Die Prysuitdeling…

Vanaand is ons Hoërskool se prysuitdeling. En vir die derde keer in drie weke  se tyd is die arme matrieks aan my blootgestel! (‘n sekere trol op litnet sal nie daarvan hou nie!)  Eerstens, omdat ek mos ook nou bejaard genoeg is om ‘n matriekmerrie te hê, is ek gevra om ‘n kort, inspirerende boodskappie by die matriekafskeid te lewer. Gevleuelde woorde, wat hulle sal help om met arendsvlerke te vlieg, en nie te onverantwoordelik te wees op die Afterparty nie. Die volgende week was daar ‘n matriekdiens in ons kerkgebou, waar alle vrywillige matrieks en hulle ouers saam kon dankie sê vir die vonnis van twaalf jaar hardepad wat nou verby is.   En nou vanaand, op spesiale versoek, omdat ek ‘n matriekouer is, sal ek nie asseblief  ‘n kort tweetalige boodskappie lewer nie?  My loopbaan as interplanetêre gasspreker het dalk klein op die Platteland begin, maar ek kan sommer voel dis die begin van groot dinge…

In elk geval, voor ons weer te veel nonsens praat- die Plattelandse Prysuitdeling is vir die meeste ouers hier op die Platteland een van die hoogtepunte op die sosiale kalender in die gemeenskap.  Ek vermoed daar is selfs mammies wat ontwerpersrokke gaan koop vir die geleentheid!  Die haarkappers gaan weer skep vandag, want dit reën alweer pap, maar nie so baie soos met die Matriekafskeid nie.

Ek het natuurlik baie gemengde gevoelens oor die Prysuitdeling, wat ek nou hier vir myself probeer verstaanbaar maak. As ek dit nie eers verstaan nie, kan ek ook nie van jou, liewe leser, verwag om kop of stert daarvan uit te maak nie.

Negatiewe gedagtes:

  1.  Skuldgevoelens… ek self was maar baie gemiddeld op skool, in alles. Ek het byvoorbeeld ‘n fenominale versameling van C simbole.  Met twee E’s, vir Wetenskap en Rekeningkunde… dit het nogal my ambisie om ‘n skatryk CA te wees, gekelder…  Ek het ook baie prominent op die reserwebank vir die 3e rugbyspan poseer. Die een ligpuntjie was dat ek deel van die skoolkoor was, wat gereeld die jaarlikse Applous koorkompetisie provinsiaal gewen het, en een keer daarmee saam ‘n oorsese reis onderneem het. Dit was in elk geval baie lekkerder in die koor saam met mooi meisies, as om in die kadetperiode deur ‘n klomp onnosele tappets wat korporaalstrepe gedra het, verskree te word. Koor was baie beter as kadette. Ek het darem ‘n koorbalkie gekry op skool!  Maar nooit iets substansieels soos ‘n beker of ‘n boekprys nie.
  2.  Jaloesie? Ek weet nie van in die stede nie. Maar hier op die Platteland loop enkele uiters begaafde kinders rond.  Hier is veral so drie families, wie se bloedjies AL die pryse vat. Kom ek gee ‘n voorbeeld. In my oudste hingsvulletjie se klas is ‘n jonge dame. Sy verloor gewoonlik net so een van die omtrent 8 akademiese toekennings vir verskillende vakke aan iemand anders. Sy kry kulturele toekennings, en is nog briljant op sportgebied ook. Daar is net niemand wat in niks met haar kan kers vashou nie.  Wat my so irriteer, is die manier van toekenning. Sekere onderwysers vind groot genot daarin om die pryse een vir een uit te lees. Dit toe te ken, en haar van die verhoog te laat afstap. En as sy byna af is, die volgende prys met haar naam uit te lees. Dan moet sy omdraai en al die pad weer terugstap. Sommige onderwysers is darem net kinders in ‘n grootmenswêreld…   die enigste prys wat een van my vulletjies gaan wen, is by die Laerskool- die “Most Improved” vir nommer 3.
  3. My eie hiperaktiwiteit…  weet julle, ek raak verskriklik vinnig verveeld, en dit is vir my dodelik om ure in enige iets behalwe ‘n fliek te sit…  Vanaand gaan ek en my Geliefde by die eregaste heel voor moet sit. Die saal gaan oorvol wees, baie benoud en baie warm. My normale plek is buite in die vierkant op my kampstoel, Ek dreig al jare om my gasbraaier en coolboks saam te neem. So lank sit doen dit glad nie vir my nie, veral nie tussen die “Grand” mense nie…  Die Hoërskool se stoele help ook nie baie vir die saak nie- dis van daardie dowwe grys plastiekstoele met die chroom pote. Die stoele is al in 1969 opgesit gewees, en die rugleuning buig so agteroor…

 

Positiewe gedagtes:

1. Matriekmerrie het haar kant gebring. Sy sal nou nie een van die akademiese pryse wen nie, maar sit darem in die rekordeksamen met ‘n 81 % gemiddeld (sy mag nie op my rapporte afkom nie!)  Sy was ook in die eerste hokkiespan, en is uitstekend op ‘n verhoog met drama.   Sy maak sulke grappies soos- as sy opkom, moet die onderwyser sê- “dames en here, maak julleself gemaklik, hierdie gaan ‘n rukkie neem…” Eintlik hou sy net so min van prysuitdelings soos ek…

2. Ouboet gaan baie kort daarbo wees. Sy prestasies op skool volg myne baie getrou na, behalwe in een opsig- hy is ‘n uitstekende sportman, en baie fikser as wat ek ooit was. Ek is sommer ook jaloers op my eie seun- met die baie oefen is hy baie goed gebou, en die meisies is mal oor sy persoonlikheid. Ek was nooit so nie…  Gelukkig is hy ‘n baie nice ou met ‘n sagte hartjie, hy is nie die tipe wat meisies se harte sal breek nie.

3. Die aand sal ook verby gaan. Dit is ‘n wetenskaplike gegewe dat die tyd sekonde vir sekonde sal aftik, en al is sekere onderwysers hoe langdradig, behoort ons darem teen middernag in die bed te wees…

Waarmee gaan ek open? Ek beplan om dit baie kort te maak- daardie spreuk van: ” ‘n Dwaas plant nie in die saaityd nie, en soek in die oestyd vir iets wat nie daar is nie… ” as basis te gebruik, en so twee sinnetjies daaroor in Afrikaans en Engels te sê.

As die aand nie te lank aanhou nie, kan ek dalk in ons dorp se restaurant ‘n Draught gaan drink saam met Pastoriemoeder na die tyd…

Advertisements

12 thoughts on “Die Prysuitdeling…

  1. Ek het prysuitdelings op skool ook gehaat!!!! Dan kry mens nog die simpel skole wat glo dat elke kind ‘n prys moet kry. Ek hoop om my kinders daardie skole te spaar.

    Ek moet wel giggel oor jou beskrywing van ‘n plattelandse prysuitdeling. Was in ons skool so gewees. Die room het pryse vir alles gekry – akademies, sport en kultuur. Hier en daar was daar een kind wat voorbarig genoeg was om iets onder die room se neuse te gaps.

    • Dit was gisteraand weer so- in die Graad 8 en 9 klasse het twee meisies AL die pryse gevat… baie talentvolle kinders. Ek sê toe vir ouboet hy moet darem ook volgende jaar bietjie langer daar vertoef… hoop nie die kind is getraumatiseerd vir die res van sy lewe nie…

    • Daar sit ek toe heel voor in die saal langs Pastoriemoeder, en die Voorsitter van die Beheerliggaam en sy vrou, en die Hoof en sy vrou… Dit was toe soos ek vermoed het, dis nie lekker om grand te wees nie! Baie lekkerder om kommin te wees en daar buite te sit met die coolbox op ‘n mens se eie kampstoel.

  2. As die dominee so voel oor kadetkorporaals wil ek nie eers weet hoe hy voel oor kadetsammajore nie. That might just ruin the friendship 😉

    My kennis van prysuitdelings is maar beperk, maar daar moet ‘n beter manier wees om die ding te doen. Sowat van ‘n gebeuelblasery en skouerkloppery (en dit is net die onderwysers!) gee my sooibrand

    • LMGA @ “skouerkloppery- PJ- jy is ‘n meester!

      Onthou, ek het in Natal grootgeword. En die kadette se wannabe’s was die Engelse… Ek het die ergste een van skooldae weer raakgeloop in basies in die weermag. Toe is hy ‘n Staandemag Onderkorporaal- ses jaar na skool…

  3. ‘n Plattelandse dorp, ses kinders en prysuitdelings….. een groot nagmerrie. Miskien as ek ‘n paar woorde op die geleenthede kon se, sou dit interessanter gewees het…. trek jou been dominee. Dit is goed om te hoor die leraar wat altyd so “prim” en “proper” daar sit, sou eerder ‘n vleisie wou braai. Looks are deceiving!!

  4. Is dit nie Politically Uncorrect om nog pryse by skole uit te deel nie – of het ek iewers die kat aan die stert beet?

    Is jammer jy kan nie iewers sit waar jy nie so in die oë is nie, want dan kan jy jou Blackberry vat en lees – ek het deesdae ‘n boek of drie op my Bberry ook – so ek is nooit meer verveeld nie 😉

    • Na Gisteraand wil ek graag ‘n V masker aantrek en saam betoog vir die ondergang van die Establishment… Viva la Revolution… Vyf wenners en seshonderd getraumatiseerde bloedjies.
      Al wat daar op my BB is, is die King James Bible, kry nie eers die 1983 Afr Bybel gelaai nie… En daar in die voorste gestoeltes sien almal mos as jy verveeld is, en dan sal dit in die plaaslike koerantjie se skindernuus kom… Nou nie dat dit eintlik sal seermaak nie, ek IS verveeld op so geleentheid…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s