Sjampanje en fyn onderklere op ‘n Saterdagoggend…

Nee, dis nie ek wat so ‘n lekker Saterdag gehad het nie.  Ek en my geliefde het gaan ontbyt eet by ons een gunsteling koffieshop in die dorp. En soos wat ons ingekom het, daar langs die koidam, sit ‘n groepie van ses jong dames, wat ek byna almal ken van hulle laerskooldae af. Dié groepie is nou in die ouderdomsgroep net so rondom 21 jaar oud.  Op die tafel is twee sjampanje bottels in ‘n ver gevorderde stadium van genieting. Die versiersels is dié van ‘n kinderpartytjie. Die vriendinne gee met ‘n stoute glimlag ‘n groot boks met ‘n persentjie vir die een aan die koppenent van die tafel.   Sy maak dit met groot opgewondenheid oop, en daar kom die mooiste, fynste swart onderkleertjies uit- ‘n baie sexy nommertjie. Ideaal vir ‘n wittebrood…

Duidelik is die jonge dame redelik haastig op pad kansel toe. Op ouderdom 21. En soos my geaardheid maar is, synde ‘n geestelike  nakomeling van die Koheleth (Prediker) het dit my diep laat nadink oor die sin van die lewe, soos gemeet in hierdie spesifieke situasie.

Op ouderdom 21 dink ek nie die meeste mense het al hulleself ontdek nie. Die meeste het nog nie hulle loopbaan klaar beplan, en die opleiding daarvoor klaargemaak nie. Die meeste wat ek ken, het nog nie ge-waiter en geld bymekaar geskraap vir ‘n rugsaktoer deur Europa of ander mooi plekke nie. Hulle het nog nie onder die Eiffeltoring gestaan in die nag nie. Hulle het nog nie langs die Seine rivier afgeloop teen middernag nie. Hulle het nog nie op die Britse Parlement neergekyk vanuit die London Eye nie. Hulle het nog nie die son sien sak agter die piramides van Giza nie. Hulle het nog nie in die gondels in Venesië gery, of die ferry by Istanboel geneem na die ander kontinent toe nie.

Hier in ons dorp het baie van die 21 jariges nog nie eers verby Bloemfontein gevorder nie… hulle ken nie die bergskilpaaie van die Karoo Nasionale park nie.  Hulle het nog nie by Blue Peter gesit en kyk hoe die son agter Robben Eiland nie, of hoe die maan opkom van Duiwelspiek af nie.  Baie van hulle het nog nooit met ‘n fiets verder as 10 km gery nie, wat nog te sê getoer daarmee oor 1000 km nie. Sommiges het nog nie eers bestuurslisensies vir enige klas voertuig nie. Die meeste wat ek ken, is nog stewig in pa se beursie.

En tog wil die jonge dame op hierdie ouderdom trou. Sy gaan binnekort voor die kansel staan, en beloof om die res van haar lewe saam met haar ridder op die wit Raleigh fiets die lewenspad te stap. Binne ‘n jaar of drie gaan die babatjies begin afgelewer word deur die ooievaar (of is dit oor sewe maande?)

En op ‘n dag gaan sy dalk voel soos die ballade van Lucy Jordan, wat toe nooit deur Parys kon ry in ‘n afslaandak sportmotor, met die wind wat deur haar hare waai nie…

Ek hoop regtig vir die jonge dame dat die liefde genoeg gaan wees…

Ek is so bang ook hier gaan dit tot niks kom, net ‘n gejaag na wind wees…

 

En nou, geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie, en die grootste hiervan…

Advertisements

Oudword is nie vir sissies nie…

Ek werk mos die afgelope paar maande saam met my gemeente die Predikerboek in ons weeklikse Bybelstudie deur. En die Prediker is nogal swaar leesstof om te verteer… alles is ‘n gejaag na wind, dis beter om dood te wees as om te lewe, om te sterf eerder as om gebore te word… daardie tipe dinge. Moreoggend sluit ons gelukkig die Prediker af, met die laaste hoofstuk, hoofstuk 12.

Daar is nogal baie goeie raad in daardie hoofstuk. Dit begin met die bekende vers 1, wat ons herinner om aan ons Skepper te dink in die dae van ons jeug, want later word ons ouer, en dan word dit al hoe moeiliker om te verander.

Die oudword proses word so mooi beskryf in die Prediker.  Ons sien al hoe swakker- vers 2 praat van die son, maan en sterre wat stadigaan begin verduister.  Die wolke kom terug na die reën- dit word al hoe donkerder.  Die wagters voor die huis begin bewe, seker ‘n vermelding van eens sterk arms en bene wat net nie meer is wat dit was nie. Die malers staak hulle werk en word min- ons begin tande verloor.  Die geruis van die meul verswak, ons hoor nie meer so mooi nie.   Die lied van die voëltjies word al dowwer- die mooi dinge skuif stadig buite die bereik van ons sintuie.

