Soms is dit lekker om ‘n dominee te wees… (nie vir sensitiewe lesers nie…)

maar nie vandag nie.

Hierdie was veronderstel om ‘n baie spesiale dag in die gesin te wees, my jongste word vandag 11 jaar oud.

Gisteraand nooi ons vriende om ‘n pastei saam met ons te geniet. Net voor ons gaan eet, steek ‘n perdebyrige ding my waar my nek in my kopbeen ingaan. Dit brand soos vuur, en daar swel dadelik ‘n knop op. Ek het ‘n allergex gedrink. Maar van half twee vanoggend af het ek wakker gelê- die kop is seer, En my knie is ook vrek seer van gisteroggend af, die een wat ek met die fiets beseer het twee weke gelede.

Vanoggend na Bybelstudie stop ek by iemand, om hulle bakkie te leen. Ek en my tuiningenieur moes letterlik twee ton se mis gaan oplaai by ‘n boer vir my tuin. Met die min slaap, en die spanning van die groot strontstorie wat voorlê, voel ek nie te bright nie. By die huis is die vriend se meisie, wat gesels met ‘n ou dame. Ek groet en sê “Goeiemore! Elize, het Jan met jou gereël vir die sleutel?” Sy gaan haal hom. Kak die ou tannie my uit oor ek die dominee is, en haar nie groet nie. Ek sê: “Maar ek het mos…” Sê sy met soveel gif in haar stem: “Nee, jy het net gesê Goeiemore Elize…” Daar voel ek toe al klaar nie te lekker met die lewe nie.

Twee ton stront is swaar, sowaar!  In die oplaaiery het die sleepwa se deksel ook nog op my kop neergedonder, reg op die plek waar die perdeby my gesteek het! En hy is swaar met die fietsrak op…

Ek was doodmoeg toe ons alles uiteindelik op die bakkie en sleepwa opgelaai het, en weer by my huis afgelaai het. Ek het gaan stort, want ek het nie te wel vertoon nie.  En toe het ek jongste geneem, met die doel om vir hom koek en koffie te gaan koop. Stop gou by die koöperasie- daardie mis moet darem kos ook voorsien vir die maer jare wat nou voorlê.

Lui my selfoon. En ek antwoord. Ek haat party dae ‘n selfoon, want ‘n mens weet nooit wat vir jou lê en wag nie…

My buurman, ‘n gemeentelid, het homself in die begraafplaas geskiet vanoggend. Hy het ‘n pragtige vrou en twee baie mooi dogtertjies. Daar is nie huwelikspanning nie, en daar is nie finansiële nood wat ek van weet nie…

Ek was daar kort nadat sy vrou en kinders gehoor het hy is gevind… ek was daar toe sy ouers daar aankom en die nuus verneem het. Ek was daar toe familie een na die ander daar aankom, en die nuus hoor, en oorweldig word deur die seer.

En ek kan nie veel sê in oomblikke soos hierdie nie. Maar daar is so baie vrae!  Selfmoord is ook nie die Here se wil nie, en ‘n mens kan nie sê die Here het hom kom haal nie. Maar ek veroordeel ook glad nie, en sê allermins dat hy nou hel toe is, want dit is mos ook nie waar nie! Ek weet net hier kom ‘n baie lang, baie seer pad saam met ‘n baie seer gesin!

Behalwe vir die jongste se verjaarsdag was hierdie dag letterlik met stront gevul, en ek is nie vanaand orraait nie. Ek gaan nou maar vroeg slaap…

11 thoughts on “Soms is dit lekker om ‘n dominee te wees… (nie vir sensitiewe lesers nie…)

    • Dankie Maankind- maar dis regtig seer vanaand. Die feit dat hy reg oorkant my bly, en ek weet nie eers van sy seer nie… Ek weet wat hy gedoen het was nie my verantwoordelikheid nie. Maar hel, dit slaan ‘n mens baie hard om by so ‘n gesin te wees in daardie eerste paar ure! En more gaan nog erger wees, dan begin die realiteit eers insink…

  1. Wat kan ek vir jou se? Sterkte? Mense steek soms die vreeslikste seer wat hulle sulke dinge laat doen die diepste weg, maar dit weet jy seker.

    Hoop jy kon darem vir Jongste nog steeds laat voel sy verjaardag is spesiaal.

  2. ‘n Ander man se boeke is duister. Dis nie ‘n geheim hier op die blogs dat my seun so paar jaar gelede probeer selfmoord pleeg het nie. Hy is daarna gediagnoseer met erge depressie, en ek, sy ma, het dit nooit eers besef nie. Dit het my wereld op sy kop gekeer.

    Jy kan nie jouself teister met “as ek maars” nie. Al was jy sy dominee. Al was jy sy buurman. Die nare feit is dat as iemand nie meer wil lewe nie, sal niks hom keer om ‘n einde te maak nie. Al wat jy nou kan doen is om sy gesin en familie by te staan. Dis na hulle wat my hart uitgaan, want hulle gaan vir altyd met die vrae en die seer en dalk ook verwyte moet saamleef.

    Sterkte, ek bid vir hulle.

  3. Magtig oompie. Dis nou ‘n stront dag vir jou gewees. Tenminste sal jou tuin na so rukkie baie mooi lyk met al daai poef. Hoekom sal die knaap homself in die begrafplaas skiet ? Dink iemand gaan hom net toegooi ? Of dalk het hy iemand daar besoek wat erg naby aan hom was ? Dalk baie seer binne gehad ? Eish.
    Hopelik was vandag ‘n Melk en Heuning dag vir oompie.

  4. Ek hoop vandag loop beter af, so tussen die stronte deur.
    Dit is hartseer dat iemand so vêr kan gaan tot selfmoord – ek glo nie ons besef hoe deurmekaar jou kop moet wees nie, want dit is nie ‘n natuurlike ding nie – selfpreservation is natuurlik.
    Elke geval, niks wat jy nou daaraan kan doen nie, behalwe om sy familie te ondersteun – want imagine net hoe voel hulle!
    Sterkte – tawwe week hierdie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s