Jaarbeplanning

“Like sand through the hourglass, so are the days of our lives…”

 

 

Met hierdie woorde het die sepie altyd begin. En die enigste waarheid wat ek ooit in sepies gehoor het, so onderstreep.

2011 is in ‘n terminale fase, dodelik siek en vinnig besig om die Altzheimersaal van wens om te vergeet te betree.

HIerdie tyd van die jaar is baie mense, insluitend ek, net nie meer lus vir nonsens nie. Humeure word korter. ‘n Mens staan al moeiliker op. Werk word al meer ‘n vierletterwoord.  ‘n Mens is net lus om elke aand te gaan kuier, nie om na tien by die huis te kom vir ‘n klomp huisbesoek-regmerkies op jou verslag nie.  ‘n Mens begin verlang na seewater op die veld, selfs sand in die swembroek begin nie te sleg klink nie… (en nee, daar is niks daarvan in die pyplyn nie…)

Met hierdie moegheid in die kop en in die lyf, is daar ‘n verskriklike wrede werklikheid… 2012 se jaarbeplanning moet afgehandel word… die kerk se kalender moet in November uitgaan. Nou alreeds, met hierdie breinselle wat smeek om genade, moet gedink word aan wanneer elke nagmaal volgende jaar gaan wees. Wanneer die kerkraadsvergaderings (daar is juis vanaand een, verwag ‘n slegte bui vir die res van die dag…)  Wanneer gaan ons by wie huisbesoek doen.

Stukkie vir stukkie word volgende jaar in boksies ingedruk. Hy is nog nie eers gebore nie, dan word al beplan aan sy Oujaarsaand diens…  Dis so wreed soos om vir ‘n pasgebore baba ‘n begrafnispolis te stuur!  Die res van vanoggend druk ons ure dae maande jare in die genadelose boksies in. Wanneer hy sy hokkie gevind het, is dit amper ‘n wet van Mediërs en Perse (onveranderbaar, selfs die Babiloniese Koning kon dit nie herroep as dit eers uit is nie…)

Stuk vir stuk bou ons die legkaart van agtuur af. Stuk vir stuk gee ons ons lewens weg.  Nog ‘n aand nie saam met my vrou nie, nog ‘n middag nie by die kinders nie…  Ja, dis my keuse, my roeping, my werk, ek weet…

Dis so maklik om daardie blokkies op die almanak vol te skryf.

Ek wens dit was net so maklik om ‘n paralelle almanak te kry, met my eie blokkies in:

Tyd om saam met my vrou te lag. Tyd om met my seuns te stoei. Tyd om my dogter in  Bose Stad nommer 2 te gaan verras vir koffie en koek. Tyd om op my eie Huisbesoek te gaan. Tyd vir vriende. Tyd om stil te gaan word in die Almagtige se teenwoordigheid in die natuur.  Tyd om ‘n goeie nie-teologiese boek te lees. Tyd om na Bach en Mozart te luister met ‘n selfoon wat af is.

Lucas Maree het dit so mooi in sy Kiekies lied gesê: Die gapings tussen kiekies maak my bang…

Wat my bang maak, is daardie min blokkies wat oorbly as die Jaarbeplanning eers gedoen is. En steeds sal mense dink- die man kos ons baie geld- kan hy nie maar nog meer doen nie? Hoekom sê hy nee vir ‘n biduur op ‘n Vrydagaand?

Nou ja, vandag gaan ons blokkies speel. Mag die Koninkryk daardeur wen. En mag my gesin nie te veel verloor in die proses nie!

Mooi dag vir jou, en sterkte met jou blokkies!

15 thoughts on “Jaarbeplanning

      • As jy so aldag en heeldag huisbesoek doen en by hospitale draai en preek Sondae en bidure doen, raak jy nie soms “op-gebid” nie?

        • VErseker ja, Krista. Dis waar tye soos Saterdag se net langs die dam sit vir my al hoe belangriker word, tye net om af te skakel van alles en almal, en net uit te kom by die mense wat my batterye weer laai. En die stilte.. In die Bybel sien ‘n mens dat selfs Jesus gereeld onttrek het van die skares en eenkant alleen gegaan het… ‘n mens kan net so lank bly gee, en dan raak die kruik leeg.