Die Prediker het selfs my aftreedorpie geken! In vers 5 praat hy van die mense wat vinnig bang word vir hoogtes en verskriklike dinge aanvang op die pad!  Die lentebloeisels van die amandeltak maak hom nie meer opgewonde nie, en die kapperkruid (stimulante?) werk nie meer nie…  En uiteindelik word die silwerdraad afgebreek, die goue kruik val, en die lewe is verby soos ‘n stukkende kruik by ‘n put, waarvan die wiel van die katrol ingeval het…

Digterlike taal, en ‘n mens lees met soveel deernis daarvan as jy gereeld met bejaarde mense werk. Ek het juis verlede week vir twee in die negentig jarige dames gaan kuier by ons ouetehuis. Die een se dogter het mooi gevra- gaan kuier, want sy is bang vir die einde… die ander een is al 96 en dink die Here het haar hier vergeet, sy wil ook graag gaan kyk waar is die res van haar gesin en vriende wat alreeds deur die Jordaan is…

Hoekom skryf ek oor hierdie onderwerp vandag? Die Bybelstudie van more het my seker geïnspireer.  Maar ek dink ook daardie middeljare ding is nie aldag ‘n man se vriend nie. Dit begin my regtig  vang dat my eerste kind die huis oor ses weke gaan verlaat. Dinge gaan nooit weer dieselfde wees nie- van nou af is sy ‘n kuiergas by my, nie meer ‘n inwoner nie. Dis nie meer vanselfsprekend dat sy saamgaan as ek iets beplan vir die gesin nie.

Ek self is besig om ouer te word. Dit vat langer om fiks te word. Slaap is skielik weer ‘n luukse, en glad nie vanselfsprekend nie.   Vandat baie goeie vriende nou besig is om op te pak om Kaapstad toe te verhuis, sien ek skielik met nuwe oë dinge in die dorp waarin ek al 17 jaar bly. Skielik lyk almal vir my ouer- my huisdokter, die skoolhoof, die mense in my Bybelstudiegroep, my vrou, en ekself!

Ek het seker maar daardie Dylan Thomas gevoel van Rage against the Dying of the Light…  Ek stry nog teen oudword. Ek stry teen die grys hare, en my pa se gesig wat ek al meer in die badkamerspieël sien. Ek stry teen die plooie, en die gravitasie wat van my borskas ‘n hangkas begin maak.

Ek vermoed dat die enigste oplossing dalk ‘n nuwe, groter motorfiets sal wees. Maar dis nie nou moontlik nie. Dalk moet ek maar net my leerkleertjies aantrek, en daar in Murphy se dorp gaan kuier met die Poison Rally hierdie naweek.

Ek hou nog altyd van die Harley leuse- Grow Old Disgracefully.  Ja, dis nog steeds ek daardie.  Ek wil eendag nog steeds die wille oom met die motorfiets in die ouetehuis wees, besig om onverantwoordelik op te tree en groot geraas te maak.

Op my motorfiets voel ek nog soos daardie 17 jarige seun, wie se Bobcat saam met die MBX’e in Newcastle rondgehardloop het, soos Jaco Kirsten ons beskryf het in die Weg se artikel- “Die Fifties van Newcastle…” Ja, ek was een van hulle, ek het net om die hoek van Jaco Kirsten gebly. Klein windgat…

Ek wil so graag weer eenkeer teen Panty Valley afjaag, voete ingehaak agter die flikkerligte, regterhand wat die fiets oopketel draai,  en die wêreld wat verby skiet teen onverantwoordelike vaart…

Hoekom word die kindertyd herinneringe soveel meer soos ek ouer word? Hoekom begin ‘n mens dit romantiseer? Hoekom vra ek so baie hoekoms deesdae?

“Thanksgiving” dag in die VSA, hoekom nie sommer hier ook nie?

Maankind het vanoggend my gedagtes op loop gesit oor die idee van Dankie Sê…

Vanoggend moes ek gou kyk of die nuwe ogie van my satelietskottel werk. Ek sit op CNN om ook sommer die wêreldnuus te kyk. En een van die berigte is hoe Pres Barack Obama amptelik ‘n kalkoen Presidensiële kwytskelding gee- daardie een gaan nie op ‘n Amerikaanse bord beland vandag nie.

Die Amerikaners vier Thanksgiving op die 4e Donderdag van November elke jaar. Die gedagte gaan terug na hulle Pilgrim Fathers in 1621, met ‘n dankiesê geleentheid in Plymouth in 1621 as gevolg van ‘n goeie oes. Dit het eers anderkant die 1660’s ‘n gereelde verskynsel in Massachussetts geword, wat later ‘n tradisie in die hele land geword het.

Een van die geleenthede heel in die begin was ook gekenmerk deur ‘n oes wat  misluk het, en die Wampanoag  stam het hulle oor die bleekgesigte ontferm en hulle gehelp.

Jaarliks is dit die geleentheid waar families bymekaar kom, en dankie sê vir goeie oeste, vir die hulp van mense, vir familie, vir kosbare gawes en geskenke in elke mens se lewe.

Iets daarvan beleef ons gesin rondom Kersfees.  Maar ek het tog ook gewonder of daar nie meer sulke geleenthede in ons familie se jaar moet wees nie. Tye waarin ons fokus op die mooi dinge in ons lewe. ‘n Tyd om te waardeer, en dit vir ‘n slag te sê.  So dikwels dink ons dalk dankie, maar ons sê dit nie altyd nie.

Waaroor sou ek dankbaar wees as ek vanaand rondom ‘n vet kalkoen saam met familie en vriende kon wees?

