Hengel is groot pret, al byt die vis nie…

So met al die gestoei in die lewe het dit tyd geword om vir ‘n slag ‘n ordentlike gesinsdag te beplan. Ek het toe nie Rhino Rally toe gegaan nie, al wou ek ook so graag daar by die aksie wees. Ons het toe ook nie gemeentekamp toe gegaan nie.

 

Verlede week hou ons een middag na skool ‘n huisvergadering. Almal kry kans om te sê wat hulle graag Saterdag wil doen saam met die gesin. Sê ons as ouers: “Sit nou julle opsies vir ons op die tafel…” maar jongste sê nee, hy kan nie. Want die tafel is vol skottelgoed, boeke, helmets ens…  Daar is nie plek om nog iets op te sit nie. Ek dink dit is dalk die probleem in die gesin op die oomblik- ons almal se tafels is te vol om nog iets op te sit…

 

Die voorstelle was uiteenlopend. Ousus sou graag Kollonade toe wou ry en fliek en uiteet (MYLE bo begroting… hier praat ons van ver oor R1000 petrol en tolhekke ingesluit…)  Krokodilplaas? Nee, sê die broers, oor hulle dooie liggame- hulle like nie krokodille nie.  Dit het iets te doen met ‘n ringskollega se broer wat eendag deur ‘n krokodil opgeëet was… hulle boikot alle krokodille en krokodilprodukte uit respek vir oom Mannetjie se nagedagtenis…

 

Wonder bo wonder besluit die gesinslede op ‘n visvang- ekspedisie. Ek het op universiteit laas visgevang. Dis twee dekades terug. Ek het drie seuns. Ek het al vir elkeen van hulle ook ‘n visvangstel gekoop.  En vir hulle hengeluitstappies van tyd tot tyd hoeke, sinkers, swivels en lyn…  Ek en Ma het buite stemming gebly- dis die kinders se dag. En ousus het verbasend genoeg ingestem…

 

Saterdagoggend breek aan. Teoreties besit ek vier visstokke en katrolle, en elke seun een stok en katrol. Erens is ‘n “keepnet” en ‘n vangnet in die buitekamer. Ons begin die toerusting bymekaar sit. Raai wat is oor? Een heel visstok met katrol. Nog twee heel visstokke- katrolle MIA of stukkend. My Penn katrol is deur IEMAND stukkend geslaan met ‘n hamer. My lang seestok se punt is afgebreek.  Ons gaan nie regkom met een stok nie. Ek gaan koop maar nog ‘n stok, en twee katrolle.

 

Ons gryp my hengeltrommel, laai die gasbraaier en kampstoele in, die stokke, sonbrandroom, en al derglike noodsaaklikhede om as hengelaars beskou te word…  Ons kom by die plek waar ons graag wou hengel, waar daar wel vis is. Nee, die plek is toe vir ‘n privaat funksie. Ons gaan na die tweede keuse toe- gemeentelede se lodge op die dorpsdam se oorkant- sorry nee, hulle het ‘n troue vandag. Kom by die derde plek aan- nee jammer, dis privaat grond, en hulle is nou besig daar.  Ek begin histeries huil op my vrou se skouer- het ek hiervoor my Rhino Rally opgeoffer? Nee, nie heeltemal nie, ek sukkel ook maar met die huilbesigheid.  Maar gelukkig ken ek een van die mense by die privaat oord. En hy verduidelik dat ek 600 m verder ‘n verskuilde paadjie sal kry reg tot teen die dam, waar dit munisipale grond is. Daar sal ons regkom.

 

So ploeg ons met die Drifter deur die modderpad, dit het toe wel goed gereën. Ons kry ‘n geskikte plek. Pak die tafel en stoele uit, stel die gasbraaier op, smeer die kinders met sonbrandroom, want ou Spikes is maar moeilik so deur die wolke heen…

Kry die stokke gereed, maak die vistrommel oop… en verloor dit heeltemal. Die trommel is dolleeg! Daar is nie een van die meer as 120 hoeke oor nie. Geen sinkers nie. Geen swivels nie. Al my kunsasies is weg, daar lê net ‘n stukkie glimwurm op die bodem en lag vir ons.  Al my poliesmanne wat ek self gemaak het is weg…  Ek wil begin wurg soos wat Homer Simpson gewoonlik vir Bart aanspreek… Ouboet bieg uiteindelik- dit was hy. Hy het al die goed in ‘n kleiner houer geplaas met sy vorige ekspedisie. En hy weet nie meer waar dit is nie.  Gelukkig het ek ‘n pakkie sinkertjies en ‘n pakkie hoeke  gekoop die oggend net om aan te vul. Dis nou die somtotaal van wat ons oor het om mee te hengel. Daar is wel nog een botteltjie ou mielies oor.

