Hengel is groot pret, al byt die vis nie…

So met al die gestoei in die lewe het dit tyd geword om vir ‘n slag ‘n ordentlike gesinsdag te beplan. Ek het toe nie Rhino Rally toe gegaan nie, al wou ek ook so graag daar by die aksie wees. Ons het toe ook nie gemeentekamp toe gegaan nie.

 

Verlede week hou ons een middag na skool ‘n huisvergadering. Almal kry kans om te sê wat hulle graag Saterdag wil doen saam met die gesin. Sê ons as ouers: “Sit nou julle opsies vir ons op die tafel…” maar jongste sê nee, hy kan nie. Want die tafel is vol skottelgoed, boeke, helmets ens…  Daar is nie plek om nog iets op te sit nie. Ek dink dit is dalk die probleem in die gesin op die oomblik- ons almal se tafels is te vol om nog iets op te sit…

 

Die voorstelle was uiteenlopend. Ousus sou graag Kollonade toe wou ry en fliek en uiteet (MYLE bo begroting… hier praat ons van ver oor R1000 petrol en tolhekke ingesluit…)  Krokodilplaas? Nee, sê die broers, oor hulle dooie liggame- hulle like nie krokodille nie.  Dit het iets te doen met ‘n ringskollega se broer wat eendag deur ‘n krokodil opgeëet was… hulle boikot alle krokodille en krokodilprodukte uit respek vir oom Mannetjie se nagedagtenis…

 

Wonder bo wonder besluit die gesinslede op ‘n visvang- ekspedisie. Ek het op universiteit laas visgevang. Dis twee dekades terug. Ek het drie seuns. Ek het al vir elkeen van hulle ook ‘n visvangstel gekoop.  En vir hulle hengeluitstappies van tyd tot tyd hoeke, sinkers, swivels en lyn…  Ek en Ma het buite stemming gebly- dis die kinders se dag. En ousus het verbasend genoeg ingestem…

 

Saterdagoggend breek aan. Teoreties besit ek vier visstokke en katrolle, en elke seun een stok en katrol. Erens is ‘n “keepnet” en ‘n vangnet in die buitekamer. Ons begin die toerusting bymekaar sit. Raai wat is oor? Een heel visstok met katrol. Nog twee heel visstokke- katrolle MIA of stukkend. My Penn katrol is deur IEMAND stukkend geslaan met ‘n hamer. My lang seestok se punt is afgebreek.  Ons gaan nie regkom met een stok nie. Ek gaan koop maar nog ‘n stok, en twee katrolle.

 

Ons gryp my hengeltrommel, laai die gasbraaier en kampstoele in, die stokke, sonbrandroom, en al derglike noodsaaklikhede om as hengelaars beskou te word…  Ons kom by die plek waar ons graag wou hengel, waar daar wel vis is. Nee, die plek is toe vir ‘n privaat funksie. Ons gaan na die tweede keuse toe- gemeentelede se lodge op die dorpsdam se oorkant- sorry nee, hulle het ‘n troue vandag. Kom by die derde plek aan- nee jammer, dis privaat grond, en hulle is nou besig daar.  Ek begin histeries huil op my vrou se skouer- het ek hiervoor my Rhino Rally opgeoffer? Nee, nie heeltemal nie, ek sukkel ook maar met die huilbesigheid.  Maar gelukkig ken ek een van die mense by die privaat oord. En hy verduidelik dat ek 600 m verder ‘n verskuilde paadjie sal kry reg tot teen die dam, waar dit munisipale grond is. Daar sal ons regkom.

 

So ploeg ons met die Drifter deur die modderpad, dit het toe wel goed gereën. Ons kry ‘n geskikte plek. Pak die tafel en stoele uit, stel die gasbraaier op, smeer die kinders met sonbrandroom, want ou Spikes is maar moeilik so deur die wolke heen…

Kry die stokke gereed, maak die vistrommel oop… en verloor dit heeltemal. Die trommel is dolleeg! Daar is nie een van die meer as 120 hoeke oor nie. Geen sinkers nie. Geen swivels nie. Al my kunsasies is weg, daar lê net ‘n stukkie glimwurm op die bodem en lag vir ons.  Al my poliesmanne wat ek self gemaak het is weg…  Ek wil begin wurg soos wat Homer Simpson gewoonlik vir Bart aanspreek… Ouboet bieg uiteindelik- dit was hy. Hy het al die goed in ‘n kleiner houer geplaas met sy vorige ekspedisie. En hy weet nie meer waar dit is nie.  Gelukkig het ek ‘n pakkie sinkertjies en ‘n pakkie hoeke  gekoop die oggend net om aan te vul. Dis nou die somtotaal van wat ons oor het om mee te hengel. Daar is wel nog een botteltjie ou mielies oor.

 

Na gespook is die drie lyne in die water. Maar daar is vier kinders. Nou wil elkeen ingooi en inkatrol. Ousus wil skielik ook hengel. Die middelste twee het die afgelope ruk soms saam met vriende gaan visvang, hulle kan amper al gooi. Maar die klein sinkertjies maak dat afstand nie ‘n opsie is nie. Ousus en Kleinboet kry dit reg om enige plek in die voorste 180 grade te gooi, gewoonlik oor die ander lyne ook.

 

Met die tekort aan stokke maak ek en Pastoriemoeder maar ‘n brunch. Dit kan ons goed doen. Kaasbangers, bacon en eier, jogurt en aarbeie, sap en koffie, lekker broodjies… ons fokus maar op die eet. Die kinders baklei. Ousus sit in die water op ‘n kampstoel en sê dis nou vir haar baie “Relaxing”. Boeties gooi vloermoere oor mekaar…

 

So teen eenuur het die reën weer teruggekom, en ons maar opgepak. Somtotaal van byte= 0. En tog het almal so deur die bakleiery heen dit skynbaar baie geniet.  OP pad uit ry ons verby ‘n goed ingerigte tent. Daar staan die man se stok sommer so skeef van ‘n byt. Aangesien ek hom ook ken, stop ons maar om die petalje te aanskou. Hulle is goed ingerig- professionele opset met alarms wat afgaan as daar ‘n byt is, duur stokke, groot katrolle.  Hulle roei die aas in tot bykans oorkant die dam, waar die groot visse glo skuil (nou hoekom het die seuns nog nooit iets daardie kant van die dam gevang nie?) Met ‘n heerlike gestoei kom die karp in- 8.6 kg.  Hy word versigtig uitgehaal, geweeg, foto geneem, natgegooi en weer teruggeplaas in die dam. O, daar is toe wel vis in die dam!  En net daarna gaan die volgende stok se alarm af. Dieselfde ritueel- 7.6 kg karp.  Daar was glo aan ‘n mooi baber en nog twee sulke karpe die oggend. Ons verneem hoe lank hy en sy vriend beplan om so te hengel, want ons sien die proviande is baie (die knaap drink gelukkig niks nie…) Nee, sê hulle, die plan is ‘n maand lank!  Word ek toe sommer jaloers! Wens ek kon ‘n maand lank op my alie langs water sit, buite selfoonbereik…

 

Ons het toe as gesin ook maar die Curriebeker eindstryd deurgeworstel- ek is ‘n oud Shark, dit was seer- baie geluk Leeu ondersteuners- julle span het dit toe regtig verdien!

 

Ons het heerlik gebraai die aand. En so is ons familiebande weer bietjie stewiger vasgemaak vir die laaste skof van November, wat maar ‘n lelike maand gaan wees op ons almal se dagboeke.

Sondagmiddag het ouboet ons amper afgeskryf in Ma se Corolla. Maar ons sal daardie een op ‘n ander geleentheid vertel. Ek en julle moet nou gaan werk, en ons brood in die sweet van onse aangesigte gaan verdien. Sterkte vir jou week!