  1.  my huwelik- al gaan dit soms met stampe en stote, is dit ook my begeerte om saam met die vrou van my jeug oud te word.
  2.  Vir gesonde kinders, wat elkeen op hulle unieke manier iets bydra in my menswees.
  3. Vir baie goeie vriende, saam met wie ek soms om ‘n bottel rooiwyn en langs ‘n vuurtjie weer die lewe se sin kan herontdek.
  4.  Vir ander baie goeie vriende saam met wie ek galonne koffie per jaar kan opdrink. en so my varkies op hok kry.
  5.  Dat ek nog ‘n geleentheid het om my roeping uit te leef, en mense wat my daarin ondersteun en dra.
  6. Dat my dogter gister haar skoolloopbaan kon afsluit, en dat sy ‘n baie wonderlike jaar beleef het in die akademie, kultuur en sportgebied.
  7.  Dat my oudste seun klaar langer as ek is, ek wou so graag weer lengte in die familie inteel- mission accomplished!
  8.  Dat daar darem nog ‘n vleisie van die basaar oor is om te kan braai.
  9. vir die goedheid van mense in my lewe wat ek deur die blogs ontmoet het, en sommiges wat ek nog nooit van aangesig tot aangesig gesien het nie.
  10.  Vir my motorfiets, wat my steeds groot vreugde gee wanneer die mensdom as geheel my onderkry.
  11. Vir die reënplassies op  ‘n bosveld grondpad wat ek vanoggend moes ry om iemand te gaan bemoedig.
  12.  Vir die prag van drie koedoebulle wat saam in die veld staan en wei, elkeen van hulle ‘n trofeedier wat gelukkig nog lewe!
  13.  Vir ‘n kollega wat ‘n vriend is, en wat my ruimte gee wanneer ek nie eers myself verstaan nie…
  14. Vir al die wonderlike boeke wat ek al in my lewe kon lees, wat ietsie meer van ‘n groot groot wêreld en heelal vir my kon oopmaak.
  15. Vir die vyf eiervrugplante wat wel groei in my groenteboerdery, en die belofte wat nuwe bloeisels bring.
  16. Vir die wonder van slaap, al gebeur dit deesdae met chemiese aanmoediging.
  17.  Vir wonderlike fotos, waarmee mense ietsie van die wêreld met ietsie van hulle eie siel se waardering meng, en dit soms op die internet met ons deel.
  18. vir die paar pasgebore babatjies in ons gemeente, wat so ‘n belofte van hoop en liefde vir die toekomspad saamgebring het…
  19. die wonder van geliefdes se liefde, ver bo wat ek ooit verdien.
  20.  die wonder van God se liefde, wat soveel meer genade gee as wat ek ooit kan opgebruik…

Ek moet vanaand by die Laerskool se prysuitdeling wees.  Dit maak die kalkoengedagte nie moontlik nie. Dalk moet ek dit more aand probeer!

Die weerlig was toe raak….

Iemand se vloeke oor my uitgespreek het toe gewerk. Ek het inderdaad (goeie domineewoord) in interessante tye geleef hierdie week.

Nie alleen het ek die eerste klagte in my bediening teen my gekry nie- vorige blog se link. Die weerlig het ook gisteraand my huis raakgeslaan. Behalwe vir die skottel het my router die straal netjies na my desktop toe gelei. En ek het regtig nie nou geld oor om alles te vervang nie.

Ek kan glad nie met die Blackberry op litnet inkom nie, en weet ook nie meer of ek wil nie.

Die weerlig is die rede hoekom ek vir ‘n ruk dalk stil gaan wees. Die bliksem het my hard geslaan….

Lisensie kry flashbacks

Ek sit nou hier by die toetswerf en kyk, terwyl Matriekmerrie haar eerste amptelike bestuursles kry. Sy moet gedurende Desember haar eerste en hopenlik enigste toets slaag om op haar eie te mag bestuur.

Op die oomblik sukkel die instrukteur om haar daardie tru teen 90 grade in die paaltjies in te leer. Eish, hier lê nog baie werk voor!

Ek het kort na my 18e verjaardag my lisensie vir motor gekry, dit was vir my ‘n lewensbelangrike saak.

Op universiteit moes ek my groot motorfiets lisensie kry. Leerlinglisensies word al hoe makliker hoe langer jy met ander voertuie reeds op die pad is. Toe ek vir my lisensie gaan daar by Bloemfontein se Hamilton toetsgronde, het ek dit baie gelukkig getref. Net voor my het ‘n Sotho dame die spietkop spierwit geskrik afgelaai met ‘n Kode 10 voertuig,toets duidelik gedop. Ek wonder nog steeds wat het daar gebeur.

Die spietkop kom bewend na my kant toe gestap, clipboard in die hand. “Boetie, kan jy hierdie ding bestuur?” Vra hy met ‘n bars stem. Ek skud entoesiasties my kop op en af. Die omie sê: “bewys dit. As jy tot by daardie stopstraat kan ry, omdraai en lewendig terugkom, skryf ek jou lisensie sommer dadelik uit.”. Ek lewe nog, so ek is groot dank aan daardie Sotho dame verskuldig! Dit was soveel makliker as my karlisensie!

Die volgende jaar het ek ook my Kode 10 daar gaan doen, om soos baie ander studente my brood en botter te verdien met busbestuur.

Maar daardie oorspronklike vrees om ‘n paaltjie te stamp, en gedop te word, het steeds met my gebly.

Merrie is nog steeds besig met dieselfde maneuver! Gaan die kind ooit ‘n lisensie pass?

