Pietersburg is ‘n gevaarlike plek!

Gister het ons opgeruk na die hoofstad van onse provinsie, om te gaan kyk hoe die legendariese stryd om die liga: Laerskool 2e krieketspanne in Limpopo provinsie beslis gaan word. Laerskool Pietersburg Oos is gekies as die neutrale terrein.

 

Die pret het al begin toe ons ry. Ek en vroulief het saam met ons fietsry-vriendin gery, en ek het agter gesit in haar Mini Cooper afslaandak. Nou kyk, ek is ‘n hele 1.73 m lank (nog iets vir daai persoonlike file oor my!) Die inklim was al klaar redelik problematies. Daar is mos nou net twee deure, en die voertuig is net ontwerp vir twee baie klein Engelsmannetjies, verkieslik onder die ouderdom van 3, om agter te sit.  Nou moet ek met my sportiewe, dog effens oorgewig liggaam, die ekspedisie aanpak, om soos Harry Houdini in die boksie te kan inpas. Dit is redelik eenvoudig. Eers staan jy op jou linkerbeen. Jy draai jou regterbeen uit lit uit by die knie en in die heup. Dan werp jy die liggaamsdeel deur die dun gleufie wat die voorste sitplek los, met ‘n 90 grade hoek na regs agtertoe. Jy pak hom agter die bestuurdersitplek in. Dan verskuif jy die middelpunt van gravitasie voorwaarts, om soos ‘n goeie golfshank ook na regs uit te swenk. Die linkerbeen is nog aan die liggaam verbind, en volg weens die gravitasiekrag en middelpuntvlietende krag die res van die liggaam binne in daardie gaatjie in. Die Gluteus Maximus word neergeplaas in die middel, en albei die knieê word agter die ooreenstemmende ore ingehaak. En so sit ek toe vir twee ure op die snelweg Noord.  Nogal Scary van daardie Mini is dat die agterseiltjie so 2 mm agter ‘n mens se rug is, en die Iveco en Sprinter bussies kom sit hulle neuse so 3 mm verder weg. Ek is telkens verbaas dat daardie bussies so gemaklik 160 km/u kan haal met 60 insittendes in…

 

In elk geval, by die krieketveld het ek myself weer met groot moeite uitgehaal uit daardie plekkie daar agter uit- ek wonder of geboorte nie makliker is as om uit ‘n Mini Cooper uit te klim nie?  Ons haas ons na die veld, waar my seun met ‘n kapteinstatuur reeds voor die penne sy plek ingeneem het. Uitstekende houding, die elmboog lig korrek om die kolf na die bal toe te stuur- twee lopies is reeds agter sy naam aangeteken. En toe ek gaan sit, raak die kant van sy kolf met ‘n nanomikrometer die kolf, en die paaltjiewagter van Messina drop nie per ongeluk die bal nie. So is die kaptein van die 2e krieketspan se kolfloopbaan in die laerskooljare netjies afgesluit met twee lopies. Vriendin se seun kom op. Derde bal slaan hy die bal netjies raak, om amper op die grenslyn behendig uitgevang te word. En binne ‘n kort tydjie het ‘n verdere 8 paaltjies gekantel, amper so vinnig soos die Proteas op ‘n slegte dag…

 

Die kante draai om. 137 Lopies is die teiken. Laerskool Messina se kolfwerk is toe so goed soos hulle boulwerk. En ons span se boulwerk lyk toe ook soos ons kolwery.  Seun stonk darem twee van hulle. Maar voor die middagson te veel mense langs die veld doodskroei, is die game verby. Ons besluit: ons wil darem die Great North Mall sien, almal in die provinsie praat gereeld daaroor. Ek is weer in daardie agtersitplek. By die verkeersirkel wil ons omry. Maar ‘n “Dame” in die middel van die sirkel besluit om links te draai, en doen dit ook onmiddelik. Ons mis ‘n moerse ongeluk met twee miljoenstes van nog n nanosekonde.