Advertisements

Bileam Maarts vir Economic Freedom…

MEt die reuse mars van die Joef Liek van KFC na Nandos toe het ek diep oor die lewe nagedink. Nee, ek kon nie saam gaan maarts nie, want ek is te wit.  En liewe Julius, mag sy nagedagtenis salig wees ter gelegener tyd, het iets gesê van hy wil 80% hê van wat ek het.  Toe dog ek by myselwers, dis ‘n goeie deal!  Hy kan maar daar by Netbank-niks-trek- nie gaan kuier, my banksaldo en ander derglike treurmares gaan trek, en wanneer hy hom vergewis het van die saldo- 80% daarvan vir hom neem. Maar in die gees van die reënboogland gaan ek dan weer 20% van wat hy besit, vir myself opeis…  Ek vermoed dis ‘n goeie deal…

 

In elk geval, die maarts inspireer my. Ek gaan ook vandag Maarts vir Ekonomic Freedom.  Dit gaan ‘n massa-aksie wees, want na die Camino het ek net geëet en gedrink en vrolik gewees soos ‘n Epikureër van ou Griekeland, sonder om te dink aan terughou of oefen.  So op die oomblik is ek en myself ‘n massa-aksie. Ek sukkel nog bietjie met die toy-toy aksie, ek kan nooit onthou met watter been ‘n mens begin optel teen die lamppaal nie. En om met die verkeerde been te begin, het die korporaaltjie in die Weermag destyds met sulke vaderlike besorgdheid probeer verduidelik, so in die hardloop na die boom waarvan selfs die blare getel is, dit is ‘n groot fout en bedreiging vir staatsveiligheid in die lewe. So toy-toy- twee hinke links, drie knikke regs… terwyl ek die vuis bal en  iets sing van “Bring my Sanna…”

 

Die roete is verskriklik belangrik. Nou kyk, die JSE en die Parlement is effens ver om te maarts na toe uit die Bosveld uit. Alternatiewe sal gevind moet word. Dit sal deurgegee word aan Radio Pretoria vir regstreekse dekking. Ek sal ook een van die veeartse met ‘n helikopter moet vra om die lugdekking te verskaf. As hulle nou nie weer besig is om renosters te bekruip nie. En ja, ek sal eers R100 gaan inbetaal by die mislikepaliteit as waarborg vir al die skade wat ek dalk kan veroorsaak op my MAARTS…

 

Die ROETE van die MAARTS

 

  1.  WIESENHOF– soos smellie al berig het, het ek heelwat belê in die ekonomiese groei van die Wiese empire.  Ek en Kobus is al op voornaamterme, ek sê hallo Kobus! en dan sê hy Hallouuuusss… Ek gaan ‘n beswaarskrif daar inhandig dat ek nou kwalifiseer vir profit sharing, aangesien my bydrae daar redelik substantief was histories gesproke. Ek sien hoeka ou Kobus lyk nie meer soos in 1995 een pragtige middag op Ellispark nie…   In die proses gaan ek ook aandring op ‘n FREE MEAL- al het ‘n sekere Amerikaanse President gesê daar bestaan nie so iets nie.  Ek wil die Skilpaadjies ontbyt hê, wat my cholestrol vlakke weer sal help om te kom op ‘n punt waar die dokter dit makliker kan lees. ‘n Mens moet die mediese bedryf help, anders help hulle jou nie, en dan is jy nog vinniger deur die Jordaan. Skilpaadjies en Blue Mountain koffie- dis my reg- ek gaan demand!
  2.  GAPSA– Nadat ek Charlene se vreugde verneem het van die diens van die Eerste Potensieël Genasionaliseerde Bank, het dit sekere Post Traumatiese Stress weer gesneller in my amygdala. Skielik het ek ‘n terugflits gehad na die bankbestuurder van Vokskas, in die Brandwagsentrum, wat my ontbied het om oor my studielening te gesels. En my toe drie ure op sy bankie laat sit en wag het met net drie jaar oue saketydskrifte om deur te lees. Ek is vir altyd gedamageer deur sy optrede. Veral die maroon matjie voor sy lessenaar waarop studente moes kniel om sy stempel op die volgende jaar se aansoek te kry. Hy was nooit voor die lieg en huil kommissie gewees vir sy apartheidsmisdade nie.  “Justice shall prevail…” dié tiran het dalk al lankal afgetree daar by Jeffreysbaai.  En vang nou nog vis met die boot wat hy met my rente gekoop het.  Vokskas is intussen deur die Jordaan, maar GAPSA het die mantel oorgeneem- hulle dra die blaam vir my kinderdae se seer…
  3. BINNELANDSE SAKE– want SARS het nie ‘n kantoor in onse dorpie nie. Ek wil hewiglik gaan beswaar maak oor die feit dat ek persoonlik vir drie van JuJu se mannetjies met die rooi dassies se salaris betaal uit my karige salaris. Binnelandse Inkompetensie moet maar aan vir die Sarshole gaan sê ek sê so by die volgende KFC Fênklub mietieng in die OR Smuts aankomssaal.  Ek het nou in elk geval net gewonder toe ek die brawe menere met die R4’s so paraat sien kloek het om Juju by die hof- hoe goed is hulle werklik?  Wat sou gebeur as so paar van my pelle ook R4’s kon kry, en in die middestad van Johannesburg bietjie live ammo Cowboys en Crooks met hulle kon speel?  Maar ek sien al klaar, die live ammo gaan alweer by my vervoertoelaag gevoeg word by volgende jaar se nasionale leegsteelpapier.
  4. Toyota– Aangesien ek al: 1 Conquest, 2 Corollas, 1 Tazz (bloos), 2 Ventures en 1 Camry in my lewe gery het, is ek nou presently disadvantaged. Ek het vir elkeen van hulle self betaal, al die pad. Maar as ek huis toe ry van Gomorrah af, dan kom daar jong mannetjies met donker shades, die arm wat so ‘n nuwe Audi of BMW of Merc of Volvo vasknyp regs, en die linkerhand wat die stukke KFC uit die barrel uit nadersleep…  Beloning vir hulle aandeel in die wapentransaksies vir ‘n veiliger Suid-Afrika. Ek gaan barmhartig wees en net ‘n Yaris T3, wit, met mags, demand.  Vir al my lojale ondersteuning deur al die jare… Alles loop reg, altyd reg…
  5. Die Wimpy– Maarts maak ‘n mens dors, en hulle is langs die Toyotagarage in die meeste Bosvelddorpe…  Ek sal nie te lelik met hulle wees nie, want gedurende die struggle het die Comrades nie baie van die Wimpy gehou nie, my tuisdorp se Wimpy was ten minste twee keer opgeblaas.
  6. Departement Openbare Werke– ek hoor gereeld onse Jules vertel hoe die witmense plase en huise gesteel het.  Dit het my nou geweldig bekommerd. Al eiendom wat ek het, is ‘n piepklein meenthuisie in Gomorrah. En Netbank het my gedwing om hom self te betaal. Erens het ek my plaas gemis… Of my huis… ek was seker badkamer toe toe die transportaktes uitgedeel is by die skool. Ek wil iemand oor my grondeis gaan spreek- ek hoop DOW is die regte adres.  Anders sal ek baie mooi sorry sê oor die poging tot brandstigting.
  7.  KFC– ek het ‘n ernstige appeltjie met hulle te skil.  Hulle is die meesterbrein agter die Regstelende Aksie beleid. Want hulle dring aan daarop dat 99.5 % van alle staatsamptenare van enige velkleur anders as wit is. En hulle lewer af by staatdienskantore. En as ek huwelikke moet registreer by Binnelandse Sake moet ek altyd ‘n BArrel saamneem net om gehoor te word waar die papiere ingegee word…  Oom Pravin moan so oor die staat te veel aan Salarisse bestee- hy moet net KFC ekstra belas, dan kry hy alles weer terug…
  8. Teen hierdie tyd van my Maarts gaan ek moeg wees- 2.4 km geloop! Ek sal seker dan eers onder die boom langs die Poskantoor gaan lê en rus, langs die Nigeriese alternatiewe tabakverkopers…  Terwyl die Pakistanis vir ons musiek maak op daardie opregte tweedegenerasie gekopieërde Sony produkte…
  9. Hoërskool Bosveld-Suid– hulle het vanjaar ‘n fris porsie van my salaris gesteel voor dit nog by my uitgekom het. Terwyl die Freedom Charter dit duidelik stel dat elke kind “education after liberation” gaan kry…  Ek gaan aandring op ‘n refund, met ten minste 15% rente, op alle gelde wat ek reeds betaal het vir die monstertjies. Dan kan ek vir my geliefde ook ‘n nuwe karretjie koop…
  10.  Die Drankwinkel– ek gaan hulle ernstig aanspreek oor soveel mense se dieper dors wat tot groot ekonomiese downturns gelei het. Hulle persoonlik is verantwoordelik vir die beerfase in die plaaslike ekonomie.  En terwyl ons nou daaroor gesels, gaan ek aandring op ‘n kas Windhoek Draught, ons sal dadelik van die uitheemse dinge ontslae moet raak om plaaslike werksgeleenthede by SAB te bevorder.  Want VArkie is reg- soms moet iemand WERK om die ekonomie aan die gang te kry.  Waarom dan nie by SAB om die volk se dors te les nie?