 

Na gespook is die drie lyne in die water. Maar daar is vier kinders. Nou wil elkeen ingooi en inkatrol. Ousus wil skielik ook hengel. Die middelste twee het die afgelope ruk soms saam met vriende gaan visvang, hulle kan amper al gooi. Maar die klein sinkertjies maak dat afstand nie ‘n opsie is nie. Ousus en Kleinboet kry dit reg om enige plek in die voorste 180 grade te gooi, gewoonlik oor die ander lyne ook.

 

Met die tekort aan stokke maak ek en Pastoriemoeder maar ‘n brunch. Dit kan ons goed doen. Kaasbangers, bacon en eier, jogurt en aarbeie, sap en koffie, lekker broodjies… ons fokus maar op die eet. Die kinders baklei. Ousus sit in die water op ‘n kampstoel en sê dis nou vir haar baie “Relaxing”. Boeties gooi vloermoere oor mekaar…

 

So teen eenuur het die reën weer teruggekom, en ons maar opgepak. Somtotaal van byte= 0. En tog het almal so deur die bakleiery heen dit skynbaar baie geniet.  OP pad uit ry ons verby ‘n goed ingerigte tent. Daar staan die man se stok sommer so skeef van ‘n byt. Aangesien ek hom ook ken, stop ons maar om die petalje te aanskou. Hulle is goed ingerig- professionele opset met alarms wat afgaan as daar ‘n byt is, duur stokke, groot katrolle.  Hulle roei die aas in tot bykans oorkant die dam, waar die groot visse glo skuil (nou hoekom het die seuns nog nooit iets daardie kant van die dam gevang nie?) Met ‘n heerlike gestoei kom die karp in- 8.6 kg.  Hy word versigtig uitgehaal, geweeg, foto geneem, natgegooi en weer teruggeplaas in die dam. O, daar is toe wel vis in die dam!  En net daarna gaan die volgende stok se alarm af. Dieselfde ritueel- 7.6 kg karp.  Daar was glo aan ‘n mooi baber en nog twee sulke karpe die oggend. Ons verneem hoe lank hy en sy vriend beplan om so te hengel, want ons sien die proviande is baie (die knaap drink gelukkig niks nie…) Nee, sê hulle, die plan is ‘n maand lank!  Word ek toe sommer jaloers! Wens ek kon ‘n maand lank op my alie langs water sit, buite selfoonbereik…

 

Ons het toe as gesin ook maar die Curriebeker eindstryd deurgeworstel- ek is ‘n oud Shark, dit was seer- baie geluk Leeu ondersteuners- julle span het dit toe regtig verdien!

 

Ons het heerlik gebraai die aand. En so is ons familiebande weer bietjie stewiger vasgemaak vir die laaste skof van November, wat maar ‘n lelike maand gaan wees op ons almal se dagboeke.

Sondagmiddag het ouboet ons amper afgeskryf in Ma se Corolla. Maar ons sal daardie een op ‘n ander geleentheid vertel. Ek en julle moet nou gaan werk, en ons brood in die sweet van onse aangesigte gaan verdien. Sterkte vir jou week!

7 thoughts on “Hengel is groot pret, al byt die vis nie…

  1. Ek verstaan ousus se “relaxing” op die kampstoel in die water. Het my eks my toegelaat om ook in die water te sit en relax, en hom minder bekommer oor die visse wat van stilte hou, het ons huweliksbootjie miskien nie so vinnig,” hook, line and sinker,” gesink nie. Miskien is dit die bakleiery onder die kinders wat die visse afgeskrik het – onthou dit vir die volgende ekspedisie.😉

  2. Ek hou nie van visvang of hengel nie . . . maar sal enige tyd geselskap hou met ‘n boek in die een hand en ‘n lang koue glas in die ander . . .

  3. Ek hou nie van visvang van die wal af nie, maar gee my enige tyd ‘n boot en ‘n handlyn! Dis seker die mees terapeutiese ding wat mens kan doen. Behalwe as ‘n haai jou mooiste rooi roman OOIT van jou lyn kom afsteel terwyl jy besig is om in te katrol! Dan skree jy soos ‘n vrou en gooi die lyn weg – maar dis ook ‘n storie vir ‘n ander dag😆

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s