Die soet en suur van facebook

Sondagaand kyk ons gesin toe saam na die faceboek fliek- “The Social Network…” op MNET. Ek moet sê ek vermoed dat Mark Zuckenberg nou nooit een van my vriende sal wees nie, dit lyk regtig asof sy vriende maar die hele tyd oor hulle skouer moet kyk.

Ek drink wel soms, ek rook nie, dans nie, vloek… ek het ook maar my verslawings in die lewe. Die een ding wat my elke keer kry, is ‘n elektroniese verslawing. En dit kom al van kleins af. Ek onthou hoe het ek soms vir ure gestaan en Pacman speel in die hotel in ons dorp toe ek nog op skool was. Rekenaarspeletjies het my al deur die nag laat speel.  Ek was verslaaf aan Mafia Wars, en het tot by level 899 gevorder voordat ek agtergekom het hoeveel ure ‘n dag daardeur gesteel word.  Ek is verslaaf aan blogs. En ek is verslaaf aan facebook.

facebook is ‘n wonderlike ding, met sy eie angels in.

Die Soet

  1. Ek het baie meer vriende as wat ek ooit in die werklike lewe gehad het…  Op my eie naam het ek 317 vriende, op my speletjiesprofiel waarin ek seker vier maande laas was, is daar die volle 5000 toegelaat.
  2. Ou vriende is weer opgespoor. Ek het kontak met my kamermaat van universiteit verloor tydens die weermagjaar, en so het ons mekaar weer opgespoor.
  3. Familieverbintenisse verstewig- soms het ‘n mens familie wat jy meer gereeld as jaarliks net op ‘n kerskaartjie wil sien. Ek het baie mooi niggies, en hulle 20 jaar gelede laas gesien. En ons het mekaar ook weer opgespoor.
  4. Ek kan sien wat in my tieners se harte aangaan- dit wat hulle nooit vir ‘n ouer sal sê nie, staan sommer vir die hele wêreld se oë op hulle facebook status.
  5. Ek het kontak met my gemeente- in ‘n groot gemeente sukkel mens regtig om persoonlik met elkeen ‘n pad te stap. Deur facebook sien ‘n mens wat aangaan, en kan ek vinnig in krisistye help.
  6. Sekere Applications is baie lekker- bv Endomondo op Blackberry wat ‘n mens se oefenprogram met GPS help meet, en op facebook vir jou die statistieke deurgee- bv die roete gery op die fiets, vinnigste kilometer, stadigste kilometer, routeprofiel ens…
  7.  Die feit dat jy ander se apps kan wegsteek wat jou irriteer, soos bv no 6- die platform help my, maar ek kan nie dink dat dit vir enige iemand anders opwindende leesstof kan wees nie.
  8.  ‘n Mens leer regtig sommige mense beter ken.
  9.  Jy sien soms baie interessante partytjies of expo’s raak wat jy andersinds sou gemis het.
  10.  Dis nogal baie lekker om iemand se fotos te sien, veral as jy hulle 20 jaar gelede laas in lewende lywe gesien het.