Legitimasie aand by die Engeltjiefabriek…

Ek moet my woorde seker nou baie mooi kies noudat die hele wêreld weet wie ek is…

Ek en kollega is netnou op pad Pretoria toe. Onse teologiese student, wat haar gemeentejaar by ons gemeente gedoen het, word vanaand gelegitimeer.

Dis so amper op die datum 2o jaar gelede wat ek ook gelegitimeer is in Bloemfontein.  Maar wat beteken dit?

Eers het ‘n mens aangemeld by die AdmissiePolisie. Die Krematorium, ag ek bedoel die Kuratorium van die N.G. Kerk. Dan het hulle gekyk of ‘n mens nie heeltemal te psycho is om eendag Dominee Donkie te wees nie. Dan het ‘n mens afgesit na die B.A. Tale Fakulteit toe. Hulle het Grieks en Hebreeus in jou kop probeer kry. By die Teologie het jy geworstel met idees wat jou geloof soms geskud het. Was Jona nou werklik of was dit net ‘n gelykenis? Was daar regtig ‘n Jerigo toe die volk die Beloofde Land ingesluip het, of was daar nie?  Tekskritiek- hoe betroubaar is die Bybelteks wat ons in ons hande het. Drie jaar se B.A met Teologiese vakke, Grieks en Hebreeus 2 verpligtend.

Na die BA jare het ons nog drie jaar by die Teologiese Fakulteit gaan werk aan ons B.Th grade. Vakke soos Ou Testament, Nuwe Testament, Kerkreg en Kerkgeskiedenis, Dogmatiek, Diakoniologie (Praktiese Teologie vir die Tukkies…) Sendingwetenskap…

In elke jaar het jy jou voogdominee gesien, jy het vir proefpreke aangemeld en een dag self bewend voor ‘n gemeente gestaan en sweet, met ‘n dosent en twee Paranimfe wat elke woord na die tyd gaan uitmekaar skeur… Ons het prakties gedoen in Oranje Hospitaal, die Psigiatriese soort. Ons het ‘n drie weke kursus gedoen by die alkoholiste rehabsentrum- kan nie eers meer sy naam onthou nie.  Ons het in daardie hokkies in die Sielkundegebou met eenrigting-glas gaan pastoraat oefen, met dosente wat ons fyn waarneem. Ons het sondagskool gegee in stadsgemeentes, ons het praktiese maande ingewerk by ander gemeentes. Alles is met valkoë dopgehou…

Al die kerk se vereistes moes nagekom word, al die boksies oor ses jaar getiek word, al die psigometriese toetse moes deurgekom word, dan het die Admissiepolisie gesê dis reg. Dan is daar ‘n geleentheid waar jy gelegitimeer word. Die kerk vertrou jou om ‘n leraar te wees.   Ses jaar gestudeer om in net een firma te werk, met ‘n 25% oorskot van gelegitimeerdes…

Vanaand staan die klas van 2011 van Pretoria blinkoog reg om weg te spring in hulle bediening. En ‘n mens gun hulle al die vreugde en vrede wat daar in ons beroep kan wees.

Ek kyk net na my klasfoto van 1991.  En ek sien binne 20 jaar het 2 uit 3 van ons klas die bediening verlaat.  Gemeentes kon nie meer hulle leraars bekostig nie. Huwelikke het dalk nie gehou nie. Dalk het een of twee met orrelistes weggeloop. Een of twee het dalk deur die diep waters gegaan, en is uitgegooi. ‘n Hele paar is sommer net uitgehaal deur plattelandse gemeentes wat niks wou laat verander in hulle gemeente nie. 1 uit 3 van ons is oor na 20 jaar.

Dit is ‘n baie lang en baie duur pad om tot by Legitimasie te vorder. Die kerk se vergaderings sê reguit dat dominees ook in die nabye toekoms tentmakers sal moet word, hulle brood en botter op ander maniere maak, want gemeentes kan ons nie meer bekostig nie. Die hartseer is: hulle sê dit nie vir die teologiese studente nie. Hulle lei hulle nie op vir so ‘n wêreld nie. Ons het byna geen ander bemarkbare skills as ons uit die Engeltjiefabriek uit kom nie.

En soms vat dit een kwaadwillige mens om al daardie jare se stryd om ‘n predikant te word, op een goeie dag op te foeter.

Mag die klas van 2011 baie meer geseënd wees as die klas van 1991- Bloemfontein!  Welkom in die wrede wêreld, waar niemand eintlik ‘n saak het met die mooi klassies wat ons wel bygewoon het op universiteit nie. Mag julle here en dames die kerk op nuwe paaie lei, en mag julle diep spore trap in die koninkryk van onse Here!  Al raad wat ek vir julle het:  Wees lief vir Jesus, en wees lief vir mense. Want alles anders het verander…

Tyd vir ‘n ou liefde…

Ek het moed bymekaar geskraap en Pastoriemoeder vir ‘n kuier na skoonma toe gevat.  Ek was laas daar met Skoonpa se begrafnis in Februarie, en ‘n mens moet darem in die skoonfamilie ook jou kant probeer bring…

Op pad na die kuier toe het ons darem eers vir ‘n slag by Reader’s Warehouse gestop.  En ek het dit nou geniet! Die een boek waarvoor ek al lankal wag, is uiteindelik geskryf, en alreeds goedkoper op die rak. Nelson de Mille se “The Lion”- die opvolg op “The Lion’s Game…”. Ek is destyds ook meegevoer deur die reeks van Tom Hanks en Stephen Spielberg- “Band of Brothers”. Dit is uitstekend nagevors en saamgestel deur Stephen Ambrose, en vir net R40 op die rak. Verder was daar ‘n kompilasie van twee boeke van Jack Coughlin, Kill Zone en Dead Shot.  Couglin was self ‘n Marine Sniper, en ken die wetenskap van skerpskutter wees baie goed.