Kort hierna sal my Maarts afsluit in my Lapa, waar die Vrydagaand offers gebring sal moet word ter wille van vrede, liefde en vriendelikheid.

 

Korporaal, met watter voet begin ‘n mens nou weer Maarts? iesh Ja Oinks…

Donkie versus Armstrong

Ja, dis die reine waarheid- ek het al teen Lance Armstrong meegeding in ‘n fietswedren…  Twee jaar gelede se Argus, om presies te wees. Teoreties was dit moontlik selfs om hom te wen. Maar dit het nou nie gebeur nie.  Ek bedoel, ons praat darem van die Lance…  Hy was al klaar met die roete, en deur die storte, en dalk al op sy tweede bier by Ferrymans, toe het ek eers weggespring. Maar ek het die Argus darem baie beter as hy aangepak. Meer as dubbeld so lank soos hy spandeer in die saal, om die Kaapse uitsig ordentlik in te neem en in my diepste hart te bewaar vir aande soos gisteraand se herinneringe.

 

Dis nou weer sulke tye. Ek het die afgelope ses maande niks fiets gery nie. Toe so drie kere ‘n maand gelede. Toe val ek, en die gout val my knie aan. Intussen het die swart hond ook weer aan my kom knaag asof ek sy gunsteling been is. So ek moes net iets begin doen aan die saak. Gisteraand skakel ‘n fikse vriendin en sê ons moet vanoggend gaan fietsry. Sy kry my 06h00 by die Total garage…

 

Ek het toe maar gisteraand ‘n sinuspilletjie ingeneem op die slaap aan te help. Vanoggend vyfuur is ek sommer self wakker voor die selfoon se wekker my kon wakker skree. Ek het eers daar gelê en bewe, angssweet het oor my voorhoof uitgeslaan… Ek het gelê en bid, en al my sondes bely, en genade gevra vir die reuse taak wat voorlê. Halfses het ek maar opgestaan, my homo-erotiese spandex pakkie aangetrek(kan steeds nie onthou of dit Nic Marais of Bernito Vergotini van Kfm is wat dit so genoem het nie…), my fiets onder die dertig sentimeter diep stoflaag gaan uitgrawe, en vertrek op pad na die Total garage toe, 7oo meter van ons huis af.

 

En hier is die verhaal van die reis. Dit was nie baie lank nie, toe begin ek my hart wild voel klop in my borskas.  Dit het kompleet gevoel soos ‘n wilde mustang wat in ‘n horsebox omgekrap raak en die deur probeer oopskop. My heart rate monitor het dit bevestig- hartklop verby die maximum (220 minus jou ouderdom).

 

My longe het begin brand.  Daardie gevoel van soutsuur wat so stadig drup- drup- drup op die tou wat my lewe vashou duskant die Jordaan. Ek het begin hyg na asem, maar dit het gevoel asof die lewegewende suurstof net nie meer ‘n impak het op die weefsels van my longe nie…

 

Later het my bene begin brand. Dit het eers begin met ‘n effense lam gevoel in die kuite, wat later na die bobene toe versprei het. Krampe het deur die spierweefsels gespoel soos die tsunami van Oukersdag 2004 deur ‘n Thailandse bordeel.

 

Maar ek het vasgebyt en uitgehou. Ek kan darem nie ‘n goeie vriendin so drop nie.

 

Ek het later maar twee tot drie keer gestop vir water, en om net te staan en hyg vir asem langs my fiets, totdat die heart rate monitor net weer sê ek is darem onder 220 hartkloppe per minuut, newwermaaind die minus my aansienlike ouderdom…

Die pyn en lyding het net al hoe erger geword. Maar ek is ‘n man, ek het ook my trots. Ek kan nie my vriendin drop nie…

 

Weet julle, daar is sekere pyne wat manlike fietsryers kry, wat vrouens nie kan kry nie. Veral as dit die eerste keer in ‘n lang tyd op ‘n saal is. Dit maak baie seer. Gelukkig het ek regtig nie meer die begeerte om kinders te verwek nie, want na vanoggend is ek in elk geval steriel. Maar dit raak seer as ‘n man se beste vriend so begin doodgaan van die tekort aan bloed…  Net fietsryers sal verstaan hoe seer dit kan raak mettertyd…

 

Ek het later hallusinasies begin sien. Eers was dit daardie girl met die bikini broekie en die volstruisvere boa wat so vir ons geflash het by die onderkant van Chapmans Peak so sewe jaar gelede (mag sy geseënd wees!)  Ek is seker ek het haar langs die roete gesien.  Ek weet nie of dit die gebrek aan suurstof in die liggaam was nie, kammakazi kan dalk wetenskaplik verklaar, maar daar het later so ‘n euforiese gevoel oor my neergedaal. Daardie hêppie gevoel- as ek nou deur die Jordaan beweeg, dan is dit ook maar reg…  Die lug was blouer as blou, die gras was ‘n psigedeliese neongroen, en die voëltjies het die Aïdamars gefluit…  Die gevoel van geluk het versprei, ek het later Cheryl Crowe op ‘n harp gehoor speel (dankie Neander- sy is een van my ou gunstelinge, dalk omdat sy ook al teen Lance meegeding het…) en nog later het ek my lewe voor my verby sien flits. Ek het sommer ook gesien wie het toe my flashdisk weggesteek… In elk geval, die gelukkige gevoel het versprei totdat ek die hemelpoorte voor my geopend gesien het- die donker tonnel met die lig daar voor, die mooiste grasvelde, die 72 maagde met wit rokkies wat vir my wag… nee wag nou, ek is nie ‘n selfmoordbomplanter nie…

 

Uiteindelik gaan alles ook verby, en bereik ‘n mens tog maar jou doel as jy aanhou. Ek het maar net aangehou trap, en uiteindelik, met baie sweet en trane daar uitgekom. By die Total garage waar my vriendin vir my gewag het dat ons die 20 km moet gaan ry…

Sondagaand- hoekom is ek hier?

Dis mos nou een van die groot vrae in die lewe wat op baie verskillende maniere geïnterpreteer kan word. Sommige ouens sal nou 13 biljoen jaar teruggaan, en praat van ‘n verskriklike ontploffing in die middel van nêrens. En dan al die pad kom tot by die eerse lewensvormpie wat uit die “primordeal” ertjiesop uitgeleopard crawl, op soek na ‘n skoenwinkel (dit was ‘n sy…) Nee, dis nie waaroor ek wil praat vanaand nie.

