Sondagmiddag- waar sou jy eerder wou wees?

Dit is Sondagmiddag vieruur. Ek sit en wag vir my vrou om te Skype uit Ierland uit. Ek sit by die huis in ‘n Bosvelddorp. Dit is deksels warm, die pastorie se dak het nie pienk goeters in nie, en ons slaapkamer is genoeg om ‘n mens aan die hel te herinner. Die middagslapie was ‘n mislukking- net te warm vandag weer daarvoor. Dit terwyl ek so lekker lomerig voel na ‘n fantastiese middagete by goeie vriende, gepaardgaande met ‘n wonderlike botteltjie rooi…

 

Dit het my nou laat fantaseer. Waar sou ek vanmiddag eerder wou gewees het?

 

  1.  In Sligo in Ierland, saam met my vrou by die Strand pub wat so op die Atlantiese oseaan uitkyk.
  2.  By die Blue Peter in Bloubergstrand, met ‘n biertjie in die hand.
  3.  Op Clifton se strand, as dit ‘n mooi dag is, met die seiljagte wat so net agter die branders kom vasmeer- dit is darem net een van die mooiste strande in die ganse wêreld…
  4. By Morgan Baai, op die strand…
    Wag- hier is ‘n onbewustelike herhalende tema! Behalwe dat ek my vrou baie mis,  ly ek aan ‘n tekort aan seewater op die vel.
  5.  In die Drakensberge, daar by Monk’s Cowl teen die berg op langs die sfinx verby…
  6. By die Brouery in Clarens, besig om ‘n verskeidenheid biere te probeer…
  7.  Langs ‘n krieketveld, waar Suid-Afrika die onreg van vanoggend op die krieketveld herstel teen Australië
  8. Op my motorfiets op die Rooi-els pad na Kleinmond toe…
  9.  Op my motorfiets in die Laeveld- die paaie rondom Graskop…
  10.  In Cappucinos in Menlyn saam met goeie vriende…

Ek kan nie veel aan die meeste van hulle doen nie. Maar ek gaan nou lekker met my geliefde Skype…

En daarna gaan ek op Huisbesoek…

 

Waar daar ‘n motorfiets met ‘n tank vol petrol is, daar is nog hoop…

 

Geniet jou Sondagmiddag!