Na aandete Vrydagaand het ek weggespring met Band of Brothers. Ek kan nie onthou hoe laat ek gaan slaap het nie, maar het Saterdag oggend vinnig die boek klaargemaak. Toe het ek gaan karre en motorfietse kyk. Sommer weer heimwee in my hart gekry- by Piet Spoed se Bikewinkel staan daar tans ‘n 2000 model BMW R1100 RT met panniers, topboks met rugleuning vir die passasier, net 82000 km op, vir R49 000. En ek het daar gestaan en sommetjies maak- as ek nou die fiets koop, en dan vir ou Huisbesoek so R25000 kan kry…  Telkens spring die studies van Matriekmerrie weer in die gedagtes op, en smoor alle drome van ander voertuie dadelik in die kiem.

Saterdag na middagete het ek weggespring met The Lion. Nelson de Mille op sy beste is iemand wie ek nie kan neersit nie. Ek hou van sy sarkastiese helde, ek geniet sy humor, en hy handhaaf ‘n uitstekende spanningslyn reg deur die boek.  So is ek met The Lion besig gewees tot die laaste bladsy laat Saterdagaand.

Sondagoggend het Pastoriemoeder terugbestuur. En ek het lekker gesit en lees aan Kill Zone in die kar op pad terug huis toe.

Ek het baie lanklaas drie boeke oor ‘n naweek kon lees.  Dit bly een van my oudstye liefdes in my lewe. Dit was vir my baie ontspannend, en Pastoriemoeder en skoonma kon lekker gesels en grappies maak terwyl hulle sit en tee drink op die stoep.

Gisteraand was hier uiteindelik ‘n heerlike donderstorm gewees, en vanoggend is die lug die mooiste blou.

Maar nou lê daar ‘n week van Epidermiese proporsies voor- daar is ‘n hoop werk wat wag- ietsie kleins soos die omgeegroep materiaal vir die eerste ses maande  wat al verlede week klaar moes gewees.

Maar nou stap ‘n goeie vriend en kollega hier by my studeerkamer in- een van dié wat my so bekommerd gehad het verlede week. Gaan nou met hom kuier. Sterkte vir jou week, hoop so nou en dan duik daar iets lekkers op, en gebeur daar iets  wat jou asem wegslaan van mooi.

Wanneer kom daardie briefie…

Hierdie foto en idee het ek gesteel by ‘n Amerikaanse vriendin se blog:

http://onebrightcorner.blogspot.com/2011/11/opportunity.html

Haar blog het net gegaan oor geleenthede om mense te vertel van die Here se liefde.

Ek wil so bietjie anders vanaand  dink oor geleenthede.

Miskien dink ekke vanaand weer net te diep, en miskien gebeur dit wanneer die Swart Hond my bekruip. Ek het weer hierdie week baie gesukkel om te slaap, en in die dag was ek redelik nutteloos. Soveel so dat ek more maar vir die kerkkantoor gaan vra om vandag as ‘n dag verlof aan te teken. Ek het net by niks en niemand uitgekom nie, behalwe een bruid.

Maar weet julle, dit wat my gevang het, was ‘n baie lekker gesprek gistermiddag  met ‘n gemeentedame wat vandag vir ‘n groot rugoperasie moes ingaan. Ons het baie lekker gesels oor baie dinge, en sy was in ‘n vorige lewe met ‘n dominee getroud, dit het nie so goed geëindig nie…

Die een vraag wat sy my gevra het, en wat my nou  redelik aan die dink het is eenvoudig: Hoe lank is ek al waar ek nou is? Die antwoord is redelik eenvoudig. Of is dit?

Ons  het in onse dorpie ingetrek presies op die dag wat Nelson Mandela president van Suid-Afrika geword het. 10 Mei 1994.  Toe ons so om Pretoria ry, was daar groot weermag en polisieteenwoordigheid oral langs die pad.

Ek en vroulief het een klein rooikopdogtertjie saam met ons gehad, tien maande oud.

Ons is verwelkom op die Platteland, soos seker net Plattelandse gemeentes nog kan doen- ek kan nie uit ‘n stadskonteks uit praat nie, want ek weet nie.

1994 was my eerste jaar in die bediening. Dit was ‘n fantastiese jaar- ek het dit so geniet met die groot plaaswyke wat aan my toegeken is, en om ver te kan ry om mense te gaan ontmoet- toe was dit vir my baie opwindend! Maar  dit was ‘n stormagtige jaar! Daar was soveel politieke emosie in daardie dae. En dan nog in die gemeente ook- twee buiteposte se dienste is afgeskaf- as mense koöperasie toe kan ry Saterdag, kan hulle kerk toe ry sondag ook (ek het nog altyd gedink dit was ‘n dom besluit, en het dit so baie geniet om by die boere te gaan preek by die ou skoolsaaltjie 50 km van die dorp af…)  Daar is in hierdie tyd ook ‘n grenswysiging tussen die twee gemeentes in die dorp gewees, en in daardie warm politieke jaar is besluit om 1/3 van die gemeente met ‘n predikantspos aan die sukkelende buurgemeente te gee. Lyne is getrek, mense is ingelig, en die dominee wat beroep word, moet gaan. Die beplanning  van die sturende gemeente was- een van die ouer kollegas is gereed om te skuif. Die besluit van die ontvangende gemeente was: ek is die goedkoopste een. Ek het nie ‘n keuse gehad nie, ek moes gaan.