So sesduisend jaar gelede, presies om 10h15 vm, kort voor die staatsamptenare se teetyd, is Adam en Eva neffens Bagdag geskape- kaalbas en alleen tussen die diere… so ruk later was daar ‘n ongelukkige voorval met ‘n appel en ‘n slang…  Nee, dis ook nie waar ek vanaand wil wees nie…

Hier lê ek en my laptop nou voor die televisie. Dit is Sondagaand. Ek is moeg. Ek het vanoggend my hartjie uitgepreek oor Prediker 5, wat sommer in vers 1 al sê ‘n mens moenie te veel praat nie, dit kan gevaarlik wees.  Ek het kort daarna vinnig die rugby gekyk, en toe die hartseer nuus van Marco Simoncelli se dood in Moto GP gehoor- sy helm het afgekom na ‘n val in die Maleisiese GP, en beide Valentino Rossi en Colin Edwards het oor hom gery- hulle is albei woes getraumatiseerd, en Edwards se skouer is uit lit uit…

Ek het begin wonder- op my dagboek is dit so dat kollega die aanddiens moet hanteer. Maar onse jeugwerker is by die Engeltjiefabriek vir laaste eksamens. En daar moet nog baie by die tienerdiens gebeur. En soos ‘n goeie pliggie werk ek ‘n aanddiens preek uit, en bied vrywillig aan om die aanddiens te lei, dat kollega by die tieners kan uitkom.

Vanaand se diens het gegaan oor Richard Rohr se 5e beginsel van ‘n sinvolle lewe- om te aanvaar dat jy eendag gaan sterf.  ‘n Hartroerende preek, bygewoon deur so ongeveer 17 mense…

Nou is ek moeg.  Ek lê en kyk die krieket, en wens ek was eerder daar gewees… daar op die graswalle, tussen die mooi mense, met ‘n vloeibare verversing van mout oorsprong in die hand… Ek hou baie van krieket, en dra nou my oorspronklike 2003 ICC World Cup hempie… Daar van die ander Dominee nou net vir Smith uit op die grens… 175-6.  Ek het van my wonderlikste tye in my lewe gehad langs krieketvelde…

Ek sou ook vanaand graag eerder by die Blue Peter wou gewees het. Daardie plek bly maar net een van my absolute gunsteling plekke. Daar op die graswalle, terwyl die son agter RObbeneiland sak.  Ongelukkig verkoop hulle nie meer Bosun’s Bitter nie. Ek het van my gelukkigste tye in die Blue Peter gehad, ek het 8 aande daar Honeymoon gehou lank lank gelede…

Ek is vanaand lus vir kuier saam met vriende.  Maar ek is besig om uit vriende uit te hardloop in ons dorp. Van my beste vriende het nou weer ‘n job in die Kaap gekry, en verhuis eersdaags soontoe.  Dit is so moeilik om goeie vriende te maak- mense het ook hulle trots en wil nie graag saam met ‘n dominee gesien word nie…

Pastoriemoeder is êrens in die huis besig om haar geestelik voor te berei vir nog ‘n week in die hel. Of te wel- die skool waar sy skoolhou.En sy is ook alweer die hel in vir my…

Matriekmerrie moet seker êrens haar neus in ‘n Engelse boek indruk, more sulke tyd in die Eindeksamen. Ouboet is seker besig om êrens homself in ‘n spieël te bewonder. Nommer 3 sit saam met my en krieket kyk. En nommer 4 lê voor die Playstation….

Ek is nie lus vir die normale stokperdjie van die MNET fliek op ‘n Sondagaand nie. Alhoewel ek baie lief is vir perde, hou ek nie sommer van Perdestories nie… gewoonlik te soppy…

Ek het nie nou ‘n goeie boek om te lees nie. Pastoriemoeder het êrens Plaasmoord van Karen Bryant?  in die hande gekry, en ek het die inleiding op die poepketel gesit en lees- ek is nie nou in die regte emosionele stemming daarvoor nie, veral nie nadat ek daardie uitstekende boek van Hanlie Retief oor Piet Byleveld verlede week gelees het nie…

Ek gaan die krieket klaarkyk. En dan? Wens ek het geweet. Wens ek het ‘n goeie pel hier gehad, wat nou ‘n vuurtjie saam met my wou aansteek, en ‘n botteltjie rooiwyn oopmaak. Ek wens ek het in die Kaap gebly, en kon nou daar by Dolphin Beach langs die see gaan sit en dink…

Hierdie week het ek te veel kere gesit en diep dink… as ek so aanhou, sal ek dokter toe moet begin gaan.  Die jaar raak te lank. Die seer van mense raak vir my te veel. Soos Son dit so mooi gestel het Vrydag- my Kooi vissie is weg…

Begin Maandag se bose invloed nou al terugspoel Sondag toe?  Moet ek hierdie nonsens ooit publiseer? Move to Trash knoppie? Publiseer Knoppie? Kom ons maak oë toe en druk op een…

Die Prysuitdeling…

Vanaand is ons Hoërskool se prysuitdeling. En vir die derde keer in drie weke  se tyd is die arme matrieks aan my blootgestel! (‘n sekere trol op litnet sal nie daarvan hou nie!)  Eerstens, omdat ek mos ook nou bejaard genoeg is om ‘n matriekmerrie te hê, is ek gevra om ‘n kort, inspirerende boodskappie by die matriekafskeid te lewer. Gevleuelde woorde, wat hulle sal help om met arendsvlerke te vlieg, en nie te onverantwoordelik te wees op die Afterparty nie. Die volgende week was daar ‘n matriekdiens in ons kerkgebou, waar alle vrywillige matrieks en hulle ouers saam kon dankie sê vir die vonnis van twaalf jaar hardepad wat nou verby is.   En nou vanaand, op spesiale versoek, omdat ek ‘n matriekouer is, sal ek nie asseblief  ‘n kort tweetalige boodskappie lewer nie?  My loopbaan as interplanetêre gasspreker het dalk klein op die Platteland begin, maar ek kan sommer voel dis die begin van groot dinge…

In elk geval, voor ons weer te veel nonsens praat- die Plattelandse Prysuitdeling is vir die meeste ouers hier op die Platteland een van die hoogtepunte op die sosiale kalender in die gemeenskap.  Ek vermoed daar is selfs mammies wat ontwerpersrokke gaan koop vir die geleentheid!  Die haarkappers gaan weer skep vandag, want dit reën alweer pap, maar nie so baie soos met die Matriekafskeid nie.

Ek het natuurlik baie gemengde gevoelens oor die Prysuitdeling, wat ek nou hier vir myself probeer verstaanbaar maak. As ek dit nie eers verstaan nie, kan ek ook nie van jou, liewe leser, verwag om kop of stert daarvan uit te maak nie.