Ons ry witgeskrik terug snelweg toe. Ons besluit om daardie ou staatsdiens gunsteling te koop, aangesien die dag al lank raak. Ons koop daardie groot bokse KFC wat op elke staatsdiensamptenaar se lessenaar van 11 uur af verskyn. Genoeg olie in om my bakkie tot in Pretoria te laat loop, vermoed ek.  Ek was nog nooit ‘n groot fan van KFC gewees nie.  By die Drive-Through in Poloburg ry jy eers deur die taxi rank.  Daar kan jy in die ry jou kar laat was, jou wieldoppe verloor (gelukkig het die Mini mags…) en jou weeklikse dwelms koop voor jy weer in die  groter pad kan inkom.

 

En so het ons die pad weer terug huiswaarts aangepak. Pieterskwane is regtig ‘n vreemde plek vir my. Gevaarlike bestuurders. Groot pothole. Onvriendelike mense in staatdiensmotors (kfc lewer seker nie af daar by die Premier se kantoor nie?)  So van die Premier se kantoor gepraat, die krematorium is reg langs die Premierskantoor in Landdros Maré straat, en die skoorsteen is daar neffens die vensters- minder as 10 meter weg!   Ek wonder hoe gereeld is die Premier se vensters oop.

 

Nou ja, tuis aangekom het ek weer een van my grootste foute in die lewe gemaak. Gedagtig aan myself in die agtersitplek van ‘n Mini Cooper, en hoe dikgevreet ek gevoel het na daardie boks KFC, merk ek teenoor Mamma op dat ek dink dit is tyd dat ons twee bietjie gewiggies verloor…   Sy sal seker volgende Dinsdag sê hoekom sy my so hard geklap het…  en met saamgeperste lippies nou nog so na my gluur…

 

Ek kan dit nie help nie, ek is maar altyd in die stront!  Hoop dit gaan beter daar by jou!

16 thoughts on “Pietersburg is ‘n gevaarlike plek!

  1. LOL!!!!!

    Dat jy nog nie die basiese beet het vir ‘n gelukkig huwelik nie. Moet nooit skimp dat jou vrou vet of oud is nie.

    Jy het ten minste goeie strekoefening gekry om die mini in en uit te kom. 😉

  2. Gee vir haar Lindt en sê vir haar dit maak nie saak nie. Jy is lief vir haar. Maak nie saak nie. En jy wil gewig verloor. Ondat jy langer wil leef vir haar en vir die kinders. Lindt helps.

  3. O genade, ek lag nou te lekker. Een ding wat verseker is, Bileam – as jy die dag moeg word vir dominee wees, kan jy altyd skryf – jy het ‘n absolute gawe gekry om die mees gewone ding skreeusnaaks te beskryf. 😆

  4. Het julle met ‘n merc gery – die span het gewen – en julle het by ‘n restaurant gaan uiteet, sou jy nie soveel lekker materiaal gehad het om oor te skryf nie. Dit sou darem gaaf gewees het as die span gewen het. Polokwane is ‘n heel lekker plek – dit is as jy nie in die ou-dorp gaan in voeter nie. Die mall is mooi, die Spur baie lawaaierig… wees dankbaar julle het KFC geeet.

  5. Ai toggie, die ink is skaars droog en hier kry ek slegte nuus vanaf Pietersburg. My suster se dogter het sopas op ‘n ongeluk afgekom waar haar beste vriendin in dood is. Sal later hoor van haar man en kind wat ook seergekry het. Pietersburg is sowaar ‘n gevaarlike plek.

  6. Jy moet met ‘n draai by jou punt uitkom…met hope heuning. If all else fails hou eerder jou mond, want ‘n vrou verander in ‘n pitboel met lipstiek as jy net die woorde ‘gewig’ of ‘vet’ gebruik. Rede vlieg by die venster uit (en soms die man ook). Sterkte!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s