Ek was maar 11 maande in my eerste gemeente gewees. Dit het 67 aansoeke en 7 onderhoude geneem om daar uit te kom. Dit het drie maande se onderhandelings en twee kerkrade se vergaderings gekos om my te dwing in my tweede beroep in. En ek het getreur oor daardie vinnige losmaak van ‘n gemeente vir wie ek baie lief geword het.  Daar was twee baie intens persoonlike krisisse in daardie tyd in ons huis, wat ek steeds nie graag oor wil gesels nie.

En in die ander gemeente was dit ‘n Bumpy ride gewees…  Hulle was nog die baie tradisionele gemeente, wat wou gehad het die nuwe kerkraadslede moet almal dadelik swart pakke en wit dasse gaan koop. En toe ek dit heftig teenstaan, is ek dadelik gebrandmerk as ‘n rebel.  Die eerste twee jaar in die gemeente was nag. Daar was baie wantroue, en baie partyskappe gewees. Maar stadigaan het alles rustig geraak.

In die nuwe gemeente is mettertyd nog drie seuns gebore. Die jaarlikse siklusse van gemeentekalenders wat deurgewerk word, het so getrou soos die aarde se reis om die son plaasgevind. Daar was baie goeie dae, en baie slegte dae. Daar was uitstekende jare, en daar was ‘n keer wat ek met my 9mm in die hand gesit en wonder het hoekom ek nie die sneller moet trek nie…

Oor die jare het ons verhoudinge met so baie mense gebou. So baie mense het so baie dinge vir ons beteken. En party het ons soms diep teleurgestel en in die rug gesteek.  Ons het baie goeie vriende gemaak. En dit is die een ding wat ek my hele lewe lank al mee sukkel.  Ek sukkel regtig om diep en blywende verhoudings te bou. Dit gaan nou baie beter, op skool was ek altyd die stil eenkant outjie met die raserige bike…

Geestelike vaders het gekom en gegaan. Party, vir wie ek baie respek het, het sommer net die gemeente verlaat. Sonder om ‘n woord te sê.  Daar was ook al die normale kwota Plattelandse interne politiek- spanning tussen kerke, spanning tussen skole, spanning tussen ryk ouers.

Al hierdie goed kan ons nou al in ons stride hanteer. Maar net soms…

Van ons beste vriende gaan nou Kaap toe trek. Sal hulle darem jaarliks sien met die Argus. Verlede jaar het van ons beste vriende Betlehem toe getrek. Ons sukkel om mekaar gereeld te sien.  En nou is van my beste vriende in die kerk ook besig om hulle poste stadigaan te begin verloor as gevolg van ekonomiese tye en die ontvolking van die Platteland.

Ek vat regtig lank om diep vriendskappe te bou, dit gebeur nie oornag nie.  En ek is besig om stadig uit die mense die naaste aan my (behalwe nou my gesin natuurlik) te hardloop- hulle raak al hoe verder weg van my.

Ek kom met ‘n skok ook agter dat klein Rooikoppie nou ‘n vrou is, besig met haar laaste eksamen, ses weke weg van die einde van haar permanente verblyf in my huis.  En al wys ek dit nie, is dit eintlik so glad nie lekker nie!

Ons het verlede week volgende jaar se beplanning gedoen.  Ek wil nie ‘n negatiewe mens wees nie. Maar dis asof ek so verskriklik opsien na nog ‘n jaar van dieselfde dinge doen, by dieselfde plek.  Dieselfde ou stories oor en oor hoor van dieselfde mense. Dieselfde moeilikheid wat ek nie kan uitsorteer nie- dit sit nie in my om ‘n wonderlike sendingbediening te hê nie.

Ek is vanaand hartseer oor goeie vriende wat nie meer ‘n oproep ver na ‘n bottel rooiwyn toe is nie. Ek verlang na goeie vriende wat al lankal elders bly, en met wie ek min kontak op die oomblik het.

Ek kyk na die advertensies in die Kerkbode. Ek stuur soms my CV weg. Ek wonder soms: is dit nog in my om te skuif, en nuwe mense te ontmoet, en oor te begin? Ek is soms so lus vir nuwe uitdagings en nuwe horisonne, ander dae is ek so verskriklik skytbang dat ek vasgeroes het in my eie groef, en nie meer die uitdaging kan aanvaar nie.

