Onvrye Vrydag

Vrydag is my Sondag. My dag van rus. Dan mag ek geen werk doen nie, nie ek, of die vreemdeling by my nie, of die os of die esel wat vir my werk nie, my slaaf of slavin nie. Want die Goeie Boek sê Ses Dae  werk, in die sweet van jou aangesig, die sewende moet jy rus.

Daar is net so paar klein probleempies op die horison vandag.  Ek kan nie in my vrou se arms rus nie, want sy moet skoolhou vandag.  Ek besit nie ‘n os nie, en is self die esel.  Ek het nie ‘n slaaf of slavin nie. Die mense wat wel vir ons werk, word ordentlik behandel, en rus Saterdag en Sondag van die arbeid.

Wat sou ‘n rusdag in elk geval beteken? Die Oumense het dit absoluut as Sondag gesien. Dan mag daar geen werk gedoen word nie, behalwe om ‘n feesmaal voor te berei wat die helfte van Somalië kon voed.  Geen naaldwerk nie, anders steek jy ‘n naald in die Here se oog. (Wonder nou nog of naaldwerk nie dalk die grootmenswoord vir ander Sondagmiddag sports was nie?) Geen visvang of fietsry nie. Niks wat lekker is nie. Net kerk toe gaan, tuiskom, tee drink uit ouma se grênd porselein koppietjies, en dan gaan aansit by die ete wat die volk so hoog op die Cholestroltelling laat meet… Wanneer die laaste poeding sorgvuldig ingeprop is, dan kan ‘n mens nie meer vertikaal verkeer nie, en is die naaste bed opgesoek vir twee ure van rus- heilige rus. Maar as dit so warm dag is, dan voel ‘n mens meer of jy in die hel was as jy wakker word, die kop is seer, die lyf is tam. Maar jy mag nie in die swembad spring op ‘n Sondag nie… Soms kom kuier bure in kerkklere- pakke suits en deftige rokke en hoede. Dan is dit weer die porselyne en koeksisters. Tot so net voor vyf- dan skrop almal weer en gaan sit weer in die kerk vir die volgende episode van Jona en die Vis. Jubelsange wat klink soos klaagliedere. Prys den Heer met strak gesigte, wee hom uit wie daar vreugde straal…

Ek is seker maar een van die rebelle in die kerk- ek kon nie as kind daardie tipe godsdiens verstaan waar jou vreugde nie van  ‘n begrafnis onderskei kan word nie. En hoe die kerk van naasteliefde kan praat, maar niemand groet mekaar eers as hulle in die kerk instap nie…Ek kon dit nog nooit verstaan as die dominees en die ouderlinge skielik ander stemme binne die kerkgebou ontwikkel  nie, en dan hulle woorde so mooi afrond nie- veral Jeruuuuuusalleeeeeeeeem sê mos so mooi…

Vandag is nou my Sondag. Dis my afdag. My privaat dag.

Vandag sou ek graag:

  •  ‘n rukkie in die natuur, by ‘n baie mooi koppie langs ‘n dam, wou gaan stil word vir so ‘n uur, en net hierdie week se dinge bietjie netjies uitpak in die rakke van my gedagtes.
  • ‘n Ent gaan ry op Huisbesoek, terwyl sy tenk darem nog half vol is van laasmaand se goedkoop petrol…
  • Saam met ‘n goeie vriend wou gaan koffie drink, en hoor wat in sy lewe aangaan. Dit sou selfs ‘n getroude vriendin kon wees- ons en dokters spring mos nie soos IT Spesialiste in die bed saam met elke ding wat ‘n broek aan het nie- party van ons is wel gelukkig getroud en glo in monogame, committed verhoudings, al sê lae varke ook anders van ons…  (ek moes daai een van my hart afkry weens siek trolle se bewerings…)
  •  Ek sou graag ‘n goeie boek wou lees.
  • My swembad weer blou kry van sy mooi neon groen kleur af, en daarin spring sonder waterponies wat my byt.
  • Saam met my vrou gaan koffie drink en ‘n stuk koek deel vanmiddag
  • Goeie vriende nooi vir ‘n braai vanaand

‘n Paar van hierdie dinge kan dalk gebeur.

Maar vandag is nie ‘n afdag nie. Elfuur moet ek ‘n oom begrawe wat ek baie respek voor gehad het. ‘n Man wat baie jare, van sy tienerjare af, doof was. Wat moeilik kon kommunikeer, wat nie meer kon onthou hoe sê ‘n mens die meeste woorde nie. Maar ‘n man met ‘n vonkel in die oog, en altyd ‘n grappie wat hy probeer verstaanbaar maak vir ons in die die ander wêreld.  Hy was ‘n gesinsman, wat al twee keer wewenaar geword het. Hy het ‘n kosbare verhouding met baie mense gehad. En na ‘n lang siekbied verlede week het hy die lyding van die lewe agtergelos.  Netnou onthou ek en sy familie hom, en sê dankie vir sy lewe.

‘n Tweede oom in die gemeente, wat ek verlede week in Pretoria gaan besoek het, is ook intussen oorlede. Nog iemand wat ek baie gaan mis. ‘n Regte plaasboer, wat arm begin het as voorman vir ‘n ryk boer. ‘n Man wat ‘n melkbottel vol slappap gehad het om mee ‘n dag lank te werk, en lank na donker eers ordentlik te kan eet. Wat hom van daar af opgewerk het tot hy na baie jare sy eerste plaas se deposito kon bekostig. Iets wat Mnr Malema nou nie eintlik sal verstaan nie.  Hoe ‘n man moet werk vir iets, dit val nie net sommer uit die lig uit omdat jou velkleur pers met groen kolle is nie…  Dié oom se wens is om by sy mense in die Vrystaat begrawe te word, volgende week.  Ek sal ook na vanoggend se begrafnis weer moet uitry plase toe, en sy weduwee weer gaan besoek.

Die seer van mense is iets wat by my bly. Ek kan dit nie net afskakel en na so ‘n dag vrolik partytjie hou nie.

Ek dink die motorfietsrit sal ‘n goeie begin wees later vandag. Op die motorfiets begin die adrenalien vloei, en skop die dopamienvlakke opwaarts.  Na so paar lekker draaie voel die lewe weer reg.  En dan kan die vuurtjie maar brand gemaak word, en die stukkie vleis maar nader staan. Met dalk net so een of twee van Yskorstraat se bestes daar uit Windhoek uit.

Ek hoop jy het ‘n lekker dag, en dat jou Vrydagaand planne baie opwindend gaan wees.

One thought on “Onvrye Vrydag

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s