Negatiewe gedagtes:

  1.  Skuldgevoelens… ek self was maar baie gemiddeld op skool, in alles. Ek het byvoorbeeld ‘n fenominale versameling van C simbole.  Met twee E’s, vir Wetenskap en Rekeningkunde… dit het nogal my ambisie om ‘n skatryk CA te wees, gekelder…  Ek het ook baie prominent op die reserwebank vir die 3e rugbyspan poseer. Die een ligpuntjie was dat ek deel van die skoolkoor was, wat gereeld die jaarlikse Applous koorkompetisie provinsiaal gewen het, en een keer daarmee saam ‘n oorsese reis onderneem het. Dit was in elk geval baie lekkerder in die koor saam met mooi meisies, as om in die kadetperiode deur ‘n klomp onnosele tappets wat korporaalstrepe gedra het, verskree te word. Koor was baie beter as kadette. Ek het darem ‘n koorbalkie gekry op skool!  Maar nooit iets substansieels soos ‘n beker of ‘n boekprys nie.
  2.  Jaloesie? Ek weet nie van in die stede nie. Maar hier op die Platteland loop enkele uiters begaafde kinders rond.  Hier is veral so drie families, wie se bloedjies AL die pryse vat. Kom ek gee ‘n voorbeeld. In my oudste hingsvulletjie se klas is ‘n jonge dame. Sy verloor gewoonlik net so een van die omtrent 8 akademiese toekennings vir verskillende vakke aan iemand anders. Sy kry kulturele toekennings, en is nog briljant op sportgebied ook. Daar is net niemand wat in niks met haar kan kers vashou nie.  Wat my so irriteer, is die manier van toekenning. Sekere onderwysers vind groot genot daarin om die pryse een vir een uit te lees. Dit toe te ken, en haar van die verhoog te laat afstap. En as sy byna af is, die volgende prys met haar naam uit te lees. Dan moet sy omdraai en al die pad weer terugstap. Sommige onderwysers is darem net kinders in ‘n grootmenswêreld…   die enigste prys wat een van my vulletjies gaan wen, is by die Laerskool- die “Most Improved” vir nommer 3.
  3. My eie hiperaktiwiteit…  weet julle, ek raak verskriklik vinnig verveeld, en dit is vir my dodelik om ure in enige iets behalwe ‘n fliek te sit…  Vanaand gaan ek en my Geliefde by die eregaste heel voor moet sit. Die saal gaan oorvol wees, baie benoud en baie warm. My normale plek is buite in die vierkant op my kampstoel, Ek dreig al jare om my gasbraaier en coolboks saam te neem. So lank sit doen dit glad nie vir my nie, veral nie tussen die “Grand” mense nie…  Die Hoërskool se stoele help ook nie baie vir die saak nie- dis van daardie dowwe grys plastiekstoele met die chroom pote. Die stoele is al in 1969 opgesit gewees, en die rugleuning buig so agteroor…

 

Positiewe gedagtes:

1. Matriekmerrie het haar kant gebring. Sy sal nou nie een van die akademiese pryse wen nie, maar sit darem in die rekordeksamen met ‘n 81 % gemiddeld (sy mag nie op my rapporte afkom nie!)  Sy was ook in die eerste hokkiespan, en is uitstekend op ‘n verhoog met drama.   Sy maak sulke grappies soos- as sy opkom, moet die onderwyser sê- “dames en here, maak julleself gemaklik, hierdie gaan ‘n rukkie neem…” Eintlik hou sy net so min van prysuitdelings soos ek…

2. Ouboet gaan baie kort daarbo wees. Sy prestasies op skool volg myne baie getrou na, behalwe in een opsig- hy is ‘n uitstekende sportman, en baie fikser as wat ek ooit was. Ek is sommer ook jaloers op my eie seun- met die baie oefen is hy baie goed gebou, en die meisies is mal oor sy persoonlikheid. Ek was nooit so nie…  Gelukkig is hy ‘n baie nice ou met ‘n sagte hartjie, hy is nie die tipe wat meisies se harte sal breek nie.

3. Die aand sal ook verby gaan. Dit is ‘n wetenskaplike gegewe dat die tyd sekonde vir sekonde sal aftik, en al is sekere onderwysers hoe langdradig, behoort ons darem teen middernag in die bed te wees…

Waarmee gaan ek open? Ek beplan om dit baie kort te maak- daardie spreuk van: ” ‘n Dwaas plant nie in die saaityd nie, en soek in die oestyd vir iets wat nie daar is nie… ” as basis te gebruik, en so twee sinnetjies daaroor in Afrikaans en Engels te sê.

As die aand nie te lank aanhou nie, kan ek dalk in ons dorp se restaurant ‘n Draught gaan drink saam met Pastoriemoeder na die tyd…

Bileam se Ruimtestasie

 

Geliefdes, na gister se inskrywing het ek baie en diep gedink.  Ek het tot die gevolgtrekking gekom: Die meeste dinge op hierdie aarde is ‘n gejaag na wind. So het die Prediker dit tog al 3000 jaar gelede vir ons uitgelig.

Die storie van Sir Richard se Ruimtestasie in New Mexico het my geinspireer. En so deur die loop van die nag het dit wat die Maagdelike Korporasie dekades se beplanning gekos het, sommer net gebeur- alles begin in plek val.

Ek het mos die voorreg om Sir Richard se outobiografie op my rak te hê, met die indrukwekkende titel van “Losing my Virginity…” Daarin word gemeld van groot drome, en groot planne, wat gekom en gegaan het. Sir Richard die Ballonvaarder se kaartjie na sukses het gekom met ‘n CD. Mike Oldfield se Tubular Bells, om meer presies te wees. Met hierdie musiek het Virgin dit reggekry om van die grond af te kom… later ‘n vliegtuigie of twee, en as we speak bou hulle êrens ‘n geheime ruimtetuig wat vir $200 000 vir jou vyf minute se gewigloosheid gaan gee, en ‘n gratis lewenslange lidmaatskap by Weigh-Less met komplimente van tannie Marie Rooihol ©.

Gedurende die nag het die volgende gebeur. Eers het ek ‘n pynpil of twee met ‘n glas mampoer afgesluk, vir die knie wat so seer bly. Dit het dadelik die kreatiewe breingolwe gestimuleer, wat tot vrugbare besigheidsplanne gelei het…

Die plan werk nou so. Ek kan mos darem sing ook. Ek het al vir die Pous in Rome gesing in 1983 as deel van ‘n skoolkoor. So- talent is daar geen tekort aan nie.  Ek het ook ‘n diep studie gemaak van musiek- ek besit darem oor 100 CD’s in my versameling.

Ek persoonlik hou van diep musiek.  Musiek moet darem meer vir ‘n mens sê as : Skud jou bisket… of wys jou mys… daardie tipe musiek werk nie vir my nie. Ek hou van woorde wat sin maak. Sien Leonard Cohen, of Neil Diamond voor jou geestesoog. Dit moet musiek wees wat konnekteer met mense. Iemand wat bv ‘n geel 1969 Kombi besit, met helder pink en oranje blomme op, met ‘n spesiale skoorsteen vir die daggawalms, moet daar binne kan sit en dit luister op sy Bose stelsel  (nee, nie Afrikaanse boosheid nie, Bose speakers…) en die trane moet waggel oor sy wang tot op sy Peace T-hempie…  Koos Kombuis moet dit like, dan is dit reg…

Maar daardie nis maak nie altyd so baie geld nie, anders was Leonard Cohen nie so depressief nie, en Koos Kitchen ook nie…  Ons moet darem geld maak met die CD, want daar is ‘n ruimtestasie om te bou. Ruimtestasies kos baie geld. So- die tienermark moet ook ontgin word. Dis waar die groot geld lê in die vermaaklikheidsbedryf. As hulle almal hom net nie gaan staan en kry op PirateBay nie.  So- daar moet ‘n tikkie Justin Beaver en ‘n klankie Mylie Virus © in wees.  ‘n Baby baby baby OHhhhhhhhhhhhhh, maar ook nie te veel nie, anders skiet die volwasse gehoor katte..  en dit gee ‘n morsige wêreldtoer af.

