer jare wat nou voorlê.

Lui my selfoon. En ek antwoord. Ek haat party dae ‘n selfoon, want ‘n mens weet nooit wat vir jou lê en wag nie…

My buurman, ‘n gemeentelid, het homself in die begraafplaas geskiet vanoggend. Hy het ‘n pragtige vrou en twee baie mooi dogtertjies. Daar is nie huwelikspanning nie, en daar is nie finansiële nood wat ek van weet nie…

Ek was daar kort nadat sy vrou en kinders gehoor het hy is gevind… ek was daar toe sy ouers daar aankom en die nuus verneem het. Ek was daar toe familie een na die ander daar aankom, en die nuus hoor, en oorweldig word deur die seer.

En ek kan nie veel sê in oomblikke soos hierdie nie. Maar daar is so baie vrae!  Selfmoord is ook nie die Here se wil nie, en ‘n mens kan nie sê die Here het hom kom haal nie. Maar ek veroordeel ook glad nie, en sê allermins dat hy nou hel toe is, want dit is mos ook nie waar nie! Ek weet net hier kom ‘n baie lang, baie seer pad saam met ‘n baie seer gesin!

Behalwe vir die jongste se verjaarsdag was hierdie dag letterlik met stront gevul, en ek is nie vanaand orraait nie. Ek gaan nou maar vroeg slaap…