Met elke gemeente wat nee sê, voel die droom al hoe verder. Van my klasmaats sit al in hulle vierde of vyfde dorp, ek sit nog steeds waar ek al my foute as dominee gemaak het, ek kyk vir altyd in dieselfde gesigte vas, en ek sien in ‘n Ringsgemeente hoe dit lyk as die gemeente hulle dominee begin wegwens… ek wil nie so hier weggaan nie…

Soms wens ek ook net vir daardie boodskap in die bottel.  ‘n Uitnodiging na ‘n totaal nuwe lewe. Soms wens ek ek kan beleef wat my goeie vriend nou beleef- ‘n ander maatskappy wat gretig is om jou by hulle te hê, die soek na ‘n nuwe huis. Soms wens ek ek kan ook trek na ‘n plek waar ek op ‘n Vrydagaand die son kan sien sak oor die Atlantiese oseaan…

Soms, net soms, voel ek of die Hemelse Personeelbestuurkantoor van my vergeet het…

Move to trash? Of Publiseer?  Ek is nie seker nie. Ek kan dit vir niemand op my eie naam blog vertel nie. Ek is verseker nie meer lus vir die snotty aanmerkings op litnet nie.  Die vriende vir wie ek hierdie dinge kan sê, is al hoe verder weg…

Pietersburg is ‘n gevaarlike plek!

Gister het ons opgeruk na die hoofstad van onse provinsie, om te gaan kyk hoe die legendariese stryd om die liga: Laerskool 2e krieketspanne in Limpopo provinsie beslis gaan word. Laerskool Pietersburg Oos is gekies as die neutrale terrein.

 

Die pret het al begin toe ons ry. Ek en vroulief het saam met ons fietsry-vriendin gery, en ek het agter gesit in haar Mini Cooper afslaandak. Nou kyk, ek is ‘n hele 1.73 m lank (nog iets vir daai persoonlike file oor my!) Die inklim was al klaar redelik problematies. Daar is mos nou net twee deure, en die voertuig is net ontwerp vir twee baie klein Engelsmannetjies, verkieslik onder die ouderdom van 3, om agter te sit.  Nou moet ek met my sportiewe, dog effens oorgewig liggaam, die ekspedisie aanpak, om soos Harry Houdini in die boksie te kan inpas. Dit is redelik eenvoudig. Eers staan jy op jou linkerbeen. Jy draai jou regterbeen uit lit uit by die knie en in die heup. Dan werp jy die liggaamsdeel deur die dun gleufie wat die voorste sitplek los, met ‘n 90 grade hoek na regs agtertoe. Jy pak hom agter die bestuurdersitplek in. Dan verskuif jy die middelpunt van gravitasie voorwaarts, om soos ‘n goeie golfshank ook na regs uit te swenk. Die linkerbeen is nog aan die liggaam verbind, en volg weens die gravitasiekrag en middelpuntvlietende krag die res van die liggaam binne in daardie gaatjie in. Die Gluteus Maximus word neergeplaas in die middel, en albei die knieê word agter die ooreenstemmende ore ingehaak. En so sit ek toe vir twee ure op die snelweg Noord.  Nogal Scary van daardie Mini is dat die agterseiltjie so 2 mm agter ‘n mens se rug is, en die Iveco en Sprinter bussies kom sit hulle neuse so 3 mm verder weg. Ek is telkens verbaas dat daardie bussies so gemaklik 160 km/u kan haal met 60 insittendes in…

 

In elk geval, by die krieketveld het ek myself weer met groot moeite uitgehaal uit daardie plekkie daar agter uit- ek wonder of geboorte nie makliker is as om uit ‘n Mini Cooper uit te klim nie?  Ons haas ons na die veld, waar my seun met ‘n kapteinstatuur reeds voor die penne sy plek ingeneem het. Uitstekende houding, die elmboog lig korrek om die kolf na die bal toe te stuur- twee lopies is reeds agter sy naam aangeteken. En toe ek gaan sit, raak die kant van sy kolf met ‘n nanomikrometer die kolf, en die paaltjiewagter van Messina drop nie per ongeluk die bal nie. So is die kaptein van die 2e krieketspan se kolfloopbaan in die laerskooljare netjies afgesluit met twee lopies. Vriendin se seun kom op. Derde bal slaan hy die bal netjies raak, om amper op die grenslyn behendig uitgevang te word. En binne ‘n kort tydjie het ‘n verdere 8 paaltjies gekantel, amper so vinnig soos die Proteas op ‘n slegte dag…

 

Die kante draai om. 137 Lopies is die teiken. Laerskool Messina se kolfwerk is toe so goed soos hulle boulwerk. En ons span se boulwerk lyk toe ook soos ons kolwery.  Seun stonk darem twee van hulle. Maar voor die middagson te veel mense langs die veld doodskroei, is die game verby. Ons besluit: ons wil darem die Great North Mall sien, almal in die provinsie praat gereeld daaroor. Ek is weer in daardie agtersitplek. By die verkeersirkel wil ons omry. Maar ‘n “Dame” in die middel van die sirkel besluit om links te draai, en doen dit ook onmiddelik. Ons mis ‘n moerse ongeluk met twee miljoenstes van nog n nanosekonde.

Ons ry witgeskrik terug snelweg toe. Ons besluit om daardie ou staatsdiens gunsteling te koop, aangesien die dag al lank raak. Ons koop daardie groot bokse KFC wat op elke staatsdiensamptenaar se lessenaar van 11 uur af verskyn. Genoeg olie in om my bakkie tot in Pretoria te laat loop, vermoed ek.  Ek was nog nooit ‘n groot fan van KFC gewees nie.  By die Drive-Through in Poloburg ry jy eers deur die taxi rank.  Daar kan jy in die ry jou kar laat was, jou wieldoppe verloor (gelukkig het die Mini mags…) en jou weeklikse dwelms koop voor jy weer in die  groter pad kan inkom.

