Sondagaand- hoekom is ek hier?

Dis mos nou een van die groot vrae in die lewe wat op baie verskillende maniere geïnterpreteer kan word. Sommige ouens sal nou 13 biljoen jaar teruggaan, en praat van ‘n verskriklike ontploffing in die middel van nêrens. En dan al die pad kom tot by die eerse lewensvormpie wat uit die “primordeal” ertjiesop uitgeleopard crawl, op soek na ‘n skoenwinkel (dit was ‘n sy…) Nee, dis nie waaroor ek wil praat vanaand nie.

So sesduisend jaar gelede, presies om 10h15 vm, kort voor die staatsamptenare se teetyd, is Adam en Eva neffens Bagdag geskape- kaalbas en alleen tussen die diere… so ruk later was daar ‘n ongelukkige voorval met ‘n appel en ‘n slang…  Nee, dis ook nie waar ek vanaand wil wees nie…

Hier lê ek en my laptop nou voor die televisie. Dit is Sondagaand. Ek is moeg. Ek het vanoggend my hartjie uitgepreek oor Prediker 5, wat sommer in vers 1 al sê ‘n mens moenie te veel praat nie, dit kan gevaarlik wees.  Ek het kort daarna vinnig die rugby gekyk, en toe die hartseer nuus van Marco Simoncelli se dood in Moto GP gehoor- sy helm het afgekom na ‘n val in die Maleisiese GP, en beide Valentino Rossi en Colin Edwards het oor hom gery- hulle is albei woes getraumatiseerd, en Edwards se skouer is uit lit uit…

Ek het begin wonder- op my dagboek is dit so dat kollega die aanddiens moet hanteer. Maar onse jeugwerker is by die Engeltjiefabriek vir laaste eksamens. En daar moet nog baie by die tienerdiens gebeur. En soos ‘n goeie pliggie werk ek ‘n aanddiens preek uit, en bied vrywillig aan om die aanddiens te lei, dat kollega by die tieners kan uitkom.

Vanaand se diens het gegaan oor Richard Rohr se 5e beginsel van ‘n sinvolle lewe- om te aanvaar dat jy eendag gaan sterf.  ‘n Hartroerende preek, bygewoon deur so ongeveer 17 mense…

Nou is ek moeg.  Ek lê en kyk die krieket, en wens ek was eerder daar gewees… daar op die graswalle, tussen die mooi mense, met ‘n vloeibare verversing van mout oorsprong in die hand… Ek hou baie van krieket, en dra nou my oorspronklike 2003 ICC World Cup hempie… Daar van die ander Dominee nou net vir Smith uit op die grens… 175-6.  Ek het van my wonderlikste tye in my lewe gehad langs krieketvelde…

Ek sou ook vanaand graag eerder by die Blue Peter wou gewees het. Daardie plek bly maar net een van my absolute gunsteling plekke. Daar op die graswalle, terwyl die son agter RObbeneiland sak.  Ongelukkig verkoop hulle nie meer Bosun’s Bitter nie. Ek het van my gelukkigste tye in die Blue Peter gehad, ek het 8 aande daar Honeymoon gehou lank lank gelede…

Ek is vanaand lus vir kuier saam met vriende.  Maar ek is besig om uit vriende uit te hardloop in ons dorp. Van my beste vriende het nou weer ‘n job in die Kaap gekry, en verhuis eersdaags soontoe.  Dit is so moeilik om goeie vriende te maak- mense het ook hulle trots en wil nie graag saam met ‘n dominee gesien word nie…

Pastoriemoeder is êrens in die huis besig om haar geestelik voor te berei vir nog ‘n week in die hel. Of te wel- die skool waar sy skoolhou.En sy is ook alweer die hel in vir my…

Matriekmerrie moet seker êrens haar neus in ‘n Engelse boek indruk, more sulke tyd in die Eindeksamen. Ouboet is seker besig om êrens homself in ‘n spieël te bewonder. Nommer 3 sit saam met my en krieket kyk. En nommer 4 lê voor die Playstation….

Ek is nie lus vir die normale stokperdjie van die MNET fliek op ‘n Sondagaand nie. Alhoewel ek baie lief is vir perde, hou ek nie sommer van Perdestories nie… gewoonlik te soppy…

Ek het nie nou ‘n goeie boek om te lees nie. Pastoriemoeder het êrens Plaasmoord van Karen Bryant?  in die hande gekry, en ek het die inleiding op die poepketel gesit en lees- ek is nie nou in die regte emosionele stemming daarvoor nie, veral nie nadat ek daardie uitstekende boek van Hanlie Retief oor Piet Byleveld verlede week gelees het nie…

Ek gaan die krieket klaarkyk. En dan? Wens ek het geweet. Wens ek het ‘n goeie pel hier gehad, wat nou ‘n vuurtjie saam met my wou aansteek, en ‘n botteltjie rooiwyn oopmaak. Ek wens ek het in die Kaap gebly, en kon nou daar by Dolphin Beach langs die see gaan sit en dink…

Hierdie week het ek te veel kere gesit en diep dink… as ek so aanhou, sal ek dokter toe moet begin gaan.  Die jaar raak te lank. Die seer van mense raak vir my te veel. Soos Son dit so mooi gestel het Vrydag- my Kooi vissie is weg…

Begin Maandag se bose invloed nou al terugspoel Sondag toe?  Moet ek hierdie nonsens ooit publiseer? Move to Trash knoppie? Publiseer Knoppie? Kom ons maak oë toe en druk op een…

5 thoughts on “Sondagaand- hoekom is ek hier?

  1. Maar Bieljampie, móét mens altyd iets doen? Kan jy nie maar partykeer net wéés nie? En net niks doen of dink nie? SIt en staar ‘n rukkie in ‘n kersvlam, en maak jou kop leeg en dwing jouself om aan niks te dink nie. SIen hoe lekker is dit.

  2. Jy is eintlik so reg, Maankind, maar hierdie week grens ek redelik aan depressie, dan is dit nie ‘n goeie idee om te veel niks te sit en dink nie… En vroeg slaap gebeur dan ook nie sommer nie… Maar dalk moet ek gaan swem, dis BAIE warm hier vandag, en dan op die stoep sit met ‘n kers…

    • Swem is koning! Wens net dit wil verdomp warm genoeg word hier sodat ek ook my duiwels kan gaan wegswem. Dalk moet ek sommer daar in Kleinmond se branders gaan induik, Dat die soutwater my reg klap🙂

  3. Kersvlam is koning, ek sit soms so in ‘n kersvlam en mediteer, en dan mag ek aan niks dink nie. As iets wel in my kop kom, sê ek net vir myself, Admit it, and let it go….

  4. Mens kry in die Kaap ook sulke sondagaande. Hulle is soos jou skaduwee. Veral as jy ‘n plaaskind was wat in die koshuis moes bly.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s