Jaarbeplanning

“Like sand through the hourglass, so are the days of our lives…”

 

 

Met hierdie woorde het die sepie altyd begin. En die enigste waarheid wat ek ooit in sepies gehoor het, so onderstreep.

2011 is in ‘n terminale fase, dodelik siek en vinnig besig om die Altzheimersaal van wens om te vergeet te betree.

HIerdie tyd van die jaar is baie mense, insluitend ek, net nie meer lus vir nonsens nie. Humeure word korter. ‘n Mens staan al moeiliker op. Werk word al meer ‘n vierletterwoord.  ‘n Mens is net lus om elke aand te gaan kuier, nie om na tien by die huis te kom vir ‘n klomp huisbesoek-regmerkies op jou verslag nie.  ‘n Mens begin verlang na seewater op die veld, selfs sand in die swembroek begin nie te sleg klink nie… (en nee, daar is niks daarvan in die pyplyn nie…)

Met hierdie moegheid in die kop en in die lyf, is daar ‘n verskriklike wrede werklikheid… 2012 se jaarbeplanning moet afgehandel word… die kerk se kalender moet in November uitgaan. Nou alreeds, met hierdie breinselle wat smeek om genade, moet gedink word aan wanneer elke nagmaal volgende jaar gaan wees. Wanneer die kerkraadsvergaderings (daar is juis vanaand een, verwag ‘n slegte bui vir die res van die dag…)  Wanneer gaan ons by wie huisbesoek doen.

Stukkie vir stukkie word volgende jaar in boksies ingedruk. Hy is nog nie eers gebore nie, dan word al beplan aan sy Oujaarsaand diens…  Dis so wreed soos om vir ‘n pasgebore baba ‘n begrafnispolis te stuur!  Die res van vanoggend druk ons ure dae maande jare in die genadelose boksies in. Wanneer hy sy hokkie gevind het, is dit amper ‘n wet van Mediërs en Perse (onveranderbaar, selfs die Babiloniese Koning kon dit nie herroep as dit eers uit is nie…)

Stuk vir stuk bou ons die legkaart van agtuur af. Stuk vir stuk gee ons ons lewens weg.  Nog ‘n aand nie saam met my vrou nie, nog ‘n middag nie by die kinders nie…  Ja, dis my keuse, my roeping, my werk, ek weet…

Dis so maklik om daardie blokkies op die almanak vol te skryf.

Ek wens dit was net so maklik om ‘n paralelle almanak te kry, met my eie blokkies in:

Tyd om saam met my vrou te lag. Tyd om met my seuns te stoei. Tyd om my dogter in  Bose Stad nommer 2 te gaan verras vir koffie en koek. Tyd om op my eie Huisbesoek te gaan. Tyd vir vriende. Tyd om stil te gaan word in die Almagtige se teenwoordigheid in die natuur.  Tyd om ‘n goeie nie-teologiese boek te lees. Tyd om na Bach en Mozart te luister met ‘n selfoon wat af is.

Lucas Maree het dit so mooi in sy Kiekies lied gesê: Die gapings tussen kiekies maak my bang…

Wat my bang maak, is daardie min blokkies wat oorbly as die Jaarbeplanning eers gedoen is. En steeds sal mense dink- die man kos ons baie geld- kan hy nie maar nog meer doen nie? Hoekom sê hy nee vir ‘n biduur op ‘n Vrydagaand?

Nou ja, vandag gaan ons blokkies speel. Mag die Koninkryk daardeur wen. En mag my gesin nie te veel verloor in die proses nie!

Mooi dag vir jou, en sterkte met jou blokkies!