“I also like to live dangerously…”

… maar ek dink ek het my grense bereik.

Kyk, ek het nou al lewendig uit ‘n kop aan kop botsing uitgeklim, wat my geliefde Conquest 16 v Sport se lewe geëis het. Ek het verlede jaar uit my gerolde bakkie geklim, met net ‘n tenniselmboog van die stamp. Ek is op skool met my 50 cc deur ‘n vrou se agterruit van haar Pulsar, net daardie swart louvres het my weer teruggegooi op die teer. Ek het ook al ‘n polisiebakkie probeer kamikazi met my tweede 50cc.

Ek het al my arm die eerste keer gebreek toe ek drie was, tweede keer toe ek ses was. Ek het al op ‘n gymkhanabaan geval dat my perd bo-oor my rol. Ek was saam met Plaasjuppie in onlustegebiede, en ons is met petrolbomme gegooi ‘n maand na Boipatong, toe ek ‘n dienspligtige was.

Ek is al twee keer in my lewe deur olifante bestorm terwyl ek in die veld was, een keer was my eie onnoselgeit.

Daar was al so baie gevaarlike situasies in my lewe, en steeds was die enigste keer wat ek werklik in ‘n hospitaal was, toe my verstandtande uitgehaal is drie jaar terug. Goed, ek was ook in buitepasiente na my kamikazipoging, en met jodium ingespuit vir die X strale. Al hierdie goeters was maar deel van die lewe, dis hoe dit moes wees. Soos Austin Powers kan ek ook eerlik sê dat ek nie te verskriklik bang raak vir gevaar nie…

Maar ek het my Moses teëgekom vanoggend. Ek is spierwit geskrik. Ek sit en bewe, en oorweeg suikerwatertjies om my te lawe. Eintlik dink ek ek het genoeg rede om ‘n bottel KWV 5 jaar oud te gaan koop op my kredietkaart se budget… net vir die skok. Ek vermoed ek lei nou aan Post Traumatiese Stress Sindroom…  Vir die kenners van kognitiewe prosesse- dit werk so min of meer as volg: wanneer daar ‘n Traumatiese stimilus (insident) is, wat die brein se “coping skills” heeltemal oorweldig, dan gebeur die volgende. Die inligting word in die amygdala (reptielbrein aan die onderkant van jou brein, waar die ruggraat in die brein ingaan) gestoor.  Dit is ‘n onbewustelike denkproses. Dit gaan gepaard met die afskeiding van sekere hormone in die brein (moenie vir my vra watter nie, ek het net 68% vir Biologiese Sielkunde gekry- daai was in die 32% wat ek nie weet nie.)  Die gevolg van hierdie proses is dat ‘n mens daardie verlamde gevoel het.  Deel van die skoktoestand na die traumatiese insident- jy voel of jy in ‘n waas is en nie kan funksioneer nie…  Dan, mettertyd, word die inligting met behulp van reflektering, vertel van die storie, dikwels met die hulp van ‘n goeie berader, uit die onderbewussyn uitgehaal, oordink, evalueer, en in die hipokampus van die brein gestoor- die meer gesofistikeerde denke, waar jou langtermyn geheue ook is.  Later, hopelik, is die traumatiese insident nie meer ‘n pynlike herinnering nie, maar net iets wat jy onthou as deel van jou lewensverhaal, al is dit ‘n negatiewe onthou… dit was nie lekker nie.

Ek is vandag diep getraumatiseerd, en dit gaan lank vat om die inligting uit my amygdala te sleep!

Die rede- Matriekmerrie het ‘n leerlinglisensie, en ek het dit gewaag om vir haar te sê: “Kom ons gaan ry so entjie, dat Pa kan sien wat Ma alles vir jou al geleer het…”

 

En ons het…

En ons is terug…

Net- net…

10 thoughts on ““I also like to live dangerously…”

  1. Bwhaaaaaaaahahaha!!!! Miskien moet jy jou liewers daar uit hou, anders gaan jy meer as net ‘n bottel KWV op jou begroting moet swipe . . .😀

  2. Dis vreeslik snaaks, al is jy diep getraumatiseer (lag eers weer tot ek moet asem skep…) Maar gelukkig is jy nie ‘n kat nie, want te oordeel aan al jou ongelukke, was jou nege lewens nou al lankal op. Ek dink jou arme beskermengele het ‘n vakansie nodig!

  3. My pa laat my een Sondag van die dorp af plaas toe bestuur terwyl hy langs my sit en my ma en sus agter. Hy’t sit en konsentreer op briewe wat hy lees op sy skoot en toe hy opkyk is ek besig om – heel besadig, ek verseker jou – deur ‘n draai te gaan. Hy skop styf en voel-voel na die deurhandvatsel – net reg om uit te spring. As hy homself daai dag verongeluk het was ek heel onskuldig!

  4. In die eerste plek moes jou ma jou in ‘n glaskas toegesluit het… alle simpatie aan haar. Wag vir die dag dat jou dogter met jou hele familie en ‘n karavaan aangehaak, vir haar pa op die hoofweg vra “hoe stop ek?” Drink maar daardie suikerwater, jy gaan nog vele angswekkende oomblikke beleef😯 Vertel ons van elkeen, dit bring lag in ons lewens, en dankie vir die “breinles.”

  5. O, jy het al my simpatie! Ek was drie keer deur daardie trauma.

    My kinders is nou so bang wanneer hulle saam met my ry. Hulle dink ek is clueless, ry onseker en is totaal nagblind. En al daardie geleerdheid het hulle by my gekry, wat hulle leer bestuur het.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s