Maar ek persoonlik is mal oor die tjello. Ek dink dit is die mees sexy instrument van alle tye. Coenie de Villiers stem saam, hy sing dan: “Ek wens ek was jou Tjello… wat daar langs jou heupe lê “. Daar moet verseker ‘n tjello in wees. Maar ek hou ook van ‘n elektriese kitaar. Iemand soos Mark Knopfler sal deel moet wees van die band…  Ek weet August Rush het die tjello en die elektriese kitaar meesterlik saamgevoeg… ek wil ook. Net geen kerkorrel nie. Nie hierdie keer nie. Dalk ‘n trompet. Daar mag ‘n trompet in wees, maar ek weet nie hoe gaan ‘n trompet en baby baby baby Oooohhhhhhhh saam klink nie…

Wanneer die CD klaar is, gaan ek ‘n groot Launch hou by die Peter Mokaba Stadion in Pietersburg/ Polokwane… dis naby aan die Pietersburg/Polokwane internasionale en interplanetêre lughawe cum spacestation wat ek aanvanklik gaan huur, en later gaan uitkoop. Die internasionale launch gaan  gelei word deur Nelus Niemandt, die nuwe Moddermaker van die NG Kerk, om die gelowiges te laat inkoop op my CD.  Saam met hom, geklee in Karoo Lamstjoppies, gaan Lady Gaga op die verhoog wees, om ook die minder gelowiges te wys dat dit Cool sal wees om my musiek te luister.  Die twee gaan saam ‘n tango dans op snit nommer 7.

Wanneer die miljoene begin inrol soos die Platinumstatus bereik word, sal ons ook eers ‘n Music Lable moet kry, met nog so ‘n paar goeie kunstenaars in. Daardie groot meisie wat so in die top 10 van die Idols geëindig het, het my baie beïndruk. Ek sal graag vir haar ‘n kontrak wil aanbied.

En so gaan Bileam se Ruimtestasie deur musiek gefinansier word.  Out of this world!

Ek het net een probleempie, wat die pynpille en mampoer nog nie opgelos het nie, dalk kan jy my daarmee help en jou naam prominent op die CD kassie se insetsel kry: Wat moet ons die CD noem? Het jy dalk ‘n treffende gedagte?  O ja, die gelukkige wenner kry natuurlik ook ‘n $100 000 gratis kaartjie op ons eerste ruimtevlug van Donkey One…  Bring net jou eie pienk olifantjies saam asseblief.

 

Hoekom is die wêreld so deurmekaar vandag?

Vanoggend het baie goed begin. Op Faceboek sien ek ‘n nuwe baba wat vanoggend gebore is in ons gemeente- ‘n pragtige klein dogtertjie.  Sy word met soveel liefde in hierdie wêreld ingebring.

Oor middagete sit ek vinnig en kyk die nuus op die BBC webwerf. En dadelik, heel eerste, vang my oog die verhaal van Spanje, die Kerk en Babas. Nou al drie is dinge wat my baie na aan die hart lê.  Maar ek is stil geskok oor wat ek gelees het.  Die BBC berig dat daar in die Franco era in Spanje se geskiedenis tot 300 000 babas gesteel is in die kraamsaal, en as dood vir die ouers aangemeld is.  Baba’s is weggeneem by “undesirable parents” en geplaas by “approved families”.   En die hartseerste van alles is dat kerkmense daaraan deelgeneem het! Mense wat gekies het om selibaat te lewe, en nooit self kinders in die wêreld gebring het nie, pleeg een van die mees grusame misdade teen jong ouerpare… ek is diep geskok daaroor. Waar mense sê hulle is Christene en kerkmense, en nie uitleef wat hulle sê hulle glo nie, is die gevolge altyd baie, baie erger as wat die ergste ateïstiese bewegings kon uitdink.  Dit maak die kerk se getuienis van God se liefde in hierdie wêreld ‘n onhoorbare geraas.

In die BBC word ook vertel dat vier lede van UB40 nou bankrot is. Van ‘n band wat oor 33 jaar 70 miljoen plate verkoop het, se fortuine het daar niks oorgebly nadat die klomp onder mekaar stry begin kry het oor juis geldsake nie. Wanneer het ‘n mens genoeg? Wanneer begin jou wens om alles te besit, jou in die gat byt?

In New Mexico in Amerika is daar ‘n nuwe Spaceport deur Richard Branson ingewy. Virgin beplan om in 2013 ‘n lisensie te kry om van hier af mense op 2 1/2 uur ruimtevlugte te neem, wat 5 minute se gewigloosheid sal insluit. Die koste aan so ‘n trippie is $200 000.  By die opening was daar alreeds 150 mense wat hulle kaartjies gekoop het!

EK lees hierdie nou terwyl ek my sommetjies probeer maak om my matriekmerrie volgende jaar te laat studeer. Een so ruimtetrippie kon waarskynlik al 4 die Donkievullens klaar laat studeer het?  Ek gaan onmiddelik begin beplan aan die Bileam se Ruimtestasie, waar ons vanaf Pietersburg se lughawe mense ook in die ruimte kan laat invlieg vir $100 000 ‘n kaartjie. Ons sal giggelsappies bedien met die opstyg, en iemand sal daggawalms inblaas by die vliegtuig se aircon. Dan gaan mense die sensasie kry van 20 minute se gewigloosheid, hulle sal waarskynlik net hulle eie pienk olifantjies moet voorsien.

Ekskuus Herriemerrie, ek wou nou nie die daaglikse nuus by jou oorneem nie, net ook ietsie sê oor ‘n baie deurmekaar dag. Ja, ‘n pragtige klein dogtertjie is gebore vanoggend. En ek kuier vanoggend by ‘n tannie wat pas gehoor het sy het asbeskanker, en sal waarskynlik ‘n baie moeilike laaste jaar op aarde hê.  Ek dink oor lewe en dood, oor rykdom en armoede, oor geleenthede en verspeelde kanse…

Ja, so soek ons elkeen seker maar net ‘n plekkie in die son, iemand om lief te hê, en ander mense om ons kiddies uit te los!

“Internasionale rugby” studente styl…

Ek sit nou vanmiddag heerlik en krieket kyk- Suid- Afrika teen Australië, en daar word Warner uitgevang. Na kerk vanoggend het ek ook die Australië New Zealand halfeindstryd in die Rugby Wêreldbeker gekyk. So bietjie op “chase play”, want ek moes nog eers met die belydenisklas gesels na kerk.  Feit van die saak is- dit is heerlik om soveel internasionale sport te sien op die oomblik!

Vir baie jare was ons uitgehonger daarvoor. Terwyl ek op skool was, was die hoogtepunt van die jaar se sport mos maar die WP Noord-Transvaal Curriebeker finaal, en Naas Botha se mooi Omowit broekie as almal anders vol modder van kop tot tone is…

Terwyl ek op Universiteit was, is Nelson Mandela vrygelaat, en die ANC ontban. Die gesprekke het begin oor die toekoms van die land. En so het die sportdeure ook stadig begin lyk of hulle oopgaan. Op die vooraand van hertoetrede tot die internasionale rugby, was daar ‘n wedstryd in Durban gereël. Die Springbokke. Teen ‘n uitnodigingspan op Kings Park.

In daardie tyd het ek ‘n oom met ‘n woonstel op die Durban Esplanade gehad.  ‘n Klasmaat van my het so pas ‘n voertuig gekry- so ‘n geel Passat Hatchback, teen ‘n billike prys by ” ‘n oom in die gemeente…”  En daardie wiele moes mos ingewy word met ‘n Road Trip.

Die wedstryd sou die Saterdag middag gespeel word. Daar was net een probleempie. Beide ek en hy het vir die Munisipaliteit bus bestuur gedurende spitstye, en ons sou nie afkry Vrydagmiddag nie. Dis ook nie pret om halfsewe die aand weg te spring Durban toe nie.

Saterdagoggend om halfvyf spring ons in die pad. My klasmaat, ek, en my pasgetroude vroutjie. Ons gaan Durban toe- ons gaan rugby kyk, en oorslaap by my oom. En Sondagmiddag laat die pad terug huis toe aandurf.