 

En so het ons die pad weer terug huiswaarts aangepak. Pieterskwane is regtig ‘n vreemde plek vir my. Gevaarlike bestuurders. Groot pothole. Onvriendelike mense in staatdiensmotors (kfc lewer seker nie af daar by die Premier se kantoor nie?)  So van die Premier se kantoor gepraat, die krematorium is reg langs die Premierskantoor in Landdros Maré straat, en die skoorsteen is daar neffens die vensters- minder as 10 meter weg!   Ek wonder hoe gereeld is die Premier se vensters oop.

 

Nou ja, tuis aangekom het ek weer een van my grootste foute in die lewe gemaak. Gedagtig aan myself in die agtersitplek van ‘n Mini Cooper, en hoe dikgevreet ek gevoel het na daardie boks KFC, merk ek teenoor Mamma op dat ek dink dit is tyd dat ons twee bietjie gewiggies verloor…   Sy sal seker volgende Dinsdag sê hoekom sy my so hard geklap het…  en met saamgeperste lippies nou nog so na my gluur…

 

Ek kan dit nie help nie, ek is maar altyd in die stront!  Hoop dit gaan beter daar by jou!

Natuurwette werk ernstig op my in…

Ek het tot laat gisteraand gelê en lees aan Alister McGrath se boek “Twilight of Atheism”. Dit was vir my fassinerend, omdat hy ‘n baie goeie oorsig gee oor hoe die denkrigting van ateïsme ontwikkel het. So baie van die invloede is bespreek, van Locke en Hume, Descartes, na Feuerbach, Karl Marx, Sigmund Freud, natuurlik Nietszche is ook daarin, en vele, vele meer…

Alister McGrath is self iemand wat ateïs was, en ‘n D.Phil in Molukulêre Biologie het… Hy het die Here ontmoet, en toe teologie begin studeer, dit eers aan Oxford doseer, maar ek sien hy is nou in London by een van hulle universiteite…

Al rede hoekom ek dit nou vertel (behalwe nou vir Neander wat sê die wetenskaplikes stem nie saam met my opinies nie… sommiges doen wel, soos McGrath, Francis Collins… ek sal eendag meer daaroor skryf…)  is dat dit die hamster op die wieletjie laat hardloop het in my kop. So baie dinge weer gelees, soos hoofstuk 4 wat gaan oor die gewaande stryd tussen wetenskap en geloof… dat ek nie aan die slaap kon raak nie. Eers so teen eenuur die wakkergeit oorwin. Half ses het ek en my kollega en ons vriendin die 30 km gaan aanpak te fiets.

 

En dis waaroor hierdie bloginskrywing eintlik gaan. Kollega het vertel hoe wonderlik dit is om met musiek in die ore te oefen, dat hy glad nie moeg word nie.  Ek ry in elk geval met my Blackberry saam, daar is hierdie heerlike Application, Endomondo, wat jou roete, spoed en tyd monitor, en vir jou selfs grafieke van jou oefenprogram gee. Dit meet elke kilometer se spoed.  Ek het so probleempie, in die eerste week wat ek my Blackberry gekry het, het die kinders my oorfone wegge… gooi.  Geen probleem nie, sê kollega. Hy het by Egypt Air ‘n stel gekry toe hy Israel toe was. Hy bring dit sommer saam Total garage toe.

 

So vertrek ons toe vanoggend half ses van die Total garage af. Daar is net een probleempie. Omdat my oorfone al lankal weg is, en my Blackberry ‘n battery kan opvreet, het ek byna geen musiek op my foon nie. Net Celtic Thunder, omdat dit ‘n mens so aan die slaap kan sus… en vanoggend, met die vier ure slaap in, was dit nou nie helemal die beste ding vir my nie.  Ek het omtrent eers weer wakker geskrik toe ek by die huis stop. Al die pad deur die slaap gery, en gelukkig nie in ‘n pothool of voor ‘n trekker ingery nie.

 

Die een ding van natuurkragte- daar is verseker ‘n verskuiwing in die tektoniese plate besig om te gebeur, en dit gebeur baie vinniger as wat die wetenskaplikes bereid is om te verklaar.  Want elke jaar word die bulte op my fietsrypad eksponensieël steiler. Dis waar! Ek vat baie langer om bo te kom as ‘n dekade terug.  Gravitasie is ook verseker besig om toe te neem, want die kere wat ek val, word dit al hoe seerder en die grond al hoe harder. Ek is nou nie heeltemal seker hoe die eerste en tweede wet van Termodinamika werk nie, ek vermoed dit het iets te doen met dat daar eers lewe in die oggend is na die tweede koppie koffie uit die Termosfles uit…

 

Ek het min geslaap. Ek het baie ver met my onfikse lyf agter twee vriende aangehyg op onse baaisiekels vanoggend. Nou gaan ek met my gemeentedames Prediker 8 deurwerk- SCARY!  En dan gaan ons Pieterskwaneburg toe waar nommer drie vandag vir die laaste keer uitdraf as die kaptein van die Laerskool se 2e krieketspan, om die liga se 1e en 2e plekke te bepaal. Ek hoop die verdomde eende bly ver weg, en dat my naamgenoot vandag homself ten volle op die veld gaan geniet.  Ek sien uit na ‘n heerlike dag langs die krieketveld…

 

Mooi dag daar in jou kantoor of waar jy ook al vandag gaan wees.  Gaan groot of gaan huis toe!