Huldeblyk aan ‘n lang verlore vriend…

Uit gister se skrywe, met Son se hartseer ervaring in gedagte, deel ek die volgende met julle vanoggend.

My pa is skielik oorlede aan ‘n hartaanval in 1993.  Dit was juis in een van die moeilikste tye van my lewe. Ek het pas uit die Weermag uitgeklaar, en kortdiens was nie meer ‘n opsie nie. Ons moes aansoek doen vir beroepe, en ek het al naby 67 aansoeke getrek. Ek was in ‘n plattelandse gemeente in die Vrystaat ‘n Proponent- dit beteken ten volle opgelei, maar nie ten volle aangestel nie… jy werk vir peanuts…  My vrou het ‘n baie goeie werk gehad, en was sewe maande swanger met ons eersteling toe my pa dood is.

Nadat die boedel uitbetaal het, het my ma my ‘n keuse gegee- sy sou my studieskuld afbetaal, of vir my ‘n kar koop. Toe al was my voertuie redelik gehawend… soos nou weer…  ‘n Baie oulike ouderling in die gemeente het ‘n tweedehandse motorplek gehad, en ek was dadelik verlief op hierdie karretjie, toe hy die dag daar staan. Toe alreeds vyf jaar oud gewees, maar baie mooi opgepas deur die vorige eienaar. My luukse lewenswyse sluit gewoonlik in dat ek net 5 jaar oue motors rondom 120 000 km op die klok kan bekostig.

Maar hierdie een was dadelik een wat in ‘n jong man se hart ingekruip het… Toyota Conquest 16 Valve Sport (nie die i nie, Charlene, myne was te oud, het nog carburettor gehad). Baie, baie sexy vir sy tyd- die Tazz het later te lank aangehou en die lyne vir ons almal opgefoeter… Maar daardie sportiewe uitleg, die mooi rooi kleur, die mags, natuurlik het hy ‘n goeie klankstelsel ingehad, rooi matte…  maar die beste van daardie motor was die enjin gewees.

Met daardie kar het ek en my jong vroutjie, en rooikopdogtertjie baie ver paaie gery. Daardie kar het Bray gesien, en Struisbaai. Pofadder en Pelgrimsrust. Dit was nou een karretjie wat altyd gesê het: Welkom, my vriend, kom ons vat die pad!   Ek het net een ander kar gehad wat so diep in my hart gekruip het- die Camry… (ook 5 jaar oud, 127 000 km op die klok)

Ek het hierdie kar vir baie jare gery.

Die einde het sleg gekom. Ons het ons belydeniskamp op ‘n wildsplaas gehou. My destydse kollega het die meerderheid kinders op ‘n beestrok vervoer. En ek moes die Saterdag ‘n paartjie trou, so ek het my eie wiele nodig gehad.  Ek het drie seuns saam met my gevat.  Toe ons naby die grondpad kom wat uit die teerpad afdraai, wou ek my kollega verby steek. Ek was so heilig op daardie kar, ek het nie klipmerke op sy verf en voorruit gesoek deur agter ‘n lorrie grondpad te ry nie. Na 12 jaar was die kar nog steeds redelik krapvry, en gewoonlik mooi skoon (rooi wys vuil en krappe verskriklik vinnig!)

Ek steek hom verby. Die grasse en onkruide was verskriklik hoog op daardie stuk pad. Maar ‘n grondpad van die plotte by die buurdorp het ‘n T- aansluiting met die hoofpad gemaak. En ‘n ou oom het uit die grondpad aangery gekom, net na regs gekyk, en toe reg voor my ingery.  Ek was langs die lorrie, met net nêrens heen om te gaan nie. Dit het ‘n paar illusies by my geskud- ek het gedog ek is ‘n uitstekende bestuurder (watter man dink nie so nie?) en sal altyd deur wakker te kan wees, enige ongeluk vermy. Toe nou nie.  In hierdie een was ek ook ‘n onwillige toeskouer.

Ek het agtergekom hoe ‘n mens se lewe voor jou oë verbyflits. Alles gebeur so in slow motion, en jy het net absoluut geen keuse nie, en nêrens om heen te gaan nie.  Die impak was verskriklik, maar gelukkig nie 100 % kop aan kop nie, anders was ons almal deur die Jordaan…  Ek het weggeskram van die ander voertuig af, agter die beestrok verby, tot in die veld anderkant, terwyl ek my beste skills moes gebruik om nie nog te rol ook nie.