Die “nuwe” Passat het hom mooi gedra. Tot by die Van Reenenspas. Toe begin daar ‘n snaakse geluidjie opklink, niks ernstig nie. Soos ons vorder verby Ladysmith en Colenso, word die geluid egter al hoe erger. Tot so min of meer, ongeveer, by benadering presies 8 km voor die Ultra City by Estcourt. Toe skree daardie enjin die geluid van ‘n demoon wat uit die hel uit ontsnap, en daardie geel Passat maak ‘n moerse bol rook, en gaan staan. Morsdood. Niks werk nie.  En daar sit ons, vroegoggend, langs die snelweg op die pad na die toets in Durban. Niks van die twee teologiese studente se meganiese kennis (in my geval redelik naby aan zero) kry ‘n vonkie van lewe in daardie Passat nie.

Klasmaat hike toe maar tot by die Ultra Shitty. Daar kry hy ‘n insleepvoertuig, wat ons almal teen die prys van vier vakke se jaargeld op universiteit die 8 km insleep tot by hulle werkswinkels.  Hulle krap in die enjin rond. Hulle hmm en aahh, maar die gesigsuitdrukking sê dit duidelik- die pasiënt is saggies deur die Jordaan…

Klasmaat bel toe maar sy broer in Bloemfontein, wat baie meer meganies aangelê is, om ons te kom insleep terug. Want die eerste kwotasie op herstel was in daardie dae alreeds R7000 gewees! Bloedsuiers!

Maar die broer moet eers sy oggendskof klaar werk voordat hy kan kom. En daar sit ons- agter ‘n werkswinkel, tussen ‘n klomp motorwrakke, met rugbykaartjies en geen manier om betyds daar te kom nie.

Ons het toe maar gedoen wat enige student sou doen. Ons het na die naaste winkel toe gestap. Ons het charcoal, vleis en bier gekoop. Ons het by die werkswinkel hulle braaier geleen. En toe sit ons in die Passat en luister die wedstryd oor die radio, terwyl ons worsie op die vuur braai. Dit was die naaste wat ons aan daardie “internasionale” wedstryd in Durban gekom het- die skrootwerf in Estcourt.

Laatmiddag het Klasmaat se broer en ma opgedaag. Hulle het die Passat met ‘n sleeptou gehaak. En toe vat ons die pad terug Bloemfontein toe. Hier by Van Reenenspas was dit besig om ernstig donker te word. Die Passat se battery het toe ook begin ingee, sy “hazard” ligte kon nie meer gesien word nie.  Net voor die groot opdraande is daar ‘n grondpaadjie na links uit, met ‘n ou ysterbrug sigbaar. Ons het daar afgetrek. En die aand daar oornag. Klasmaat se broer en sy ma in sy ouboet se kar. Klasmaat op die voorste sitplek. Ek en Geliefde op die agtersitplek van die ou Passat. Dit was ‘n lang nag, met so ‘n heerlike elektriese storm, en baie weerlig, soos net daardie deel van Noord Natal kan gee.  Maar die volgende oggend het die son briljant geskyn. Ons was teen middagete weer terug by ons huis. Dit was nou ‘n avontuur wat totaal anders uitgedraai het as wat ons ooit beplan het.

Dit het later geblyk dat die Passat se “conrod” gebreek het, en deur die blok van die enjin gesteek het.  Die goedkoop karretjie was toe glad nie so “bargain” nie, en ek dink nie dit was die eerste of die laaste keer dat “‘n oom in die gemeente” ‘n dominee of studentjie sien kom het nie…

‘n Laaste woord aan matrieks- wees gewaarsku- dis ‘ n preek…

Matriek se Skoolloopbaan afsluitingsdiens 2011 Hoërskool BOSVELD-SUID

Opgedra aan Louise de Waal, wat wreed die kans ontneem is om met arendsvlerke te vlieg.

Skriflesing: Matt 25: 14-30                                                                 13 Oktober 2011

Inleiding

Ek onthou ‘n dag, amper twaalf jaar gelede, toe ‘n klompie van julle julle eerste dag by die Laerskool ingeboek het. Julle het maar heel snaaks gelyk, met skoolkleertjies wat baie groot was- jy moes nog daarin groei. Met splinternuwe tassies en kosblikkies en waterbotteltjies. Julle het probeer dapper lyk, maar was eintlik nogal diep gestress. Hier kom ‘n ding- TWAALF jaar op skool, dit gaan vir altyd vat!  En julle was nie seker of julle daarvan gaan hou nie.  Julle het gewonder hoe julle dit ooit gaan regkry. En ‘n dag op die skoolbanke het so ongelooflik LANK gelyk…

Twee weke terug het ek julle weer so sit en bekyk by die Matriekafskeid. Die klein seuntjies en dogtertjies het jong here en dames geword…  Julle het van kindertjies met vuil mondjies gegroei tot pragtige jong volwassenes, wat gereed is om die lewe aan te pak. En ek wil vir julle sê: Ek is trots op julle- ‘n gevoel wat ‘n Pa so goed ken! Kyk hoe ver het julle gekom in twaalf jaar se tyd!   Julle het ‘n lang en moeilike reis aangepak, en julle het hom suksesvol amper klaargemaak. Nou lê daar nog net ‘n eindeksamen voor, dan swaai die deure van jou toekoms wawyd oop vir jou!

I have watched you over the past 12 years. I have seen you grow, from little boys and girls, to young men and women of which I am extremely proud, as only a father can be!  And that is why I am so gratefull for this opertunity to speak as a father to you, at the end of your school years, just before you begin your adult life!

Ek is so bly vir hierdie geleentheid, om net so paar vaderlike woorde met julle te deel. Ek hoop jy hoor dat dit kom van iemand wat vir jou omgee, en so graag wil sien dat jou lewensverhaal van hier af vorentoe ‘n wonderlike reis sal wees!

Skriflesing: Matt 25: 14-30

  1. Elke een van julle is uniek, en het gawes by die Here ontvang!

Geen twee mense is dieselfde in die Here se oë nie. En jy word ook nie gemeet teen ander mense by Hom nie.

Ons almal wil so mooi wees soos Jacob en Bella in Twilight. Ons wil rugby speel soos Francois Hougaardt. Ons wil so slim wees soos Hoofseun. Ons wil so lekker kosmaak soos Adam Lieu. Ons wil sing soos Dave…  En so kyk ons na verskillende rolmodelle, en wens ons kan hulle almal wees.

Dankie tog die Here kyk nie so na ons nie. In sy oë is elkeen ‘n unieke mens, gemaak met unieke gawes, om elkeen ons eie lewe voluit te lewe.  Net Hoofseun kan Hoofseun wees!

It is so natural for us to compare ourselves to other people. We really can loose so much joy in life by trying to be someone else! But that is not how God has intended our lives to be. We are not measured by anybody elses standard. God has made us unique, to live this one life He has given us, to the fullest possible extent.

‘n Mens sien dit duidelik in hierdie gelykenis, of storie, wat Jesus vertel om ons groot waarhede oor die lewe te leer.   Die man wat op reis gegaan het, is Hyself. Hy het teruggegaan na sy Vader se huis om vir ons plekke voor te berei.  Terwyl Hy weg is, is dit ons taak om sy koninkryk te bou op hierdie aarde.  Ons doen dit natuurlik saam met die krag van die Heilige Gees, wat in elke gelowige werk!  Maar die Here behandel elke mens op sy eie standaard. Aan die een het die Here vyf talente gegee, aan ‘n volgende een twee, en aan ‘n derde net een.

Wat se ding is ‘n talent?  In die Bybelse tyd was ‘n talent ‘n bedrag geld. Maar dit gaan nie hier oor geld nie, dit gaan oor geskenke wat die Here vir sy kinders gee. Dinge wat ons uniek maak, dinge wat ons goed kan doen in die lewe. En daar staan op ‘n paar plekke in die Bybel- elke mens het talente by God gekry.