Die Suur

  1.  Hoeveel privaatheid het ‘n mens werklik? Verlede week in die BBC webwerf is berig van ‘n jong Oostenryker wat facebook gevra het hoeveel inligting hulle van hom het, en toe is daar ‘n CD met ‘n verstommende 1200 bladsye inligting na hom toe gestuur…
  2. Internet Porn- so nou en dan kom daar die walglikste goed van die vroomste mense af deur- bv die een wat die rondte gedoen het van hoe ‘n pa sy dogter se naakte alie pak slae gee- en as iemand daarop kliek, dan versprei dit na die hele adreslys toe.  Baie rooi gesigte veroorsaak.
  3. Kettingbriewe- baie keer met ‘n soetsappige boodskappie, wat jy dadelik na 10 mense toe moet aanstuur om self gebless te word.
  4.  Sommige mense dink die Here het ook ‘n facebook profiel. Want daar is sowaar mense wat elke dag hulle gebed op facebook sit.  Dit voel vir my te veel na daardie fariseërs wat so in die openbaar gebid het om deur almal raakgesien te word. Gebed is goed, maar ek hou nie hiervan nie!
  5.  Status Updates vir ‘n saak… as jy ‘n wonderlike pappie gehad het, sit vir die volgende dag die volgende boodskappie op jou status.  Ek haat dit en doen dit nooit. As jy ‘n wonderlike pappie het, bel hom, en vat hom vir ete. Of vat hom Monaco Grand Prix toe.  En PM hom.  As ek dit nie op my status sit nie, beteken dit nie ek het nie waardering vir die saak nie.  Maar as ek 20 sulke versoeke per dag begin kry, dan werk dit op my gatspiere!
  6. Voordat ek uitgevind het ‘n mens kan Zynga se speletjieversoeke wegsteek, het dit die wit waks uit my uit geirriteer- stuur mieliepitte vir my plaas… daar is ‘n verlore dolfyn op die strand…
  7.  Mense wat spam met elke drie minute ‘n nuwe status update… Een ou het sy hele bybelstudie so op sy statusupdates weergegee vir maande…
  8. Smartvrate wat elke uur ‘n ander treurige statusupdate het, en daar kom nooit iets positiefs deur nie.  Omdat hulle die hele tyd negatief dink, tree hulle negatief op, en later hou niemand meer van hulle nie, net te “high maintenance…”
  9. Al daardie apps wat interessant lyk en dan vat dit eers sewe stappe, insluitend om al jou vriende te nooi, voor jy uiteindelik in is. Die oomblik as hulle wil hê ek moet iemand nooi, klim ek uit beginsel uit.  Wens almal anders wou ook…
  10.  Die mense wat ongelukkig raak oor jy nie hulle vriend wil wees en hulle uitnodiging aanvaar nie.  As iemand in die werklike lewe vir my ‘n poepol is, hoekom sal hy op facebook ‘n beter vriend wees?  Of as jy my irriteer op my facebook, dan vee ek jou uit. Dis vir my sleg as jy na die tyd met my hanna-hanna oor hoekom ons nie vriende kan wees nie- dis oor jy ‘n poepol is…
  11.  Bybelversie Apps- “On this day God wants you to know…”  daardie boodskap sal ek mos in my binnekamer by die Here self kry, Hy gebruik nie sy facebookprofiel nie…

En so kan daar nog seker honderde onder albei geplaas word.

As jy op facebook is, wat is jou soet en suur?  Geniet jou dag

8 thoughts on “Die soet en suur van facebook

  1. Daar is honderde dinge wat my op fb irriteer….veral die smartvrate en die nuwe generasie bedelaars. MAAR, ek gebruik fb gereeld vir kontak met familie en vriende in die buiteland, en die deel van foto’s.

  2. Sommige mense dink die Here het ook ‘n facebook profiel. Want daar is sowaar mense wat elke dag hulle gebed op facebook sit. Dit voel vir my te veel na daardie fariseërs wat so in die openbaar gebid het om deur almal raakgesien te word. Gebed is goed, maar ek hou nie hiervan nie!

    Stem 120 % saam. Ek het verlede jaar mense gruwelik onstel toe ek my mening daaroor gegee het. 😉 Die finale bewys dat ek net ‘n klipchristen is, want ek bid nooit op FB nie.

  3. Ek gebruik FB om kontak te hou. Ek het reeds die meeste irritasies wat my pla geblok. Sal so nou en dan ‘n game uitprobeer, maar raak gou verveeld en los dit dan net so vinnig.

  4. Baie waar. Ek vind facebook, mxit, bing ens baie ongrondwetlik. As ek moeg vir ‘n ding raak wil ek daarvan ontslae raak, dit nie net deaktiveer nie. Fb ens kan jy van jou foon of rekenaar af wis, maar JY bly daar totdat jy weer eendag aktiveer. Na my mening is dit ONGRONDWETLIK.

  5. Nee wat, Fb het sy nadele maar wat ‘n lekker manier om sommer oral te kuier. Ek stem met die “share” op jou wall, maar dominee ek het juis daardie einste pappie een – “net die engelse weergawe – op my muur geshare. Dit was met trots dat ek dit daar “geplak” het, ter nagedagtenis aan ‘n man, wat soos my seun tereg se “The closest representation of Jesus,” was.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s