Die wonderwerk van daardie dag was dat niemand dood was, of ernstig beseer was nie. Ek was omtrent op 90 km/u, en die ander oom was maar stadig, maar op die verkeerde plek op die verkeerde tyd.

Omdat die karretjie toe al 12 jaar oud was, was die boekwaarde nie baie nie. Die versekering wou hom net daar afskryf, en my ‘n belaglike prys gee. Ek het met ‘n ander vriend onderhandel, wat vir ‘n kort ruk in die paneelklop bedryf was. En hy het met ‘n kwotasie gekom net onder die afskryfwaarde, deur tweedehandse parte te gebruik en my bitter min vir arbeid te vra. Die kar is herstel. Maar hy was nooit weer dieselfde nie. Skielik het alles ge”rattle”.

Kort na hierdie episode moes ek vir die eerste (en enigste) keer in die hof verskyn. Die oom wat voor my ingery het, was ‘n ongerehabilteerde insolvent gewees.  En toe dagvaar hy my vir die skade.  Die een ou foutjie wat hy en sy prokureur gemaak het, was om die hofsitting na die ongelukstoneel toe te neem, en toe aangery te kom soos die oom gedoen het, om die landdros te wys hoe roekeloos ek was. En toe ontplof dit in hulle gesig. Die landdros sien toe dat ‘n mens nie die paadjie kan sien nie, dis nie gemerk met ‘n padteken nie. Daar is stippellyne op die teer, ‘n mens mag daar verby steek. Die landdros sien toe met haar eie oë ook hoe hoog die grasse is, en dat ‘n mens enige voertuig eers op die laaste oomblik kan sien, voor dit op die teerpad draai. Die hof het bevind dat ek 100% onskuldig was, en dat die oom nalatig was deur nie links te kyk voor hy in die teerpad ingedraai het nie.  Maar omdat hy insolvent was, kon ‘n mens niks van hom eis nie… ek het baie verloor deur sy nalatigheid!

Omdat ek baie op grondpaaie rondry op ‘n plattelandse gemeente, het ek self net agtergekom hoe maklik is dit om te doen wat die oom gedoen het- ‘n mens vergeet maklik om links te kyk… ek het ook begrip…

Teen daardie tyd was die gesin ook besig om woes uit te brei. Ek het die Conquest toe maar ingeruil op ‘n Venture 2.2. GLE met ‘n VanderLinde Conversion…  Ek was dom genoeg om R10 000 te aanvaar, maar die Conquest was nie meer so lekker nie.

Maar ek mis daardie karretjie met sy gewillige hartjie en sy liefde wat hy altyd vir my en my gesin gewys het…

Roes in vrede, my ou vriend…

 

5 thoughts on “Huldeblyk aan ‘n lang verlore vriend…

  1. Eina, eina, eina!!! Ek het vandag ‘n belofte gemaak ek sal nooit weer huil oor my Toyota as ek net vir Lea ordentlik en heel kan terugkry. So, ek sê niks, maar lees tussen die lyne😦

    PS. Hulle maak nie meer karre so ordentlik soos hierdie een hier bo nie.

  2. Sjoe, dit was ‘n noue ontkoming.

    My eerste kar het net so gelyk, en hy het ‘n i agter sy naam gehad.🙂 Maar ek weet nie veel van karre af nie en kan nie onthou of hy sulke vlerkies agter aan die bokant gehad het nie.

    Ek was al outerig toe ek vir die eerste keer ‘n kar op my naam kon kry. Lank rondgekyk na al die karre op die pad, en besluit ek wil ‘n rooi Conquest hê. En daar staan hy toe by die tweedehandse winkel, 3000 km op die klok, 1 jaar oud, mooi opgepas, die prys reg. Die een hoek van die agterste bumper was net deur ‘n Staffie flenters gekou, maar dis al wat fout was. Ek was mal oor daai kar. Sy naam was Velletjie, want ek het gesê hy voel soos ‘n tweede vel om my.

    Gelukkig het hy nie so ‘n aaklige einde soos joune gehad nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s