“Internasionale rugby” studente styl…

Ek sit nou vanmiddag heerlik en krieket kyk- Suid- Afrika teen Australië, en daar word Warner uitgevang. Na kerk vanoggend het ek ook die Australië New Zealand halfeindstryd in die Rugby Wêreldbeker gekyk. So bietjie op “chase play”, want ek moes nog eers met die belydenisklas gesels na kerk.  Feit van die saak is- dit is heerlik om soveel internasionale sport te sien op die oomblik!

Vir baie jare was ons uitgehonger daarvoor. Terwyl ek op skool was, was die hoogtepunt van die jaar se sport mos maar die WP Noord-Transvaal Curriebeker finaal, en Naas Botha se mooi Omowit broekie as almal anders vol modder van kop tot tone is…

Terwyl ek op Universiteit was, is Nelson Mandela vrygelaat, en die ANC ontban. Die gesprekke het begin oor die toekoms van die land. En so het die sportdeure ook stadig begin lyk of hulle oopgaan. Op die vooraand van hertoetrede tot die internasionale rugby, was daar ‘n wedstryd in Durban gereël. Die Springbokke. Teen ‘n uitnodigingspan op Kings Park.

In daardie tyd het ek ‘n oom met ‘n woonstel op die Durban Esplanade gehad.  ‘n Klasmaat van my het so pas ‘n voertuig gekry- so ‘n geel Passat Hatchback, teen ‘n billike prys by ” ‘n oom in die gemeente…”  En daardie wiele moes mos ingewy word met ‘n Road Trip.

Die wedstryd sou die Saterdag middag gespeel word. Daar was net een probleempie. Beide ek en hy het vir die Munisipaliteit bus bestuur gedurende spitstye, en ons sou nie afkry Vrydagmiddag nie. Dis ook nie pret om halfsewe die aand weg te spring Durban toe nie.

Saterdagoggend om halfvyf spring ons in die pad. My klasmaat, ek, en my pasgetroude vroutjie. Ons gaan Durban toe- ons gaan rugby kyk, en oorslaap by my oom. En Sondagmiddag laat die pad terug huis toe aandurf.

Die “nuwe” Passat het hom mooi gedra. Tot by die Van Reenenspas. Toe begin daar ‘n snaakse geluidjie opklink, niks ernstig nie. Soos ons vorder verby Ladysmith en Colenso, word die geluid egter al hoe erger. Tot so min of meer, ongeveer, by benadering presies 8 km voor die Ultra City by Estcourt. Toe skree daardie enjin die geluid van ‘n demoon wat uit die hel uit ontsnap, en daardie geel Passat maak ‘n moerse bol rook, en gaan staan. Morsdood. Niks werk nie.  En daar sit ons, vroegoggend, langs die snelweg op die pad na die toets in Durban. Niks van die twee teologiese studente se meganiese kennis (in my geval redelik naby aan zero) kry ‘n vonkie van lewe in daardie Passat nie.

Klasmaat hike toe maar tot by die Ultra Shitty. Daar kry hy ‘n insleepvoertuig, wat ons almal teen die prys van vier vakke se jaargeld op universiteit die 8 km insleep tot by hulle werkswinkels.  Hulle krap in die enjin rond. Hulle hmm en aahh, maar die gesigsuitdrukking sê dit duidelik- die pasiënt is saggies deur die Jordaan…

Klasmaat bel toe maar sy broer in Bloemfontein, wat baie meer meganies aangelê is, om ons te kom insleep terug. Want die eerste kwotasie op herstel was in daardie dae alreeds R7000 gewees! Bloedsuiers!

Maar die broer moet eers sy oggendskof klaar werk voordat hy kan kom. En daar sit ons- agter ‘n werkswinkel, tussen ‘n klomp motorwrakke, met rugbykaartjies en geen manier om betyds daar te kom nie.

Ons het toe maar gedoen wat enige student sou doen. Ons het na die naaste winkel toe gestap. Ons het charcoal, vleis en bier gekoop. Ons het by die werkswinkel hulle braaier geleen. En toe sit ons in die Passat en luister die wedstryd oor die radio, terwyl ons worsie op die vuur braai. Dit was die naaste wat ons aan daardie “internasionale” wedstryd in Durban gekom het- die skrootwerf in Estcourt.

Laatmiddag het Klasmaat se broer en ma opgedaag. Hulle het die Passat met ‘n sleeptou gehaak. En toe vat ons die pad terug Bloemfontein toe. Hier by Van Reenenspas was dit besig om ernstig donker te word. Die Passat se battery het toe ook begin ingee, sy “hazard” ligte kon nie meer gesien word nie.  Net voor die groot opdraande is daar ‘n grondpaadjie na links uit, met ‘n ou ysterbrug sigbaar. Ons het daar afgetrek. En die aand daar oornag. Klasmaat se broer en sy ma in sy ouboet se kar. Klasmaat op die voorste sitplek. Ek en Geliefde op die agtersitplek van die ou Passat. Dit was ‘n lang nag, met so ‘n heerlike elektriese storm, en baie weerlig, soos net daardie deel van Noord Natal kan gee.  Maar die volgende oggend het die son briljant geskyn. Ons was teen middagete weer terug by ons huis. Dit was nou ‘n avontuur wat totaal anders uitgedraai het as wat ons ooit beplan het.

Dit het later geblyk dat die Passat se “conrod” gebreek het, en deur die blok van die enjin gesteek het.  Die goedkoop karretjie was toe glad nie so “bargain” nie, en ek dink nie dit was die eerste of die laaste keer dat “‘n oom in die gemeente” ‘n dominee of studentjie sien kom het nie…

6 thoughts on ““Internasionale rugby” studente styl…

  1. Die storie herhinder my nou daaraan dat die mees epiese roadtrips wat ons gehad het altyd juis dié was wat nie heeltemal volgens plan verloop het nie, en ek sê dit natuurlik met die voordeel van “hindsight” en ‘n genoegsame afkoelperiode.

    Ek is steeds ‘n baie groot sucker vir ‘n roadtrip, maar deesdae verkies ek om met dieselfde rygoed en in dieselfe toestand by die huis aan te kom as waarmee ek daar weg is. ‘n Mens raak mos maar gemakliker so met die jare saam

  2. Het julle daardie dag saam met die skare op die paviljoen geskreeu, was dit lankal vergete…. maar dit is die “mishaps” wat soveel kosbare herinneringe maak. Ons ses kinders “reminisce” vandag oor die vakansies Kaap toe, in ‘n audi wat nou eenmaal nie die langpad kon hanteer nie. (Agt mense in a audi gedurig langs die pad gestrand.)

  3. 😆
    As die roadtrip nie so uitgedraai het nie, sou jy dit heel moontlik nie eers regtig vandag onthou het nie. Mens kan beplan soos jy wil…maar partykeer dink ek voel de lewe net daar moet iets interessant gebeur.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s