  1. Persoonlik dink ek ‘n jaarlikse beplanning en begroting is ‘n mors van tyd. Dit werk nooit uit nie en dan is dit weer ‘n vermorsing van energie om te bepaal hoekom het dit nie uitgewerk nie. Persoonlik dink ek daar moet net gedoen word wat gedoen moet word en met so min vermorsing as moontlik. En as daar opsluit beplan moet word, doen net die nodigste. (Under promise and over deliver). Die lewe gaan tog net weer interfere.

  2. OK kan ek iets voorstel om meer tyd vir hulle te maak? Skryf elke tweede blog korter, en spandeer daardie tyd wat jy spaar om saam met gesin koffie te drink. (Sommer uit die geel blik, wat jy maak) DIs ‘n klein dingetjie wat dalk groot vrugte afwerp.

    • Gaan nie werk nie Maankind, ek blog gewoonlik tussen 7 en 8, wanneer hulle klaar uit die huis uit is, en voordat ek mense kan begin sien… andersinds tussen 1 en 2, wanneer my vrou eers van die werk af kom. My werksure is gewoonlik so tussen 8-1, 3-9 en as ek soms gelukkig is, dan sit ek en preek maak of Bybelstudie doen op my rekenaar. En as die BB ‘n boodskap ping, dan antwoord ek gou. In die week kom ek Maandag- Donderdag gewoonlik net tussen 2-3 by hulle op gereelde basis uit.

      Ek skryf in elk geval ‘n blog redelik vinnig, gewoonlik binne 10 minute- so dit gaan nie baie ekstra tyd maak nie…

      • Soos nou sit ek en werk deur ‘n berg papier vir vanaand se kerkraadsvergadering, waar ek moet voorsit… en nou en dan val my tor van die stokkie af, en dan lees ek eers iemand se blog vinnig, antwoord iemand anders, en vat dan maar weer die papierwerk aan. Hoekom doen ek dit so? My studeerkamer is ‘n baie eensame plek! As ek iemand se blog lees, voel ek nie so alleen nie…

  3. Dit moet seker gedoen word om ‘n kerk op “geoliede” wiele te laat hardloop, maar ek is nou baie eerlik as ek se ek was nog nooit lief vir kerk nie, – dink dit is juis daardie geoliede wiele wat my afskrik, Ek is nie ‘n boksie mens nie. Sterkte met dit wat voorle.

  4. Nevermind die wet van Mede en Perse – ek dink jy moet almanakblokkies ook afmerk vir “Sielsverryking” en dan doen jy daai lekker dinge met jou vrou, jou gesin, Huisbesoek, ensovoorts op daai sielsverryking blokkie-tye🙂

  5. Liewe Bileam se donkie, ek wens ek het ‘n boksie vol tyd gehad om vir jou te skenk! Ek dink nie ek kan saampraat van in ‘n dagboek skryf nie. Ek wil sommer net vra… is dit ENIGSINS moontlik om iewers in jou dagboek ‘n inskrywing, ‘n “booking” te maak vir jou gesin? Of is die “lewe” net te selfsugtig en wil al die ander net jou tyd opslurp, voel hulle tyd saam met jou gesin tel net nie? Ek vra regtig maar net. Raad kan ek nie gee nie. Ek weet jy sou sommer net kop skoonmaak met hierdie inskrywing. Of weet ek verkeerd?

  6. Ek is so bly dat I Kon 19 vir ons opgeteken is wat vertel van Elia wat so moeg en bedruk geraak het dat hy sommer ‘n dag lank in die woestyn ingevoeter het – en dit die dag nadat hy vuur uit die hemel en reen na 3 jaar droogte gebid het! Ek voel dikwels jammer vir ons dominees en ander geestelike stryders wat die wind van voor kry en nog gekritiseer word as hulle nie altyd volsttom en blinkoog voorkom nie. Wat God van ons verlang en wat “die mense” van ons verlang is nie dieselfde ding nie. Daar is baie beloftes vir mense wat moeg word. Ek ken jou nie maar dink spesiaal aan jou en jou gesin vandag en hoop dat al die beloftes vir julle waar sal word, op die regte tyd.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s