Each person has received some gifts from God. Some abilities you have received, to use in His honour.  These gifts varies from person to person.  God decided how He wanted to make us.  He gave the gifts according to His plan for the world.  And this you must hear in this parable of Jesus- you are also an unique person, there is no one else like you in the whole wide world! You have an unique set of gifts, that only you can use to honour God, and to make this world a better place.

2. Elke een gaan geleenthede in die lewe kry om hulle gawes uit te leef.

Die afgelope 12 jaar het julle al ernstig ontdek watter gawes julle by die Here gekry het. Julle het nou al gesien of jy die potensiaal het om Springbok rugby te speel, of nie. Jy weet teen hierdie tyd of jy ‘n akademiese reus is, of nie.  Jy weet of jy goed is met jou hande, of eerder van spanners moet wegbly!

En so is ‘n baie belangrike fase in jou lewe besig om verby te gaan. Die vormingsjare op skool, waar jy die kans gehad het om jou toekoms se deure oop te begin maak.

And now the time is nearly at hand, that you must go out into the open world, away from the protection of your parents and the safe enviroment of the school. Some of you will go on to study further. Others will move into the labour market.  I at least hope that you are not planning to marry just yet! Because now you will have the opertunity to spread your wings, and fly. You will begin to receive opertunities in life, to become the man or woman you were intended to be…

Jy gaan geleenthede kry. Dalk verder opleiding, dalk werksgeleenthede. Jy gaan verlief raak, verloof raak, trou… alles op sy tyd. En daar gaan in dit alles die geleenthede wees wat jy nodig het, om die man of vrou te word wat die Here jou gemaak het om te wees.  Jy gaan ontdek dat jy gemaak is om ‘n verskil in die wêreld te maak. In jou werk. In jou gesinslewe. In jou menswees. Jy is gemaak om diep spore te trap. Jy is gemaak om met arendsvlerke te vlieg!

3. Die beloning vir getrouheid is groot!

We each will receive our opertunities in life, to get the chance to be a person after God’s own heart. This is how the Bible have described David.  It does not mean that you will never make mistakes. There is not one mistake that David has NOT made!  But this gives you the opertunity to experience God’s grace…  To really get to know the true Father heart of God.

Jy gaan verseker foute maak in jou lewe. Dit gaan vir jou die kans gee om God se genade te ontdek. Hy vra nie dat jy volmaak sal wees nie. Hy vra dat jy weer sal opstaan in die lewe, en die pad saam met Hom stap.  Dis nie die foute wat ons maak, wat ons lewens opfoeter nie. Dis die foute wat ons toelaat om ons vir altyd vas te bind, dat ons nie meer God se pad stap nie, wat maak dat ons die toets van die lewe dop.

Die eerste dienskneg het baie talente by sy Meester gekry. Hy het hulle gevat, en hard daarmee gewerk. En toe die Meester terugkom, kon hy nog 5 teruggee- dit beteken- daar was vrug op sy lewe. Hy het liefde gesaai, en liefde geoes.

The second servant received less than the first. But also he was true to his calling. He went out and worked the talents  which he received. And  according to his potential, also he produced a wonderful harvest in his life- his gifts has touched other people, and he made the world a better place. He was also rewarded for a life well lived…

Maar die derde dienskneg het net nie ‘n saak gehad nie. Hy het dit wat sy Meester vir hom gegee het, gaan begrawe, en toe sy eie ding gaan doen. Hy het al sy kanse weggegooi in die lewe. Ook die heel belangrikste kans- die geleentheid om God se kind te wees. Nie eers daardie uitnodiging van Jesus, om deel van God se familie te word, het hy benut nie. En toe die Meester terugkom, is hy in die donker dieptes gegooi.  Oor hy niks van God se genade wou hê nie. Oor hy niks geleenthede wou gebruik wat die Here vir hom gegee het om hom te help nie. Hy is verlore, oor hy niks gedoen het met God se genade nie.

The last servant missed the greatest opertunity in life- to become a child of God. He did not do anything about the love of God, which he received in abundance. It was his choice to do nothing with his life.  And he missed the heavenly rewards which God has prepared for all his childen.

Liewe matrikulant 2011- jy gaan baie geleenthede kry in jou lewe. Jy gaan God se liefde ontvang. Geleenthede om te leer, om goeie werk te kry. Geleenthede om lief te hê. Gryp die geleenthede en gaan lewe voluit, want die Here wil jou seën met ‘n wonderlike lewe.  Maar onthou- die tyd gaan verby. Daar gaan ‘n dag kom wat jou geleenthede opraak. Daar gaan ‘n dag kom wat jy gaan terugkyk oor jou lewe, en wonder of jy die regte pad geloop het.  Moenie geleenthede mors nie! Moenie jou lewe opmors nie!

Die beloning vir getrouheid is groot! Die genade is baie groot, elke keer wat jy val, sal die Here jou help om weer op te staan.

Wees getrou aan jou Here. Wees getrou aan jou roeping. Wees getrou aan jouself.  Gaan lewe nou groot tot sy eer, met sy genade!

Be true to God. Be true to your calling in life. Be true to the gifts the Lord has given you. And use every opertunity to make this world a better place, for everybody around you. You will have a blessed life, to the glory of God!

AMEN!

More kom Pastoriemoeder uiteindelik terug…

na ‘n heerlike twee weke se rondlê in Ierland…

En nou sal ek vanoggend graag by al die geliefde susters van die virtuele Donkiegemeente wil hoor:

Wat sou nou die gepaste manier wees om haar weer te verwelkom?

Die dag gaan so verloop-

Sy land 09h00 uit Frankfurt uit.

Met ons effektiewe bagasiestelsel sal sy waarskynlik 10h00 uit die “Arrivals” deur stap. Sy sal saam met haar ma en haar ousus na ousus se huis toe moet ry…

Want die Donkie was weer onnooslik gewees. Ek het maande terug vir die Hoërskool belowe om more die matrieks se “einde van 12 jaar op die harde banke, kort voor die laaste groot eksamen”- diens in ons kerk te hou, wat om 09h30 begin.  Ek kon dit nie uitruil nie, want Matriekmerrie en haar maters, wat ek omtrent almal van die doeke stadium af ken, moet vir oulaas op die regte paaie gewys word…

Tienuur op die kop wil ek in my se stadige bakkie spring, en dan twee rubberstrepe al die pad los tot by haar suster se huis naby die Wilgers hospitaal.  Die Britse verkeerspolisie moet my op radar optel, soos die foto onder van facebook af gesteel (David Nilsen’s photos…) vanoggend getuig…

Ek beplan om die spoedgrens deeglik te oorskrei. En teen so ongeveer 12h00 in Bose Stad nommer 2 aan te kom, en haar in my arms toe te vou…

Sy gaan waarskynlik honger wees- ek het op presies dieselfde vlug teruggekom van Spanje af, en ontbyt was êrens rondom die bokant van Botswana bedien…

Ek moet ook vir Matriekmerrie ‘n gloeilamp vir haar scooter se flikkerlig koop. Dié goed kry jy nie noord van Zambesiweg en suid van die Savannahsentrum nie…

 

 

Ek het verskoning ingesit vir die twee vergaderings wat ek sou moes bywoon in my hoedanigheid as “Voorsitter van die Kerkraad…”  Die res van die dag is oop. Maar êrens op die platteland is vier monstertjies wat ook verlang na hulle se mammie…

So, geliefde susters, met al hierdie informasie tot u beskikking, wat beveel julle aan?

Sushi by CTFM? Ander voorstelle mbt eet, drink, blomme, ens?

Hier onder is wat ek ook beplan om tussen 10 en 12 moreoggend te doen- waarsku solank die Metropolisie om ‘n veilige afstand te eerbiedig…

 

 

Ekskuus- die foto is nou nie so inspirerend soos wat Jeanne sou opsit nie… 🙂